“Ek moes geweet het jy is nes jou suster. Net so maklik om op jou rug te kry.” Die dun lyne om Emmie se mond trek in ’n plooi.
Adri het nog nooit so aan Nelia gedink nie. Nelia vermy mans soos die pes. Is Emmie heeltemal van lotjie getik?
Emmie tier voort. “Ek het nog altyd gedink Richard sal groot hoogtes bereik. Dit is hoekom ek hom bevorder het.”
Adri tree agteruit. “Richard het my in geen stadium verlei nie. Die hele verhouding was my skuld.”
“Wel, as ek jou ooit weer naby Richard vang, is hy sy werk kwyt. Trap uit my hotel en my huis uit! Moenie eers daaraan dink om Richard weer te kontak nie. En bly weg van jou onskuldige sussie.”
Adri tree agteruit. “Jy is genadeloos. Waar gaan jy vir Richard en Carine sê is ek heen?”
“Vir Carine gaan ek sê jy is oorsee om te studeer. Vir Richard gaan jy ’n afsêbrief skryf. Hoe jy op pad is na beter dinge in die kunswêreld en nie teruggehou wil word deur ’n man nie. Jy kan die brief op my bed los. Sorg dat jy uit my huis is as ek vanaand daar kom, anders verloor Richard sy werk.”
Adri haas haar. Sy wil so gou moontlik wegkom. Sy hoor Nelia in haar kamer beweeg, maar sy kan nie na haar oudste suster hardloop nie. Sy het haar teen Richard gewaarsku. Hoe het sy dit gestel? Ek praat nooit weer met jou as jy my kanse by die hotel bederf nie.
Nelia kom loer self in. “Wat maak jy?” vra sy verbaas toe sy sien Adri is besig om haar tasse te pak.
“Emmie het my weggejaag uit die hotel en die huis. Sy het uitgevind dat ek en Richard vir ’n naweek weg was. Hóé weet ek nie.”
“Ek het jou gewaarsku!”
“Hou op om die heilige maagd te speel. Met wie het Emmie jou op jou rug gevang?” vra sy sarkasties. Nelia word wasbleek en stap by haar kamer uit.
Adri het gedink die spanning tussen hulle sal verminder na hul ma se dood, maar die afgelope paar maande het bewys daar lê te veel onopgeloste emosies tussen hulle om mekaar nou te vind. Hulle is te lank grootgemaak om met mekaar mee te ding.
Sy gaan sit om vir Richard en Carine briewe te skryf. Die gedagte tref haar soos ’n hou in die maag. Sê nou sy sien Richard werklik nooit weer nie? Sê nou Carine vergeet haar na ’n ruk? Sy voel koud en bewerig, asof iets harteloos oor haar gespoel het en haar meesleur – weg van almal wat vir haar saak maak. Sy moet so gou moontlik hier wegkom, dink sy ontstemd – voordat sy Richard of Carine te sien kry. Sy gaan nie in die pad van hul geluk staan nie.
Sy rammel vinnig die briewe af en gryp haar tasse. Sy weifel vir ’n oomblik in Nelia se deur om haar te groet. Nelia kyk nie eens op nie. Adri drafstap na haar motor en hoop die wispelturige ou enjin hou tot by Zoetendal. Dit is al heenkome wat sy het.
8
Toe Adri om vieruur die middag Villa d’Este se deur finaal agter haar toetrek, is Carine van haar balletklas op pad huis toe. Dis al meer as ’n jaar sedert sy by Emmie kom bly het en Carine vind die lewe in Kaapstad nie meer so oorweldigend nie. Emmie is beslis nie Hettie nie. Emmie het tyd vir haar en bederf haar.
Om die lewe makliker vir Carine en haarself te maak, het Emmie ’n au pair, Elma Neethling, aangestel. Elma sorg dat sy aangetrek en met ’n kospakkie by die skool en terug kom, laai haar by die balletklas af en sorg dat sy haar huiswerk doen.
By die huis val Carine moeg op haar bed neer. Sy maak seker Elma is in die kombuis besig voordat sy die musiekkassleutel uithaal en dit oopsluit. Wanneer die wêreld druk, is die kissiegeskenk van Adri haar troos. Die porseleinballerina wip op voor die spieël en pirouette. Tot Carine se verbasing is daar vandag ’n brief in haar kassie. Sy trek die enkele vel skryfpapier uit die koevert.
Liewe Carine
Ek skryf vir jou die briefie omdat ek bang is jy gaan vir my kwaad wees. Ek moet vandag uit Kaapstad na ’n ander dorp vertrek om meer van kuns te leer. Ek wil dit nie doen nie, maar dit kan nie anders nie. Ek gaan jou mis.
