Margie van die seminary en ander verhale. Winnie Rust. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Winnie Rust
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798156004
Скачать книгу
skryf lang briewe oor hoe hy my mis. Partykeer quote hy filosowe of digters, mense van wie ek nog nie gehoor het nie. Hy skryf hoe bly hy is dat ons taal nou van die “kansel” af gehoor word. Ek lees die briewe, maar nie die gedigte of quotations nie. Ek skryf briewe oor elke dag se dingetjies, oor kinders wat kaalvoet skool toe kom met kakieklere aan, oor hoe hulle g’n woord Engels ken nie. Ek skryf oor hoe ek tennis speel en saam op jagparties gaan en gesien het hoe hulle ’n gemsbok skiet.

      Toe skryf CP ons moet mekaar die Junievakansie op Colliesfontein ontmoet. Ek reis met die trein van Windhoek af. CP kom al die pad van Moorreesburg af.

      Hy en Pieter ontmoet my op Sheldonstasie, Pieter met sy swart kuif en sy middelpaadjie en sy bril met die ronde raam. Ek het ’n chic hoedjie op, laag oor my voorkop getrek, en nuwe patent leather-skoene met ’n band oor die voetbrug.

      Op die perron soen CP my voor Pieter, so ’n piksoentjie, maar ek sien hoe bly hy is. Ag, ek is so uncomfortable, ek voel sleg daaroor, maar ek kan daar niks aan doen nie.

      Pieter is aan die stuur van Daddy se 1930-Ford, baie fancy. Ek sit voor langs Pieter, CP agter. Ons praat nie baie nie. Ons skud oor die stofpaaie; die stof waai by die vensters in. Ons het stofjasse aan, die stof waai in ons tande en in ons hare in.

      Daardie eerste aand op Colliesfontein staan ons onder die peperboom en luister na die uil se geskree. Daardie aand merk CP hoe ek twyfel.

      Maar ná die drie weke saam se tennis, stap in die veld en kuier by buurmense sê ek ja, ons kan trou. Ek dag: Miskien is feeling alleen nie condition vir trou nie. Vir Mammie en Daddy se onthalwe sal ek net die jaar op Windhoek klaarmaak; dan kom ek huis toe en ons trou.

      Ons trou op 5 Januarie 1935. Ons trou op die plaas van een van my ooms in die Stellenbosch-distrik. Dis ’n grand troue; al Mammie se Stellenbosch-familie is daar. Ek in ’n lang rok met ’n sleep van handmade lace, my hare middelpaadjie met blomme aan weerskante by my ore en ’n bouquet van wit rose en gladioli; CP in hat and tails en gloves, te grand vir woorde, daar’s ’n foto iewers …

      Van CP se oorlewende broers is ook daar, ook sy stiefma en sy pa. Sy ma is ’n ou vrou in swart, baie depressing, sy pa ’n krom mannetjie met ’n Jan Smuts-baardjie. Ek het hulle een keer tevore ontmoet toe CP my plaas toe geneem het. Alles daar het vir my so versukkeld voorgekom, die kindertjies verwaarloos, ek het gewonder wat Mammie sou sê.

      Daar was baie toasts en speeches, party in Engels. Toe CP se pa opstaan om te praat, raak ek skaam vir my nuwe in-laws, vir die klein mannetjie met sy baadjie se kraag wat omkrul en sy hemp nie behoorlik gestryk nie en ek dag: Wat kom nou? Mammie sal sê hy is nie well-bred nie. Maar die ou man het so mooi gepraat, so rustig en ongestoord. Almal het sit en luister en agterna gesê dit was die beste toespraak van almal, die toespraak van hierdie ou boereoom.

      Words of wisdom, het Mammie ewe gesê. Toe’t ek gedink: Mammie het my Seminary toe gestuur om Engels te word, maar hierdie is ’n Boerefamilie waarin ek trou.

      Nou land ons op Moorreesburg, eers in die koshuis. CP hou skool, hy is omtrent getroud met die skool en met sy kinders en met sy vak, Afrikaans, dis sy hele lewe. Hy begin handboeke skryf, eers vir sy klasse, toe word dit ’n boek.

      Ek is eers bietjie verveeld op daardie godverlate plek. Ek is Windhoek gewoond. Maar ek begin stadigaan weer tennispals maak en tennis speel, ons kuier op plase in die distrik. Op die ou end is ek baie gelukkig daar, ons maak vriende en ry na plase toe uit en kuier, by die Kennedys en die Bassons en die Besters. Die Swartlanders bederf ons so, ons is nooit met leë hande van die plase af weg nie.

      Van die dinge tussen ’n man en ’n vrou het ek nie veel geweet nie, maar CP was gentle en understanding, nooit opdringerig nie, en so het ek stadig geleer, en toe ek my weer kom kry, is ek pregnant met jou.

      Ek het uitgesit, behoorlik uitgeswel. My lyf was oral in die pad, ek het swaar en vorentoe gedra. Almal het gesê dit gaan ’n seun wees, en toe surprise jy ons.

