Titelblad
Die beste verhale van
Eugène N. Marais
Uitgesoek deur Merwe Scholtz
HUMAN & ROUSSEAU
Afrikanerbeeste
AFRIKANERBEESTE
Dit was die tiende dag dat Gool Winterbach van sy kommando afgesny is, en nou op die tiende dag, is hy vir die eerste keer oorweldig deur ’n gevoel van swarte mismoedigheid wat af en toe tot wanhoop gestyg het. Hy het goed besef, gedurende elke uur van die bittere tien dae, dat hy gedurig in die dodelikste gevaar verkeer, maar tot nou toe het die volslae wanhoop nog geen houvas in sy sterk gemoed gevind nie.
Gool Winterbach was die beroemdste verkenner in ons noordelike kommando’s gedurende die laaste oorlog. Hy was ’n Waterberger van geboorte en het die noordelike Bosveld net so intiem geken as die vlak van sy hand. Hy was ’n veldseun in elke sin van die woord.
Behalwe die besondere kennis en ondervinding wat die toevallige omgewing tot sy geestelike ontwikkeling bygedra het, had hy sekere aangebore gawes wat hom, van sy seunsdae af, as ’n verkenner by uitstek uitgeteken het. Hy kon soos ’n velddier sien en hoor en ruik en hy kon bowendien die waarneminge van sy byna bonatuurlik skerp sintuie snel rangskik en dan daarvolgens handel. Sy weerga as spoorsnyer was in die noorde nie te vinde nie. Elke eienaardigheid in sy natuurlike omgewing – elke stofwolkie, elke rookdampie, elke gebreekte takkie – was vir hom ’n sein wat sy eienaardige verstand outomaties in ’n boodskap kon omsit.
Byna net so beroemd as Gool Winterbach self was sy perd, Kousband, wat hom deur die hele oorlog gedien het. Hy had Kousband as ’n hansvulletjie grootgemaak en hy het die perd ’n verbasende reeks toere geleer, wat later in sy verkenningsdae van die uiterste voordeel was. Met ’n enkele fluit kon hy Kousband na hom toe roep. Op ’n ander sein kon hy hom in volle vaart van hom laat wegvlieg, met of sonder saal en toom. Op sy bevel het die perd dadelik platgeval, en niks anders as nog ’n bevel van sy baas kon hom weer laat beweeg nie. Deur ’n voorslag om sy oor te bind, het hy hom verbied om te runnik solank die knoop in posisie bly. Op sy bevel kon hy hom ruie ghwarriebos laat indring totdat hy geheel en al van buite onsigbaar was, en daar sou hy bewegingloos staan, sonder om ’n geluid te maak voor sy baas hom roep.
Gool was lank reeds in die noorde as ’n “perdedresseur” beroemd. En nou hier, te midde van die dodelike gevaar wat hom van alle kante bedreig, het die noodlot dit so bestem dat hy ’n ander veldkind en dierekenner sou ontmoet wie se skoenbande hom onwaardig was om te ontbind – ’n mens wat oënskynlik op gelyke voet met diere kon omgaan, wat hulle taal kon praat en hul gemoedsbewegings deelagtig kon word. Hy sou een ontmoet wie se herinnering hom die res van sy lewe met bewondering sou vervul. Dit was die bewondering van een genie vir die gawes van ’n grotere.
Dit is begryplik waarom die gevaarlikste verkennerswerk Gool te beurt geval het. Tien dae gelede is hy uitgestuur om sekere gerugte te ondersoek wat die kommando bereik het – gerugte aangaande ’n onverwagte en kolossale vyandelike troepekonsentrasie waaraan die Boere-offisiere maar min geloof geheg het, maar wat nietemin ondersoek moes word. En vir die eerste keer in sy verkenningsdiens bevind Gool hom skielik in ’n wespenes van vyandelike kolonnes en verkenningsafdelings. Ternouernood het hy sy lewe gered deur met Kousband tot beswykings toe na die groot doolhof van die Banke te jaag. Hier, te midde van diep padlose klowe, ruie bosse en ontoeganklike plate swarthaak, het hy tydelik veiligheid gevind.
Nou, op die tiende dag van sy noodlottige verkenningstog, laat hy sy perd in ’n bos en bestyg die kransbeskermde spits van die berg Uitkyk te voet. Van daar het hy ’n uitsig tot aan die horison na alle kante; en daarvandaan kan hy sonder die minste twyfel vasstel dat hy so omsingel is dat ontvlugting, met of sonder Kousband, absoluut onmoontlik is. Daardie hele dag aanskou hy die aankoms van nuwe kolonnes wat die kordon om die Banke in ’n ondeurdringbare muur van geweers omskep.
