Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315595
Скачать книгу
Dit maak haar senuagtig en sy wonder of Marc met hom gepraat het.

      Toe hulle met hul teeglase oorkant mekaar by die toonbank sit, neem dit ook nie lank nie voor hy sê: “Verbeel ek my of is jy stiller as gewoonlik van jy uit Haïti terug is? Dis net of ek jou nie meer hoor lag nie.”

      Hy kyk haar so reguit aan dat sy sukkel om ’n leuen te vertel. “Miskien is dit jou verbeelding, Abba.”

      “En miskien is dit nié, bat Y’hudah …”

      “Miskien nie,” gee sy toe.

      “Miskien wil jy my vertel.”

      Sy bly stil.

      “Jy hoef nie as jy nie wil nie.”

      Sy sit haar naels ’n rukkie intensief en bekyk. “Ek wil,” sê sy toe sag.

      “Ek luister.”

      Nog huiwer sy.

      En hy wag tot sy sê. “’n Verskriklike ding het met my gebeur in Haïti.”

      Hy sê niks, maar hy vou sy hand oor hare wat op die toonbank rus, as hy die trilling daarin voel, verstewig sy greep.

      Sy haal diep asem. “Abba, ek was ontrou aan Marc. Ek het in Haïti by ’n ander man geslaap.”

      Hy is duidelik geweldig geskok en dit neem ’n paar oomblikke voor hy weer sy ewewig herwin het. “Wil jy my vertel hoe dit gebeur het?”

      Sy knik en vertel hom met rukke en stote en baie trane. Ook van Marc se reaksie. Al die tyd luister hy stil.

      Toe sy klaar is, kom hy om die toonbank en neem haar in sy arms en hou haar lank vas.

      “Watter uitwerking het dit op die seuntjies?” vra hy.

      Sy is kalmer nou en hulle gaan in die woonkamer sit. “Ek glo nie hulle het iets agtergekom nie …”

      “Dis baie onwaarskynlik. Ek merk Yehoshua is rusteloser as gewoonlik en Natan huil maklik. Hulle is albei erg klouerig, asof hulle bang is julle verdwyn in die niet.”

      Sy knik onwillig “Ons is baie versigtig.”

      “En Marc?”

      “Abba, ek weet nie. Ek weet nie! Hy praat nie daaroor nie, maar ek dink hy kry verskriklik swaar. Daar is niemand met wie hy sal praat nie.”

      “Miskien moet ek met hom praat.”

      “Asseblief, Abba. Ek kan nie so leef nie.”

      “Die ander man, daar is niks meer tussen julle nie?”

      Sy kyk op en hy sien hoe donker blou haar oë is: “Abba, daar was nooit regtig iets tussen ons nie, dit was net …”

      “Rivki …”

      “Abba?”

      “Jy begryp wat owerspel in die oë van HaShem is?”

      Sy laat haar oë sak en knik.

      “Jy besef dat dit in sy oë dieselfde is as toe sy bruid Israel met die goue kalf-episode hoereer het.”

      Dié woord laat ’n rilling deur haar trek en sy knik weer.

      Hy praat sag met haar, maar hy spaar nie sy woorde nie. “In ons dag is dit nie populêr om van die Almagtige se toorn te praat nie. Mense verkies om aan Hom te dink as ’n liefdevolle Vader. Wat Hy ook is. Maar dit is die konteks van die Ewige, baruch Hu, se heiligheid, dat Hy sonde haat, maar ook sy geregtigheid – en daarmee bedoel ek dat Hy toelaat dat ons ly onder die gevolge wat ons sonde meebring – dat sy liefde en sy genade so kosbaar word.”

      Hy haal sy bril af en poets dit ’n paar oomblik lank met sy sakdoek voor hy verder praat. “Die paradoks van hoe HaShem beide regverdig en genadig kan wees was nog altyd ’n tema in Joodse geskrifte. Daar word dikwels verwys na ’n wysgeer wat gesê het: ‘As jy wil hê die wêreld moet bly bestaan kan daar geen absolute geregtigheid wees nie, terwyl as jy absolute geregtigheid wil hê kan die wêreld nie bly bestaan nie.’ Hoereer is ’n verskriklike woord en ek sien dat dit jou ruk, maar huweliksontrou is hoereer, Rivkah. Ek sê dit op so ’n harde manier vir jou omdat ek wil hê jy moet weet hoe die Ewige, baruch Hu, dit sien.”

