'n Vonk van liefde. Christine le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798157865
Скачать книгу
nie. Ek wonder of ek ooit sal wees.” Haar suster se twee kleintjies irriteer haar, selfs Cissie se tweejarige wat ’n vreeslik oulike klein seuntjie is, laat haar koud. “Ek is abnormaal,” lag Mieke altyd wanneer sy sien hoe verbaas hy is. “Ek is gebore sonder ’n moederinstink.”

      Neil is so ingedagte dat hy verby die straat ry en moet omdraai. ’n Hond blaf vir hom toe hy in iemand se rylaan instoot om te draai.

      Hy is vier-en-dertig, ’n feit wat hy kort-kort onder Mieke se aandag bring. Hy wil nie ’n middeljarige vader wees nie, hy wil sy kinders geniet. Die probleem is dat hulle al kêrel en nooi is vandat hulle op skool was. Die feit dat hulle op buurplase grootgeword het, het natuurlik meegehelp. Sy was die meisiekind wat hy moes leer perdry en op skool het hy ook ’n oog oor haar gehou. Terwyl hy nog saam met sy pa geboer het, is sy universiteit toe. Na sy pa se dood het hy haar die eerste keer gevra om te trou.

      “Nee,” het sy toe gesê. “Ek is nog te jonk. Ek wil eers die wêreld sien.” Sy het ook. Sy was ’n jaar oorsee terwyl hy geduldig gewag het. Toe het sy in Kaapstad gaan werk en net vakansies huis toe gekom. Hy was besig op die plaas en daar was nie eintlik ander hubare meisies in die omgewing nie. Miskien het sy dit geweet en is dit waarom sy hom so aan ’n lyntjie gehou het.

      Op die oomblik bestuur sy ’n weefskool op die plaas en sien hulle mekaar gereeld. Sy is amper dertig en hy werk nou hard aan haar dat hulle tot trou kan kom – tot dusver met min sukses. Daar is altyd iets anders wat sy eers wil doen. Die weefskool moet selfonderhoudend word, haar jonger broer moet eers trou.

      Neil hou vinnig stil. Hy het amper by nommer ses verbygery. Hy kyk na die huis en sien die voordeur staan oop. Drie groot reistasse en ’n stapel kartondose staan reeds in die paadjie. Hy klim uit en stap nader. Net voordat hy by die deur kom, verskyn Danielle. Sy is netjies aangetrek in ’n liggrys rok en swart jas. Die jas is van goeie snit en materiaal, maar kan nie meer voor toeknoop nie.

      “Ek is Neil Greyling,” sê hy en steek sy hand uit. “Aangename kennis.”

      “Danielle Steyn.” Haar hand is yskoud, haar vingerpunte raak skaars aan syne. “Ek is reg.” Sy buk en tel twee van die tasse op.

      “Nee,” sê hy vinnig en vat dit by haar. “Asseblief. U kan nie . . .”

      Sy staan terug en sê nie ’n woord nie. Hy begin alles aandra na die bakkie. “Die dose is swaar,” waarsku sy in ’n lewelose stem. “Dis breekgoed en –”

      “Ek is gewoond aan swaar goed,” verseker hy haar.

      Toe alles op die bakkie gelaai is, trek hy ’n seil oor en maak dit vas. “Wat nog?”

      “Ek moet net toesluit en die sleutel by die bure laat.” Hy stap agter haar aan deur die leë huis. Hulle voetstappe eggo in die verlate vertrekke. Alles is kraakskoon, in die kombuis blink alles. Selfs die vensters is so skoon dat dit lyk asof daar nie glas is nie.

      “Jy het die huis baie mooi laat skoonmaak,” sê hy. “Die nuwe eienaars gaan dit waardeer.”

      “Ek het dit self gedoen.” Sy sluit die deur toe en stap na die bure terwyl hy seker maak die seil is goed vas.

      “Nou ja,” sê hy toe sy langs hom ingeskuif het. “Is jy gemaklik? Kan ek die sitplek agtertoe skuif?” Hy skakel die enjin aan en trek weg. “Ons gaan tog nie vir mekaar ‘u’ sê nie. My naam is Neil.”

      “Danielle,” sê sy en haal ’n donkerbril uit haar handsak. Sy kyk nie weer terug na die huis nie, maar leun haar kop agteroor.

      “Jy lyk baie moeg,” sê hy. “Dit moet ’n groot werk wees om so ’n huis op te pak.”

      Sy antwoord nie, knik net.

      “Dis al halfelf,” sê hy. “Ons ry maar vandag so ver ons kan. Jy moet sê as jy ongemaklik word, dan hou ons stil. Ek besef in jou . . .

      in die omstandighede is ’n lang motorrit seker nie gemaklik nie en die bakkie stamp maar. Ons sien hoe ver ons kom.”

