Dis ’n ongelooflike hoogsomeraand, met die digbeblaarde akkerbome ’n filter waardeur die laaste lig op die teerstrate sif. Iewers in die lug is die reuk van kanferfoelie sodat Petro half versteld die wierook daarvan in haar longe trek. Sy was lank laas so gevoelig, so opgeskerp vir indrukke en gevoelens.
Dis seker omdat sy in ’n vreemde omgewing is.
Want vreemd is dit wel, al het sy en Danie as studenteverliefdes male sonder tal verby hierdie rooibruin geboue gestap. Toe was dit sommer net geboue, ’n stuk agtergrond vir belangriker voorgrondgebeure. Studentejolyt, toetse, seminare, dinees, huisdanse. Nog later was JC Vos, in die diplomajaar, ’n verskrikkingsoord vir jong proefstudente omdat dié skool bekend is vir sy dissipline en resultate.
En nou is ek pens en pootjies hierin, dink Petro op dieselfde oomblik dat sy vir Danie in die systraat sien stilhou. Hy bly agter die stuurwiel sit, sy gesig met ’n koerant bedek. Die gemaklike vabond, dink Petro sonder wrewel terwyl sy die luike toetrek. Die beweging trek sy aandag, sodat hy in haar rigting kyk. Hy beduie met die kop dat sy moet kom.
Toe sy langs hom inklim, frommelvou hy die koerant op. “Naand, juffrou,” groet hy en skakel die motor aan.
“Naand. Wat kou jy? Gee vir my ook.” Alles is soos altyd, en sy voel sommer hoe die spanning uit haar wegtrek.
“As jy kan kry, kan jy maar vat.”
Sy vind dit in die baadjiesak naaste aan haar, wetende dat dit juis so geplaas is. En dat hy spesiaal die pepermente met die sagte binnekante gekoop het omdat hy weet sy hou daarvan. Maar hy sal nooit erken dat hy iets vir haar gerief of onthalwe doen nie. Wat dit betref, behandel hy haar maar so half en half soos die skoolmeisie wat hy vir hom grootgemaak het.
Gehul in pepermentgeur, sit hulle langs mekaar en die genoegdoening van die bekende vou om Petro.
“En toe, het hulle al vasgestel dat jy ’n dooie verlies vir die onderwys is?” vra hy en toeter vir ’n voetganger.
“Ek wens jy wil die toeter laat staan en jou motor betaal. Ja, ek is al ingeroep. Gehoor van die stukkie glas wat jy op skuld gekoop het vir ’n diamant.”
“Magtig. Ingeroep? Wie? Long-play?”
“Wat?”
“Long-play, man. Jou baas. Dis sy bynaam.”
“Meneer Paulter? Hoekom? Is hy langdradig?” Aan die waarheid van die stelling twyfel sy nie. Danie weet so min of meer alles wat op die aarde aangaan. In elke sel van die samelewing het hy ’n pêl wat hom op hoogte hou.
“Dink self.”
“O, LP. Louis Paulter. Ek verstaan.”
“Hm. Die adjunk is Seven-single.”
Sy bars uit van die lag. “Ag, Danie. Waarheen gaan ons?”
“Ek is nie bra lus vir my ma se huis nie. Sy is weer befoeterd, ’n mens kan nie naby haar kom nie.”
“Ai, toggie. Kom ons maak dan ’n draai by Rina. Marius sal mos nou enige tyd grens toe gaan. Dalk het sy iets gehoor.”
“Ai tog, daai stuk geitjie. Nou toe dan maar.”
Hulle hou net buite die woonstel van Petro se skoonsuster stil. Dis nie ’n wafferse kompleks of selfs buurt nie. Marius en Rina kan tans nie beter bekostig nie. Tot oormaat van ramp betaal die eenmanfirma waar Marius gewerk het, hom nie tydens sy diensplig nie. As Marius tog ook maar, soos Danie, sy diensplig onmiddellik na matriek gedoen het, dan het hy nie nou met soveel probleme gesit nie.
Ondeurdagtheid, dink Petro. Na haar pa se dood was almal dit eens dat hulle vir Marius uitstel van diensplig moet vra, sodat hy hulle ma kan bystaan. Toe trap hy en Rina op die piesangskil, en dis ’n trouery en kindgrootmakery voor hulle hulle oë kan uitvee. Nou lol dinge maar.
Toe hulle voetstappe op die sementstoepie skraap, kom Rina juis na buite. ’n Oomblik is die twee besoekers uit die veld geslaan, want sy het ’n aandrok aan. Sy is ’n lang, mooierige vrou; mooier veral noudat sy swaarder as gewoonlik gegrimeer is.
