“Ter wille van die vrede, nè?” Die woorde steek soos visgrate in haar keel. “En wat van my pasiënte se vrede? Party is juis by my omdat hulle nie voor ’n vreemde mansmens wil kraam nie.”
“Ek verstaan. Geboorte is ’n intieme gebeurtenis. Wanneer ons by jou pasiënt kom, kan jy haar eers vra of ek welkom is. Indien nie, wag ek buite.”
Hierdie onverwagse redelikheid neem ’n oomblik lank die wind uit haar seile. Maar darem net ’n oomblik. “Ek wéét jy gaan nie welkom wees nie! Nie by Jacomien of by enige van my ander pasiënte nie. Jy’s ’n wildvreemde man en …”
“En?”
Sy trek haar neus op ’n vies plooi. “En … kyk hoe lýk jy, man.”
“Hoe lyk ek?” Hy kyk verbaas af na sy swart T-hemp en jeans. “Ek het aangeneem die dress code vir tuisbevallings is informeel. Wat’s fout met my? Jy’t ook jeans aan. Of gaan jy later ’n uniform aantrek?”
“Ek praat nie van hoe jy aangetrek is nie. Ek praat van hoe jy lýk.”
“Hóé lyk ek?”
Sy sug oordrewe. “Vergeet dit.”
“Nee, ek gaan nie. Sê my asseblief wat verkeerd is met hoe ek lyk sodat ek iets daaraan kan doen.”
“Jy lyk … te perfek, oukei? Perfekte lyf, perfekte hare, perfekte modieuse stoppelbaard. Geen vrou kan gemaklik voel met jou in die vertrek nie.”
Hy staar haar oopmond aan. “Wat op aarde bedoel jy?”
“Presies wat ek sê: Jy lyk nie soos iemand wat my mammas op hul gemak gaan stel nie. Jy gaan hulle selfbewus maak. En ’n selfbewuste vrou kan nie kraam nie.”
“Ek het nog nooit sulke nonsens gehoor nie!”
“Dis nie nonsens nie, dis Biochemie 101. ’n Selfbewuste vrou produseer adrenalien pleks van oksitosien.”
Hy vryf oor sy voorkop, wat op ’n verwarde plooi getrek is.
“Hallooo? Adrenalien? Veg-of-vlug-respons? Kyk, dokter, dis eenvoudig.” Bella praat stadig en duidelik, asof sy ’n kind aanspreek. “Kom ons gebruik ’n voorbeeld. Dink aan ’n dragtige rooibok in die veld. Wat sal met haar kraamproses gebeur as sy ’n leeu sien?”
Hy krap sy blonde kop. “Verwar jy my nie dalk met ’n veearts nie?”
“Humour me. Wat sal gebeur?”
“Die proses sal … stop?”
“Ditsem! Die adrenalien sal die oksitosien teëwerk en die kontraksies sal ophou. Die proses sal eers hervat wanneer die ooi veilig voel.” Sy kyk triomfantelik na hom, oortuig dat sy haar punt gemaak het. Maar die frons tussen sy wenkbroue vertel ’n ander storie.
“Dalk kyk jy te veel Animal Planet. Natuurlik kan oormatige stres verloskundige komplikasies veroorsaak, maar jou pasiënte is rasionele wesens, nie rooibokke nie.” Hy stoot sy onmoontlik breë borskas nog verder uit. “Dis heeltemal moontlik dat ’n spesialis soos ek hulle veiliger sal laat voel.” Hy skud sy kop. “Deksels, man, ek’s ’n ginekoloog, nie ’n predator nie.”
“O, ek weet nie so mooi dáárvan nie,” mompel Bella.
“Ekskuus?”
“Ek sê, wat my betref gaan my pasiënte jou as ’n bedreiging sien en geïnhibeerd voel.”
“En wat mý betref is dit stro … strooi. Miskien is jý eerder die een wat bedreig gaan voel. Bang ek gaan jou vertel hoe om jou werk te doen, hm?”
“Hei!” Bella se wysvinger skiet die lug in. “Ek wéét hoe om my werk te doen. Vir die volgende maand is ek jóú mentor.” ’n Heerlike rilling van mag glip by haar ruggraat af. “En ek sê nou vir jou: Geïnhibeerde vrouens kraam nie. Dis hoekom julle gynies soveel snitte vir ‘onbevredigende vordering’ moet doen. Jul pasiënte is nie op hul gemak nie.”
