Hoogty. E. Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: E. Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703669
Скачать книгу

      Titelblad

      E. KOTZE

      Hoogty

      KWELA BOEKE

      Motto

      “When shall we set sail for happiness . . .”

      BAUDELAIRE

      Opdrag

      Opgedra aan die Lang Skipper, lank reeds nie meer met ons nie, maar wie se onvergeetlike vertellings die basis van hierdie boek vorm.

Proloog

      I

      JANUARIE 1953

      Daar is ’n tyd op see net voor die dag breek dat die nag op sy donkerste is. Dis die swart uur wanneer die maan al onder is en die môrester vervaag. Wanneer die eensame skipper voor op die skuit se kop deurtrek is van koue, van roeserige water wat bo uit die maswerk in sy nek drup, in sy jaskraag en teen sy rugstring afloop, hom wakker hou wanneer sy oë begin stram word van vaak. Dis dan dat hy swart koffie se gal in sy mond proe, sy tong branderig is van pyp- en sigaretrook en hy homself hees gevloek het.

      Daardie tyd van die nag lê Volleminkbaai onverlig bokant die spierwit boog van die langstrand wat van die duine af aanloop, verby die mond van die vlei tot by die fabriek en die vishawe. ’n Loom stoot van die see af op tussen die vissershuise wat deurtrek is van seeklimaat, die asbesdakke groen en mosbedek, die tuinmuurtjies afgeskilfer.

      Die dorp slaap sy voordagslaap. Agter die duine slaap die kleinwild, die volstruise en skilpaaie en muishonde. Hoenders slaap op hul steiers in sanderige agterplase, melkkoeie herkou in takkrale op die dorpsmeent, varke snork in die strooi, katte spin in die lou vuurherd, ou mense droom onder dun doekkomberse. ’n Hond blaf. Veraf gee ’n keffer antwoord.

      Met ’n kreun word die eerste mens wakker. ’n Man steek voel-voel sy hand uit na die bekende warmte langs hom. ’n Kind begin ontydig knies. ’n Vrou sug en sit die baba aan haar bors, staan op, stook die vuur vir oggendkoffie.

      Geleidelik verkleur die lug, die swaaiende arms van rietpolle op die duine is afgeteken teen die rooi vlies van die daeraad. Die mis lig en sak. ’n Boot kom daaruit te voorskyn, voel sy pad deur die passasie tot in die klein baai wat beskut word teen die buitesee deur die swart rotsmassa van ’n eiland. Die kaai kry lewe, masjinerie word aangeskakel, mense roep na mekaar. In die middedorp slaan die kerkhorlosie ses afgemete slae.

      ’n Lig priem deur die dynsigheid. Die spoorwegbus dreun die dorp binne en hou sidderend voor die hotel stil. Helena is die enigste passasier. Ná ’n uitgerekte treinreis uit die Vrystaat deur die Karoo, via Kaapstad met die melktrein tot in die hart van die Weskus, is daar niemand om haar te ontmoet nie.

      Dit laat haar opnuut twyfel of sy nie oorhaastig was nie, nie te impulsief haar goed gepak het nie. Maar toe was sy ontsteld, met ’n krisis voorhande. Haar kop het huis toe gestaan ondanks die moontlikheid dat sy nie welkom sal wees nie, in haar spore sal moet omdraai, weggejaag word. Haar ma en Boetie was haar eerste prioriteit.

      Vind hulle ’n oplossing, waaraan sy nie twyfel nie, kan sy teruggaan. Met die Oranje-Snel neem dit twee dae tot op Grenspan. Daarvandaan is dit nie eens ’n halfuur se ry Harmstat toe nie, en na Chris de Wet.

      Die assistent laai haar tasse af, probeer nuuskierig die naam op die etiket ontsyfer: Mej. H. Burger, maar bly gemesmeraais. Die nuwe meesteresse het al ’n week gelede aangemeld; die skole moet haas begin. As hierdie een ’n laatkommer is, weet hy nie van haar nie.

      Hy lig sy pet toe Helena hom bedank, stamel: “Nie te danke nie, juffrou . . . e . . . e . . .”

      “Burger, Helena Burger.”

      Sy vou haar toe in die donkergroen woljas met baantjies wat na onder uitklok en wat te warm vir Januarie is. Sy moes dit agtergelaat het op Grenspan saam met haar wintersklere. Aan die ander kant is die klam seedou en die suidewind bedrieglik, ’n mens moet reg wees vir die wis en die onwis. Haar enigste sekerheid op hierdie oomblik is die grond waarop sy staan, die huis aan die einde van die straat, haar kamer skaars so breed soos ’n gang, die smal ysterkooitjie, linoleum op die vloer, hangkas, wastafel, kers in ’n blaker, Sondagskoolteks teen die muur.

