“Dalk moet jy elke Vrydag terug vlieg,” stel sy voor. Sy sal wel oor naweke iemand kry om haar te assisteer. “Jy kan mos ’n klomp keisers só inpas?”
Hy gaan sit op die vensterbank en kruis sy arms voor sy bors. “Jy neem sommer aan dat ek dít as ’n geldige rede vir snitte sal beskou. Het jy ’n hekel in alle gynies, of net in my?”
Bella wil wegkyk, maar sy onstuimige oë hou hare gevange. Is haar vooroordeel só duidelik? Sy sal harder moet probeer om hoflik te wees. Hy kan nie help dat hy só lyk nie. Ook nie dat hy ’n swetterjoel van haar knoppies gelyk druk nie.
“Ek het maar net aangeneem, um, aangesien jy die eerste gynie is wat aan die mentorskap deelneem …”
Hy lag vreugdeloos. “Dat my keisersneesyfer veel te wense oorlaat?”
“So iets, ja.”
“Ek verseker jou dis nie die geval nie. Ek speel proefkonyn omdat ek ’n vyf-agste pos by die mediese fakulteit het. Ons beplan om binnekort al die kliniese assistente te laat mentor. As ek die eerste beurt neem, kan ek solank enige kreukels uitstryk.”
Hy’s ’n dosent? ’n Vlaag mislikheid stoot in Bella se keel op. Hoekom het Chrissie haar nie gesê nie? Skielik onthou sy die halfvergete e-pos in haar inbox. Sy’t nooit die aanhegsel oopgemaak nie. Pleks sy haar huiswerk gedoen en Markus se CV deurgekyk het. Dan het sy minstens geweet hoe lank hy al by die fakulteit is …
“Nog iets waaroor jy wonder?”
Sy vra sommer die eerste ding wat in haar kop kom, enigiets om die gesprek van die universiteit weg te lei. “Wat ís jou keisersneesyfer?”
Hy glimlag stram, druk sy hande in sy broeksakke. “So sewentig persent.”
Sy wil wegdraai om haar triomfantelike glimlag te verberg, maar is te stadig.
“Hei, jy kan nie die syfer in ’n vakuum beoordeel nie. Ek werk met hoërisikogevalle, onthou. Ek het ’n infertiliteitskliniek, ek werk –”
“Aargh, moet net nie vir my sê jy werk met ‘kosbare’ babas nie! Alle babas is kosbaar en ek pes die implikasie dat daar graderings is op grond van hoe lank ouers probeer het om swanger te raak.”
“Sal jy seblief ophou om woorde in my mond te lê?” Hy leun terug en kruis een lang been oor die ander. “Ek wou sê dat ek met ma’s werk wat reeds gekompliseerde swangerskappe het. Hul geboortes lewer noodwendig meer probleme op.”
“Ek’s seker jy’t goeie redes.” Sy grys oë vernou, asof hy probeer besluit of sy sarkasties is. “Juis daarom kan ek nie sien hoe hierdie program enigiets vir jou, of vir enige ander gynie, kan beteken nie.”
“Ek mag dalk met jou saamstem, ek het nog nie besluit nie. Maar iewers moet ons ’n oplossing begin soek.” Hy spring rats van die vensterbank af. “Wat sê jou pasiënt, mag ek inkom?”
“Op voorwaarde dat jy net assisteer. Dan hoef ek nie my vennoot te laat kom nie.” Sy sien nie kans om hom nou al te vertel dat hierdie nie die laaste geboorte is waar hy sal moet help vang nie.
“Natuurlik. Jy moet net sê wat ek moet doen.”
“Nie veel nie. As ek die anterior skouer verlos, kan jy Synto spuit. Ek lê die kleintjie direk op haar bors neer. As als reg is, bly hy daar tot ná die eerste voeding.” Sy kyk vraend na hom, gaan hy dié praktyk bevraagteken? “Sodra die outjie klaar gedrink het, kan jy hom ondersoek en aantrek.”
Hy steier ’n tree agtertoe. “Aantrek?”
“Hoekom nie? Jy’t darem een X-chromosoom, dokter, dis nie breinchirurgie nie.”
“Ek het tien duime wanneer ek sulke dun armpies deur daai klein mousgate moet kry.”
“En ek het blinde pasiënte wat hulle babas sonder hulp aantrek. Jy sal leer. Kom, ek wil Jacomien gaan ondersoek sodat ons weet waar ons staan.”
