Dan swem sy strand toe, so vinnig as wat sy kan en sonder om een keer om te kyk.
Haar hart klop soos ’n tamboer toe sy op die sand uitstrompel.
Sy trek haar swemvinne met bewerige vingers uit. Agter haar lê die see glad en donker, maar daar by haar seeslak-akwarium sien sy iets vaagweg beweeg.
Dis ’n driehoekige vin. Nee, twee!
Iets kouds druk teen haar been.
Dis Brak se snoet.
Soos gewoonlik het die getroue Brak op die strand vir haar gewag terwyl sy na haar seeslakke gaan kyk het. Hy swem uitstekend onder die water, maar hy is lomp en oorentoesiasties. Soms stamp hy teen die koraal, en koraal breek maklik.
“Volgende keer vat ek jou sowaar saam!” sê Anna.
Brak spring op en af van opgewondenheid. Hy blaf en waai sy stert.
Hy sal waarskynlik maklik met ’n haai kan afreken, dink Anna.
Want sien, Brak is geen gewone hond nie.
Brak
Brak is ’n robothond wat Anna eenkeer by haar ouers present gekry het vir Kersfees.
Hy is gemaak van ’n ligte soort metaal, en sy rekenaar is geprogrammeer met gevorderde sagteware. Hy het elektroniese sensors in sy neus, daarom ruik hy selfs beter as ’n gewone hond. Hy kan ook uitstekend sien en hoor.
Anna is nie presies seker wat Brak nog alles kan doen nie. Hy het ’n baie dik boek vol instruksies, maar sy is te lui om dit te lees.
Anna hou die dolk na Brak toe uit. Hy snuif daaraan. Sy elektroniese sensors registreer seewater, die reuk van Anna se hande en ’n titseltjie haai.
Brak grom.
Anna se knieë voel nog pure jellievis as sy aan daardie hamerkophaai dink. Sulke tande!
Sy gaan sit op ’n rots en vryf haar hare droog met haar hemp. Die dolk lê langs haar op die sand. Dis die beste ding wat sy nog ooit in die see gevind het.
Gou genoeg vergeet sy van die haai. Waar kom die dolk vandaan? Dit lyk baie oud. Hoe het dit hier by MonPetit beland?
Die laaste stukkie sonlig smelt weg. Die oppervlak van die see gloei nou dof in die lig van biljoene sterre wat een-een in die naglug begin flonker.
Dis warm en stil.
Die gety trek terug. Die donker see is vol geheime en gevaar.
Die AardWag
Terwyl Anna nog op die strand sit en droom, is haar ma besig in haar laboratorium naby hulle huis, op die rand van die eiland.
Professor Sabatina leun vooroor en loer oor haar silwer halfmaanbril. Iets is nie pluis nie!
Sy sit op ’n stoel wat gly op ’n sirkelvormige spoor hoog bo die vloer van die laboratorium. Reg voor haar neus, en in die middel van hierdie sirkel, hang iets skouspelagtigs mooi: ’n reusagtige hologram van die aarde.
Tans bedek skadu die oostelike halfrond op die beeld van die blinkblou aardbol. Die skadulyn wat dag en nag skei, gly stadig oor die Indiese Oseaan, in die rigting van die Horing van Afrika. Dit kruip oor die groep eilande waar die Atoom-familie woon. Die eilande lyk soos smaragde in die saffier-blou oseaan. Op die hologram-aardbol is MonPetit maar so groot soos ’n muntstuk. As jy baie mooi kyk, sien jy die donker vierkant van die Atoom-familie se huis in die middel van die eiland, waar ’n liggie skielik begin flikker. Dis Ton wat die stoeplig vir Anna aansit.
Hologramme
Hologramme is driedimensionele beelde wat opgewek word deur laserlig uit verskillende hoeke te projekteer. Só kan ’n lewensgetroue figuur van jou geskep word wat, byvoorbeeld, in jou plek skool toe kan gaan.
