’n Harde lig gaan op in Quebeka se oë. Sy draai woordeloos om en beveel ’n konstabel agter haar iets in Xhosa. Hy wys hulle moet hom volg, links af uit die voorportaal.
Beeslaar kyk oor sy skouer terug na Quebeka. Sy staar terug, ken omhoog. Hy kan nie besluit of dit arrogansie of uitdaging is wat hy in haar blik lees nie. Of sommer net die gewone rasse-tjip-op-die-skouer. Kan hom ook nie nou veel skeel nie, hy sien net die ou tante af en dan’s hy weg.
Die voorportaal is duur. Artistiek gevlekte marmervloer. ’n Oosterse mat. Groot, moderne skilderye. Egtes – een van ’n Nguni-bees. ’n Eetvertrek op regterhand word sigbaar. Veertien stoele, tel Beeslaar. Twee swaar kristalkandelare wat laag oor die tafel sweef, starlight-liggies in die plafon ingebed.
’n Trap. Dalk na die slaapvertrekke bo.
Bloedvlekke teen die muur. Op die dik vag van die mat wat teen die trap op loop.
Beeslaar voel die roering onder in sy buik. Die snaar wat span. Begin vibreer.
’n Moordtoneel. ’n Mens se lewe is pas hier gesteel. Brutaal. ’n Huisgesin verwoes...
Hier moet vergelding kom. Dís die boodskap van sy lyf.
Hoofstuk 4
4
Die seun sit in die hoek van ’n tweesitplekbank, weggetrek van die polisievrou wat by hom sit, met ’n beker, iets soos tee daarin. Sy staan op om vir Rea du Toit plek te maak langs haar kleinseun.
“Ag, my kind!” Rea du Toit trek hom teen haar vas. Hy laat haar begaan, staar verwese voor hom uit. Vir ’n rukkie sit die twee so, die ouer vrou se gesig vertrek in ’n stryd om beheer, die kind s’n uitdrukkingloos, sy mond wat oophang vir asem. Hy’s in die ongemaklike stadium tussen muis en man. Lang, dun ledemate en knobbels vir knieë en skouers. Die eerste skadu van ’n snor tussen puisies.
Beeslaar bly naby die deur huiwer en kaptein Quebeka sleep ’n regop stoel van gedraaide hout nader en gaan sit by die twee. Sy wag ’n oomblik voor sy iets sê, dan leun sy vorentoe, haar palms op haar knieë.
“Wil jy ons nie asseblief uitlos nie?” Rea du Toit se stem bewe, maar is vol vyandige drif. Daar is ’n trilling in haar gepoeierde wange, haar vlieserige oë wat skitter van die trane.
“Ek is jammer, mevrou, maar ons moet met die seun praat. Dit sal nie –”
Die seun het skielik lewe gekry. Hy beur regop uit sy ouma se greep. “Pappa het gesê ek hóéf nie te praat nie.”
Quebeka knik bedaard vir hom. “Jou pa is reg. Maar jy wil ons help om die oortreder vas te trek, of hoe?”
Die seun kyk soekend rond. Sy een been gaan aan die tik en daar is angs in sy oë. Hy kyk op na Beeslaar, dan na Quebeka wat reg voor hom sit.
“Ek weet nie... wat gebeur het nie.” Hy mompel. Kyk na sy lomp seunshande wat die beker tee vashou. Groot, onelegante hande, vratjies by die regterduim. Hy laat dink Beeslaar aan ’n pasgebroeide volstruiskuiken: ene pote.
“En hy hoef ook nie met jou te praat nie,” sê die ouma. “Hy sal praat as daar ’n régte polisieman opdaag.” Sy kyk uitdagend na Quebeka, haar mond platgetrek en die neusvleuels gesper. Sy’s nie ’n vreemdeling in die bokskryt nie, besluit Beeslaar.
“Mevrou, ek ís die regte polisie. Ek lei die ondersoek. En dit sal regtig... ”
“Dit gaan nie hélp om met jou... julle te praat nie,” kap Rea haar af. “Want dis nie júlle mense wat soos... soos vlieë doodge-... Dit kan julle nie skéél as die hele lot van ons afgeslag en uitgemoor word nie. Inteendeel, julle is blý as nog ’n wit mens vrek!”
