Waarom Dwarsrivier? ’n Allegoriese grap? Miskien sou sy brief, wat ek in al die tyd nooit tot aan die einde gelees het nie, ’n leidraad inhou? Miskien moes ek die logboek deegliker bekyk? En dan was daar nog die onbeluisterde kassette in die Woolworths-sak in die besemkas. Ek het al Kasper se besendings bymekaar gekry op die kombuistafel.
Eerste het ek die brief weer opgeneem, dit vanaf bladsy twintig, waar ek die vorige keer opgehou het, gelees. Ek som die storie vir u op.
Na ’n maand se huidbehandelings was die swerwer se vel gesond, sy hare geknip, sy reuk aangenaam menslik. Maar dit was nie genoeg nie. Kasper se obsessie was om die swanefluisteraar aan die praat te kry. Want hy was jaloers op hom, jaloers op sy kuns van kommunikasie met die “voëls van die doderyk”, soos hy dit stel. Snags het hy by die slapende swerwer gewaak met sy logboek ingeval die man in sy slaap sou praat, maar al wat hy gehoor het, was die getik van die verwarmer, die geruis van die reën teen die venster, die slae van die Sint Nicolaaskerk se klok. Kasper kon die man se swye nie hanteer nie. As hy hom net eers sover kon kry om sy mond oop te maak, al was dit om aan tafel te sê, ek haal aan:
“Mag ek die sout kry, asseblief”, sou hy hom kon begin uitvra oor sy swaansjarmeerdery.
Die sout vra, dames en here? Ek moes glimlag, hierdie storie van Kasper het tog nie met sulke realisme gewerk nie. Ek het toenemend die gevoel gekry dat my student besig was met ’n argument, dat hy ’n saak aan die opbou was. Want die dinge wat hy gedoen het om die man tot spreke te probeer bring, het geklink na ’n program, na ’n lydensweg met stasies, en hierdie brief was aan my gerig, aan die studentefluisteraar, as u wil.
Maar ek het nooit geantwoord nie.
Dis die eerste keer dat ek nou daaroor praat.
Laat ek my bepaal by die storie. Hoe het Meneer Weldoener sy verdoolde gas aan die praat probeer kry? Eers het hy hom ure lank voor die televisie sitgemaak, hom probeer uitlok met beelde van gebreekte knieë in Kenia, die terreur van die lang messe in Zimbabwe, die treurende ysbere van die noordpool, die smeulende bome van die Amasone; toe dit nie werk nie, het hy hom deur die dakluik laat klim op helder nagte en vir hom die swaan en die lier uitgewys in die sterre, die trane van Orfeus in die weste; en toe dit geen effek het nie, het hy vir hom elke romantiese swanesang voorgespeel waarop hy sy hande kon lê in die biblioteek, Grieg, Sibelius, Tsjaikowski. Alles tevergeefs. Nóg die verskrikkinge van ons eie tyd, nóg die ewige signatuur van die transe, nóg die gedateerde melodieë van die Romantiek, nóg ’n glas Boergondiese wyn, niks kon hierdie boemelaar se tong losmaak nie. Kasper skryf hier, hy het oorweeg om hom na ’n psigiater te neem, of na ’n oor-, neus- en keelspesialis. Een oggend het hy self die mond ondersoek van die swanefluisteraar, om daar alleen ’n gesonde ligrooi tong aan te tref, die klepel stewig aan die riem geheg, soos hy skryf. Hy vervolg:
Ek het tot agter in sy keel gelig met die flits. Soos twee kleiner klokkies het die mangels in die huig gehang. Met die punt van my voorvinger het ek teen sy verhemelte gestryk. Die riwwe daarvan het my laat dink aan ’n harp.
Maar die harpe wou nie klink nie, in ieder geval nie in Kasper se skryfwerk nie. Wat hy geskryf het, was rye en kolomme, opnames en registrasies, hooguit in telegramstyl, ’n haas patologiese skryf-blokkasie, soveel was ten minste vir my duidelik uit die logboek. By 5 Januarie 2003 staan daar die volgende inskrywing in volsinne, die enigste blyk van selfrefleksie.
Swannyboy staan al weer doodstil agter my stoel waar ek probeer skryf, reeds ure lank, asof hy toesig hou oor my, ek maak of ek nie van hom weet nie maar ek luister, wat is dit wat ek hoor? Alleen die gedruis van die stad? Die sibilante van sy bloed? Of my bloed? Hy weet nie dat ek sy weerkaatsing kan sien in die glas van die prent teen die muur nie, ek kan sien sy lippe roer, en ek roer my pen oor die papier so goed ek kan, sinchroon met wat ek raai hy sê. Waaraan laat my pen my dink? Aan die grafietstafie in ’n weerstasie wat alle vogte en winde en wolkbewegings registreer en aanteken op ’n rol grafiekpapier.