      CP was so opgewonde oor jou koms. Soos altyd het hy die lewe vir my maklik gemaak en gebuk waar ek nie kon nie, en in die laaste maande toe ek net op my rug kon slaap my uit die bed gehelp. Onhandig soos hy was, het hy ook met klein werkies in die huis probeer help.

      So het ek toe geboorte gegee aan jou, maar ek het vooraf nie geweet wat dit alles inhou nie, want ons het in daardie dae nie alles geweet wat vroue vandag weet en gepraat waaroor mense vandag praat nie. Maar dit het gou en maklik gebeur, byna soos die ooie op die plaas, soos wat ek vir ou John die lammertjies sien vang en aanhelp het, nog met die dun vliesie oor. En toe ek in die melk kom, het dit behoorlik geloop; ek sou tweelinglammers kon grootmaak. Nou was ek ’n regte pudding; ek het nooit weer my jongmeisielyf teruggekry nie.

      Later toe ons in ons eie huis intrek, was bediendes volop en goedkoop; ek het nie swaargekry met jou nie. Ek het jou en die oppasser saamgeneem tennis courts toe, en jou daar, so tussen die sets deur, gevoed.

      Toe kry CP die aanstelling op Wellington, en toe moet ons trek net toe ek behoorlik vasgegroei op Moorreesburg geraak het. Jy was toe ’n dogtertjie van ses, jou boetie een jaar oud. Toe’s ons terug op die dorp van Andrew Murray, op die dorp van die Seminary, maar toe’s dit die Huguenot Girls’ High; die Boys’ High toe al baie agteruit.

      Ek verkyk my aan die foto van die bouvallige ou huis in Bergstraat 5 toe ons in 1944 daar ingetrek het. Hier op die foto is die plataanboom wat my ma en pa aangeplant het nog jonk, vandag ’n reuseboom wat sy takke oor die teëldak strek.

      Die Tweede Wêreldoorlog was aan die uitloop, en huise skaars. My pa het besluit om maar dié ou huis te koop. Die groot gronde was omhein, die tuin ’n woesteny van ou vrugtebome met verknotte stamme. Dis ’n dubbelverdieping met baie kamertjies en ’n oop balkon bo waarvandaan ek saans die sterre kon sien, langs my pa op die bed wat stories vertel van Boplaas se mense, van Joors Jorrie en Dirk Ligter wat perde moeg gedraf het, en van Pensie, die klonkie. Van hoe hy as jong seun gerwe gepak en botterboom gery het.

      My pa stap kollege toe waar hy klas gee, verby Huis Cummings, verby die Huguenot Girls’ High waar my ma skoolgegaan het en waar daar nog sommige Misses is, ook hier en daar ’n Juffrou wat steeds net vir meisies skoolhou. Waar Founder’s Day nog elke jaar gevier word en die kinders van die geskiedenis van die skool moet hoor. Maar waar daar ook al meer geluide van weerstand gehoor word omdat die skool te Engels is, met te veel Engelse tradisies.

      Ons gaan kerk toe in die wit kerk aan die bopunt van Kerkstraat, Andrew Murray se kerk, waar my ma op die galery vir seuns sit en kyk het.

      In 1948, die vierde jaar van ons verblyf op Wellington, wen doktor Malan en die Nasionale Party die verkiesing. Die mense raak mal van vreugde. Toe die finale uitslag deurkom dat Smuts verslaan is, skiet die mense klappers en strooi streamers in oranje, blanje en blou; motors blaas toeters in die strate.

      Dié aand luister ek op my pa se skoot na die uitslae. Ek onthou generaal Smuts se hoë, yl stemmetjie oor die radio toe hy sy laaste boodskap as eerste minister gee. My pa sê vir my ma: “Generaal Smuts het nie reg gelees wat in die volk se hart omgaan nie, hy was uit voeling met sy mense. Hoe jammer tog, want hy is ’n geniale man.”

      Toe sê my ma: “So is die dorp nou nie meer ’n dorp waar jy hoef te apologize for speaking Dutch nie.”

      Soos my ma vertel, onthou ek weer dié dinge, en van die kollega van my pa wat een aand kom kuier het.

      “Jy moenie jou tale meng nie, Margery,” sê hy goedig. “Die wêreld is nou nasionaal. Jy moet reg praat.”

      “Ag, heiden tog,” sê my ma, “dan hou ek my maar skaars. Ek het nie erg aan die politiek nie.”

      Maar sy kon nie skaars wees nie, sy was oral in die huis.

      Sy laat ou bome uithaal, en begin gras en blomme plant. Sy staan gebukkend in die tuin, haar hande in die grond, grond wat onder haar naels inkruip en aan die buitekante die rooi lak laat afsplinter. Haar swaar liggaam buk wydsbeen, grafie in die hand. In die lente rank die sweet peas geil teen die grensdraad op, die poppies blom in dieprooi, geel en oranje kleure. Sy praat van “sweet peas” en “poppies,” nie “pronkertjies” en “papawers” nie, al is die