Elke vrou vir haarself. Elize Parker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elize Parker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798164658
Скачать книгу
is bloot Emmie Berger se betaalde vloermat. Wat weet hy? Toe ek sewe jaar gelede by Emmie-hulle gekuier het, was hy ’n junior bestuurdertjie. Nou is hy skielik assistentbestuurder.” Nelia maak haar oë toe en lê met ’n frons agteroor. Sy wil liewers nie aan haar destydse Kaapse besoek dink nie.

      Nie lank nie of die bus stop op Bredasdorp voor ’n deftige Victoriaanse huis uit ’n vergange era. Adri en Nelia klim af. Na ’n kort weifeling stap hulle met die reguit paadjie deur die formele roostuin na die voordeur. Nelia kyk gespanne na die vensters. Sy is seker Hettie staan vir hulle en kyk.

      Op die stoep aangekom, laat sy die swaar koper­klopper ’n paar keer val. Hettie het nog nooit daaraan gedink om vir hulle voordeursleutels te gee nie.

      Vinnige voetstappe klink op uit die diep koeltes van die houtgange. Hettie frons toe sy die deur oopmaak. “Hoekom bly julle toe langer?” trap sy hulle uit.

      Nelia antwoord haar nie en stap stil verby na haar kamer, maar draai om toe voetstappe uit die agtertuin opklink.

      ’n Sesjarige lyfie bons oor die gangdrumpel. Carine stop in haar voetspore toe sy Hettie sien. Die donkerkoppie trek haar pop nader aan haar lyfie en sy glimlag met onderdrukte vreugde. Sy stap bedaard vorentoe en gee Adri en Nelia elk ’n soen.

      “Gaan speel maar weer, Carine! Ek wil alleen met ­Nelia en Adri praat!” Hettie wys met ’n gebiedende vinger na die agterdeur. Carine kyk af na die houtvloer. Hierdie gang is ’n tonnel na drama. Wanneer Nelia en Adri tuis is, vind al die bakleiery in dié nou, donker plek plaas. Sy lig haar oë paniekerig op. “Het ek iets verkeerd gedoen?”

      Adri gee Hettie ’n verwytende kyk, neem Carine se hand en lei haar na buite.

      “Wat is dit, Ma?” vra Nelia met haar hande op haar heupe. Hettie het skielik niks te sê nie. Sy bly bloot voor Nelia se kamerdeur staan. Daar is ’n nuwe gaping tussen hulle, voel Nelia aan. Vir die eerste keer het sy effens mag oor haar ma. Dit het sekerlik met haar nuwe onafhanklikheid te make. Tot in ’n sekere stadium van haar lewe het sy alles gedoen om haar ma te beïndruk. Toe het sy besef dit maak nie saak hoe lank en hoe hard sy daaraan werk nie, by Hettie gaan sy nie liefde kry nie. Daar sal altyd konflik tussen hulle wees.

      Vandag moet haar ma besluit of sy ’n nuwe verhouding op ’n basis van groter gelykheid wil aanvaar of nie. ’n Verwarrende keuse vir iemand wat te veel op haar familie vir haar identiteit staatgemaak het.

      “Eendag is eendag dat ek my mond gaan verbypraat …” snou Hettie haar toe.

      Nelia klap haar kamerdeur in Hettie se gesig toe sodat die gekleurde loodglasruitjies in die voordeurrame rinkel. Sy kyk na die skemerige kamer asof dit ’n put is waarin sy ingetrek word.

      Haar ma het die kuns verfyn om die verlede te manipuleer. Watter geheime bly vir ewig verborge? wonder Nelia. Sy maak die gordyne voor haar oop: haar susters sit in wit rokke op ’n houtbank onder ’n wilgerboom met die Overberg-heuwels vaalblou op die agtergrond. Carine is nog steeds ’n plomp, pienk engeltjie met swart wegwaaikrulle en diep kuiltjies in haar wange. Watter soort vrou gaan sy eendag wees? wonder Nelia. Sy is ’n praktiese, netjiese dogtertjie met ’n vrolike geaardheid, net jammer dat sy so alleen grootword. Daar is nie ’n nou band tussen haar en Carine nie, weet Nelia. Sou dit wees omdat die ouderdomsverskil so groot is?

      Carine en Adri se ligte stemme dryf op die warm aandlug. “Gaan jy lank weg?” vra Carine.

      “Nogals, ja, maar jy sal ons nog baie sien. Ons sal dikwels kom kuier en jy kan in die Kaap vir ons kom kuier.”

      Carine se skouertjies sak. Sy kry nie gepraat nie en spring op om op die swaai te gaan sit. Adri gaan stoot haar. Nelia kyk afgetrokke na haar susters en weet sy het reeds van hierdie huis en sy mense afskeid geneem die dag toe haar pa dood is.

