Wildvreemd. Carina Stander. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Carina Stander
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624053408
Скачать книгу
wat gevang is – ’n krimpvarkie, klipspringer, erdvarke, selfs ’n ietermago – vermoed Jan Rats dat toordokters agter die brand sit. Hoe skaarser ’n diersoort, hoe gretiger is hulle om dit in die hande te kry. Jan Rats is gebroke. Hy reken sy pa en broerskind het ook net té naby verdwyn aan die gebied waar die toordokters hulle moetie versamel.

      Aan die ander kant glo ’n handvol inwoners dat die natuur self die brand veroorsaak het. Die swaar donderweer het daardie middag aanhoudend teen die berg geslaan, ’n algemene verskynsel wanneer die eerste reëns uitsak. Maar dié wat al jare hier boer, sê dis onsin. Hulle hou vol dat brandstigting ondersoek moet word en dié verantwoordelikheid rus nou maar eenmaal op my skouers, aangesien ek my as Natuurbewaring se brandkundige bekwaam het.

      ’n Stuk of tien inwoners het my gekontak met inligting oor ’n verdagte. Oor die algemeen stem hul getuienisse ooreen: ’n Wit vrou van iets in die dertig het glo die oggend voor die brand by die boeremark op die dorp haar humeur verloor toe ’n groep kinders haar oor haar spraakgebrek spot. Nou reken die inwoners weerwraak moet as motief ondersoek word. Aan dié verspotte storie het ek my aanvanklik nie juis gesteur nie, maar toe Brenda Botha my in die koöperasie voorkeer en vir die eerste keer in bykans twee dekades met my praat, het ek besef hoe sterk baie van die mense oor die aantygings voel.

      Ek het nog so ’n bietjie probeer wal gooi. “Tannie glo tog nie regtig dat kindergrappies ’n volwasse vrou tot brandstigting sal dryf nie?” het ek gesê.

      Brenda het heel vroom geantwoord: “Sy’s kens, is dié. Hartroerend vervreemd van die werklikheid,” het sy gesê. “Ons het dié dag so gesit en dophou hoe sy haar vir die kleintjies vererg, en in ’n ommesientjie was die berg in vlamme!”

      “Hoe sou sy dit reggekry het om binne so ’n kort tydjie ’n brand van honderde hektaar te stig?” het ek hardop gewonder. Ek kon sien die vraag was te direk, dat Brenda dit sou verkies het om eerder oor die vrou as oor die brand te praat.

      “Daai vroumens is alte slim met vuurmaak,” het sy met ’n pruilmond laat hoor.

      Uit die hoek van my oog het ek Braam Botha sien nader staan. “Middag-sê, Zackman,” het hy gesê en sy hoed gelig, maar sy glimlag het nie sy oë bereik nie. “Sien, sy boer met heuning en rook soms bye uit, maar sy is nie ’n slegding wat sal brand stig nie, en dit boonop op my plaas. Ek het my bedenkinge.”

      “Hoe so?” In die kringe waarin ek beweeg, is daar nie juis skindertonge nie en dit was een van die eerste stories oor die vrou wat my ore bereik het.

      “Almal praat hulle prate, maar die stomme vrou kan nie boe of ba nie, is dié dat hulle weet hulle kan maar ’n vuur maak om haar uit die Ruig te dryf. Sy kan mos nie praat om haarself te verdedig nie.”

      “Waarom sal een mens so iets aan ’n ander wil doen?” Ek het my naïef gehou.

      “Seker oor sy nie hier hoort nie,” het Brenda vinnig gesê. “Sy’s mos nie van dié dam se eende nie. Lyk nes ’n Porra of Spanjaard of ’n Italianer. Lyk eintlik nes ’n heks of ’n ding.”

      “’n Heks?” het ek gevra asof ek die woord vir die eerste keer hoor. Was dit nie vir die frons tussen haar ysblou oë nie, sou ek sweerlik hardop gelag het.

      “Sy is die vlermuis van die dorp, Zack, die een wat eenkant bly,” het Braam kalm laat hoor. “Maar sy’s g’n heks nie. Die waarheid sal nog uitkom. Soos die Pedi’s op my plaas graag sê: Taba ke mus˘i, e a tapa. Skinder is rook, mens sien dit van ver.”

