Saartjie spring rats van die een blok na die ander. Sy sorg dat haar voete elke keer in die middel van ’n blok te lande kom, ver van die gleuwe af. Sy wil tog nie weer van voor af begin nie, veral nie noudat Anna en Lina haar dophou nie. Sy weet hulle sal hulle siek lag. Saartjie kom aan die einde van die plaveisel sonder om aan een gleuf te raak.
“So ja,” sê sy effens selfbewus en vee ’n krul van haar voorkop weg. “Dis klaar.”
Anna en Lina kyk kopskuddend na mekaar.
Die drie maats stap na die posbus in die hoofstraat. Saartjie en Lina gesels nou weer oor die netbalseisoen wat binnekort begin, maar hulle loer elke nou en dan na die pakkie wat Anna so styf in haar hand vashou.
Anna voel afgehaal. Dit lyk vir haar of Saartjie en Lina regtig alle belangstelling in die pakkie verloor het. Om hulle weer nuuskierig te maak sê sy: “Dis ’n baie oulike affêrinkie wat ek hier het.”
Saartjie en Lina maak of hulle haar glad nie hoor nie. Hulle kyk na mekaar en knipoog en gesels verder oor die netbal.
“Rêrig baie oulik,” sê Anna nou, maar haar maats ignoreer haar.
Hulle is nou by die rooi posbus en Saartjie pos die grap wat vir haar ekstra geld gaan inbring.
Lynnekom se park is net oorkant die straat.
“Kom ons gaan sit daar en gesels,” sê Saartjie.
“Dit sal lekker wees in die sonnetjie,” meen Lina.
Anna sê niks nie, maar sy stap saam. Sy mompel weer iets van die oulike affêrinkie in haar pakkie. Saartjie en Lina brand van nuuskierigheid, maar hulle is vasberade om dit nie meer te wys nie.
In die park ontdek hulle iets wat hulle al drie dadelik van die pakkie laat vergeet. Al die banke in die park is geverf en daar is op elkeen ’n kartonkaart wat sê: Nat verf.
Maar dit is nie die banke met die kennisgewings op wat die meisies van Anna se pakkie laat vergeet nie. Dis die een bank waarop daar nie ’n kartonkaart is nie!
Die Drie Muskiete kyk na mekaar. Dit is asof hulle mekaar se gedagtes kan lees. Hier is mos ’n moontlikheid van groot pret. Al drie begin giggel.
“En weet julle wat’s die beste van alles?” vra Saartjie laggend. “Ons is onskuldig. Ons het nie die kennisgewing weggevat nie, so ons is heeltemal onskuldig.”
Anna en Lina is net so opgewonde hieroor.
Die bank sonder die kartonkaartjie staan naby ’n heining.
“Kom ons gaan kruip daaragter weg,” stel Saartjie voor.
Die meisies glip vinnig om die heining en net agter die bank kry hulle ’n opening in die blare waardeur hulle kan loer. Die drie gaan sit op die grasperk. So ja, nou moet iemand net op die bank kom sit, dan gaan hulle lekker lag wanneer hulle sien hoe die persoon lyk as hy of sy weer opstaan. Die houtstroke wat die sitplek en leuning uitmaak, is verskillende kleure geverf: rooi, blou, geel en groen. Die persoon wat op die bank kom sit en dan weer opstaan, gaan van agter soos ’n bont sebra lyk.
Die Drie Muskiete fluister opgewonde onder mekaar. Hulle wonder wie die eerste slagoffer gaan wees.
“Sjuut!” sê Saartjie skielik en sit haar wysvinger op haar lippe. Die ander twee bly stil.
Die meisies luister aandagtig. Hulle hoor voetstappe. Saartjie steek haar kop effens deur die opening in die heining om te loer. Dit is die wewenaar polisiesersant en die weduwee De Klerk aan wie die losieshuis behoort. Die sersant is groot en geset en die weduwee is selfs nóg groter en gesetter.
Saartjie se hele gesig straal toe sy haar kop terugtrek. Sy fluister vir Anna en Lina wie dit is. “Die mense sê hulle is so verlief soos twee hoenders. Ek hoop...”
