Dit het gou vir my duidelik geword daar word van ons verwag om ’n andersoortige geneeskunde te beoefen. Wat goed vir die staat is, is nie altyd goed vir die pasiënt nie. Neem die angstige soldaat as voorbeeld (en met angstigheid bedoel ek nie om ’n paar vlinders in die maag te hê nie). Dié soort angstigheid wat by ons uitkom, veroorsaak dat mense nie normaal kan funksioneer nie, en gaan gepaard met sweet, bewerasie, hartkloppings, ’n knop op die maag, diarree en lighoofdigheid, en dis so erg dat die troepie daarvan oortuig is dat hy besig is om dood te gaan. Hy gaan natuurlik nie dood nie, maar die angsaanvalle kom meedoënloos terug en dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy by ons uitkom met ’n diep frons op die voorkop, sweterige handpalms en ’n hart vol verterende vrees.
Wat nou? Uit sy geskiedenis blyk dat hy ’n angstige temperament het, die neurose was sedert sy kinderdae teenwoordig, maar dit was beheerbaar. Hy’s iemand wat hom van nature oor dinge kwel, hy slaap sleg as hy stres ervaar, dalk byt hy sy naels, hy’s ongemaklik in skares, effens selfbewus, funksioneer op sy beste in klein groepies en by mense wat hy ken, hy’t ’n paar goeie vriende en ’n liefdevolle gesin.
Wel, nou word dit alles oornag weggevat en vervang deur skreeuende korporaals, woedende sersante, opvlieënde kommandante, 04:00 se opstaan, ’n honger wat aan jou knaag, toilette wat verstop is en mans twee keer jou grootte wat enorme gemeenskaplike storte met jou deel, terwyl jy kaal vir jou skoot koue water wag … maar wat kan jy doen? Boonop moet alles blitsvinnig gedoen word: “Maak gou, maak fokken gou, jou nuttelose stuk kak.”
Jy het nie ses jaar mediese studie nodig om te kan sien hoekom laegraadse angs waaraan iemand al jare lank ly skielik in heelwat ontstellender simptome ontaard nie. En die oplossing is net so maklik: Stuur die soldaat terug huis toe. Ontslaan hom sodat hy kan terugkeer na die voorspelbare roetine van sy voorstedelike bestaan waar hy weer veilig kan voel in die stilte van sy kamer en die warm teenwoordigheid van ’n gesin wat vir hom lief is. Maar dit sal nie werk nie, glad nie, nie hier in die Republiek se enjinkamer nie. Met so ’n benadering sal elke siekeboeg oorstroom word deur dié wat werklik angstig is, hulle dit verbeel of voorgee dat hulle angstig is. Verlaag die drempel vir mediese ontslag tot ’n angsdiagnose en die hele besigheid kom tot stilstand.
’n Weermag kan nie ’n kompromis met neurose aangaan nie. Dus het ons opdrag gekry om die mans – eintlik seuns – te behandel, met die uitdruklike doel om hulle na hul eenhede te laat terugkeer. En dit kan ’n baie ongemaklike ding wees om te doen, want terwyl ek met terapie besig is, die uitdeel van pille of in gesprekke met pasiënte; terwyl ek die SAW se opdragte uitvoer soos dit ’n goeie soldaat betaam ongeag my elementêre vaardighede, hoor ek hoe Hippokrates ’n teregwysing in my oor fluister. Dit is juis dít wat die spanning in militêre psigiatrie veroorsaak, want die weermag kom altyd eerste. Geestesgesondheid is ondergeskik aan die staat.
Daar is egter tye wanneer selfs militêre noodsaaklikheid die knie moet buig voor ’n verstand wat die spoor byster geraak het. Een spesifieke geval het die vreemde jukstaposisie ontbloot van ’n geestesversteuring wat geen reëls gehoorsaam nie en die ysere weermagdissipline wat onversetlik reëlgebonde is. ’n Sewentienjarige infanterie-soldaat, manskap Jardine, is uit die detensiekaserne vir evaluering gestuur. Die majoor wat hom verwys het, was al jare lank lid van die militêre polisie.
“Ek het nog nooit so ’n geval teengekom nie,” moes hy erken. “Eers het ons gedink dis verregaande insubordinansie, ’n outjie wat hom slim hou en nie ’n moer omgee nie, maar dit lyk of dit veel meer as dit is. G’n straf kan manskap Jardine rede laat insien nie. Hy is soos ’n fokken papegaai.”