Bella hou Markus se gesig fyn dop toe hy by die slaapkamer instap. Hy glimlag vriendelik vir Jacomien, maar toe hy die blou geboortebad sien, klouter sy oë byna uit hul kasse. Vrek, hier kom moeilikheid. Chrissie het haar sowaar opgesaal met een van die fools wat glo watergeboortes is gevaarlik. Hopelik hou hy sy snater tot ná die geboorte.
Gelukkig trek Albert sy aandag af. Hy stap met ’n uitgestrekte hand nader, sy gesig blink van bewondering. “Maar my magtig, is jy nie die Markus Cameron wat vir WP gespeel het nie? Ek dag mos ek herken die naam!”
Markus trek sy skouers kamma beskeie op. “Net vir ’n paar seisoene.”
“Jy was agsteman, ek onthou! Jy’t twee drieë gedruk in daai naelbyt-Curriebeker-eindstryd.”
Markus se hele aantreklike bakkies straal. Bella het geen erg aan rugby nie, maar kan nietemin nie haar oë wegskeur nie. Onse aarde, maar hy’s gorgeous as hy glimlag … Hy vang haar oog en skyn daardie einste glimlag volsterkte op haar. Haar lyf word warm en vloeibaar soos kerswas. As sy nie versigtig is nie, gaan sy begin drup tot daar net ’n poeletjie Bella op die blokkiesvloer oorbly. ’n Idiotiese grinnik hijack haar mondhoeke.
Fyn trap, sussie. Markus Cameron behoort al jou ingeboude panic buttons gelyk te laat skril. Is hy nie alles wat jy nie in ’n man kan verdra nie? Sjarmant. Selfversekerd. Super-sexy. Net soos … Sy ruk haar wegholgedagtes net betyds in die bek.
“Wat het van jou geword, Cameron?” vra Albert. “Die kenners was so opgewonde oor jou, toe verdwyn jy net. Is jy beseer?”
“So iets, ja.”
“Vertel, maat, vertel. Wat het gebeur?”
Markus kyk verlangend na die deur. Dan vroetel hy met die geheimsinnige rekkie om sy pols. Die atmosfeer in die kamer is dik genoeg om met ’n mes te sny.
“Ek praat nie graag daaroor nie,” sê Markus. “Dis water onder die brug.” Sy stemtoon maak geen geheim daarvan dat hy die onderwerp as afgesluit beskou nie. Meeste mense sou dit so aanvaar, maar nie Albert nie.
“Ag nee, man, jy’s tussen vriende. Vertel ons wat gebeur het.”
Markus lyk of hy nie kan besluit of hy wil weghol of eerder vir Albert ’n opstopper wil gee nie. Nee, maggies, hier moet sy ingryp. Sy wil Jacomien nie aan hierdie vibe blootstel nie.
“Oukei, manne, dis genoeg. Ek duld nie rugbypraatjies in my kraamkamer nie. Verskuif jul haneparty kombuis toe en maak vir Jacomien iets om te drink. Ek moet haar ondersoek en ek kan dit nie doen terwyl daar ’n testosteroonwolk oor die kamer hang nie.”
“Sê hulle,” lag Jacomien.
Albert se groen oë blits onder sy woeste rooi wenkbroue, maar Markus stuur hom hand-op-die-skouer by die deur uit.
“Was sy heelnag by ’n pasiënt dat sy vanmôre so beneuk is?” Bella hoor nie Markus se antwoord nie, vang net so skrams die woord “hormone”. Sy wil nog ’n snedige antwoord agterna roep toe Jacomien haar hand gryp.
“Bella, hy’s ’n dish! Hoekom het jy nie gesê dis so ’n beeld van ’n man nie?”
“Vind jy hom aantreklik?” gaap Bella, gemaak verveeld. “Kan nie sê ek het opgemerk nie. Ek was te besig om hom die leviete voor te lees oor hoe hy hom by my geboortes moet gedra.”
“Hy’s absoluut opvreetbaar!” Jacomien se stem is skril van vervoering. “En hy’t nie ’n ring aan nie! Lucky jy wat saam met hom gaan werk.”
“Ja, jippie.” Bella rol haar oë. “Die vooruitsig vul my met vreugde.”
Jacomien klap haar speels teen die arm. “Wat makeer jou?” Sy lag en beduie na haar boepie. “As my situasie anders was, het ek dalk self my kanse gewaag.”
“Jy’s