      Sy het vir oulaas gehoop dit kan anders wees tussen haar en Hettie. Sy moes geweet het sy hoop tevergeefs. Sy sak moeg op haar bed neer, haar kamer oorbekend en eensaam.

      4

      Toe Adri en Nelia die eerste dag vir diens aanmeld, druk Emmie hulle in ’n kantoor agter die ontvangstoonbank in. Hulle taak is om aan hotelgaste se versoeke en wense te voldoen, soos om te reël dat gunstelingdrankies en etes beskikbaar is en dat vars blomme en vrugteruikers in die kamers geplaas word. Selfs detail soos teaterkaartjies, jellielekkers op ’n bedtafeltjie vir ’n gereelde besoeker en haarafsprake word hulle verantwoordelikheid.

      Nelia hanteer die versoeke met sjarmante doeltreffendheid, maar na ’n paar weke vind Adri dat die gedurige wisselwerking met mense en al hulle grille en nukke haar rasend maak. Sy raak gou in die gewoonte om afknypuurtjies met haar sketsboek in die orgideëhuis te gaan skuil om haar frustrasie weg te werk.

      Richard hou haar dop en sien gou die patroon van haar dae raak. Hy sluit een middag by haar in die orgi­deëhuis aan met ’n koppie koffie in die hand. “Ek het self ’n wegkruipplek vir ’n paar oomblikke nodig. Gee jy om?”

      Hy leun met sy rug teen die glasmuur. Dit is die eers­te keer sedert hulle eerste ontmoeting dat hulle alleen is. “Na­tuurlik nie. Maak jou tuis.” Hy neem op ’n tuinbank oorkant haar plaas. Adri skets stil voort, al is sy oorbewus van die grasieuse manier wat hy sy bene kruis.

      “Maak die gaste jou mal?”

      “Is dit so opvallend?”

      “Nee … ek kan my net nie voorstel dat iemand met ’n kunstenaarstemperament dit geniet om agter mense aan te hardloop nie.” Hy hou sy hand uit vir haar sketsboek en gee dit terug met ’n waarderende glimlag. “Ek het vir jou ’n stukkie goeie nuus … ons gaan binnekort die hotel se interieur ’n nuwe baadjie gee. Iemand sal van ons kant af met die binnenshuise versierder moet skakel … jy weet, besluite oordra en so aan. Dis iets nader aan kuns as toonbankwerk. Is jy lus daarvoor?”

      “Ek sal mal wees daaroor. Ons het tekstielontwerp en binnenshuise versiering in ons kursus gehad.”

      “Ek sal by Emmie hoor of dit reg is.”

      Emmie se naam bring haar terug tot die werklikheid. “Los dit liewer. Sy gaan nie van die gedagte hou nie.” Adri mik na die deur. Hy skiet sy arm uit, keer haar galant en draai haar na hom in ’n vlugtige omhelsing. Sy maak haar los daaruit. ’n Onbestemde verlange word in haar wakker. Haar laaste werklik driftige omhelsing was voordat Hugo Weermag toe vertrek het. Dit voel soos ’n ewigheid gelede.

      “Waarvoor is jy bang? Dat jy jou werk sal verloor?”

      “Ek gee nie juis om nie. Ek wens ek was liewers by ons strandhuis op L’Agulhas agter ’n esel besig om seetonele te skilder,” sê sy en stap vinnig na haar kamer.

      “Jy lyk gedaan,” sê Nelia toe sy hulle kamer binne­stap.

      Adri druk twee vingers teen haar slape. “Het jy ys?” vra sy toe sy op die bed gaan lê. Nelia pak ’n waslap vol ys en hou dit teen Adri se kop. Hulle is gewoond om mekaar se spanningshoofpyne te behandel.

      “Wie het jou omgekrap?” Nelia skuif die yspak na die agterkant van Adri se kop.

      “Richard.”

      “Ek kon dit seker geraai het. Moenie in sy valstrik trap nie, Adri. Richard is vir Emmie soos ’n seun. As jy met hom lol, gaan jy sleg tweede kom.” Nelia trek die yspak weg en staan voor Adri met gevoude arms. “Ons het ’n kans gekry om ons omstandighede te verander. Ek wil nie die kans verbeur nie. Ek sal jou nooit vergewe as jy dit ruïneer nie.”

      Adri lig haar ken en vee met haar vingers oor haar wenkbroue. “As jy net meer dikwels jou kop en jou hart kan verloor en mens word, sal jy ook iets vir ’n man kan voel.”

      Nelia byt haar onderlip. “Adri, asseblief … los Richard uit. Hy is veels te wêreldwys en ervare vir jou. Hy het twee kante aan hom. Jy het nog net sy sjarmante kant gesien. As jy hom eers leer ken, sal jy agterkom hoe buierig en afsydig hy kan wees.”

      “Wil jy hom vir jouself hê? Is dit dalk waaroor hier­die gesprek gaan?”

      “Moenie bog praat nie. Ek is net moeg,”