Gool wis dat net die dood vir hom voorlê indien hy geen opening êrens in die kordon kan vind nie.
Met ’n gevoel van die diepste weemoed sien hy die son ondergaan. Die treurige stilte van die aandskemer sak vinnig oor berge en klowe neer, en uit die duister, sover hy kan sien, verskyn die vure van die vyandelike kordon flikkerend rondom die Banke. Onmiddellik onder hom strek die magtige doolhof van die Banke self egter myle ver in drie rigtings – ’n mantel van onveranderlike donker.
Dit was die uur van diepste stilte in die Bosveld. Binnekort sou die burgers van die nag hul lewe begin; sou hy van alle kante die vreugde van nagvoëls hoor, gemeng met die juigkrete en geweeklaag van moordlus en angs wat die nag met sy donker sluier genadiglik altyd bedek. Dit is in die nag dat die gewapende moord sy skuilhoek verlaat om wreedlustig sy weerlose prooi te bekruip.
Sy gedagteloop het midde-in sy wanhoop ’n plan bedink. Vannag is sy laaste kans. Môre sal die vyand die Banke van alle kante by die honderde inval. Hy kan sien dat hulle daarvoor gereed maak. Sy plan is om Kousband af te saal en los te laat en dan sal hy probeer om ’n wagpos van twee te bekruip. Indien so ’n wagpos te vinde was – en dit was hoogs onwaarskynlik! – dan sou hy die een met sy jagmes in die rug doodsteek, en die ander sou hy met die kolf van sy geweer doodslaan, voordat een van die twee ’n geluid kon maak! Van skiet sou daar natuurlik geen sprake wees nie. Dan, indien hy hierin slaag, sou hy trag om te voet uit te vlug. Die kanse was skraal, maar dit was al wat oorbly. Hy sou in elk geval hom tot die laaste weer.
Hy wis presies waarom die vyand die Banke beset had. Hulle het verraaiers as gidse by hulle en dié het gerugte gehoor van ’n groot trop beeste wat al maande in die klowe en haakdoringplate versteek word. Hy self het ook van die trop beeste gehoor, en gedurende die laaste tien dae het hy verskeie kere hul spore gekruis. Maar dit was almal ou spore en hy was seker dat die wagters lankal met hul vee na die oneindige houtbosse van die noordelike gebergtes gevlug het.
Indien die trop nog in die Banke was, sou hy hulle lankal gewaar het. Hy sou die stof bo die bome sien uitslaan het, en hy sou hul gebulk gehoor het; en hoewel hy gedurig en noukeurig geluister het, het hy nooit een maal êrens in die Banke die geluid van ’n enkele bees verneem nie.
Waarskynlik het die verraaier-gidse ook Kousband se vars spoor gevind. Maar wat ook al die oorsaak van die beweging was, een ding was seker: Hulle was van plan om die Banke môre van alle kante te fynkam. Baie gou sou hulle sy spoor kry, en daarna was die einde ’n saak van enkele ure.
Voor dit heeltemal donker was, het hy weer ondertoe geklim. ’n Sagte fluit het Kousband op ’n draf na hom gebring. Hier onder die reuse-apiesdoringbome en tussen ruie struikgewas moes hy met die grootste moeite ’n pad te voet soek, stap vir stap deur sy perd gevolg.
So spoedig het die donker toegeneem dat hy binne ’n halfuur nie verder as ’n paar treë voor hom kon sien nie. Met uitgestrekte hande moes hy ’n weg deur die haakdorings soek.
Elke nou en dan het hy gaan staan om te luister, maar alles was nog doodstil, behalwe die treurige “hoe-hoe” van ’n enkele uil wat reeds op jag was.
So donker was dit dat dit net sy veldinstink was wat hom in staat gestel het om koers te hou na die punt waar hy besluit het om sy weg met geweld deur die kordon te forseer.
Gesig was van min nut, hy moes sy weg feitlik met sy blote hande voel totdat sy voete hom oortuig het dat hy weer op min of meer gelyke grond staan.
En hier het hy besluit om Kousband te laat bly totdat hy hom van die werklike toestand voor hom kon vergewis. Hy wou eers seker maak hoe die vyand gestasioneer is. Indien dit dan verkieslik blyk, sou hy Kousband afsaal en loslaat om self sy pad te vind. Anders sou hy trag om met die perd deur die wagposte te jaag en op sy geluk vertrou.
Al dié gedagtes het snel deur Gool se gemoed gestryk terwyl hy besig was om Kousband sorgvuldig in ’n ruie ghwarriebos weg te steek. Hy wis dat die getroue dier daar sou staan sonder om ’n geluid te maak totdat hy hom weer die teken sou gee om hom te volg.
Hy het vas besluit dat hy nie lewend in die vyand se hande