Karel Schoeman
Na die geliefde land
Human & Rousseau
“Wie is jy?” roep die man.
Verblind deur die skielike lig hou hy sy hand voor sy oë. “Ek soek die pad na Rietvlei,” antwoord hy.
Daar kom nie dadelik ’n reaksie nie. Waar hy boaan die trappies van die huis staan, beweeg die man dan ’n tree na vore, en die lig van die saklantern wat hy vashou, dans oor die leë werf. “Wie is jy?” vra hy weer. “Waar kom jy vandaan?”
Hoe moet hy nóú verduidelik, in die middel van die werf, met die lig in sy oë en sy ondervraer self onsigbaar daaragter? “Ek kom van oorsee,” sê hy.
Die man met die lig is stil, asof hy aarsel in die deuropening en nie weet hoe hy hierdie feit moet verwerk nie. “Ek is op pad Rietvlei toe,” verduidelik George dan. “Dit het gouer donker geword as ek verwag het, en ek het blykbaar by een of ander afdraaipad verbygery.” Nóg swyg die man egter, wagtend met die dobberende lig in sy hand. “Die plaas het aan my moeder behoort,” sê George. “Sy is onlangs oorlede, en ek het gekom om haar sake te reël.”
“Is jy Anna Neethling se seun?”
“Ja,” sê hy, en dan, wanneer die antwoord oorweeg en verwerk is, skakel die man sy saklantern af. “Ek het nie geweet nie,” sê hy. “Ek het nie geweet dat Anna dood is nie. Ons het gehoor dat sy oorsee gegaan het, sy en haar man, maar so baie mense het oorsee gegaan, en jy hoor nooit weer iets van hulle nie.”
“Is dit nog ver na Rietvlei?” vra George.
“Daar is niemand op Rietvlei nie, jy kan nie soontoe gaan nie.”
“Daar is tog ’n oppasser.”
“Daar is niemand op Rietvlei nie, die plaas is al jare lank verlate. Jy kan nie nou soontoe gaan nie.” Hy het die deur agter hom laat oopstaan en van die huis val ’n flou lig skuins na buite, sodat dit net moontlik is om hom te sien, ’n forsgeboude man van in die vyftig in kakiewerkklere. “Hattingh,” sê hy, en groet met ’n stewige handdruk. “Wanneer het jy aangekom?”
“Gister. Ek het vanmiddag hier op die dorp aangekom en ’n kar gehuur: ek kon niemand vind wat my hierheen wou bring nie en ek kon nie na die plaas toe bel nie, daar is blykbaar geen telefoon nie.”
“Daar bly al jare lank niemand op Rietvlei nie,” herhaal die ou man terwyl hy George deurdringend aanstaar. “Is jy oorsee gebore?” vra hy.
“Nee, hier.”
“Jy praat soos ’n buitelander.”
“Ek was nog klein toe ons hier weg is, ek het oorsee grootgeword.” Dit is ’n ondersoek, besef hy, om te kyk of hy werklik is wat hy voorgee om te wees en om vas te stel of hy vertrou kan word, en hy wonder watter wagwoord of herkenningsteken die agterdogtige ou boer hier voor hom tevrede sal stel. “Toe ek ’n kind was, het ons by my grootouers op die plaas kom kuier, maar ek kan dit nouliks nog onthou, ek weet nie eers meer hoe om daar te kom nie. Hulle het op die dorp vir my verduidelik, maar ek het blykbaar verdwaal.”
“Daar was altyd kinders op die plaas gewees,” sê Hattingh, “al die kleinkinders, en allerhande neefs en niggies met hul eie kinders. Lottie was lief vir kinders om haar heen.”
“Ek kan haar nog net onthou,” sê George, en soek in sy herinnering rond tussen splinters en skerwe, tussen droomagtige beelde en die ritme van sinne waarvan die woorde lankal verlore gegaan het. “Daar was ’n dam, en vyebome.”
“Joos weet waar al daardie kinders vandag is – mense verdwyn sonder om ’n spoor agter te laat. Jy sou amper dink dat hulle nooit bestaan het nie.”
“My ouers het ook byna alle aanraking met hulle familie verloor. My moeder het nog gehoor dat haar ouers dood is, maar dit was eers maande later.”
Hattingh staan daar asof hy iets oorweeg. “Kom binne,” sê hy dan, die wagwoord erken êrens te midde van die ander woorde, en George volg hom langs die treetjies op na die huis.
“Dis Anna Neethling se seun,” sê Hattingh. “Sy was oom George en tant Lottie Neethling se dogter – julle sal haar seker nie meer onthou nie. Hy’t van oorsee gekom om die plaas te sien, sy moeder is dood.”
