Maar Markus lyk allesbehalwe beïndruk. “Ek kon nog nooit vroue se obsessie met natuurlike geboorte verstaan nie. Die epiduraal is ’n obstetriese wonderwerk. Natuurlike geboorte kan ’n verskriklike ervaring wees.”
“Dit kan ’n onvergeetlike ervaring ook wees. ’n Vrou se kop moet net reg wees.”
“Is jou logika nie agterstevoor nie, suster? Hoekom sou enige regkoppige vrou natuurlike geboorte kies? Niemand laat hul blindederm sonder narkose verwyder nie.”
“Aag, man!” Sy slaan met die plathand teen die stuurwiel. “Dis mos nou heeltemal anders.”
“Hoekom?”
“Omdat ons nie oor vrot blindederms se welstand begaan is nie. As jy nie weet dat natuurlike geboorte beter is vir babas nie, is dit hoog tyd dat jy inteken op ’n paar vakkundige joernale. Voorgeskrewe leeswerk, deel van die mentorskap.”
“Gaan daar ’n toets wees, juffrou?” Hy kyk skewekop na haar, ’n halwe glimlag om sy lippe. “Sal jy vir my ekstra klasse gee?” Bella voel of haar hart vryval, maar sy hou haar pose.
“Spaar jou asem, dokter, jou sjarme is totaal vermors op my.” Sy kyk nie na hom nie, haar volle aandag kastig by die sleutel waarmee sy die kar afskakel. Sy betrap sy blik op haar. “Toe, toe, toe!” raas sy. “Uit is jy. Jy kan help om my pakkaas te dra. Dan kry ek darem ook iets hieruit.”
Tot Bella se heimlike teleurstelling het Jacomien geen beswaar teen Boland se teenwoordigheid nie.
“Dit voel vir my soos ’n goeie cause. As dit ander vroue kan help om beter geboorte-ervarings te hê, kan jou gynie gerus waarneem. Ná twee kinders het ek nie juis inhibisies oor nie.” Jacomien draai ’n swart kurktrekkerkrul om haar wysvinger. “Maar dan kom Sophia seker nie?”
Bella frons. “Wel … Ek en Sophia is ’n span. Dokter Cameron het vandag eers gekom en ek’s nie seker hoe, um, vertroud hy is met natuurlike geboorte nie.”
Nóg ’n goue sterretjie vir my, dink sy ingenome. Ek kón gesê het die man is ’n arrogante mamparra wat meen jy en die res van my pasiënte het hul varkies verloor.
Jacomien loer na Albert, haar rooikopman. “Ek verstaan, maar dit sal gaaf wees as dit net julle twee is. Die slaapkamer is so beknop met die geboortebad. Buitendien …” Jacomien skuif ongemaklik rond.
“Sophia is so ’n koue vis.” Albert draai nooit doekies om nie. Hy’s een van daai mense wat hulself op eerlikheid beroem, maar dit eintlik as verskoning gebruik om plein ongeskik te wees. “Regtigwaar, Bella, hoekom met so ’n ysprinses werk in ’n touchy-feely beroep soos julle s’n?”
Bella se nekhare rys. “Sophia is die beste vroedvrou wat ek ken. Sy’s dalk effens … sosiaal wanaangepas, maar haar toewyding en vaardigheid maak dubbel en dwars op daarvoor. En ek wil nie graag ’n bevalling sonder haar doen nie.”
Albert se groen oë boor in hare. “Dink jy nie ek en
Jacomien behoort die finale sê te hê nie? Aangesien ons jou immers betaal?”
Bella druk haar palm teen haar voorkop, waar ’n hoofpyn reeds klop. “Jy betaal my om te doen wat ek dink die beste vir jou vrou en baba is. Ek ken vir Sophia, terwyl ek dokter Cameron pas ontmoet het.”
“Hy ís ’n spesialis. En hy hoef jou mos net te assisteer?”
“Oukei, fine.” Sy’t nie krag om verder te stry nie. “Ek laat weet vir Sophia.”
Tot Bella se verligting klink Sophia allesbehalwe afgehaal toe sy bel. “Hierdie ginekoloog kom asof hy gestuur is, Bella. Ek het dringend verlof nodig, ’n week of twee, maar ek weet dis ’n uiters ongeleë tyd.”
“Verlof? ’n Week of twéé?” Bella kan nie glo wat sy hoor nie. Dit is ’n onmoontlike tyd!
“Asseblief, ja. Mimi het gisteraand ’n femurfraktuur opgedoen.”
