En op pad terug het hulle by die Seven Oceans-drankwinkel in Westdene gestop en ’n bottel brandewyn gekoop. Dit saam-saam seergemaak.
Beeslaar sug diep en neem ’n sluk van die louwarm tee wat hy by sy ete bestel het. Hy kan nie vat kry aan die asyn wat hulle hier vir wyn laat deurgaan nie. Bestel maar tee.
Maar dit smaak na hondepis.
Hy stoot die koppie eenkant toe. Wat nou?
Hy het jare se opgehoopte verlof. Kan nog bly, as hy wil. Vir ’n slag ordentlik vakansie hou.
Maar hy sal nie.
Tensy... Hy dink vlietend aan Gerda. Hul laaste ontmoeting... Haar sagte hals en gesonde, groot borste. So sag. Vul jou hele hand met warm geluk. Om saam met haar in die wynlande...
Nee, Beeslaar, vergeet dit.
Hoofstuk 7
7
Ghaap wil iemand bel. Vertel van die aand se dinge. Die kaper wat hy per ongeluk vasgetrek het. Die feit dat hy ’n bullet gevat het.
Maar wie? Sy ma? Dit sal te veel drama afgee.
Hy bel die enigste ander persoon wat hy kan vertel. En nes hy verwag het, is daar nie blydskap aan die ander kant van die lyn nie: “Weet jy watse fokken tyd van die nag dit is?!”
Ghaap grinnik in die telefoon in. Dis nou vintage Beeslaar: onbeskof.
“En goeienaand vir jou ook, baas Beeslaar. Bly om te hoor dit gaan goed met jou. Nee, met my ook, baie dankie. Behalwe dat ek vanaand ’n bullet gevat het!”
“Wat? Waar? Waarvandaan bel jy? Jy seergekry?”
“Natúúrlik het ek fokken seergekry. Bliksems seer. En ja, ek het die ou gevang wat dit gedoen het en dankie dat jy na my gesondheid ook vra!”
“Grappies op ’n stokkie, Ghaap, is jy genuine geskiet?”
“Ja, ek is. Maar dit was ’n dwaalkoeël. So die skade was min.”
“’n Dwáálkoeël? Waarvan praat jy, man? Het een van die gattas van daai plek jou per ongeluk geskiet?”
Ghaap lag. “Nee, dit was ’n hijacker. Ons het hom gejaag. En toe skiet hy my raak.”
“Kak, man. As jy regtig geskiet was, het jy my nie gebel nie. Jy’t by oom Avbob ingeklok!”
Ghaap vertel vir Beeslaar die hele storie. Toe hy klaar is, is daar stilte.
“Hallo?”
“Ek’s hier, jong. Ek probeer net my woorde terugvind. Wie’s die manne saam met wie jy gery het?”
“Twee AO’s: Mabusela en Mthethwa.”
“Mabusela soos in Bandile? Buzi, noem hulle hom.”
“Einste. En... ”
“Hy nog so dik?”
Ghaap grinnik. “Ek sal hom sê jy stuur spesiale groete.”
“Hy’s nie sleg nie. Wie’s die ander ou?”
“Mthethwa.”
“Familie?” Beeslaar verwys na die huidige Minister van Polisie met dieselfde van.
“Sal nou nie selwers kan sê nie,” antwoord Ghaap. “Hy’s nie maklik nie. Die senior van die twee. Maar hy laaik niks van hande uitsteek nie. Ken jy hom?”
“Here, Ghaap,” is al antwoord wat hy kry.
“Sy naam is Sibusiso, maar hulle roep hom S’bu. Moerse goeie sokkerspeler, glo. Was blykbaar grootgemaak vir Orlando Pirates, maar toe neuk hy sy knie op.”
“Nee, wat, hy’s van na my tyd. Maar ek ken ou Mabusela. Een van die min wat nie bakhand loop nie. Ons het in ’n stadium saam gewerk.”
“Sáám? Jy en hy?”
“Nee, nie so nie. Ons was net op ’n kol by dieselfde stasie. Maar dit was in die tyd toe ek nog met die ysters doenig was.”
“Yster-wat?”
“Honde, Ghaap. Waffer stasie het jý gevang?”