En dan, kollegas, volg rye en rye klankkombinasies, die fonologiese patrone van Afrikaans. Sommige woordbeelde toon invloed van die Khoi-tale. Spak, grak, spal, malk, olk, skolk, en dan mrie !krie krakadouw. Sommige van hulle was lukraak bymekaar gevoeg en gerangskik in wat ek alleen maar kan noem klanklimerieke. Transkripsies van wat Kasper skynbaar gedink het die swanefluisteraar sê, of gedroom het of versin het dat hy sê, swanefluisteringe dus. En hoe klink swanetaal?
Rie mrie, rapuu,
kriep, !tewiek, miruu,
tohoe wa bohoe,
askla mor usa,
pierok griemok sklahoe.
Hoewel ek ’n liefhebber is van onsinverse, van nonsenspoësie soos die Engelse sê, en daar dikwels meer plesier aan beleef as aan die aanstellerige verhewenheid van sê “Groot Ode” van Van Wyk Louw, het ek tog nou regtig nie lus gehad om vir die gek gehou te word deur ’n psigoties geworde eksstudent met ’n moederkompleks nie. Ek het die boek toegeklap.
Kyk, professor, ’n doofstom skisofreen kan my meer van die skryfkuns leer as u! En dan bladsye vol koggelryme. Ek moes seker kon geweet het dit was nie onskuldig nie. Sowat ’n jaar later het ek die frase “tohoe wa bohoe” teëgekom in ’n boek oor die Pentateug. Dit is Hebreeus vir die woes en die leeg uit Genesis.
Dit laat ek mits dese in u midde. Ek weet nou nog nie wat ek daarvan moet maak nie. Maar iets val my nou hier by wat ek, nou ja, wat iemand in my beroep liewer wil vergeet, maar wat miskien verhelderend kan wees.
Dit betref ’n voorval uit die tyd toe Kasper nog ’n ingeskrewe student was, die enigste keer dat hy my ooit durf teenspreek het. Ek het hom laat kom vir terugvoer oor sy nuutste skryfpoging. Ek wou dit vinnig afhandel. Hy het nog skaars gesit toe begin ek. Los die metafisika, Kasper, het ek gesê, los die idees, skryf wat die lesers wil hê, ’n vrugtige sepie oor jou tuisdorp, ’n verhaal oor ongewenste inkommers, bendegeweld, hondegevegte, struikrowers, smokkelhuise, selfgelukwensing, owerspel, braaivleis, familiewrok, Maggie Laubser en dweepsug. Dan noem jy dit Die verdriet van Ritselrivier.
Kasper se oë was fel, sy stem was hoog toe hy begin terugpraat.
En dan seker met ’n selfbalsemende gemeentelike skrywer as verteller? Die dae van gemoedelike lokale realisme is verby, vir geval u dit nie weet nie, het hy gesê, selfs al is dit opgetof met metafiksionele truuks. As ek eendag prosa sou skryf, sou dit blote straatverslae wees, sypaadjieantropologie, opgeteken vanuit ’n koelbewoë perspektief. Skoon en droog.
Ek het klein borreltjies spoeg in sy mondhoeke gesien. Sy hand was onder sy baadjie in, maar hy het nie sy pen uitgehaal nie.
Fiksie, het hy voortgegaan, met sy tong wat swaarder sleep as gewoonlik, fiksie kan ons nie meer troos nie. Die verskrikkinge van ons vaderland ontneem die verhalende verbeelding haar wil, haar wilskrag. Mens kan niks meer uitdink nie. Brutaliste moet ons daarom word, feiteversamelaars, nie meer storievertellers nie, eerder argivarisse van die onvoorstelbare brutaliteite van die land. Daaruit sal die leser vir sigself vrees en medelye, selfs vermaak en lering wen.
Nouja, dit was die eerste keer dat ek gedink het ek leer iets van ’n student. Ek het hom nie uitgevra oor sy standpunt nie, ek wou nie toegee dat ek beïndruk was nie. Om die waarheid te sê, ek was jaloers op wat ek herken het as die invalshoek vir ’n nuwe literêre beweging in die Afrikaanse letterkunde, wat tog so vasgeval was in avontuur en selfportret.
Meneer, dit spyt my, het ek gesê, maar ek dink jy is skynheilig braaf, as ek jou so bekyk, dan sien ek nie ’n brutalis nie, ek sien ’n esteet. Ek sien nie lyste halssnoerverbrandings, kinderverkragtings, bejaardemoorde, gewapende roofvoorvalle by jou nie, ek kry lyste fauna en flora, blouknietjiesgras, smalhartjiesgras, dronkgras, pronkgras, klokkieskweek. Moet jy nie liewer sing soos jy gebek is nie? Jy lees Adorno se estetiese teorieë, ek sien nie dat jy ’n kritiese analise of ’n smaak vir satiriese of agiterende protes het met betrekking tot jou vaderland nie. Ek kyk na jou bewende neusvleuels en jou hand op jou hart en ek sien iemand wat oorweldig voel, swak voel, bang voel, alleen voel, nie iemand wat kans sou sien om ’n sestien reëls lange doodsvonnis oor homself uit te roep nie, soos wat die soseer deur jou bewonderde Osip Mandelstam gedoen het in sy gedig oor almal