Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315595
Скачать книгу
die getuienis van die vyftien Australiese advokate word nooit in die verslag aangespreek nie,” sê Shlomit.

      “Chaverim, julle praat van Israel, van Jode – vir ons loop die lyne van regverdigheid anders as vir ander lande, het julle dan vergeet?” vra Gur.

      Sondagaand 7 Februarie 2010

      Ek was dankbaar toe ek vanoggend weer kon teruggaan werk toe. Abba, dit verg oneindig energie van my om die situasie in my huishouding normaal te probeer hou, om Yhoshi en Natani nie aan die spanning tussen my en Rivkah bloot te stel nie. Toe ons vroeg op Shabbat-môre gepraat het en ek gedink het daar het ’n mate van begrip tussen ons teruggekom, het ek my sleg vergis. Shabbat was ’n dag van intense spanning. Rivkah was so ver verwyder van my soos nog nooit op enige tydstip in ons lewe saam nie, nie eens as ons, veral in die beginjare, hewige argumente gehad het nie. Gistermiddag het ek voorgestel dat ons met die kinders gaan stap. Die reën het vir die eerste keer in dae opgeklaar en die son het geskyn. Die hele Jerusalem was buite ten spyte van die feit dat dit steeds net 5 grade bo vriespunt is en daar sekerlik nog sneeu in die lug is. Maar sy wou nie. Om die waarheid te sê, sy het gevra of ek nie alleen met die seuns wil stap nie, sy was te moeg.

      Ek het begin wonder of sy nie in Haïti die een of ander virus opgedoen het nie. Maar toe ek in die rigting begin praat, het sy kwaad geword en my verseker dat sy absoluut niks makeer nie, maar tog seker ook die reg het om af en toe moeg te voel.

      Wel, ek het met die seuns in die Mamila Mall gaan roomys eet – koud soos dit was, was dit wat hulle wou doen. Toe het ek stadig met hulle deur die Arabiese shuks waar ons hulle eintlik nooit heen neem nie, geloop. Hulle het hulle verstom aan alles wat daar te sien is. Ek kon sien dit was goed dat hulle uitgekom het.

      Op pad terug het Re’uven my op my selfoon gebel. Blykbaar het hy huis toe gebel en Rivkah het gesê ek het met die kinders gaan loop. “Wat’s dit met jou vrou?” het hy my op sy reguit manier gevra.

      Ek was dankbaar oor die geraas in die shuks dat die seuns nie die gesprek kon hoor nie, Yhosh het sulke skerp ore. Dit sou nie help om te maak of ek nie weet waarvan Re’uven praat nie, hy skiet uit die heup. Ek het gesê ek wens ek het geweet, maar dat ek dink dit het te make met wat sy in Haïti gesien het. Hy’t dit ook afgeskiet, gesê Rivkah is ’n MADA-paramedikus en sy het al meer as genoeg soortgelyke dinge in Israel beleef om nou daardeur ontspoor te word. En ook dat almal van hulle wat daar gewerk het dadelik berading ontvang het en nog altyd kry. Hy het gesê ek moet hom asseblief op hoogte hou, want hy vind dit baie vreemd.

      Ek ook. En vanaand het ek weer my selfbeheer reddeloos verloor. Toe ek, voor hulle gaan slaap, vir Yhosh en Natani soos gewoonlik aan die begin van die week die parashah begin verduidelik, het sy opgestaan van die tafel af en kamer toe gegaan. Dit was net die laaste strooi. Toe ek seker was die kinders slaap albei, het ek kamer toe gegaan. Sy was al in die bed, en het met haar rug na my toe gelê, gemaak of sy slaap. Maar ek kon sien sy slaap alles behalwe. Ek was van plan om rustig met haar te probeer praat, maar toe ek my kom kry skree ek op haar: “Wat de hel gaan met jou aan, gee jy nie eers vir die kinders meer om nie?” Toe begin huil sy en vir die eerste keer het dit my net kwater gemaak. Ek het die deur agter my toegeklap. So hard dat Natani daarvan wakker geword en aan die huil gegaan het. Nou het ek hom eindelik aan die slaap gekry en ek het nie die moed om weer terug te gaan kamer toe nie. Ek weet net nie meer hoe om hierdie situasie te hanteer nie.

      Abba, ek smeek U b’Shem Yeshua om asseblief vir my te wys wat hieragter sit en wat ek hieromtrent moet doen. Adoni, help my, asseblief!