      Dit moet die jas wees wat haar vermom het, die hoë kraag waaragter die helfte van haar gesig wegkruip, maar die naam is onmiskenbaar. Nou hét hy dit. Sal hy dan nou ’n skoolkind wat drie jaar lank bus en trein gery het se gesig vergeet, en die bos hare?

      “Sowaar as padda manel dra! Hillie van ou Jas Burre, slaan my dood. Waar val jy nou uit? Jy’s mos deesdae in die Vrystaat, as ek dit wel het. Jy kom nou ’n bietjie virkansie hou? ’n Meisiekind is soos ’n kalf, sê my vrou altyd, af en toe moet sy kom drink.”

      Helena, seker dat hy haarfyn weet hoe die vurk in die hef steek by die Burres, skud hom sonder meer af toe hy vra of daar iemand is wat haar goedjies kan help dra.

      “Nee wat, ek kom sommer self reg, dankie.”

      Met ’n tas in elke hand, handsak oor die skouer, voel sy soos ’n pakdonkie toe sy die sandpad vat. Jas is uiteraard op die see. Boetie het in die verlede trou die bus ingewag in sy kort skoolbroek en halfmasbaadjie. Maar hy het dié kinderklere ontgroei sedert hy aan die begin van die seisoen by sy pa op die skuit geklim het.

      Die sooihuis met wolfgeweltjie is aan die einde van Seekantstraat op ’n see-erf geleë. Voorhuis met weerskante ’n slaapkamer. Die losstaande kombuis is mettertyd bygevoeg, en ’n aparte slaapkamer met ’n buitedeur, pakkamer en kleinhuisie, gerangskik rondom ’n binnehoffie waaroor ’n manatok sy skade gooi. Toe-oog kan sy dit oproep: die wit afgekalkte mure, skewe morning glory-heining, ronde bleiktuintjie, krummels van ’n houthoop, skeelpietpolle en soutbossies, banke blouskulp op die wit strand. Sy is bewus van die suising van branders wat oor die rotse spoel en teen die wal uithardloop en terugtrek, die reuk van kromrugbamboese.

      Die bodeur staan oop; slegs die onderdeur is op werwel gedraai. “Ma!” roep Helena, en weer: “Mamma!”

      Helaas verniet. Haar ma sal by die melkkraal wees. ’n Koei met ’n stywe uier weet nie van wag nie.

      Eers as Meisie tot diep in die goewermentsveld gejaag is, sal Cora Burre omdraai en dan nog loop en uitkyk vir die volstruise, waar die mannetjie en wyfie wei, waar hul nes is, ’n randeier in haar voorskoot toeknoop. Die dounat oggend oor haar laat stort: die pan waar die flaminke met hul pienk snawels soos filters onderwater treil, die waterhoenders wat honk-honk tussen die riete, bloureiers wat vlei-op koers kies. Laastens die tuintjie agter ’n lae heining gepak van droë bakkerbos naloop, wortels of beet uittrek, of ’n kop kool afsny, en dan die emmer melk by die kraal kom vat.

      Helena hou dop deur die klein vierkant van ’n loergaatjie bo die swart stoof in die vuurherd. Die see is sigbaar, die kuifies van die branders wat smiddae teen die wind wal toe beur en die skuite wat inkom. Vroegoggend is hier vuur gemaak, ’n paar houtjies om water te kook. Daar is nog ’n loute in die koffiekan.

      Sy skink, roer suiker by en los dan net so toe sy stemme buite hoor. Dis die vroegoggendse groetery van haar ma en ou Japie Neus, die bekkoerant van die dorp, wat sonder uitsondering só verloop:

      “Môre, oom Japie!”

      “Mô’e, Cora. Het jy iets gehoor?” Dalk nuus waarvan hy nie weet nie.

      Helena hardloop asof haar voete nie grond raak nie, die jaspante soos twee vlerke. “Mamma!”

      Sy kon oor die hekkie gespring het, of dwarsoor die heining, dié wilde kind van Jas-en-Cora wat haar van hakiesdraad nie sal laat keer nie.

      “Hillietjie!” Die melkemmer stort in die hardepad en die groente rol uit Cora se sakgemaakte voorskoot. “Hillie!” snik sy en vang Helena in haar arms, hou haar styf teen haar bors, die voorskoot van blou sis.

      Ook in Helena se oë wel die klammigheid op.

      Ou Japie gaap die ongewone vertoning aan. Dis mos nie Cora se manier nie! En die meisiekind, is sy dit ooit werd?

      Met arms fladderend soos ’n pikkewyn swem-vlieg hy straataf, eenstryk verby