Elke vrou vir haarself. Elize Parker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elize Parker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798164658
Скачать книгу
en hierdie weelderige ruimtes. Sy dink aan wat gebeur het. Na die tyd wou sy net daarvan vergeet. Dit het sy op koshuis en later Matieland reggekry. Sy het sielkunde gaan studeer om haarself beter te verstaan. Sy wou pyn ’n naam gee. Vir ’n paar jaar het sy dit reggekry om dit verskeie name te gee.

      Sy kyk oor haar skouer na waar Adri uitgestrek op die bed lê. Sy wens sy kon langs haar gaan lê soos toe hulle dogtertjies was. Toe het hulle gereeld met hul gesigte na mekaar gelê sodat hulle mekaar se fluisterende monde in die straatlig kon sien. Oor Hettie sou hulle selde praat. Sy sou net ter sprake kom wanneer hulle die standaardbelofte afbedel: “Belowe my jy sal niks hiervan vir Ma sê nie.”

      Haar blik skuif terug na die tuin voor haar. Nou vervreem ’n geheim haar van Adri. Vertroue tussen hulle skif al hoe dunner. Deesdae is hulle slegs verenig in hulle stryd om van Hettie weg te kom.

      Nelia het lankal die keuse gemaak om die paadjie vorentoe alleen aan te pak. Adri was net ’n stille vennoot in haar stryd om onder haar ma se invloed uit te kom.

      Hulle verskil soos dag en nag noudat hulle ouer is. Adri se gevoelens regeer haar. Sy is liggeraak oor alles en almal. Nelia wens sy het bietjie meer baklei in haar gehad, maar Adri haat konflik en dit maak die stryd met Hettie net moeiliker.

      Adri sit meteens regop. “Ek gaan kyk of die orgi­deëhuis nog bestaan,” sê sy en haal haar sketsboek uit haar tas.

      Tipies kunstenaar, dink Nelia. Wanneer die werklikheid druk, vlug sy na ’n droomwêreld van haar eie.

      Adri vind gou ’n uitgang na die tuin. Die outydse glasrondawel wat as kweekhuis dien, is agter akkerbome versteek – die erfenis van ’n tyd toe die hotel self snyblomme vir hul tafels gekweek het. Sy stoot die deur oop en voel die kunsmatige hitte teen haar aanrol. Die potte is oorgroei met anthuriums en orgideë. Dit voel of mens ’n afgeslote oerwoud betree. Adri stap rond en streel met haar vingers oor die elegante plante se pienk kelke.

      “Jammer, maar gaste word nie hier toegelaat nie,” roep ’n manstem haar terug na die hede.

      Adri draai stadig om. ’n Man van die somer, dink sy. Sy blonde hare is songestreep. Onder sy swart baadjie met die hotelwapen daarop lyk sy lyf atleties. Om sy mond vou daar plooitjies asof hy ’n onsigbare glimlag vir homself hou. Sy oë is ’n ongewone liggroen, die kleur van fynbos in die lente. Sy vol onderlip krul effens oor sy dun bolip.

      Sy tik op haar sketsboek met haar potlood. “Ek steel net met my oë.”

      Hy hou sy hand vir haar sketsboek uit. Sy sou normaalweg huiwer, maar sy gee dit aan.

      “Jy is ’n talentvolle dief.” Sy onsigbare glimlag word skielik sigbaar. Hy laat sy oë van haar hande na haar gesig gly. Hy vind vroue met breë skouers en smal heupe onweerstaanbaar.

      Hy slaan die sketsboek oop. Hy sien sy skets graag figuurstudies, blomme en voëls, veral voëls. Daar is vele pen­sketse van malgasse op ’n kaai. “Lambertsbaai?” sê-vra hy.

      Adri knik. “Ken jy die Weskus?”

      “Ek het ’n klompie jaar gelede daar gewerk.” Richard Geertsema sou liewers van daardie tydjie wou vergeet.

      Hy het by die Johannesburgse Hotelskool sy Diploma in Hotelbestuur met vlieënde vaandels verwerf. Oor hierdie prestasie hang daar nog egter ’n swaard. Dit keer hom om gou weer vir ’n hoër pos rond te kyk. As hy maar die klad op sy naam op iemand anders kon blameer. Maar hy kan net homself verkwalik.

      Sy blink toekoms is benadeel die aand toe sy baas hom in ’n vuurwarm omhelsing in ’n hotelgas se kamer betrap het. Aantreklike bestuurders in hotelle raak na ’n tyd gewoond aan gaste se toenadering. Miskien was hy net te jonk en onervare. Jy lol nie met een van jou base se meisies nie – al het sy eerste aanleiding gegee. Hy is deur die hotelgroep gevra om te loop. Die hotelbaas het daarna gesorg dat niemand hom weer in diens neem nie. Dit het hom nog meer vasberade gemaak om te slaag in ’n bedryf waarin net die hardnekkige taaies suksesvol is. Emmie Berger het hom aangestel toe niemand hom wou werk gee nie. Daarvoor sal hy haar ewig dankbaar wees. En Emmie is hiervan bewus. Haar leuse is: niemand is so lojaal aan jou as diegene wat dink hulle is hul toekoms aan jou verskuldig nie.

