Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158534
Скачать книгу
Die eerste kwartaal toe McKairn, haar pa, die onderhoofpos by die nuwe skool gekry het, het sy en Mignon op twee punte na dieselfde persentasie gekry. Maar Mignon is haar altyd net-net voor.

      Sy en Mignon van Mechelen is ewe lank. Hulle doen ewe goed in somme en van opstelskryf hou hulle die meeste. Mignon is goed in atletiek, en Maggie is altyd laaste wanneer daar gehardloop word. Sý moet klavierles neem tot haar vingers lam is, en dan moet sy nog smiddae ekstra hard oefen.

      Maar Mignon mag net skelm by die atletiekoefeninge hardloop. Nooit in die wedstryd op die dag van die kompetisie nie, en nie eens as die skool se eie spanne teen mekaar wedywer nie. As haar ma of die mense by die kerk agterkom dat sy iets met sport of kompetisie te doen het, is daar moeilikheid. En Fedélis kan haar mond nie van haar sussie afhou nie.

      Pouses staan hulle albei effens eenkant, weg uit die kring van die ander meisies wat touspring en uittelspeletjies speel. Maggie, omdat sy die visehoof se kind is en ’n rooikop daarby – Mignon omdat sy ’n Getuie is.

      Die middag toe sy van Mignon af by die huis kom, is haar pa reeds terug van sy vergadering. Haar ma maak vir haar groot oë: “Gaan oefen eers jou nuwe stuk voordat ons eet.” Sy weet dis nie omdat haar ma so graag wil hê sy moet voor die klavier gaan sit nie, maar omdat sy op dié manier keer dat haar pa te erg met haar raas.

      Uit die vertrek waar die klavier staan hoor sy haar pa met haar ma praat; die woord “Getuies” hoor sy ’n paar keer. McKairn se stem is die yswind wat wintersoggende om die hoeke van die skool waai. Hy praat hard genoeg dat sy van binne af ook kan hoor; van die onderwysers sou hom lankal vertel het sy is maats met die Van Mechelen-kind.

      “Maggie.”

      Haar pa druk sy twee hande plat op die tafel weerskante van sy bord nadat haar ma geroep het sy moet kom eet. “Vandag is die laaste keer dat jy jou voete by daardie Getuies gesit het. Ek het klaar gepraat.” Die rooi vuurkop blink onder die lig; sy stem raak hoër en harder by woorde soos “sektes” en “kultusse” en “Satan”.

      Haar kop sak op haar bors. “Ja, Pa.” Sy weet nie wat “sektes” en “kultusse” beteken nie, maar sy durf nie vra nie. En sy kan nie anders nie, sy moet antwoord wat hy wil hoor; haar pa sal haar nooit los nie.

      Toe praat haar ma: “’n Mens ken hulle nie, McKairn. Hulle het ’n reg op hulle godsdiens. Soos jy ook, wat in jou hart maar Katoliek gebly het.”

      Haar ma trek haar asem skerp in, dan praat sy weer: “Daardie kerk se mense is die enigstes wat iets oorgehad het vir ou meneer Swart toe hy nie meer kon loop nie; dis hulle wat vir hom kos aangedra het, hulle wat geld bymekaargemaak het vir ’n rolstoel.”

      Maggie haal nie asem nie. Haar ma praat haar pa nooit teë nie.

      Buite in die olienhoutboom wat haar pa se trots is, roep ’n vroeë uil. Hoééé …

      Haar pa se hare lyk asof dit regop op sy kop staan, sy oë is die koue ligblou kleur van albasters met fyn krakies bruin naby die kykers. Die plooie langs sy neus is dieper as gewoonlik.

      Hy kyk om die beurt na haar en haar ma: “Jy weet nie waarvan jy praat nie, Liesbet. Valse profete, dis wat hulle is. En hoe gouer hulle hulle ry kry uit die gemeenskap, hoe beter vir ons almal. Eendag sal hulle in die gerig staan!”

      Haar ma lig die servet langs haar bord op en vee haar mond liggies af. Teen die wit van die lap wys ’n pienkerige lipstiffiemerk toe sy dit terugsit op die tafel.

      “Die Getuies, en mense soos hulle, is die kerk se onbetaalde skuld, McKairn. Dis mense wat soek na vastigheid en liefde – en dit op ’n ander plek kry as waar hulle dit behoort te gekry het.”

      Sy skuif haar stoel agteruit, staan op en begin afdek. Die skottelgoed wat in die wasbak teen mekaar gepak word, kap harder teen mekaar as ander kere.

      “Sies vir jou,” sê Mignon die volgende dag toe sy haar vertel, “jy is my maat, maar jy sê sommer vir jou pa jy gaan nie weer met my speel nie!”