“Hei, Rina, ons kom vir jou kuier. Gaan jy uit?” vra Petro.
“Moet gaan sing, ja.”
“Kan ons jou gaan aflaai? Wie bly by ou Hennie?”
“Iemand kom my oplaai, dankie. En Hennie slaap al. Ek sluit net toe. Ek gaan nie die hele aand wegbly nie, skaars ’n uur.”
“Jy kan g’n die kind alleen los nie,” sê Danie met die growwerige stemtoon waarmee hy haar altyd aanspreek. “Marius draai jou nek om.”
“Marius,” sê die lang vrou in die groen aandrok smalend, “kan nie voorskryf nie, jong. Hy verdedig die land, ek hou die pot aan die kook.”
“Ons sal by Hennie bly,” sê Petro gou. Sy ken Rina se haastige humeur reeds terdeë en Danie is nie ’n man wat ’n dominerende vrou kan verdra nie. Daarvan kry hy genoeg tuis by sy ma.
“Nou ja, bly dan as julle vryplek soek,” sê Rina.
“Jou bek moet ’n hangslot kry, vroumens,” sê Danie galsterig.
“Ag los tog, julle. Gaan jy, Rina. Ons sal hier bly.” Maar terwyl sy praat, weet Petro reeds dat die aand – die aand waarop sy peil getrek het om haar deur die meedoënlose vreemdheid van ’n nuwe begin te help loods, tot mislukking gedoem is. Danie sal heelaand dikmond wees as hulle hier vasgekeer moet sit.
Sy het hom nog nie eers gesê dat sy eerskomende Sondag nie soos gebruiklik saam met hom en sy ma kan kerk toe gaan en daarna by hulle eet nie. Sy moet die rye koshuismeisies kerk toe vergesel, en sy weet by voorbaat hulle sal allerlei kanse waag omdat sy jonk en nuut is, en in die kerk sit en ogies maak vir al wat ’n seun is. Sy is ook op ete-toesig.
Meer hartstogtelik as ooit voorheen, verlang sy na ’n eie plekkie vir haar en Danie, waar hulle eindelik nie meer soos twee trekvoëls op ’n tak sal wees nie.
2
“Darem weer eindelik iets vir die oog in jou personeel,” sê Barbara Paulter. Sy laat dit soos ’n aantyging klink.
“Haar aansoek was die beste,” antwoord Louis argumentsonthalwe. Om net stil te bly, is nie eties nie. Nie in ’n huwelik waar woorde deurslaggewend vir voortgang geword het nie. Elke woord wat hulle tot mekaar spreek, is ’n kapstok waaraan jy verborge betekenis kan ophang.
Bowendien was mejuffrou Petronella Jacomina Schoon se aansoek wel die beste. Dit was goed genoeg om geraam en uitgestal te word, afgesien van die inhoud van die getuigskrifte. Dis ’n jammerte dat sy redelik gou sal trou en haar aandag sal moet verdeel tussen huis en onderwys. Dit wil sê, ás sy voortgaan met skoolhou. Die onderwysdepartement is maar vol stipulasies.
Hy voel darem ’n bietjie gekrenk. Hy moes ingelig gewees het dat sy op die punt is om verloof te raak toe hy haar die eerste keer gesien het. Maar vir haar was dit ook moeilik. Sy kon dit tog nie uit die bloute aan hom noem nie, en hy kon nie vra nie.
Seker ook te veel verwag dat sy los sal loop. Sy is ’n oulike meisie, hoewel sy ietwat angsvallig kan raak. Verstaanbaar, in die lig van haar stipte presiesheid en die nuwe groot verantwoordelikheid. Haar ernstige oë wys dat sy nie ’n joller is nie. Tog, ten spyte van die ligte spanning, het sy ’n diepliggende gemak en selfvertroue wat selfs deur die ongemak van hulle onderhoud nie heeltemal ondermyn kon word nie.
Sy voel seker nie lekker omdat hy haar laat roep het nie . . . veral oor die rede daarvoor. Maar hy moes tog weet, verskoon hy sy optrede. Op ’n manier troos dit hom dat sy nie halsoorkop verlief is nie. Sy het van haar verlowing, verloofde en aanstaande huwelik gepraat soos oor ’n klasregister of die koshuisspyskaart.
Hy was veral bly toe sy aansoek doen om in die koshuis te woon, omdat die meeste juffrouens die pligte ontsien ondanks die goedkoper inwoning. Nou weet