Hattingh sit en luister na wat George vertel, maar gedurende sy vrou se lang monoloog begin hy rusteloos word, en dan staan hy op. “Ja,” sê hy, “ek moet gaan werk.” Sy aarsel, haar verhaal onderbreek in die middel van ’n woord.
“Ek moet gaan,” sê George, en hulle kyk hom albei verras aan.
“Waarheen?” vra Hattingh.
“Ek moet verder ry, Rietvlei toe, ek moet reëlings tref …”
“Wat’s jy dan so haastig? Ek sê vir jou, op Rietvlei is daar niks nie, dit staan al jare lank verlate.”
“Ek sou dit graag weer wil sien.”
“Daar’s nog genoeg tyd daarvoor. Jy kan nie nou al weer wil weggaan nie, ons het skaars kans gehad om behoorlik te gesels. Daar’s veels te baie dinge wat jy ons nog moet vertel.”
“Daar’s mense hier in die distrik wat jou sal wil sien,” sê mevrou Hattingh, “mense wat nog vir oom George en tant Lottie geken het, wat jou moeder onthou …”
“Wanneer het ons laas ’n besoeker gekry?” vra Hattingh. “Mense ry nie meer rond in hierdie deel van die wêreld nie, selfs die bure wat oorgebly het, kom kuier nie meer aldag soos vroeër nie. Jy kan nog ’n paar dae by ons kuier. Vir hoe lank het jy gekom?”
“Ek het net ’n week verlof geneem,” sê George. “My terugreis is al bespreek.”
“Is daar nog dinge wat jy hier wil doen behalwe in verband met die plaas?”
“Ek het geen planne gemaak nie. Ek het gedink dat ek miskien ’n bietjie sou kan rondreis, iets van die land sien, moontlik selfs van my ouers se familie opspoor …”
“Waarvoor sou mens teenswoordig nog rondreis?” vra Hattingh. “Niks is meer soos dit was nie, en wat jou familie betref, nee wat, dis beter om nie te baie vrae te vra nie, jy maak net moeilikheid vir jouself en vir ander mense. Bly liewer hier by ons.”
“Sál jy?” vra sy vrou.
“Dit is baie vriendelik van u. Ek kan miskien ’n tydjie hier bly as dit nie vir u ongerieflik is nie.”
“Daar is darem nog so iets soos gasvryheid,” sê Hattingh. “Daar is darem nog tradisies wat gehandhaaf moet word.”
Die ontbyt is klaar en mevrou Hattingh begin die tafel afdek. George volg Hattingh na buite.
“Waar lê Rietvlei?” vra hy.
Hattingh beduie. “Daardie kant uit, so ’n tien myl met die pad. Jy het gisteraand by die regte plek afgedraai, jy moes net aangehou het.” Hy stap al weg na sy werk. “Maar daar’s genoeg tyd om soontoe te gaan, jy kan môre uitry as jy lus voel. Dalk kan my vrou dan ook met jou saamry om vir tant Miemie te gaan kuier. Moedersgift lê net duskant Rietvlei.”
Hy roep die laaste woorde terug oor sy skouer. George bly staan langs die muur van die huis terwyl die wind oor die werf aanwaai en die bloekombome onrustig dein. Dit is ’n vaal, betrokke dag – waar is die son? wonder hy, geïrriteer soos gisteraand deur die armoedigheid en kleurloosheid van alles wat hy sien, die verlatenheid van die huis en werf, en die sinkplaat wat in die wind begin klap êrens op die dak van een van die buitegeboue. Daar was tog altyd sonskyn gewees soos op die almanakfoto’s, blou lug en helder wolke; perskes en waatlemoene was daar in oorvloed, laggende inboorlinge in diervelle en krale, wit strande, en leeus in die lang gras. Die wind warrel stof in sy oë.
Waarom sou hy hier bly, op hierdie afgesonderde plaas by onbekende mense wat hom slegs verwelkom omdat hy die eensaamheid van hul lewe kom onderbreek het? Maar aan die ander kant het dit ook nie veel sin om in die paar dae wat beskikbaar is krampagtig te probeer om hierdie hele wye land nog te besigtig nie. Hy sal bly, dink hy, hy sal na Rietvlei gaan, en dan verder reis. Dit is tog waarvoor hy gekom het.
Mevrou Hattingh staan voor die venster en uitkyk. “Dit gaan reën,” sê sy ingedagte. “Ek wou vandag die vensters gewas het, maar ek kan liewer wag. Soms wonder mens ook of dit die moeite werd is.”
“Kan ek iets vir u doen?” vra hy.
