Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3. Louise Prinsloo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louise Prinsloo
Издательство: Ingram
Серия: Gedaantes en geraamtes
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798157834
Скачать книгу
mik deur se kant toe. “Ons het net kom hoor of jy wil saamgaan. En Karel moet nog batterye vir sy kamera gaan koop.”

      Wikus draai na Giepie. “Dankie dat jy my saamgenooi het. Ek sal my ma vra om vir ons padkos te maak, as dit reg is met hulle.”

      “Oukei.” Giepie beduie vir Karel om te loop. Hy is duidelik senuweeagtig. “Toe-toe, ons het nog baie om te doen.”

      Wikus haal Wagter se leiband agter sy kamerdeur af en knip dit aan sy halsband vas. “Kom, ou Waggies!”

      Die groot hond waai sy stert en blaf opgewonde om sy baas se bene terwyl hy oopbek kyk hoe Wikus ’n bal van die rak afhaal. Hy trippel saam met die drie vriende by die kamer uit.

      “Ma!” skree Wikus in die gang af. “Ek en Wagter gaan parkie toe.”

      “Baai, Tannie!” roep Karel en Giepie by die agterdeur.

      Giepie klim op sy fiets. “Onthou jou swemgoed!” skree hy vir Wikus toe hy by die tuinhekkie uitry.

      “Sien jou môre!” roep Karel en jaag dan saam met Giepie straataf. Sover as wat hy ry, lag hy kliphard. “Ons het Wikus darem lekker met ’n slap riem gevang! ’n Spookhuis by die see – en hy sluk dit!”

      Wagter beur met soveel krag vorentoe dat dit eerder lyk of hy Wikus vir ’n stappie neem. Uitasem kom hulle by die parkie aan waar Wikus die leiband losmaak en die bal ver oor die grasperk gooi.

      Maar vanmiddag is Wikus se gedagtes nie by die balspeletjie nie. Hy dink net aan die geheimsinnige houthuis op Mosselbaai. Hoekom spook dit daar? En hoekom wil die mense nie daaroor praat nie?

      Daardie aand kan Wikus nie aan die slaap raak nie. Sy gedagtes dwing kort-kort na die eienaardige spookhuis op Mosselbaai. Hy het eenkeer in ’n Britse tydskrif, The unexplained, wat hy by prof. Pieta geleen het, van ’n soortgelyke spookhuis gelees. Volgens die artikel kon niemand vasstel wat aanleiding tot die raaiselagtige gebeurtenisse in die huis gegee het nie.

      Miskien, besluit hy, val Mosselbaai se spookhuis in dieselfde kategorie.

      Toe hy uiteindelik aan die slaap raak, droom hy die een nare droom na die ander. Eers jaag ’n afkopspook hom. Dan gryp ’n wit gedaante hom om sy nek en sleep hom by ’n bouvallige houthuis in . . .

      “Nee!” gil hy toe ’n wollerige spook op hom spring. Hy voel sy warm, stink asem in sy nek en klap wild na die groot bek wat hygend om sy gesig snuif. “Af! Loop!”

      “Wikus . . . Is jy orraait?” Sy ma pluk die deur oop en sien hoe Wagter haar seun met sy lang rooi tong deur die gesig lek. “O . . . dis die hond,” sê sy verlig. “Jy’t so te kere gegaan, ek dog hier’s ’n inbreker in die huis.”

      Sy kyk op haar horlosie. “Jy beter gou maak, anders is jy laat vir skool.”

      Toe Wikus later deur die skoolhek ry, staan Giepie en Karel reeds vir hom en wag.

      “Waar bly jy so lank?” wil Karel ongeduldig weet. “Ons wag en wag en al wat kom is jy.”

      “Jy’t seker eers jou boek klaar gelees,” grynslag Giepie.

      “Nee,” hyg Wikus toe hy sy fiets aanstoot fietsloods toe en dit vasketting. “Ek het verslaap. Ek het laas nag die een nagmerrie op die ander gehad.” Hy sien hoe Giepie en Karel vir mekaar kyk. “Wat’s dit? Gaan ons nie meer Mosselbaai toe nie?”

      “Nee . . . uhmmm,” begin Giepie en knak sy kneukels soos hy altyd maak wanneer hy in een of ander verleentheid is. “Ek het . . . ook . . . gedroom . . .” voeg hy vinnig by.

      Dan lui die klok hard en skril.

      2

      “Wikus!” bulder Yster, hulle natuurwetenskap-onderwyser, Donderdagoggend. “Hoeveel keer moet ek nog vir jou vra wat is die verskil tussen diffundeer en diffusie?”

      “Dis . . . uhmmm . . . wanneer . . . uhmmm . . .” Hy leun oor na Giepie. “Wat’s die antwoord?”