      “Dis nie waar nie,” antwoord sy. “Ek het net gesê ek sal nie weer na julle huis toe gaan nie, en onthou net wat het Fedélis oor my gesê.”

      Die volgende klompie dae praat sy en Mignon nie met mekaar nie; dis of hulle aan twee kante van ’n rivier staan en die brug daaroor het weggespoel. Sy weet nie of Mignon se suster haar gaan verklik het nie; sy weet nie wat alles in die huis van die Getuies gebeur het nie. Pouses gaan sit Mignon anderkant by die skoolhek en lees ’n Wagtoringboek.

      Maar ’n week later roep sy Maggie nadat sy haar koffer in die ry neergesit het.

      “Kom kyk! Ek het iets gekry!” Haar stem is weer vol sonspikkels.

      Maggie hardloop na waar Mignon met haar gladde ligbruin hare en Alice band oor die speelgrond buk. Net-net raak haar neus nie aan die grond nie.

      “Kyk,” sê sy toe Maggie by haar kom. “Dis die eerste keer dat ek hulle hier by die skool sien. My ouma sê as ’n mens dit kry, is dit ’n baie spesiale present wat jy uit die grond kry.”

      Maggie sien niks. Vir eers nie.

      Sy buk sodat haar knieë op die harde klipperige bultjie druk. Haar oë kyk oormekaar van probeer om te sien.

      “Kyk, dis ’n froetang, ’n mens kan dit eet.” Mignon steek haar hand uit na die stowwerige wegkruiperplantjie.

      Die vruggie lyk soos ’n waatlemoentjie so groot soos die punt van ’n dik potloodkryt. Sy pluk dit af met stingel en al en sit dit in Maggie se bakhand. “Hier, dit smaak soos groen.”

      Die vruggie het kepies in die lengte, sien sy toe sy dit van nader bekyk. Sy byt; onder haar tande breek dit oop. Op haar tong proe sy water en gras.

      “Moenie vir die ander sê nie,” fluister Mignon.

      Hulle hardloop na die rye toe die skoolklok lui, probeer die stof van hulle skoolrokke afvee. Die juffrou wat die kinders laat instap, raas oor hulle klere so vuil en vol grondstrepe is. Onderlangs lag Mignon na Maggie; sy kruis haar voorvinger en langeraat oormekaar.

      Daar is baie dinge omtrent Mignon wat Maggie nie kan verstaan nie. Haar kerk sê die wêreld se einde kom in 1975 en hulle glo nie jou siel kan aanhou leef wanneer jy doodgaan nie. Elke week moet hulle na ander mense se huise gaan en vir hulle Bybellees en bid. Die meeste mense is bang vir die Getuies. Hulle jaag hulle weg wanneer hulle agterkom wie by hulle voordeur staan.

      Maar Mignon is die enigste kind met wie Maggie wil praat. Partykeer soggens voor skool kyk sy ver voor haar uit en sê: “Ek het laas nag weer ’n storie gesien …” En pouses vertel sy vir Maggie die verhale uit haar drome en haar dink.

      Die dubbele skoolbanke waarin hulle saamsit in die klasse waar hulle dit so kan bewimpel, word leë plat stukke hout toe Mignon-hulle ná twee jaar trek. Haar oë was rooi toe sy dit die oggend by die skool vir Maggie sê. “Ek weet nie hoekom my pa al weer wil weggaan nie. En die meeste van die tyd is hy nie eens by die huis nie. Dalk is dit my ma, dalk is dit omdat Fedélis vir my ma vertel het jy was daardie dag by ons huis.”

      Die aand aan tafel klink Maggie se pa soos wanneer hy elke tweede Maandagoggend die saalgodsdiens hou. “Goddank! Nou sal ek sorg dat die skool weer die opvoedingsinstansie word wat dit moet wees. Sonder om ouers se vrae en klagtes oor die snaakse kinders te moet beantwoord; sonder dat ek hoef toe te kyk hoe daardie klomp ketters eenkant staan wanneer die vlaglied gesing word. Respek vir die land en regering het hulle mos nie.”

      Die laaste dag, toe die klasonderwyseres Mignon se gratis skoolhandboeke inneem, hou sy haar opstelboek na haar toe uit. “Om vir die onderwysers op Mosselbaai te wys dat jy jou standerd ver vooruit is.” Toe maak sy die Engelse taalboek oop: “Vandag begin ons met die past tense.”

      Buite die skoolhek wag Mignon vir haar. Die vervoerwa het die oggend al gekom. Oor minder as twee uur sal sy saam met haar ma en haar pa en die broers en sussies wat nog in die huis is agter die meubelwa aan uit die dorp wegry.

      Onder die skooljurk steek Mignon se knieknoppe net-net uit; die kleurbaadjie met die wit en oranje strepies is te groot gekoop sodat