Daarna ontvou die verhaal stuk-stuk. Jardine was toe reeds drie maande in die weermag. Hy is in dieselfde tyd as ek opgeroep en is na 4 SAI op Middelburg gestuur. Aanvanklik het alles redelik goed gegaan. Daar was geen waarskuwingstekens nie, hy was net nog ’n dienspligtige, een van duisende wat deur die stelsel beweeg. Ná drie maande kla Jardine egter by die dokter dat ’n kpl. Smits op hom pik. Hy word aangesê om baie gou daaroor te kom en hy word daaraan herinner dat korporaals juis betaal word om op mense te pik omdat hulle so goed daarmee is. “Dit sal van jou ’n man maak,” is die dokter se raad.
Niks word weer van Jardine gehoor nie tot een oggend, vroeg in die lente, toe die einste Smits en sy peloton op die paradegrond aan die dril is.
“Halt!” skree Smits.
“Halt!” eggo dit êrens vanuit die manskappe se geledere.
Smits verstyf. Het hy dalk verkeerd gehoor? Het ’n soldaat ook “halt” geroep? Dis tog onmoontlik. Wie sal so iets waag, laat staan nog in ’n infanterie-eenheid? Ek moes my dit verbeel het, dink Smits. Dis seker die wind wat met my stem speel. Hy kyk om hom rond. Die wind waai inderdaad nogal woes. Klein sandstormpies warrel rondom die voete van die peloton. Sy manne staan roerloos voor hom. Doodstil, nie ’n beweginkie van een van hulle nie. Drie maande se dril en kyk net so! Fantasties! Vyftig gesinchroniseerde soldate wat soos een man marsjeer, net waar hy hulle wil hê. Nou ja, ek moet seker aangaan, dink hy. Daar sal later tyd wees om my lof te besing.
“Voorwaarts mars!” bulder hy.
“Voorwaarts mars!” kom die antwoord.
’n Trilling van ongemak beweeg deur die marsjerende mans. Smits hoor ’n onderdrukte laggie. Dié keer twyfel hy nie oor die lag óf oor die eggo nie.
“Halt!” skree hy.
“Halt!” kom dit terug.
“Wat de fok … ?” is die beste wat Smits kan uitkry terwyl hy onder die troepe instorm om uit te vind wie die koggelaar is. En sowaar, die duplikaat “Wat de fok … ?” lei hom reguit na Jardine toe.
Smits weet nie mooi hoe om sulke verregaande gedrag te hanteer nie. Manskap Jardine staan voor hom, penregop en staar uitdrukkingloos voor hom uit.
“Wat het jy nou net gesê?” brul Smits.
“Wat het jy nou net gesê?” skree die uitdrukkinglose manskap Jardine.
Sommige van die mans kan hulle nie meer bedwing nie. Die gelag is soos ’n klap in die gesig vir Smits. Al wat hy kan uitwurg, is: “Bly stil, julle bobbejane.” Waarop manskap Jardine dienooreenkomstig reageer.
Die laaste bietjie dissipline in Smits se peloton is daarna daarmee heen. Die mans lag so hard dat die netjiese rye begin opbreek. Te midde van die algemene chaos is manskap Jardine die enigste een wat nie lag nie. Smits, benewel deur woede, let dit op.
Die toneel wat hom daarna afspeel, is soos die een of ander malkop-komedie.
“Stilte!” bulder Smits.
“Stilte!” antwoord Jardine.
“Hou jou bek!!”
“Hou jou bek!!”
“Jy sal jammer wees!!!”
“Jy sal jammer wees!!!”
“Dis jou laaste kans!!!”
“Dis jou laaste kans!!!”
“Liewe hemel …”
“Liewe hemel …”
“Gh’rrr!”
“Gh’rrr!”
En so gaan dit aan. Totdat Smits, deur ’n rooi waas van woede, besef die enigste manier om die spektakel te beëindig, is om Jardine te arresteer. Hy gee vier van die mans opdrag om hom te gryp en met hom na die detensiekaserne te marsjeer.
“Links, regs, links, regs.” Die ritme word geblaf deur ’n briesende Smits, met Jardine wat so vasberade as ooit die gewraakte eggo verskaf.
As daar ooit ’n vermoede was dat manskap Jardine kpl. Smits met opset uitgetart het, is dit baie gou in detensie