      Sy kyk op. “Abba, vir my om net na Marc se pyn te kyk, is om te weet hoe ek voor HaShem gesondig het. Ek sou enigiets in my vermoë wou doen om dit ongedaan te maak.”

      “Daar is niks wat jy kan doen om dit ongedaan te maak nie, my lief. Maar daar is Een wat jou voor die Ewige van Israel kan reinig.”

      “Yeshua,” fluister sy.

      “Die versoeningsdood van Yeshua HaGo’el in Wie jy glo, het jou vrygekoop. Moenie wat gebeur het ooit ligtelike probeer afmaak nie, want op die lange duur sal HaSatan probeer om jou so daarna te laat kyk. Of om jouself te probeer regverdig. Lieweling, vergeet asseblief nie vir ’n oomblik Kiddushin nie. Die huwelik is ’n verbondsverhouding. Om ’n verbond met iemand te sluit is om jou op die diepste manier moontlik met daardie persoon te verbind. Veral as daardie verbond in die teenwoordigheid van HaShem gesluit is. Wat sê die Ewige self van die huwelik? ‘Ek is vir ewig in die huwelik verbind met my volk Israel. Ek sal daardie gelofte nooit verbreek nie.’ Daarom sien Hy egbreuk as so ’n geweldige sonde.”

      “Abba, dit mag valslik vroom klink as ek dit sê, maar ek het in my bitterste oomblikke hierdie afgelope weke meer van die kosbaarheid van die huwelik besef as ooit. Ek het Marc met soveel groter respek leer sien. Ek het hom liefgekry soos nooit tevore nie. Ek sal alles wat ek kan gebruik om weer sy vertroue in my terug te wen.”

      Die rabbi se gesig verteder. “Adonai kan ons grootste sonde gebruik om ons nader aan Hom te bring. Baruch Hu u varuch Shemo.” Dit sal nie ’n maklike stryd wees om jou huwelik weer ten volle te herstel nie. Maar jy sal nie alleen wees nie. Hy wat jou geroep het, is getrou.”

      “Dankie, Abba!” sê sy en kom na hom toe en soen hom.

      Kort daarna storm Yhoshi en Natan die huis binne en vertrap mekaar byna om by hulle geliefde saba uit te kom.

twirl.jpg

      Die dag nadat Chaim met Rivkah gepraat het, bel hy Marc by die universiteit en hulle spreek af om mekaar in ’n nabygeleë stil restaurantjie te ontmoet. Toe hulle teenoor mekaar sit, sê Chaim: “Ek reken jy weet waarom ek dink dis goed dat ons met mekaar gesels.”

      “Dankie dat u dit gedoen het, ek het nie die moed gehad nie.”

      Die rabbi is skynbaar diep in gedagte. Hy roer lank aan sy koffie waarin daar in elk geval geen suiker is nie, voor hy weer praat: “Ek is verskriklik jammer dat dít moes gebeur, Marc.”

      Marc trek sy asem rukkerig in en kyk weg deur die venster. Hy pers sy lippe saam, sy oë wasig rooi. Hy knik, nie by magte om te praat nie.

      Chaim kyk af in sy koffie wat hy steeds roer. “Weet jy dat die Halachah eintlik ’n man verplig om van sy vrou te skei as sy egbreuk gepleeg het. Volgens Tora verbreek owerspel die huweliksverbond.”

      Marc skud sy kop. “Ek het dit nie geweet nie, maar ek sal dit in elk geval nooit doen nie.”

      “Waarom nie?”

      Marc kyk vir die eerste keer na sy skoonpa en sug. “Omdat ek haar liefhet. Omdat ek haar altyd sal liefhê. Maar ek … het probleme om haar te vertrou. Om nie te bly dink aan wat gebeur het nie.”

      “Ek kan begryp dat jy geweldig geskok is. En die manier waarop jy dit uitgevind het, het ook nie bygedra om dit vir jou makliker te maak nie, het dit?”

      Marc skud sy kop woordeloos.

      “Mense praat maklik oor vergifnis, Marc, maar van praat na doen, is twee stappe wat ver uitmekaar lê.”

      “Waarom kan ek nie vergewe nie? Waarom is dit so moeilik vir my? HaShem het my so oneindig veel in Yeshua vergewe?”

      “Weet jy met die goue kalf-insident het die