Saartjie wou net sê sy hoop hulle is so verlief dat hulle nie die nat verf sien nie en op die bank gaan sit toe die swaar voetstappe skielik by die bank tot stilstand kom.
Drie gesigte loer deur die opening in die heining.
“Sal ons ’n bietjie sit, Mevrou?” vra die sersant se growwe stem.
Die weduwee giggel effens en antwoord: “Ja, Sersant, dit sal lekker wees om ’n bietjie te rus.”
Die twee logge lywe gaan sit op die bank, op die nat verf. Dan leun altwee terug en twee breë rûe rus teen die geverfde balke.
Saartjie, Anna en Lina sukkel om hul lag te bedwing. Anna hou haar hand styf oor haar mond. Lina prop ’n sakdoek in haar mond en Saartjie byt op haar onderlip.
Die sersant het sy blou polisie-uniform aan en die weduwee De Klerk dra ’n donker rok. Saartjie dink die helder kleure behoort mooi duidelik op die uniform en die rok te wys.
Die weduwee vertel nou vir die sersant dat sy haar lewe lank al versot op ’n uniform is. Sy het altyd vir haar oorlede man gesê ’n uniform met blink knope slaan haar asem skoon weg.
“My arme oorle’ man,” gaan sy giggelend aan, “was altyd vreeslik jaloers op enige man in ’n uniform.”
Die sersant vertel haar nou hoe bly hy is dat sy van ’n man in ’n uniform hou. Hy sê, en hy gee ’n skalkse laggie en druk haar plomp hand vinnig, dit gee hom hoop vir die toekoms. Hy sal mos altyd ’n uniform dra en hoewel hy dit nie eintlik self wil sê nie, wil hy dit darem net noem dat lede van die skoner geslag dikwels vir hom sê hy lyk baie indrukwekkend in sy blou uniform.
“Ek stem heelhartig saam,” sê die weduwee en sy gee sy hand ook ’n drukkie, “maar ek hoop net daar is nie te veel dames wat dit vir jou sê nie.”
“Hoekom hoop jy so?” Die waardige sersant draai sy snor se punte sodat hulle regop staan.
“Haai nee, ek gaan nie vir jou sê nie,” giggel die weduwee.
“Ag toe, sê my asseblief.”
“Haai nee.”
“Ag toe.”
Die sersant en die weduwee geniet hierdie speletjie terdeë. Saartjie, Anna en Lina ook.
“As ek jou sê, sal jy vir niemand anders sê nie?” Die weduwee fladder haar ooglede vir die sersant.
“Ek belowe ek sal vir niemand sê nie.” Die sersant draai sy snor weer so ’n paar keer.
Die weduwee gee ’n verleë laggie en sê dan sag: “Ag nee, ek is te skaam...”
“Moenie wees nie. Sê vir my. Asseblief!”
“Maar dan moet jy regtig waar vir niemand sê nie. En jy moet wegkyk wanneer ek dit vir jou sê.”
“Goed... Kyk, ek kyk nou anderpad.”
Die weduwee giggel weer en dan sê sy huiwerend: “Dis omdat ek so... so baie van jou hou! Dis hoekom ek nie wil hê die ander dames moet na jou kyk en vir jou allerhande mooi dinge sê nie.” Sy giggel al hoe meer. “Nou’s ek baie skaam. Ek bloos bloedrooi.”
“Moenie bloos nie. Wat jy nou net vir my gesê het, is musiek in my ore,” paai die sersant. “Ek kan jou nie sê hoe bly is ek om dit te hoor nie. Ek kyk al hoe lank na jou, maar ek het gedink jy sien my glad nie raak nie...”
“Haai, hoe kan jy dit sê? My oorle’ man het altyd gesê ’n uniform laat my hart bokspring. Maar hy was nie heeltemal reg nie. Dis nie alle mans wat dit aan my doen nie...”
“Dis net ek, nè?”
Die weduwee giggel nou histeries.
“Toe, sê vir my dit is net ek.”
“Haai... ons sit nou al te lank hier...”
“Sê dis net ek... Toe, sê dit.”
Anna se hand is nou nog stywer oor haar mond gedruk, Lina se sakdoek is nog dieper in haar mond geprop en Saartjie byt haar onderlip nog harder vas.
Uiteindelik