      Sy swyg.

      “Normaalweg sou ek vanoggend vroeg gery het,” praat hy weer. “Vieruur of so. Dan was ek vanaand al op die plaas, maar ek het nie gedink jy sal so vroeg wil ry nie. Of so lank kan sit nie.”

      “Ek gee nie om nie,” sê sy in haar dowwe stem. Hulle ry in stilte verder. Mettertyd verdwyn die stad agter hulle, ry hulle deur die vaal grasvelde van die Hoëveld. Hy het gedog sy slaap, maar skielik kyk sy af na haar hande wat gevou op haar skoot lê en begin oor haar vingers vryf. Haar naels is kortgeknip en kleurloos, die vel bleek afgesien van die blou are wat uitstaan. Met haar voorvinger vryf sy oor die dun goue ring, trek dit af en voordat hy weet wat sy beplan, draai sy die ruit af en gooi die ring uit. Toe draai sy die venster weer toe, ril effens en probeer haar jas digter om haar lyf vou.

      ’n Sprakelose sekonde lank sê hy niks nie. “Ek weet nie of dit ’n wyse stap was nie,” sê hy dan. “Is ’n trouring nie belangrik vir iemand wat . . . vir ’n vrou in jou toestand nie?”

      “Dis waardeloos,” sê sy koel. “My verloofring het ek verkoop.” Sy draai haar kop skuins teen die rugleuning en dié keer raak sy wel aan die slaap. Nou en dan kyk hy na haar en wens hy het ’n kussing saamgebring. Sy lyk ongemaklik met haar nek so skeef gedraai.

      Hy kan nie help om effens mismoedig te voel nie. Die vrou lyk eksentriek, glad nie soos Cissie nie. Hulle lyk ook nie na mekaar nie.

      Cissie was kort, donker en fyn toe hy haar die eerste keer as Piet se bruid ontmoet het. Na vier jaar as boervrou en ma van een kind, is sy effens gesetter, maar steeds lewendig en positief. Sy herinner hom aan ’n voëltjie, haar donker oë altyd blink en vrolik. Sy trek aan wat vir haar gemaklik is; haar kort, donker krulhare is altyd windverwaaid. En sy is gelukkig. Sy en Piet is die gelukkigste paartjie wat hy ken. Hulle vul mekaar aan, hulle kan oor alles lag en na vier jaar is hulle nog so verlief soos aan die begin. Danielle moet na ’n ander deel van die familie aard, want sy is lank en skraal. Ten spyte van haar swangerskap kan hy sien sy is skraal. En sy is blond. Haar hare is streng van haar gesig weggekam en in haar nek vasgemaak en haar vel is byna deursigtig wit. Sy beter ’n hoed dra op die plaas, dink hy. Sy sal verbrand in die somerson.

      Neil se skouers begin net stram word van die bestuur toe Danielle beweeg en fronsend regop sit. “Ek is jammer,” sê sy. “Ek het aan die slaap geraak. Waar is ons?”

      “In die Vrystaat,” sê hy. “Jy is seker al honger. Dis ver verby etenstyd, maar ek het gedink ek stoot maar aan.” Hy draai by die volgende dorp af en hou stil voor die kafee.

      Sy is stil terwyl hulle eet en hy voel skuldig toe hy sien hoe hongerig sy eet. Daar was seker geen kos oor in die leë huis nie. Toe sy klaar is, trek sy die rekening nader voordat hy kan keer en tel geld uit.

      “Nee,” sê hy en trek die papier voor haar weg. “Ek betaal.”

      “Ek sal my helfte betaal,” sê sy koel.

      “Nee, dit laat ek nie toe nie.” Hy stoot die geld terug na haar kant van die tafel.

      Sy haal haar skouers op asof sy nie regtig omgee nie en loop na die badkamer. Hy betaal en koop ’n paar bottels koeldrank en ander snoeperye. Toe sy terugkom, staan hy buite op die stoep en rook.

      “Ek wil nie in die bakkie rook nie,” sê hy. “Dit sal jou ongetwyfeld hinder.”

      “Ek gee nie om nie.” Sy onthou dat Danie in die slaapkamer gerook het en dat sy dit gehaat het. Sy wys na die bakkie. “As jy wil, sal ek bietjie bestuur.”

      “Nee, dis nie nodig nie. Ek is gewoond aan lang ente alleen ry.” Hy sluit oop en hulle klim in. “Hou jy van bestuur?” vra hy toe hulle weer ry.

      “Ek gee nie om nie.”

      Hy wonder of dit al is wat sy ooit sê. “Het jy jou motor ook verkoop? Cissie het iets gesê van die trein; dis waarom ek aangebied het om jou op te laai. In jou toestand . . .”

      Sy