      Giepie fluister agter sy hand en Wikus sê: “Diffundeer is . . . soos twee . . . gasse wat versprei en . . . uhmm . . . gelyktydig vermeng. En . . . en . . . diffusie is . . . uhmm . . . diffusie is wanneer twee stowwe gelyktydig vermeng – soos melk en koffie.” Hy stamp aan Giepie. “Dankie,” fluister hy. “Ek skuld jou.”

      In die Afrikaanse klas kyk hy kort-kort op sy horlosie. Hoekom gaan die tyd so stadig verby?

      “Wikus,” vra juffrou Klein toe sy langs hom staan, “weet jy al waaroor jy gaan skryf?”

      Wikus staar haar fronsend aan.

      “Die opstel wat julle volgende week moet inhandig. As jy geluister het, sou jy geweet het.”

      “O . . . dit!” Wikus glimlag soos ’n oorwinnaar. “Dis presies waaraan ek gedink het! Ek het klaar ’n onderwerp, Juffrou; ek sukkel nog net met die inleiding en die slot.”

      Juffrou Klein kyk die blondekopseun geamuseerd aan. “Ek sal in spanning wag,” antwoord sy en gaan voort met die les.

      Elke periode daarna voel vir Wikus langer en verveliger as die vorige een. Selfs pouse voel hopeloos te lank en uitgerek. Toe die klok uiteindelik lui, storm hy met sy skooltas by die klaskamer uit, nael fietsloods toe, spring op sy fiets en jaag biblioteek toe.

      Ná ’n ruk stap hy met ’n arm vol boeke en ’n paar fotostate van inligting wat hy van die Internet afgetrek het by die biblioteek uit. Hy sit alles in ’n groot lapsak wat hy oor sy skouer gooi, dan klim hy op sy fiets en ry haastig huis toe.

      “As jy soveel tyd aan jou skoolwerk bestee as aan spookstories,” raas sy ma toe hy by die kombuis inkom waar sy besig is om hulle padkos gaar te maak, “sal jy die onderskeidings inryg.”

      “Ek wás besig met skoolwerk,” antwoord Wikus terwyl hy die lapsak oor die stoelleuning hang. “Ons moet ná die langnaweek ’n opstel inhandig en ek gaan oor ’n raaiselagtige spookhuis skryf.”

      Sy ma glimlag net en skud haar kop: “Jy en jou spoke . . .”

      Wikus loer na die inkopiesakke wat op die kombuisvloer staan. “Jis! Ma het omtrent goed gekoop!” Hy snuif in die lug. Die geur van gebraaide hoender vul die hele kombuis. “Dankie vir al die moeite, Ma. Ek waardeer dit. Ons sal sowaar nie honger ly nie!”

      “Nie sommer nie!” lag sy ma en gee hom ’n drukkie. Dan kyk sy haar enigste seun besorg aan. “Wees asseblief versigtig en moenie dat jou verbeelding weer op loop gaan nie. Dit is gevaarlik om rond te krap in goed en op plekke wat jy nie ken nie.”

      Wikus soen sy ma op haar wang. “Toemaar, Ma. Moenie worry nie. Ek sal versigtig wees.”

      Sy pa kom by die kombuis in. “Mmm . . . dit ruik lekker.” Hy slaan sy arms om Wikus. “Ek hoop jy geniet die naweek, ou seun. Moet asseblief net nie weer ’n spook om elke hoek en draai wil sien nie.”

      “Hoekom maak julle altyd of dit net my verbeelding is? Daar ís iets soos spoke.”

      Sy pa knik sy kop en sit ’n ernstige gesig op. “Ja . . . só sê jy altyd.”

      3

      “Wikus!” roep sy ma toe ’n donkerrooi 4x4 later voor die huis stilhou. “Die Viljoens is hier!”

      Wikus gryp sy tas, gooi sy lapsak met sy spookboeke oor sy skouer en knyp sy slaapsak onder sy arm vas. Hy stap met haastige treë voordeur toe. Sy ma het die koelsak met padkos reeds reggesit, en staan en gesels met Giepie se ouers.

      “Ons sal so teen Sondagnamiddag se kant terug wees. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie,” sê Giepie se pa en sy ma beaam dit met ’n kopknik.

      Wikus soen sy ma vinnig. “Baai, Ma. Sê groete vir almal . . . Hei, ouens!” Hy wink Karel en Giepie nader. “Kom help my dra.”

      Wagter warrel opgewonde om die seuns se bene, asof hy verwag om saam te gaan. Wikus vryf sy kop en sê: “Ons gaan nie lank weg wees nie, my honne. Jy moet bly om die huis op te pas.”