Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3. Louise Prinsloo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louise Prinsloo
Издательство: Ingram
Серия: Gedaantes en geraamtes
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798157834
Скачать книгу
omdat jy bang is,” terg Wikus.

      Giepie maak of hy nie gehoor het nie en vroetel ’n vuurhoutjie uit die boksie en trek dit vinnig teen die swaelstrokie. “Dié goed is deesdae ook so vrot,” sê hy vies terwyl hy die een vuurhoutjie ná die ander probeer aansteek. Uiteindelik kry hy ’n vuurhoutjie getrek en steek ’n paar kerse aan.

      “Kom ons gaan kyk hoe lyk die res van die huis,” stel Wikus voor en tel een van die kerse op terwyl hy sy hand beskermend om die flikkerende vlam hou.

      Giepie en Karel, elkeen ook met ’n kers, volg Wikus op ’n kort afstand. “Ek het klaar besluit. Ek slaap in een van die voorste kamers, want ek wil die see sien,” sê Giepie beslis.

      “Ek stem,” antwoord Karel. “En ek wil . . .”

      “Foto’s neem . . . en neem . . . en néém,” sê Wikus sarkasties.

      Skielik begin Wikus se kopvel kriewel. Hy trek sy asem vinnig in toe hy iets aan die onderpunt van die gang sien.

      “Wat’s dit?” vra Giepie met sy stem hoog in sy keel.

      “D . . . d . . . daar staan . . . ’n man . . . Hy . . . hy kyk vir ons.”

      “Wáár?” Karel hou sy kers hoër om beter te kan sien. “Ek sien niks.”

      “Ek ook nie,” sê Giepie met ’n bewerige stem en vryf oor sy arm.

      Dit is skielik yskoud in die huis. Die geur van pyptabak kom stadig by die gang afgedwarrel. “Hier’s iemand in die huis,” sê Giepie benoud en ril.

      “Ek sê mos iemand hou ons dop.” Wikus lig sy kers om beter te kan sien.

      “Sal julle twee ophou om mekaar bang te praat! Dis die see wat julle ruik,” sê Karel, maar hy staan nogtans nader aan sy vriende.

      “Van wanneer af ruik die see na tabak?” wil Giepie weet en lek oor sy droë lippe.

      Wikus besef hy sal vir eers maar moet saamspeel. “Miskien is dit tog die seewind wat reuke hiernatoe waai,” sê hy en skuifel versigtig verder, asof hy bang is die plankvloer gee pad onder hom.

      “En nou? As julle net daar staan? Komaan!” sê Wikus toe hy besef die ander twee volg hom nie.

      Die drie hou by mekaar en beweeg stadig in die gang af. Hulle voetstappe klink hol in die leë huis. Hulle skaduwees dans soos groteske wesens in die kerslig teen die gangmuur.

      Geleidelik raak hulle oë gewoond aan die skemer huis soos hulle inloer by al die vertrekke. Die badkamer het net ’n bad wat op pote staan en ’n wasbak. Dan is daar die deur wat na die kleinhuisie lei. Of so lyk dit vir hulle.

      Die volgende oomblik begin hulle lag. Alles is skielik vir hulle snaaks: die muise wat rondvroetel en hulle wat met kerse deur die huis skuifel met hulle skadu’s springend en dansend teen die muur.

      Hoe . . . whoeee . . . roep iets op die dak. Hoe . . . whoeeee!

      Giepie vries in sy spore, maar Wikus trek aan sy arm. “Dis net ’n uil,” sê hy en probeer seker van homself klink. “Kom!”

      7

      Wikus lig oor die vertrek wat die sitkamer moet wees. “Dis nou wat my ouma die voorhuis sal noem,” fluister hy en beduie na ’n kaggel. “Behoort lekker in die winter te wees.”

      Versigtig dat die kersvlam nie doodgaan nie, stap Wikus tot by die voordeur.

      “Wat’s dié?” vra hy toe hy ’n verskrompelde bossie agter die deur afhaal. Hy bekyk dit in die lig van die kers, breek van die dooie blare af en ruik daaraan. “Dis knoffel.”

      “Wie hang nou knoffel agter sy voordeur op?” vra Giepie vererg.

      “Iemand wat spoke wil weghou,” antwoord Wikus.

