Soos honde van die hemel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624058830
Скачать книгу
hy nie kans gesien vir die lewe hier met ’n Kleurlingvrou en ’n basterkind nie. Ons is Nederland toe.”

      “Dit kan mens verstaan.”

      “My grootouers was eintlik nader aan my as my ouers.”

      “Dan moet die huis vir jou groot betekenis hê.”

      “Ja …”

      “Dit was so ’n hartseer storie toe die cottages hier in Dieprivier onteien is toe die gebied blank verklaar is. Daar was ook witmense wat daaroor bitter was, hoor! Het jou grootouers toe nog hier gebly?”

      “Ek het daardie tyd byna geen kontak meer met hulle gehad nie, maar ek glo nie, want hulle sou te oud gewees het. Dis een van die redes hoekom ek teruggekom het – om dié dinge te probeer uitvind.”

      “Ja, as mens ouer word, wil jy tog weer van jou wortels weet.” Sy roer ’n rukkie ingedagte in haar koffie. “Toe ons hier gekoop het in ’86, wou ek verskriklik graag meer van die huis se agtergrond uit­vind, maar dit was bykans onmoontlik. Maar jy kan seker meer van jou familie te wete kom?”

      Hy aarsel. “Ek het nog nie probeer uitvind wat van die oorblyf­sels van die familie geword het nie. Dis … nog te gou. Ons het byna veertig jaar lank nie met mekaar kontak gehad nie.”

      Sy knik asof sy verstaan. “Soms moet mens jouself eers vind.”

      “Ek dink so. Vandat ek ’n week gelede aangekom het, het ek alles wat ek kon, gedoen om informasie oor die huis te kry. Maar niks. Daar is boeke vol oor Distrik Ses en die Wynberg Chelsea-cottages, maar stilte oor Dieprivier.”

      “Dis eintlik onbegryplik. Ek was by die argief en die stadsbeplan­ner en die akteskantoor, maar verskriklik veel kon ek nie opdiep nie.”

      “Maar dan tog skynbaar meer as ek?” vra hy gretig.

      “Ek het wel uitgevind dat die cottages deur ene Melt Myburgh gebou is. Op die oorspronklike spesifikasievorm, of wat jy dit ook al wil noem, is die datum 1901. Daar kan jy nog die ry blokkies aan­gedui ‘cottages’ en die heel kleiner blokkies aangedui ‘closets’ sien.”

      “Het jy ’n fotokopie daarvan?”

      Sy knik. “Wil jy dit sien?”

      “Graag!”

      “Ek gaan dit in die studeerkamer soek.”

      Sy kom spoedig terug en sprei die twee groot gekopieerde blaaie voor hom oop. Op hulle knieë bekyk hulle dit saam.

      Hulle lees ook deur die lang spesifikasievorm getiteld: “Specifi­cations of work to be done and material to be used in the erection of cottages at Diep River for Melt Myburgh.”

      “Stel jou voor,” sê hy ingedagte. “Kon jy niks uitvind oor die name van eienaars nie?”

      “Nee. Al wat ek kon agterkom, is dat dit in die besit van een eie­naar was tussen 1906 en 1970.” Sy lê ’n dokument voor hom op die mat neer. “Hier.” Sy wys met haar vinger.

      “Dit kon niemand anders as my oupa gewees het nie. Kyk, my ma sou vanjaar vier en tagtig gewees het. Wat beteken dat sy van 1909 was. Sy het ook ’n broer gehad … wat twee jaar jonger as sy was. Dit bring ons by 1907. As kind het ek honderd maal gehoor dat die kinders almal in dié huis gebore is. Dus kan dit nie anders wees as dat hy dit in 1906 gekoop het nie.”

      “Dit moet wees.” Sy kyk na sy ingenome gesig. “Jy kan vir jou ’n foto­kopie hiervan maak as jy wil.”

      “Gee jy nie om nie?”

      “Waarom op aarde sou ek?”

      “Graag dan.”

      “Kyk jy dit nou maar eers tydsaam deur, hier is nog ’n paar artikels oor Dieprivier in die vroeë dae.”