“My pasiënte voel volkome gemaklik by my.” Hy haak sy duime deur die lussies van sy jeans, wat hom nóg meer soos ’n Levi’s-model laat lyk. Bella dwing haar verraderlike blik weg van sy heupe en kyk hom vierkant in die oë.
“O, regtig? Ek kan my kwalik voorstel dat iemand wat soos jy lyk ’n gerusstellende effek kan hê.”
Hy rol sy oë so woes dat Bella bang is hulle gaan heeltemal omdop. “So iemand wat gesond leef, wat na homself kyk, kan nie gerusstellend lyk nie?”
“Dis nie wat ek bedoel het nie.”
“Wat het jy dan bedoel?”
“Jy’s te sexy vir ’n gynie.”
“Wát?! Kan jy nou meer.” Hy fluit tussen sy Colgate-advertensie-tande deur en kyk ondersoekend na Bella. “Jou woorde klink na ’n kompliment, maar jou stemtoon laat my dink dis eerder ’n belediging.”
“O, dit was beslis nie ’n kompliment nie.”
“Ek sien. Wel, kom ons neem net vir ’n oomblik aan dat jou verregaande stelling waar is. Ek is te …” Hy sluk so swaar dat sy adamsappel op en af wip. “… sexy vir ’n gynie. Wat stel jy voor moet ek daaraan doen? Meer bier drink en minder gym sodat ek ’n boepens kry?”
Oe, ja, asseblief, dink Bella. Die prentjie wat haar verbeelding optower, laat haar tone behoorlik krul. Tog hou sy haar gesig so sedig soos ’n begrafnisondernemer s’n.
“Ek gee nie ’n flenter om wat jy doen wanneer jy by die huis is nie, dokter Cameron, maar vir die volgende paar weke het jy met mý pasiënte te doen. Ek gaan nie toelaat dat jy hul geboortes opfoeter nie. Ek hoop van harte jy’t die talent om jou gespierde lyf skaduwee te hou, want die oomblik as ek agterkom dat jy my mammas inhibeer, is hierdie projekkie op ’n einde.”
“Jy kan net so min soos ek kop uittrek.” Hy vou sy arms voor sy bors sodat die swart T-hemp stywer span. “Die mediese fondse druk die hospitale vir minder snitte. Hierdie ‘projekkie’ is die Hospimed-groep se poging om te gehoorsaam. As ek en jy ons hospitaalregte wil behou, moet ons saamspeel.”
“Mag ek jou herinner dat die fondse geen probleem het met mý keisersneesyfer nie? Dis maar tien persent.” Sy wag ’n oomblik vir die feit om in sy blonde kop te sink. “Ek mentor jou net as ’n guns aan Chrissie.”
Hulle staar mekaar met gelyke dosisse vyandigheid aan. Bella verwag dat hy gaan omswaai om haar by die hospitaalbestuurder te verkla, maar hy pers bloot sy lippe saam en druk sy hande in sy sakke.
“Fine, jy’t jou punt gemaak. Ek’s verleë en ek sal my bes doen om jou en jou pasiënte op jul gemak te stel.” Hy steek sy hand na haar uit.
Bella kyk agterdogtig na hom. Sy glimlag lyk opreg genoeg. Sy grysblou oë lag saam sodat kraaispoortjies uit hul hoeke waaier. Selfs sy flippen plooie is gorgeous! Haar pa sal liries raak oor hierdie man. Oor sy sterk kakebeen, sy reguit neus, sy perfek simmetriese gelaatstrekke. Ja-nee, die gode was Markus Cameron goedgesind toe beenstruktuur uitgedeel is.
“Gaaf, dan’s ek bly ons verstaan mekaar. Enne …” Sy laat hom toe om haar hand te neem. Oombliklik vibreer skokgolwe teen haar arm op en sy’s seker elke armhaar staan soos ’n seintoring orent. Nes vroeër is haar woorde skoonveld, haar gedagtes leër as ’n postvirale hardeskyf.
“En?” vra hy spottend.
Sy pluk haar hand weg. “Ek het net twee reëls. Een, jy bevraagteken my nooit voor my pasiënte nie. As jy nie saamstem met iets wat ek doen nie, kan ons dit buite die kraamkamer bespreek. Twee, jy hou jou pote heeltemal van my ma’s af. Is dit duidelik?”
Hy klik sy hakke teen mekaar en lig sy hand in ’n SS-
saluut. Voor sy kan keer, lag Bella.
“Klim in, dokter Cameron, ek wil ry.”
2
“Jy kan darem voorgee