“Wat? Haar heup? Agge nee tog!” ’n Vaal kol kom lê op Bella se maag. Sy’s versot op Mimi, Sophia se eksentrieke, wyse, warm ouma. Bella is nader aan haar as wat sy ooit aan haar bloedoumas was. “Hoe’t dit gebeur?”
“Sy’t die femur glo eers hóór breek, toe val sy. Sy’s op die teaterlys vir elfuur.”
Bella sak op haar hurke, haar rug teen die koelte van die gangmuur. Mimi is vier-en-tagtig. Fiks en gesond vir haar ouderdom, maar ’n heupvervanging is ’n hengse terugslag.
O hel, en die praktyk! Dis Oktober, hul dolste, dolste maand. Wat gaan sy sonder Sophia maak? Mens skop nie opgeleide vroedvroue agter elke bos uit nie. Haar “skaduwee” is wel hier, maar hy gaan haar werklas swaarder maak eerder as verlig. Hóm sal sy soos ’n babatjie moet oppas.
“Moet jou oor niks bekommer nie,” sê sy egter. “Neem soveel verlof as wat jy nodig het. Ek sal regkom met dokter Cameron van die Kaap. Al moet ek hom bietjie panelbeat.”
Bella strompel sleepvoet terug woonkamer toe. In die deurkosyn steek sy vas. Markus sit op die rusbank, sy gespierde arms gedrapeer om twee miniatuurweergawes van Jacomien. Iets omtrent die prentjie gee Bella ’n knop in die keel. Dit herinner haar aan die outydse koekblik vol jêmtertjies op Mimi se yskas. Op die deksel is ’n ou foto van ’n krulkopdogtertjie omring deur donsige geel kuikens. Bella se hart kramp pynlik. Ai, Mimi …
Gelukkig sien die drie nie hoe sy teen haar emosies baklei nie. Hul oë bly vasgenael op die platskermtelevisie waar Meryl Streep sing oor hoe sy haar dag en nag moet afsloof. Klink bekend, dink Bella. Gelukkig is sý nie desperaat genoeg om te dink ’n man gaan haar probleme oplos nie, maak nie saak hóé welaf hy is nie. Haar ma het met ’n stinkryk plastiese chirurg getrou, en toe? Ingeruil vir ’n jonger model toe sy nie ’n manlike erfgenaam kon voortbring nie. Nee dankie, sy wat Bella is, hou van haar hart soos hy is. Heel en veilig in haar eie borskas. Beslis nie in die hande van die een of ander reeksrokjagter nie …
“En toe?” vra sy, skerper as wat sy bedoel het. Een blonde kop en twee gitswartes wip van die skrik. “Carissa, Kayla, is julle nie skool toe nie?”
“Pappa’t gesê ons kan vandag by die huis bly,” verduidelik Carissa. “Want Boetie gaan kom.”
“Ek hoop julle gaan soet wees en nie vir Mamma pla nie?”
“Ons soet wees,” belowe Kayla. “Ons kyk Mamma Mia!” Sy draai haar viooltjieblou oë vol onverbloemde bewondering na Markus. “Saam oom Malkus.”
“Dis lekker. Maar die oom moet nou kom werk. Hy kan nie sit en storie kyk nie.”
Markus buk vooroor en fluister iets in Kayla se oor. Albei dogtertjies kraai van die lag. Bella voel hoe haar rug verstyf. Skaars twee bakstene en ’n tiekie hoog en die man het hulle klaar in die sak.
Hy knipoog vir die kinders en volg Bella sitkamer toe. Dis ’n weelderige vertrek, behang van skilderye, maar hy stap reguit na die groot vensters en fluit sag.
“Dis pragtig hier by julle.”
“Hoor ek reg? ’n Kapenaar wat sê Pretoria is mooi?”
“Natuurlik is dit ’n ander tipe mooi as daar by ons, maar dis steeds lieflik. Die koppies rondom die stad, die pers jakarandas. Sien jy nog elke jaar uit na Oktober?”
Die vraag is vreemd intiem. Dit roer iets binne Bella. Vir ’n oomblik kyk sy met ander oë na Markus Cameron, dieper as die modelmooi verpakking wat haar so ontstem. En sy hou heeltemal te veel van wat sy sien …
“Die stad lyk pragtig in haar pers kleed, ja. Net jammer ons kry nie veel tyd om haar te bewonder nie. Oktober vang ons bybies dat dit klap.”
“Dis my besigste maande ook. Die babas wat oor die feestyd gemaak is.”
“Dis ’n moeilike tyd om weg te wees van jou praktyk. Dalk moes jy liewer in die winter gekom het?”