’n Hologram is natuurlik nie solied nie, en jy sal jou hand daardeur kan steek en niks anders oorkom nie as om vir ’n paar sekondes ’n blouerige hand te hê.
Die hologrambeeld van die aarde in professor Sabatina se laboratorium is die belangrikste deel van die AardWag, die weerstasie op MonPetit. Dit beeld die aardbol in al sy glorie uit net soos wat dit regtig lyk vanuit die ruimte. Die beeld word elke paar sekondes opgedateer deur seine vanaf satellietstasies wat om die aarde wentel. ’n Mens kan sien hoe die aarde om sy as draai en hoe die wolkformasies verander.
Professor Sabatina is salig onbewus van alles: die donker buite, en haar dogter wat so laat eers van haar swemuitstappie terugkom. Haar aandag word vasgevang deur die weerpatrone wat op die AardWag se hologram wys.
Aan die sonskynkant van die aardbol is ’n onsigbare wind besig om die sand van die uitgestrekte woestyndeel in Noord-Afrika op te klits in ’n stofstorm. Die warm lug wat dit oor die Middellandse See uitstoot, veroorsaak ’n laagdrukstelsel wat sneeuwit wolke vanaf die Atlantiese Oseaan insuig. Hopelik verlig dit die droogte in die Kalahari, dink die professor.
Die berekeninge wat die rekenaar op ’n skermpie aan die kant van haar stoel projekteer, begin waarskuwend flits.
Professor Sabatina frons.
Sy tik dadelik ’n nota op die toetsbord voor haar. Blitsig word ’n stormwindwaarskuwing elektronies versend na die skepe aan die weskus van Suider-Afrika.
Dis alles deel van die werk wat sy doen. Sy bring die grootste gedeelte van haar tyd in hierdie laboratorium deur. Met behulp van die AardWag monitor sy die weerpatrone. Sy hou ook die algemene welstand van ons ekosisteem stip dop. Sy waarsku die wêreld as rampe soos ’n tsoenami of ’n vulkaniese uitbarsting dreig.
Professor Sabatina geniet elke oomblik van haar werk. Daar is nooit tyd om verveeld te wees nie. Sy is gelukkig om die beste toerusting in die hele wêreld tot haar beskikking te hê. Nêrens anders is daar iets soos die AardWag met sy hologram-aardbol en die superrekenaar wat dit bedryf nie.
Die rekenaar ontvang inligting vanoor die wêreld, verwerk die data en projekteer sy berekeninge op die AardWag. Van Arkansas tot Antarktika, van Berlyn tot Beijing, van Kuba tot Kaïro gebeur daar niks wat die aandag van hierdie gesofistikeerde stelsel ontglip nie. Navorsers wat olifante in Afrika tel, wetenskaplikes wat soek na nuwe insekspesies in die Amasone, mariene bioloë wat besoedeling in die Rooi See meet: almal stuur hul inligting na die geheuebank van die superrekenaar op MonPetit-eiland.
Die rekenaar is so slim dat professor Sabatina dikwels vergeet dat dit net ’n masjien is. Sy beskou die rekenaar as haar vriend en getroue kollega. Hy is vir haar veel meer as net ’n blikbrein, en daarom het sy vir hom ’n naam gegee: Maks.
Maks die superrekenaar
Maks is superslim, maar hy is vol streke. Hy kan enigiets bereken en die ingewikkeldste probleme binne nanosekondes oplos. Maks kan ook praat in enige van sewe-en-twintig tale, afhangend van hoe hy gestel word.
Ongelukkig is sy grammatika nie baie goed nie. Iemand het vergeet dat al die verskillende tale wat hy kan praat ook verskillende grammatikareëls het. Maks is dus geprogrammeer met net een stel grammatikareëls. Hy weet nie dat werkwoorde in die meeste tale nie meervoude het nie, en sy reëls vir byvoeglike naamwoorde werk miskien in Frans, maar nie in ander