      “Ugh!” kreun Karel asof hy maagpyn het. “Almal is nie so bedinges met spoke soos jy nie.”

      Giepie sukkel een van die houtraamvensters oop, leun uit en haal diep asem. Die skuimende branders, blink van fosfor, breek in reëlmaat teen die rotsbanke en spat in fyn sproeireën voordat dit oor die strand uitspoel. “Jis, dis mooi . . .”

      Karel stel sy kamera en neem ’n paar foto’s van die maanverligte see. Hy glimlag breed. “Hierdie gaan ’n stunning foto wees.”

      Wikus maak ’n ander venster oop en kyk ingedagte hoe die voetpaadjie, wat met skulpe besaai is, in die volmaan blink. Dit kronkel tussen die bossies en duine deur tot waar dit op ’n strook seesand uitloop en deel van die stil wit strand word.

      Hy frons. Verbeel hy hom . . . of loop daar ’n man op die strand?

      “Jis, ouens,” sê Karel en gee ’n lang gaap. “Ek weet nie of dit die seelug is nie, maar ek is nou lekker vaak. Vannag slaap ek soos ’n klip.”

      “Ek ook,” antwoord Giepie. “Dit voel of ek nie meer my oë kan oophou nie.” Hy maak die venster toe. “Die seewindjie raak nou koud.”

      Wikus vryf sy hande vinnig teen mekaar. “Nou waarvoor wag ons? Kom ons gaan haal die matrasse en ons slaapsakke.”

      Hulle sleep die matrasse sitkamer toe en terwyl Wikus sy slaapsak ooprol, kondig hy aan: “Ek slaap net hier sodat ek die son môre kan sien opkom.”

      “Jy kan slaap waar jy wil,” sê Karel, “solank jy my nie weer in die middel van die nag wakker maak omdat jy iets gesien of gehoor het nie.”

      Giepie sleep sy matras tot in die verste hoek van die vertrek. Hy skop sy tekkies uit en klim met klere en al in sy slaapsak. Hy blaas sy kers dood. “Lekker slaap. Sien julle môre.”

      Wikus sit sy kers op die vensterbank neer. “Vir die eensame wandelaar,” sê hy en glimlag geheimsinnig.

      “Jy met jou alewige bygelowe,” mompel Karel en kruip by sy slaapsak in en blaas sy kers dood.

      Hooo . . . hoooo . . . klink die waarskuwing van die mishoring. Hooo . . . hoooo . . .

      “Flippit!” kreun Giepie en trek sy slaapsak oor sy kop. “Ek háát daardie blêddie ding.”

      Die volmaan skuif stadig teen die naghemel op en skyn oor die houthuis.

      Hy . . . jo . . . ju . . . jo-jo.

      Hy . . . jo . . . ju . . . jo-jo.

      “Hoor julle dit ook?” fluister Wikus en loer deur die venster. “Iemand sing . . . Die wysie klink bekend . . . Waar het ek dit al gehoor?”

      Hy . . . jo . . . ju . . . jo-jo.

      Hy . . . jo . . . ju . . . jo-jo.

      Karel kom stadig orent en stut sy ken op sy hand. “Dis die mishoring, man.”

      Giepie steek sy kop by die slaapsak uit.

      “Wikus hoor iemand sing,” sê Karel vermakerig. “Kan jy dit glo?”

      Giepie hou sy kop skuins soos hy luister. “Dis ’n uil, man.”

      Karel val terug op sy kussing en raak byna onmiddellik aan die slaap. Giepie gee lang gape en skud sy kussing reg.

      Wikus haal sy skouers op. Miskien het hy hom net verbeel. Hy klim in sy slaapsak en wikkel hom toe. Lank lê hy en staar na die flikkerende kers op die vensterbank en die motte wat daarom sirkel.

      Die kersvlam brand hoër en hoër, asof dit met sy lang, helder tong wil lek aan die maanstrale wat met breë silwer strepe deur die venster skyn.

      Wikus maak sy oë toe en luister na die rustelose see. Die branders klots soos reusetromme teen die rotse.

      Skielik sit hy regop. Is dit besig om hoogwater te word? Of hoekom breek die branders nou so hard en naby?

      Tok . . . tok . . . tok.

      Dié keer is die geklop harder. Dringender.

      Tók . . . tók . . . tók!

      Stadig