Miskien kom ek sommer gou terug om jou te sien. Moet asseblief nie vir iemand van die brief sê nie, anders sal ek in die moeilikheid kom. Sodra ek kan, sal ek jou bel.
Baie liefde, Adri
Daar is ’n klop aan haar deur en Carine steek vinnig die brief in die musiekkassie weg. Sy sluit die deur oop en laat Elma inkom. Die brief is haar en Adri se geheim. Adri beskerm haar altyd teen almal.
Elma vou haar balletklere op. Carine gaan sit moeg op haar bed en lê teen die kussings.
“Is daar fout?” vra Elma bekommerd.
“Ek voel flou. Ons het hard geoefen. Ek wil bietjie slaap.” Carine krul haar in ’n bondel teen haar kussings op en maak haar oë toe. Elma trek die gordyne toe en gooi ’n kombers oor Carine. Dit sal goed wees as sy slaap. Toe Elma haar rustige asemhaling hoor, trek sy die deur toe.
Carine wag totdat sy gangaf is en haal die musiekkassie onder haar bed uit. Sy sluit die brief toe en bêre die sleutel. Sy wonder of Adri en Richard saam weg is om te trou. Hoe opwindend! Sy hoor Elma nader kom en maak haar oë toe. Sy wil nie gesteur word nie.
Sy wil oor Adri en Richard dagdroom.
Die volgende oggend stap Emmie sonder enige aankondiging Richard se kantoor binne en plaas ’n koevert voor hom. “Adri het dié vir jou op haar bed gelaat. Ek dink sy is vir goed weg. Toe ek gisteraand by die huis kom, was haar kamer ontruim. Die brief aan jou het op haar bed gelê.” Sy kyk onderlangs na hom. “Wil jy daaroor praat?” vra sy toe hy die brief ontsteld in sy bosak druk. Hy skud sy kop en Emmie stap uit. Hy druk die deur agter hom toe.
Richard skeur dadelik die koevert oop:
My liefling,
Ek is jammer ek moet op hierdie manier uit jou lewe verdwyn, maar dit kon nie anders nie. Ek het ’n kans om oorsee kuns te studeer. Ek kan nie van jou verwag om jou toekoms daarvoor op te offer nie. Ek is bang as ek jou persoonlik sê, sal ek bly en die kans laat verbyglip.
Moet my asseblief nie probeer soek nie. Vir ons al twee se beswil. Ek sê niemand waarheen ek gaan nie. Ek wil vir ’n rukkie ’n alleenloper wees. Niemand weet watter rol jy in my lewe gespeel het nie. Kom ons hou dit so.
Ek hoop jy word ’n hotelmagnaat. En mag jy jou eerste miljoen voor veertig maak.
Liefde, Adri
Sy klink alleen, so ontsettend eensaam, dink Richard. Vir ons al twee se beswil. Hy gooi die brief neer en gaan staan voor die venster.
Dit is alles Emmie se simpel hotelbeleid se skuld. As dit nie bepaal het dat personeellede nie in verhoudings met mekaar betrokke mag raak nie, kon hy en Adri openlik ’n verhouding gehad het. So ’n verhouding kon gouer tot wasdom kom. Sy sou hom nie vir ’n kunskursussie gelos het nie. Adri is geen student nie. Daarvoor is sy te prakties.
Het Emmie van hulle verhouding uitgevind? Hy frommel die brief op toe die telefoon lui. Emmie se sekretaresse versoek hom om na haar kantoor te kom.
Sy staan met haar rug na hom, haar oë op Tafelberg gerig, toe hy die vertrek binnestap. “Jy sal ’n plaasvervanger vir Adri moet vind,” sê sy sonder enige gevoel in haar stem. “Sy het ook vir my ’n brief gelos. Na alles wat ek vir haar gedoen het, verdwyn sy sommerso. Wat gaan ek vir Carine sê? En vir Nelia?”
Dit is op die punt van sy tong om vir Emmie te sê hy is jammer as hy moeilikheid tussen hulle twee gemaak het. Hy onthou Adri se versoek in die brief. Hoe minder hy sê, hoe beter. Hy moet vir tyd speel. Moontlik is sy op L’Agulhas. Hy sal soontoe ry en kyk of sy daar is. Asof Emmie sy gedagtes lees, sê sy: “Sy is nie op L’Agulhas nie. Ek het iemand soontoe gestuur. Ek is siek van bekommernis. Die drie susters was vir die eerste keer in jare weer bymekaar. Hoe kon sy Nelia en Carine sommerso los?”
“Adri is ’n kunstenaar. Hulle doen dinge anders as ons,” sê hy en stap sonder ’n verdere woord