Beeslaar het hom gewaarsku teen Soweto, gesê hy’s nog te nat agter die ore. Hy moet eers meer ondervinding opdoen. Maar Ghaap soek bevordering. En hy glo hy sal hier vinniger bevordering kry as op gatsrand in die Noord-Kaap, waar hy hoofsaaklik dronknes opbreek en messtekers vang.
“Orlando-Oos,” antwoord hy. “Al van vorige Maandag af. Ek was net een dag op kantoor. En toe sê die SB ek moet saam met Mabusela en Mthethwa ry. Maar ons het verdomp meer gesit as gery. Van dag een af. Hele fokken tyd op Motor Mountain. En raai wie’s die doos wat elke slag na die kuka shop gestuur word vir spys en drank? Die twee here wat sélf g’n sent bydra nie.”
Hy hoor hoe Beeslaar aan die ander kant van die lyn lag. “Hei, dis my plek daai!”
“Waar’s jy, Beeslaar? Klink of jy hardloop.”
“Ryneveldstraat, dink ek. Maar ek’s rustig. Dis die wind wat so raas. Die beroemde suidoos, wat so die bome uit die grond pluk. En ek dink ek is besig om in my moer in te verdwaal. Maar waar kiep jy?”
“My nefie, Charlie, in Riverlea se flatse. Maar hy maak my móég, daai klong. Partytjiegat wat heelnag rumoer en ganja rook en bedags loodswaai. Maar sê my, het jy darem al vis gevang?”
“Ghaap, watse kak soek jy? Verlang jy jou ma, of iets?”
“Relax, man, relax. Ek wou eintlik maar net iets by jou uitgetjek het. En ek het nie besef dis só vrek laat nie.”
Ghaap hoor Beeslaar iets sê, maar die wind raas só hard in die telefoon in, hy kan dit nie mooi uitmaak nie. Dan gaan die lyn dood.
Hy bel onmiddellik weer. Die telefoon lui tot by Beeslaar se bars stempos: “Kaptein Beeslaar. Los ’n boodskap.” Ghaap druk weer die nommer in.
“Dis laat, Ghaap. En ek is nie nou lus vir kakpraat nie. Bel môre.” Die lyn gaan dood.
Ghaap sit vir ’n hele ruk en staar na die selfoon in sy hand. Verbeel hy hom of het Beeslaar bietjie afferig geklink? So bietjie ekstra ver en los-my-uiterig. Hy hoop verdomp nie Beeslaar se kop gaan staan en haak uit daar in die Kaap in nie. Want dinge in die Kalahari gaan nie dieselfde wees sonder hom nie.
Hoofstuk 8
8
Beeslaar druk sy hande dieper in sy broeksakke in, spyt hy het nie sy nuwe, te klein baadjie aan nie. Dit was vroeër die aand windstil en warm. Hy gaan staan om sy neus te snuit, vererg met sy oë wat so water van die wind, sy neus laat loop.
Gewoonlik hou hy van wind. Maar hierdie ding hier... hierdie suidoos. Hy’s te wild. Nog ’n goeie rede vir hom om rooidag môre in die pad te val. Huis toe. Shit, huis toe. Snaaks dat hy deesdae nie meer aan Johannesburg dink as hy dit sê nie. Voel vir hom hy’s sy lewe lank nog in die Noord-Kaap.
Maar toe Ghaap netnou praat van Soweto...
Hy vóél die plek, eerder as wat hy hom onmiddellik sien. ’n Nare plek, op die beste van tye. Maar daar bly mense daar. Alle soorte. Skarminkels. Maar ook goeie, gewone mense. Die meerderheid. Mense wie se lewens ook maar woes opgeneuk is met apartheid. En nou se dae... Hulle vreet steeds die skerpkant van die land se misdaad.
Vir ’n lang ruk, toe hy nog in die honde-eenheid was, was hy daar. Dit op ’n manier liefgekry... die rye, rye, rye klein twee- en viervertrekhuisies. Omhein met enige ding wat sal regop staan – flentergat-walle teen die misdaad. En by die huise waar daar geld is, is daar die hemelhoë vibracrete-mure. Hy glimlag, onthou skielik die township-naam vir die mure: stop nonsense walls.
En die sinkplaatkrotte – mukuku’s soos hulle daar bekendstaan. Meer as wat daar hare op ’n hond se rug is. Elke agtertuin het