      Hy gee die boek terug aan Adri en verander dadelik die onderwerp. “Skets gerus voort. Wie weet, dalk koop ons ’n skets. Ek sal met die hotelbaas praat. Julle kunstenaars weet mos nie veel van bemarking nie.” Hy praat vinnig en sy oë flits van haar boek na haar gesig.

      “En jy weet alles daarvan, want die hotelbedryf is seker jou hele lewe,” sê sy spottend.

      “Wat is daarmee verkeerd?” Hy steek sy hande in sy sakke en trek sy donkerblonde wenkbroue op.

      “Wie wil nou sy siel vir ’n hotel verkoop?”

      “’n Hele paar mense. Dit is nie bloot nog ’n werk nie. ’n Goeie hotelbestuurder word nie gemaak nie. Hy word gebore. Die hotel raak baie maklik jou lewe, die mense daar jou familie.” Richard trek aan sy das en skuif dit reg.

      Adri swaai haar hare oor haar skouers. “Mag ek dit gespaar bly.”

      “Ek dink nie ambisie pla jou nie.”

      “Dit pla my ma. Sy dink ek sal briljant doen in die hotel­wese.”

      Richard kyk ondersoekend na haar. “Nou weet ek wie jy is. Hoekom het jy my nie gesê nie? Jy is Emmie se vriendin se dogter, nè? Ek het amper ’n lelike gek van myself gemaak en jou uitgejaag,” sê hy vies en stap by die deur uit. Sy skerp gelaatstrekke is skielik afsydig.

      Miskien moes sy hom vroeër gesê het wie sy is. Sy het nie gedink dit maak saak nie. Hy het hom nie voorgestel nie. Richard Geertsema, Assistentbestuurder het die silwer plaatjie op sy baadjie gesê. Seker nie lank nie. Hierdie man is vir hoër dinge in die hotelbedryf bestem. Mens kan dit aan sy houding sien.

      Sy draai terug na haar sketsboek. As sommige kunstenaars skep, vergeet hulle alles om hulle. Toe die eerste potloodhaal val, skets sy Richard se mond.

      3

      Nadat die hotelchauffeur hulle tasse op die Bredasdorp-bus gelaai het, sê Nelia vies: “Emmie kon hom net sowel gestuur het om ons by die huis af te laai. Dis net ’n drie uur lange reis.”

      “Die barmhartige Emmie het ons aangestel om in haar hotel te werk. Wat wil jy meer hê?” Adri draai haar rug op Nelia en bestyg die bus.

      “Hoekom het Emmie en Solly nooit kinders gehad nie?” vra Adri toe die bus reeds goed op pad is.

      Nelia sluk swaar. Waar was Adri al die jare? “Ma het eenkeer iets van ’n erfsiekte van Solly se familie gesê. Maar vergeet van Emmie. Jy is heeltemal te veel met haar gepla.” Nelia is bly hulle is nie meer in die vernederende posisie om by Emmie vir ’n pos te pleit nie. Hulle is al twee reeds aangestel. Dankie tog! Hierna kan hulle haar soos die pes vermy, alhoewel ’n betrekking in die Woltemade onder Emmie se arendsoë die enigste rede is dat Hettie hulle in Kaapstad sal laat bly. “Emmie maak ’n fout as sy dink ek gaan lank ’n junior in die hotel se agterste kantore bly.”

      Nelia weet sy klink nie meer so teruggetrokke soos Adri haar ken nie. Die vooruitsig om in Kaapstad te werk, het haar oornag verander. Eintlik het dit ’n proses voortgesit wat begin het toe sy universiteit toe is. Haar eerste studiejaar was haar finale breuk met haar ma. Hulle kon daarna nog minder as tevore klaarkom. Sy onthou goed hoe woedend Hettie was toe sy verkies het om nie verpleging te studeer nie. Deur Hettie se ou beroepsveld te verwerp, het sy gedink sy verwerp haar. Dieselfde het met Adri gebeur toe sy kuns gaan studeer het … met die ver­skil dat Pa Stefan soos gewoonlik aan haar kant was. Nou na sy dood is dit ’n ander storie.

      Hettie wil hulle in ’n rigting dwing.

      Maar sy kan vergeet daarvan. Vroeër sou meisies soos hulle met hubare mans trou om onder hulle ma’s se invloed uit te kom. Deesdae kan hulle gelukkig gaan werk. Nelia is egter bekommerd oor Adri se toekoms. Sy sal maklik ’n man as ’n buffer tussen haar en haar ma gebruik en om die verkeerde redes trou. Sy het byna op agtien met haar eerste skoolliefde getrou, maar gelukkig het die Weermag hom opgeroep.