      Hy gaan ingenome daarmee onder die lamp sit en haal ’n bril uit sy binnesak.

      “Kan ek vir jou ’n borreltjie bring?” vra sy.

      Hy kyk na haar oor sy bril. “Dis darem nie nodig dat ek soveel misbruik maak nie.”

      “Wat drink jy? Bietjie brandwyn, whiskey?”

      “Whiskey sal lekker wees. Dankie, hoor. Dis alles erg vriendelik van jou.”

      Wanneer sy met die drankies en ’n paar blokkies kaas terugkom, sê hy: “As jy nie omgee nie, sal ek graag ’n paar fotokopieë hiervan ook wil maak.”

      “Plesier.”

      Hy kyk meteens ondersoekend na haar. “Waar werk jy eintlik? Ons praat die hele aand nog net oor my.”

      “Ek werk by ’n Rudolph Steiner-skool. Ek weet nie of jy weet …”

      “Ja! Vrije School in Nederland. Interessant. Maar jy lyk nie soos ’n egte Waldorfskool-onderwyseres nie.”

      Sy lag, neem die draadraambril op en druk dit oor haar neus en vat haar hare agter haar kop bymekaar. “Jy meen so?”

      Hy moet ook lag. “Ja, miskien. Maar ek mis jou vormlose rok en jou leersandale.”

      “Dié is in my kas,” stel sy hom gerus. “Bly jy hier in die stad?”

      Hy knik. “Maar ek soek ’n woonstelletjie of ’n kamer, want ek kan nie dáár lekker met ’n woordverwerker oor die weg kom nie.”

      Sy dink ’n oomblik na. Toe sê sy: “My seun se woonstelmaat is on­langs vir ses maande oorsee. As jy wil, kan ek hom vra …”

      Sy mond gaan effens oop. “Bedoel jy dit?”

      “Jazeker.”

      “Dis ’n Hollandse uitdrukking,” sê hy ingedagte.

      “Ja.”

      “Hy het ’n kamer in sy woonstel wat hy tydelik wil verhuur?”

      Sy knik. “Nie ’n wonderlike kamer nie, kleinerig en koud. Maar darem ’n plek tot jy iets beters kan kry.”

      Hy kyk haar ’n rukkie aan. “Jy ken my van geen kant af nie.”

      Haar wange word effens warm. “Mens ken maar selde ’n voor­nemende huurder van ’n kant af.”

      “Dis waar. Sal jy my sy telefoonnommer gee?”

      “Miskien moet ek self met hom praat.”

      “Soos jy wil.”

      “Hoe kom dit eintlik dat jy Afrikaans nog so goed praat?”

      “Ek het dit altyd bly lees. Tydskrifte, romans, alles wat ek in die hande kon kry. En ek het ’n vriend in Nederland, jare al, wat Afrikaans is. Hy het in die sestigs vir asiel gekom en nie weer teruggegaan nie.”

      Die klok slaan sy sestiennote-deuntjie en daarna tien dreunen­de slae en Ruud staan op. “Jy was baie vriendelik,” sê hy, “maar nou sal ek jou nie langer ophou nie.”

      Sy skud haar kop. “Jy het my nie opgehou nie.”

      Hy neem die bondel dokumente bymekaar. Die ou hond roer in sy mandjie. Nou kyk Ruud na die Kersboom. Hy sit die papiere weer op die bank neer.

      “Ek sal jou graag eers help om die boom klaar te maak.”

      Sy kyk verwonderd na hom. “Dis nie nodig nie.”

      “Ek weet. Maar ek sou tog graag wou. Ek weet nie wanneer ek dit laas gedoen het nie.”

      Sy staan ook op. Alexander kom dronkerig in sy mandjie orent en kyk blind in die rigting van haar stem. “As jy wil, is jy welkom,” sê sy.

      Twee

      Brief uit Suid-Afrika – April 1993

      Die noordewind het die hele nag stormagtig gewaai sodat ek ruste­loos geslaap het. Maar dit het nie tot reën gekom nie. Vroegmôre, voor die son uit was, was ek helder wakker sodat ek opgestaan het. Dit het stil geword buite, maar die