Quebeka wil eers antwoord, maar besluit dan kennelik daarteen. Haar mond klap toe en sy sit terug, laat die bejaarde vrou se bitse woede op haar val.
Beeslaar tree nader. “Ek dink dit sal maar die beste wees as die seun vir ons kan vertel wat gebeur het, mevrou Du Toit.”
“Ja, ek weet, Albertus. Maar ek sal met jóú praat. Nie met ’n... met ’n... met een van húlle nie!” Sy kyk nie na Quebeka nie, haar blik op Beeslaar.
“Mevrou, ek kan goed verstaan... ” probeer Quebeka weer.
“Gaan weg! Ek praat nie met julle nie. Julle... julle... Weg, jý!”
Quebeka sit nog ’n oomblik, asof sy vir die k-woord wag om te val. Dan staan sy skielik op en die ou vrou trek die seun beskermend teen haar aan, iets wilds in haar oë.
“’n Woord,” sê Quebeka toe sy by Beeslaar verbyskuur.
Hulle tree na buite deur twee groot glasdeure, na ’n klein stoepie onder ’n elegante afdak van gestreepte seil. Twee groot gemakstoele kyk op die dorpsrivier uit. Só, besluit Beeslaar, lyk dit in die skoot van die rykes. Links van die stoep, tuin. Mooi tuin. Blommende herfsstruike in helder oranje en rooi. ’n Lang swembad, uitgeverf in modieuse loodgrys, sipresse in plantbakke op die twee verste hoeke, ’n dek van kiaathout wat dit omsoom.
“Wat presies doen jy hier?” Sy kyk klipoog na hom.
“Niks. Heeltemal niks. Ek was toevallig by dieselfde begrafnis as die ou tannie. Het haar net kom aflaai.”
“Nou dan’t jy niks hier geverloor nie.”
Hy knik. Wil omdraai, maar sy praat weer: “Ek dag ek sal mooi ordentlik wees vir die wit mense, maar... ” Sy kyk verwytend op na hom, dan verby hom na binne, waar Trula Momberg nou Quebeka se leë stoel ingeneem het.
Beeslaar rem die boonste knoop van die stywe hempboordjie los. Hy weet nie wat om daarop te antwoord nie. Hy wil eintlik net fokkof.
“Begrafnis, sê jy?” Die vraag vang hom onkant.
“Oudkollega. Hy’t hier kom aftree.”
“Oom Blikkies.”
“Jy’t hom geken?”
Sy knik: “Kry die sirkus op pad en moenie van die vlooie op die trampoliens vergeet nie.”
’n Blikkieïsme.
’n Warm golf staan op in Beeslaar se borskas. Druk die bloed tot in sy ore.
“So jy moet die Kwartel wees. Albertus Markus Aurelius Kwartel. Die vierde tot in die vyfde mag... tot in die oneindige.”
Beeslaar kyk weg, bang die pyn is sigbaar.
“Einste... ” Sy stem is skor. Hy maak keel skoon. “Het ek reg gehoor? Hierdie was ’n... wat? Inbraak was sleg skeefgeloop het? Huisroof?”
“Wie’t vir jou gesê?”
“Die man. Du Toit.” Hy kyk vlugtig terug na binne, waar Rea steeds die seun in haar arms het. “Ek was toevallig naby toe hy sy ma bel met die nuus. By die begrafnis. Sy’t die foon vir my gegee.”
“En hy het gesê dit was ’n huisroof.”
“So iets, ja. Was dit dan iets anders?”
“Fokweet. Maar dis nie nou so belangrik nie. Die belangrikste is, dis ’n ramp. Lyk of... ”
Sy huiwer ’n oomblik. Dan: “Kom kyk self.”
Vir die tweede keer vandag is hy ’n mak gans. Traak hom min, hierdie keer. Want in sy kop kom daar ’n stilte. Bekend. Asof al sy sintuie stil raak. Om van diep binne te luister, versigtig te tas na die skimme van die boosheid wat nog dralend hang. Ragfyn spinnedrade, vae eggo’s van geweld, onsigbaar en ontasbaar, tensy jy weet hoe om te luister. Dis asof sy hele lyf daarop ingestem raak, die snare tussen hart en kop en lyf saam begin vibreer.
Sy lei hom deur die deftige eetkamer. Hulle loop versigtig muurlangs, op hul tone. Die forensiese mense is klaar besig met uitmerk en afmeet.