Saartjie se held
Bettie Naudé
Die Saartjie-reeks
1. Saartjie
2. Saartjie se vakansie
3. Saartjie se geheim
4. Saartjie se donkie
5. Saartjie se nuwe maat
6. Saartjie se slim plan
7. Saartjie se papegaai
8. Saartjie se held
9. Saartjie se geveg
10. Saartjie se skatte
11. Saartjie se kliek
12. Saartjie se kêrel
13. Saartjie se dapper daad
14. Saartjie se piekniek
15. Saartjie se prys
16. Saartjie se moleste
17. Saartjie se dagboek
18. Saartjie se gevaar
19. Saartjie se verjaarsdag
20. Saartjie se drome
21. Saartjie se sirkus
22. Saartjie se boetie
23. Saartjie se wedstryd
24. Saartjie se afskeid
1
Die grap
Saartjie Baumann sit in haar kamer by die venster en uitstaar.
Die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis is teen ’n heuwel gebou. Saartjie se kamer is op die boonste verdieping. As sy by die venster uitkyk, sien sy die voorstad Lynnekom voor haar. En as sy na die horison in die verte kyk, kan sy op helder dae Johannesburg se wolkekrabbers sien.
Vandag is ’n onbewolkte dag, maar Saartjie sien nie die stad se hoë geboue nie. Sy sien in werklikheid niks raak nie, want sy is diep ingedagte.
Die veertienjarige Saartjie frons en vee dan met ’n tipiese gebaar met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop weg. Dis darem snaaks, dink sy. Die oomblik wat ’n mens aan ’n grap probeer dink, kan jy nie ’n enkele een onthou nie.
Sy kyk weer na die tydskrif op die tafel langs haar. Die redaksie betaal lesers vir ’n goeie grap. Saartjie dink nou aan wat sy alles met ’n bietjie ekstra geld sal kan doen.
En dis so maklik om in die hande te kry. Sy moet net aan ’n goeie grap dink, dit dan neerskryf en vir die tydskrif pos. Dan het sy binne ’n paar dae ’n hele honderd rand.
Saartjie ken net ’n paar grappe, maar selfs hulle het haar nou skoon ontgaan. Sy kan nie eens aan een dink nie.
Lusteloos kyk Saartjie weer na die flou grappe op die bladsy waar honderd rand vir ’n goeie grap aangebied word.
“Die goed is maar simpel,” sê Saartjie by haarself. Sy lees een hardop om te sien of dit haar nie miskien dán sal laat lag nie. Maar sy sien niks snaaks in die grap nie. Sy lees nou nóg een en loer na haarself in die groot spieël om te kyk hoe sy lyk wanneer sy dit hardop lees. Selfs dít is ook nie eers snaaks nie.
Saartjie se gelaatstrekke is ’n besondere kombinasie: blou oë en donker krulhare. Wanneer sy glimlag, verskyn daar ’n kuiltjie in elke wang en op haar effense wipneusie is daar ’n klompie sproete.
Al is Saartjie so ’n mooi meisie, lyk sy op die oomblik maar oes. Sy is besig om ’n suur gesig te trek omdat sy glad nie kan insien hoekom enige van die grappe in die tydskrif kastig so snaaks is nie.
Saartjie begin allerhande aaklige gesigte trek. Sy rek haar oë wyd oop en steek haar tong so ver as moontlik uit. Dan trek sy haar wange so ver as moontlik van haar tande af weg terwyl sy haar oë rol. Maar selfs hierdie gesigtrekkery laat haar nie lag nie.
Toe sy moeg is om so vir haarself in die spieël te sit en gesigte trek, tel sy die tydskrif weer op. Sy gaan nou op ’n grap konsentreer en regtig probeer om te sien wat so snaaks daaraan is dat die persoon wat dit ingestuur het, honderd rand daarvoor gekry het.
Met ’n frons op haar voorkop lees Saartjie die grap hardop:
“Ek is ’n honderd-en-een, Dominee, en ek het nie ’n enkele vyand in die wêreld nie.
“Maar dis mooi, Broer. Baie mooi!
“Ja, Dominee, die ou klomp is almal al dood.”
Saartjie glimlag effens. Sy kan nie sien dat die grap so verskriklik snaaks is dat die inskrywer daarvoor betaal is nie. Die grap laat haar glad nie hardop lag nie, wat nog van skaterlag? Saartjie is seker sy ken baie beter grappe as hierdie simpel een, maar sy kan net ongelukkig nie nou eniges onthou nie.
Nou dink sy weer ernstig aan ’n grap wat haar én ander mense sal laat lag, én boonop vir haar ekstra geld sal besorg.
Terwyl Saartjie só met ’n gefronste voorkop sit, hoor sy voetstappe by die trap opkom en in die gang afstap. Dis haar boetie wat op pad na sy kamer toe is.
“Apie!” roep sy toe hy verby haar kamer stap.
“Hè?”
“Kom hier.”
Abraham, of Apie soos hy alombekend is, is ’n koddige agtjarige sproetgesig. Sy twee voortande skitter in hul afwesigheid. Hy beweer hy het uit ’n boom geval en dis hoe hy die tande verloor het. Maar toe hy die middag sonder hulle by die huis aankom, het hy ook ’n prag van ’n blouoog gehad. Hy het net nors gemompel dat dit ook seker maar van die val uit die boom was. Die ander lede van die Baumann-gesin was oortuig dat Apie in ’n bakleiery betrokke was. Hy het egter koppig volgehou dat hy net uit ’n boom geval het. Niemand kon enigiets verder uit hom kry nie.
Apie staan nou in Saartjie se kamerdeur. Sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Het jy geroep?” vra hy.
“Ja, ek het,” sê Saartjie. “Kom in.”
Apie maak so. Hy trek die deur agter hom toe. Hy kom deesdae maar min hier. Vandat hy Saartjie sý kamer belet het, jaag sy hom ook altyd hier by haar uit.
“Wat wil jy hê?” vra hy.
“Ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel.”
“Hè?”
“Is jy doof?”
Nee, skud Apie sy kop, hy is nie.
“Ek sê ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel.”
“Ek het gedink dis wat jy sê.” Die sproetgesig loer agterdogtig na haar en dan voeg hy by: “Hoekom?”
“Hoekom wat?”
“Hoekom moet ek vir jou ’n grap vertel?”
“Omdat ek wil lag.”
“Hoekom?”
“Sommer.”
Saartjie dink nie dit is nie ’n goeie idee om vir Apie te sê hoekom sy wil hê hy moet vir haar ’n grap vertel nie. As sy geld daarvoor kry, sal hy mos die helfte wil hê.
“Sommer is nie ’n rede nie,” sê Apie en speel met sy tongpunt deur die opening waar sy voortande was.
Saartjie sug. Dan sê sy: “Ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel omdat ek graag wil lag.”
Apie kry ewe skielik ’n stout uitdrukking op sy gesig omdat hy aan ’n slim antwoord gedink het. Dis miskien nie ’n grap nie, maar dis baie snaaks!
“Hoekom kyk jy nie in die spieël nie?” sê hy vir sy suster. “Dan sal jy genoeg kry om oor te lag!”
“Probeer jy snaaks wees?”