      Hoofstuk 4

      Jerusalem

      Dinsdag 9 Februarie 2010

      Diep in die nag word Marc wakker van iets wat sag teen sy gesig raak. Hy sit dadelik regop en in die flou skynsel van die lampe op die Hurvah-plein sien hy dis Yhoshi wat by die rusbank staan waarop hy in die woonkamer slaap.

      “Yhosh,” sê hy en trek die kind se koue lyfie in sy arms, “wat is dit?”

      “Hoekom slaap jy hierso, Abba?”

      “Ekke … ons … Imma was bietjie moeg toe het ek maar hier kom slaap. Kom, jy’s koud, gaan jy maar lekker by haar inkruip.”

      “Nee, Abba, jy moet by Imma slaap.”

      “Ek sal weer, babbelossie, as sy nie meer so moeg is nie.”

      “Ek wil hier by jou lê, Abba.”

      Marc skuif op. “Dis baie nou, maar kom maar, jy’s yskoud, man.”

      “Abba …” sê hy toe hy styf teen Marc aangekruip lê.

      “Hmmm?”

      “Gil se abba het weggegaan. Daar het ’n ander man by hulle kom bly nou. Maar, Abba …”

      “Wat, lief?” vra Marc koud van binne.

      “Daardie een is mos nie Gil se abba nie.”

      Marc trek sy seuntjie nog stywer teen hom aan. “Luister, Yhoshi, luister mooi vir my. Ek gaan nie weg nie en Imma ook nie. Verstaan jy? Ons bly hier by jou en Natan.”

      “Altyd?”

      “Altyd!”

      Lank na die kind in sy arm aan die slaap geraak het, lê Marc nog wakker. Hy bid vir die genade wat hy en sy huis nou so nodig het.

twirl.jpg

      In ’n vry lesuur by die universiteit gaan Marc in die personeellokaal koffie soek. Hy is dankbaar vir die normaliteit van roetine, studente en kollegas wat ’n mate van kalmte en hoop by hom laat terugkom het. Miskien maak hy, soos Rivkah al so dikwels laggend vir die Afrikaanse idioom vir hom gesê het, ’n olifant van ’n muggie.

      Hy is verheug om Basel Said, ’n Arabiese kollega van hom, daar aan te tref. Die son skyn koesterend deur een van die oosvensters en hulle gaan gerieflik daar sit met hulle bekers sterk Israelse mud, op soek na warmte ná die koue lokale waarin hulle klas gegee het. Van dieselfde ouderdomsgroep, maak die feit dat die een kuns doseer en die ander Arabies, geen verskil nie. Hulle twee het nog altyd daarin kon slaag om oor die Midde-Oosterse politiek te gesels, soms ietwat verskil, maar altyd op ’n gemaklike manier.

      “Ek het gisteraand vir Nisreen Abdel Nabi oor Arab Radio hoor praat,” sê Basel toe hulle eers gemaklik ingerig is en die son en die lekker koffie hulle warmer gemaak het.

      “Nie gehoor nie,” sê Marc en dink aan sy omstandighede tuis die vorige aande. “Maar ek het verlede jaar Israel Today se onderhoud met haar gelees. Sy is die Palestynse vrou wat Israel openlik ondersteun?”

      Basel knik. “Ons bewonder haar moed. Soos sy met Israel Today gedoen het, het sy gisteraand weer die Palestynse Administrasie en sy leierskap gekritiseer en Israel se kant ingesien.”

      Marc kyk hom ’n oomblik stil aan voor hy sê. “Maar ek het mos al aan jou verstaan dat jy en heelwat ander Arabiese Israeli’s én Palestyne soortgelyke sienings het … Of was dit wensdenkery aan my kant?”

      Basel glimlag oor Marc se huiwering. “Nee, jy’s reg. Ons dink graag ons is daardie ‘silent majority’ wat ons energie ingooi om saambestaan teweeg te probeer bring.”

      “Sou jy dink daar’s enigsins so ’n kans?”

      “Ons kan nie anders as om saam te leef nie, Marc! Ek wens meer Arabiere wou by nasionale diens betrek word en nie net die Droese nie.”

      “Lê my bietjie die situasie met julle en diensplig uit, ek weet nooit presies hoe dit werk nie.”

      “Omdat die meeste Arabiese Israeli’s nie in die weermag opgeneem wil word nie, is daar die alternatief van nasionale diens. Dit beteken gewoonlik maatskaplike werk, opleiding en ander maniere waarop die gemeenskap gehelp kan word. Nusseibah Khattib het al verskeie artikels in die plaaslike Arabiese pers gepubliseer waarin hy sy mede-Arabiese burgers aanmoedig om by die nasionale diens aan te sluit. Daarmee het hy hom ernstige kritiek van die Arabiese leierskap