Nou eers, waar hy op die drumpel van die kamer bly staan, besef George dat daar nog ander mense in die huis is. In die vaal elektriese lig sien hy drie jong mans vlak voor hom, eenders in dieselfde kakieklere as Hattingh, wat skouer aan skouer staan asof hulle weerstand wil bied aan sy binnekoms. Wanneer Hattingh praat, tree hulle egter uit hulle gelid en kan hy die kamer sien, met ’n groot tafel, ’n stoof, en ’n vrou wat uit die halfskaduwee na vore kom terwyl die ander hom groet. Sy vee haar hand haastig aan haar voorskoot af, en dit voel sag en week na die stewige handdruk van die mans. “Ons sal maar eet,” sê Hattingh, en sy draai weg om haar met panne en skottels besig te hou. Dit is seker sy vrou en sy seuns, dink George, alhoewel hulle verwantskap nie verduidelik is nie. Nog iemand kom binne juis wanneer Hattingh vir hom beduie dat hy moet aansit, in dieselfde werkklere as die ander: eers wanneer George sy uitgestrekte hand neem, kan hy in die dowwe lig aan die gelaatstrekke en bewegings uitmaak dat dit ’n meisie is.
Om die tafel waar hulle almal kom sit het, heers daar ’n ongemaklike stilte nadat Hattingh onverstaanbaar met geboë hoof ’n gebed geprewel het, die klank van die lepels die enigste geluid terwyl hulle opskep.
“Ons lewe hier eenvoudig,” sê Hattingh. “Jy sal wel gewoond wees aan ander dinge oorsee.” Dit is ’n feit, geen verskoning nie.
“Alles in Afrika is vir my anders, maar ek wil dit sien soos dit is.”
Daar is stywe pap en gekookte boontjies; die meisie staan op en bring ’n kan water na die tafel, koue, helder fonteinwater. Die tafel is bedek met ’n geblomde seildoekkleed waarna hy sit en kyk in die stilte, en die borde pas nie bymekaar nie, die meeste met happe of krake. Aan hóm as gas is daar blykbaar spesiale borde gegee, oorblyfsels van ’n vergane servies met ’n goue rand.
Hy hoor die gekletter van die vurke en lepels in die stilte en kyk op. Die jong mans oorkant hom laat sak hulle oë en staar na hulle borde terwyl hulle verder eet. Hy sien ’n kas teen die muur, ’n rak, prente van volksleiers en politici wat hy uit geskiedenisboeke herken, en word skielik oorweldig deur onbeskryflike moegheid ná die lang reis en afkeer van hierdie swygende mense in hulle vuil klere, die kos, die sleg verligte kamer, en die vreemdheid en onverwagte armoedigheid van alle dinge.
Die vrou beweeg rusteloos heen en weer na en van die tafel en bly self nooit lank sit nie, besig om te haal en aan te dra en weer op te skep vir die mans. Hy sien haar oë op hom gevestig, sorgsaam en vraend, vaal oë in ’n vermoeide gesig, asof sy te vroeg oud geword het, járe voor haar tyd. Dan glimlag sy by haarself terwyl sy hom nog aankyk. “’n Mens kan sien wie se kleinseun jy is,” sê sy voldaan. “Mens kan sien jy’s Anna se seun. Ek het haar net ’n paar keer ontmoet en dis nou al lank gelede, maar ek onthou haar nog goed. Die mense het altyd gesê sy is die mooiste meisie in die distrik.”
Dit is die eerste woorde wat sy vir hom sê. Die jong mans kyk nie op nie, maar op een of ander manier is die gespannenheid agter hulle swye hierdeur besweer. Só, dink hy, is dít die kenteken, hierdie oorgeërfde gelaatstrekke, die mond en oë van ’n jong vrou wat oud geword het in eensaamheid en nou dood is?
“Dit was in die tyd toe ek nog verloof was en hier op die plaas gekuier het, en sy was op Rietvlei by tant Lottie-hulle, sy was toe al getroud. Ek onthou nog hoe mooi haar klere was, al die vrouens het oor haar gepraat.” Die herinnering aan die verlede het haar spraaksaam gemaak.
“Sy kon goed perdry,” sê Hattingh. “Ek sien nog hoe sy alleen hier verbyjaag deur die veld op een van oom George se perde.”
Sy moeder te perd op die vlakte met hare wat uitwaai in die wind. Die kamer waar daar tydskrifte op die vloer lê en die asbakkies altyd vol is, haar gehoes, die fyn gelaatstrekke wat geleidelik gemerk is deur die pyn, en die steeds swaarder grimering waarmee sy probeer om die onverbiddelikheid van die tyd te verberg, die flessies en spuite op ’n blaadjie langs haar bed; en buite die venster die berge wat met hul steilheid die poppehuislandskap