“Nee, nee; jy kan hier sit en met my gesels as jy wil.” Sy slof in die kombuis heen en weer op afgetrapte viltpantoffels en maak ’n kas oop, bêre iets, soek iets. “Mens bly maar besig met die huiswerk. Ag, en as ek dink dat my skoonmoeder vroeër vyf meide hier in die huis gehad het, en nog meer as sy die dag wil huis skoonmaak. Dan het oom Willem altyd padgegee en by die bure gaan eet.”
“Bly u lank hier?” vra George.
“Ons het hier gekom toe Johannes nog ’n baba was – o, ek is self nie ’n plaasmens nie, ons het in die stad gebly, my man het in die stad gewerk, hy het goed verdien.” Sy sprei ’n ou kombers oor die tafel uit. “Maar toe met die moeilikhede het ons gevoel dat dit veiliger is om plaas toe te kom: ons had die twee kleintjies, en alles was so onseker …” Sy gooi ’n laken oor die kombers en stryk dit langsaam glad. Sy wil praat, dink George, net by haarself staan en praat om van alle opgekropte leed en veronregting ontslae te raak, skaars bewus van hom waar sy op die tafel leun. Daar is geen knope meer aan die trui wat sy dra nie, en haar hare is slordig vasgespeld. Net die gesig herinner nog aan ’n vroeëre fynheid en skoonheid.
“Ek is nie gewoond aan hierdie soort lewe nie,” sê sy dan skerp, asof sy haar teen onuitgesproke kritiek moet verweer. “As meisie was dit vir my nooit nodig om iets in die huis te doen nie, en toe ek getroud is, het ons altyd bediendes gehad. Ek het nooit verwag om eendag só te moet lewe nie, dis op my afgedwing, ek het geleer deur die harde ondervinding. Toe ek klaar was met skool het ek universiteit toe gegaan. My vader wou dat ek moet studeer, en hy het nooit gesien wat daar van al my geleerdheid word nie. Maar dit was ’n mooi tyd,” sê sy, en haar gesig verhelder by die herinnering. “Ons was ’n vrolike jong klomp saam, ons studente – die Marais’s en Ben Meyer en Karin, ja, almal oor wie ons vanoggend gesels het, en ander ook nog: Leon Grobbelaar, wat later gevange geneem is, en Len Botes wat dood is in die moeilikhede. Jy het seker nooit van hom gehoor nie, maar hy was in sy tyd ’n briljante student. Ons het altyd by sy ouers se huis gaan tennis speel, hy was ’n goeie speler, en hy het my ’n paar keer uitgeneem in ons eerste jaar. Daar was niks tussen ons nie, ons het net gaan dans of bioskoop toe gegaan …”
Ingedagte streel sy die laken oor die tafel voor haar, die strykwerk wat sy wou doen vergete, lakens, sakdoeke en kakiehemde. George luister nouliks na die vertroude verhaal: hoe dikwels in sy lewe het hy dit nie al gehoor nie met slegs klein veranderings van detail, die lyste name, die verhale wat hulle afspeel op tennisbane of langs swembaddens, in direksiekamers of op senaatsvergaderings, die opsommings van vriende, prestasies, besittings, die gegewens van die onderskeidings wat behaal, die winste wat gemaak en die verowerings wat gedoen is. Oor die koffiekoppies, die skemerkelkies of likeur in sy ouers se huis of die huise van vriende is dieselfde herinnerings opgehaal en dieselfde feite eindeloos nagetel, deel van die belegging waarop die ballinge in die vreemde moes teer. Maar dit was mense wat weggekom en oorlewe het, deur tyd, ruimte en onbeskryflike ondervindings geskei van hierdie boerevrou in haar verkleurde trui: die verlede is al wat hulle gemeen het, herinnerings is al wat hulle nog aan mekaar bind.
rens aan die end van die gang slaan ’n deur toe. Mevrou Hattingh gee geen teken dat sy dit hoor nie, maar sy onderbreek haar verhaal willekeurig en die glimlag sterf stadig weg van haar gesig. Net haar vingers pluk nog ingedagte aan die laken.
“Ek moet vandag bak,” sê sy. “Ek moet ’n koek bak omdat ons ’n besoeker het.”
“U moet geen moeite doen vir my nie, mevrou,” sê hy.
“Dit is geen moeite nie, waarom sou dit dan moeite wees?” Sy hou ’n hemp voor haar op, “Jy moet maar rondkyk in die huis, doen maar wat jy wil. Miskien vind jy êrens iets om te lees, daar is nog ou tydskrifte …” Sy het haar skielik aan hom onttrek, en gaan na die stoof om ’n strykyster te haal, sy teenwoordigheid