      Lank nadat Braam weg is, het ek steeds sy laaste opmerking oordink. Waarom sou ’n eerbare, praktiese boer soos hy die opskudding rondom die Byeboer sommer uit die staanspoor as skinderstories afmaak? Watter belang het hy by haar? Enigiemand wat die natuur ken, weet tog ’n vuur kan die flora só beïnvloed dat dit groot voordele vir die mens inhou. As die vrou ’n redelike kennis van heuning het – wat sy vir seker het as sy met bye boer – behoort sy te weet dat daar ná ’n brand meer sade ontkiem, dat veldblomme beter bestuif word sodat daar meer nektar en heuning is. Party plante stoor saad onder die grond, en dit word slegs ná ’n brand vrygestel. Om ’n bestaan uit heuning te maak, is sekerlik nie maklik nie. Het sy uit desperaatheid vuur gemaak? Die kassiere by die koöperasie het my spesiaal gebel om te vertel dat die vrou die vorige markdag ’n kan petrol gekoop het en, ja, sy hét nie ’n voertuig nie. Byeboere behandel soms byekaste met petrol om te keer dat swartmiere die swerms lastig val, maar dit maak die petrol nie minder verdag nie. Waar daar ’n rokie is …

      Die aand van die brand het Jan Rats my in die hitte van die stryd eenkant toe geroep. Voor ons was ’n muskeljaatkat besig om haar kroos uit die vlamme te red. Die rook was so dig dat ons dit nie naby haar kon waag nie. Sy het ’n kleintjie in haar bek gedra en hom op ’n plek neergesit waar die grasvlakte reeds uitgebrand was. Al grommend het sy teruggedraf, haar lyf laag teen die grond. Die vlamme het aan haar kolletjiespels en gestreepte stert gelek en in die vuurlig kon ons sien dat haar bakore feitlik weggeskroei was. Haar naels het verskrompel van die hitte. Albei haar oë was toegeswel. Toe het sy haar vier kleintjies getel deur hulle een vir een met haar snoet aan te raak.

      Nou, maande later, besef ek die muskeljaatkat moes aan my iets openbaar wat ek bitterlik nodig het. Die polisie sloer met die verklarings, Jan Rats raak by die dag meer teruggetrokke en die boere vra ongeduldige vrae. Dié met rampversekering wou direk ná die lentereëns begin ploeg en plant, maar hulle kan nie vergoedingseise instel voordat die oorsaak van die brand bepaal is nie. Die oomblik toe die muskeljaatkat haar sig verloor het, toe haar ore vermink en daar geen gevoel in haar naels meer oor was nie, het sy op ’n sintuig staatgemaak wat haar gehelp het om haar kleintjies te red. Dié sintuig van elke dier en mens wat heel laaste sal vergaan: innerlike gehoor. Instink.

      Nou weet ek presies wat ek volgende moet doen.

      Braam Botha

      Kyk, ek het my verniet bekommer dat ons twee soos wildvreemdelinge by mekaar gaan wees, want hier waar my kleinseun neffens my sit, is dit asof die jare tussen ons soos soggensdou verdamp. Elmboog teen elmboog sit ons in die Chev en praat soos ou bondgenote. “Hoe sê jy nou, Ebro? Skies tog, maar jy sal harder moet praat. Jou ouma kla oor die lawaai, maar ek sê dis die gaafste sessilinder in die Waterberg, want hy groet almal langs die pad so ta-ta, ta-ta, ta-ta!”

      In ’n ander tyd, twaalf jaar gelede, het ons met dié einste Chevrolet na die bloekombos langs die rivier gery. Destyds was daar ’n lekker vleisbraaiplek en wanneer die weer guur geraak het, het ons gou in die ou pomphuisie gaan skuil – ’n geboutjie met ’n besonderse plek in ons harte, aangesien ons seun, goggadokter Lasarus, toe hy nog ’n skoolkind was, daar sy eie Navorsingsentrum vir Insekte begin het. Kompleet met ’n vergrootglas en botteltjies en aansteekborde.

      Brenda-lief se blou oë het geblink waar sy agterop die Chev tussen Lasarus en Ebro gestaan het – wat was hy toe, agt? My oë het geblink toe die vlamme uit die rooiboshout spring. Hoe héérlik was dit nie om weer langs dieselfde vuur as my seun te sit nie! Koedoetjops het oor die kole gesis en Brenda was net besig om die blikbekers met koffie en kondensmelk aan te dra toe Ida vra: “Het Jarus vir julle vertel dat hy nou professor is? Hy is die jongste prof in die fakulteit.”

      Ons het na mekaar gekyk, toe terug na Ida. “Jarus wie?” wou ons gelyk weet.

      Haar oë het na Lasarus gedraai.

      Dat ons enigste seun die boerdery nie wou oorneem nie, was ’n skok, maar om darem sy naam weg te smyt? Dit was asof hy sy hele herkoms verloën het.

      Maar vanaand is nie ’n aand om derms uit te ryg nie. Nie noudat Ebro hier langs my sit nie.

      “Oupa, dis great om terug te wees,” sê hy asof hy my gedagtes lees.

      Ja-nee, die golwende lokke en bokbaard laat hom nogal na die Versoener van die Kinderbybel lyk.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте