Wildvreemd. Carina Stander. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Carina Stander
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624053408
Скачать книгу
steek ek die kerse op. Die vlamlig lok die insekte na binne. ’n Spinnekop skarrel verby. Rysmiere lê stil teen ’n blaker – net die beaarde vlerke tril. Ek raak aan ’n verdwaalde by se geel-en-swart angellyf. Die uilmot se oogvlekke is angswekkend swart.

      Insekte word gebore op die wind. Hulle leef in die duister koeltes van die bos, ver anderkant menslike verbeelding. Hulle is vlugtelinge, swerwers wat my eensaamheid verdryf, maar sodra die weer opklaar, sal hulle hier uitsluip en nie weer aan my dink nie. Een vir een sal hulle minnaars van die vlam word.

      Ek eet in stilte; buite het dit ook stil geword. Vanaand wil ek huil oor die merk aan my keel. Wat het van my stem geword? Ek is stilte. Stilte is ek.

      Maraai

      So sit ek vamirrag agtertoe en dink toe hier ’n rokie bo Braam Botha se berg trek. Sweerlik weer die Mensdier wat daar staat en bye uitrook. My tweeling was nog maar melkbaard toe hulle haar die eerste keer so sien, doenig met die bye. Het ná die tyd kom vertel van die “mooi heuningjagter”.

      Hou verby, het ek gesê, ek’t ’n voorgevoelte.

      Watse gevoelte? wou Pampoen weet.

      “Watse gevoelte?” het Jan Mampoer gesleeptong. “Dink jy my seuns sal soos jóú mense met ’n wit hoer teel? Is dit wat jy van my seuns dink?”

      Maak nie saak wát mens dink nie, kon ek hom toe al sê, sy gaan onse plek kom vervuil. En ek was reg. Vamore het sy weer vroe-vroe oor die berg geloop tot op die mark. Suutjies, sonner spoor, nes ’n voël. Lat die klippers onner haar kaal pote nie eens roer nie. Word die kjennertjies piepiebang toe hulle sien hoe sy ’n anner vroumens op die mark begrom en bespoeg. Net so! Genoeg om enige goeie mens die trillings te gee.

      Wragtag, die rokie van netnou is nou al ’n tamaaie grys wolk, so dik lat my oë daaise rivier nie meer kan sien nie! Doer waar die suikerbekkies en heuningswawels vlie en waar gom van die bome se stamme afdrup, het die Mensdier haar toornes gemaak. Is mos die einste plek waar Jan lank terug met my kom jongman-jongman het. Ganseiers in die hand het hy voor my gestaat, lat ek dit kon opkook en eet. Hy het na my vel gekyk en daaraan gevat, oral gevat asof dit ’n treat was. Ons het komberse bymekaar gegooi en Jan het goed gesorg: ’n skoon jaart met nege boerbokke, derrig hoeners, ook ’n blik silwergeld onner die kooi. Bruin Ouma was kort gespan: “Nou’s jy sy besitding, nè?” Maar hy het fluks huis gebou, land gekap en mielies geplant en ek’t leer kook soos sy Pedi-mense daarvan hou.

      Ná die geboorte het hy onse tweeling so staat en kyk en toe gesê: Dié’s Jan Rats en dié’s Jan Pampoen. Die kleinste se skeel ogie en tongetjie wat uitval, was vir hom swaar. Ek’t al die skuld gekry.

      “Is jóú mense se onnertelery met die wittes en kyk net die vloek,” het hy somskere lawaai.

      “Bogtery, Jan. Swartvelbloed is so goed soos witvelbloed.”

      “Hou jou bek, jou baster!”

      Eers was dit net knertsies, toe groter doppe met kwaaier doepa wat hy diep agter in sy keel ingooi. So het hy Jan Mampoer geword.

      Maar die eerste hou had my helemal onkant. Die pienk onner my vel het gewys waar die osriem vreet.

      In die begin het ek myselwers gepaai: Sy hart tjank oor iets, is dié lat hy die vrot vrug sluk wat sy hanne moeilik maak. Hy sal weer homselwers word. Later het al die askiese soos boorgate gedroog.

      Jan Rats, die slimme, het een mirrag ná skool sonner my meeweet by die polieste loop kla oor die slanery. Hy’t gereken sy pa is nie te oud om te tronk nie. Toe sê die poliesman: “Julle dronk hotnots moor mekaar ôk maar lekke uit, nè,” en hy draai rug.

      Die ding het by Jan Rats bly spook. “Donnerswil, Ma! Vir wat’s Braam en Brenda se oë toe as Ma só by die kombuis aankom? Sien hulle nie hoe hy vir Ma verniel nie?”

      Die kjend het seer. Laat hom skree. “Hulle kyk. Hulle sien. Gee Dettol, ’n fles koffie, ’n werkie vir Pampoen. Ma is altevol bly as …”

      “Komaan, Ma!” Rats het harder geskrou. “Vir wat stop Braam nie vir Pa as hy die riem teen ons lig nie? Hy wéét tog Pampoen is te onnooslik en my planne is befoemfaai.”

      Ek wou nie verder hoor nie. Ek wou nie weet wat die kjend als sien nie.

      “Stoppit, Jan Rats! Jy kan nie die hele witte wêreld vir jou Pa se nonsies blaam nie. Meneer en Mevrou het respekte vir Maraai. Maraai is die regterhand waarsonner hulle nie kan nie, al raak Ma oud en …”

      “En opgeneuk, Ma? Ek sal Ma sê wat gaat hier aan: Die wit wetters is bang Pa strip hom, en dan sit hulle sonner een wat boerblits stook. Die ‘huismies’ en ‘baas’ sal liebersters kyk hoe die riem swaai voor hulle daai wit pote vuilmaak om ’n kafferbrak te voer.”

      Die kjend se woorde het gevreet. Nes ’n osriem.

      Daar’s ’n ding wat g’n niemand van jou kan wegmoker nie, had ek Jan Rats wou leer. ’n Mens se annersgeit, jou taal. Elke dierasie en voël en vis en gogga en klip of ding is mos geskape met ’n eie taal. Tot ou Vrekbek wat doer in die spookhuis teen die rivier bly, het ôk haar taal. (Seker spooktaal, want die Liebe Heer weet, g’n mens verstaan haar gemummel nie!) In die outyd moes onse ouma donkieore dra as die skoolmeester haar vang haar taal praat, maar ek’t vir Rats skool toe gestuur lat hy kon gons in sy taal, sing en skryf in sy taal, leer om sy sê by die mispaaltyd te sê in sy taal. Hy moes weet om sy taal nes ’n tamatie by te roer vir ’n ietseltjie geur. Ná die poliesman vir Rats afgejak het, het hy kom sweer hy sit nooit weer sy mond aan sy taal nie. Dis te wit. Ek sê toe hy kan maar sweer nes hy lus kry, swere raak gesond. Mens offer g’n jou taal asof dit ’n begrafnisbees is nie. Ná skool het hy wildwagter geword en kom sê wit is nie meer so sleg nie en sy taal is darem bont. Sy tong was weer los. Hy kon weer “gorrel” sê lat die “g” grof is en die “r” rol. Dis Rats wat die mooi naam vir hoenervleis uitgedink het: duifpuisies!

      Toe Jan Pampoen se kleintjie, Jan Groentjie, ses jaar oud was, het ek hom skool toe gevat lat hy ôk sy taal kon vind. Maar Juffie het geseg dit sukkel oor hy agterstevoor en onnerstebo skrywe: “pappa” is “padda” en “boep” is “poep”. Die arme kjend het soos ’n agterossie agterna getwêr en in die dom ry gesit. Smiddae het hy sy boeksak doer gegooi en bergin gehol soos ’n bokkie wat vuur ruik. Eers donkertyd was hy terug met ’n sak knolle of ’n vinkkuiken wat uit ’n nes gewaai het.

      Op ’n dag het Groentjie uit die klas geloop en nooit weer tru gegaan nie. Wat die boeke hom nie leer nie, sal die berg hom leer, het ek getroos. Maar ek was kwaad vir Jan Rats wat nie wou tyd maak om die kjend bewoorlik te leer nie. Kwaad en skaam oor ek nie kan skryf nie. Tog, die kjend se oë was weer blink en vir eers was dit genoeg.

      Maar somskere, soos vamirrag, voel ek selwers so dom soos ’n stuk donkiemis, en ek wonner hoe de hel het ek dit geword. Haal ek noutjiesmaar vir Fraaifina uit, die liefiespop wat Bruin Ouma donkiejare terug vir my gehekel het. Jittetjie, wanner het Fraaifina se kraalogie dan uitgeval? Vat-vat aan my eie oog, en sonner dink kom brand die tjank die sweepsels op my gesig, want ek’t donkiemis geword.

      Is dit helikoppeters wat soos brommers deur die rook vlie? En wie doekvoet nou hier agter my?

      “Mirrag, Ma.”

      “Gonnasegatvel! Hoe lat jy Ma nou skrik. Agtermirrag, Jan Rats. Jy’s ôk net op tyd. Ma moet gou klaar kook voor Pampoen en jou pa moeg van die werf af kom. Ek sien daar word vamirrag weer gróót vuur geslaan.”

      Maar Rats staat in sy spore.

      “Wassit met jou? Wat staat jy so paphanne?” raak ek rou met hom.

      “Ma,” sê hy stram, “dit brand.”

      “Ek sê mos.”

      “Nou’s Pa en klein Groentjie skoonveld, Ma.”

      “Wat sê jy daar, Jan Rats?”

      Sy gorrel tril soos hy sluk. “Kort ná tjailatyd het Pa en Groentjie … weggeraak, Ma.”

      Oor die jaart. Verby die teefhond wat vir die