Die vrou wat in die argief werk op die eiland waar Anna skoolgaan.
Uranus Draak
Die slimste wetenskaplike in die wêreld. Hy is ’n kollega van Anna se ouers.
Meneer Amsterdam
Die hoof van GROEN (Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing), die agentskap waarvoor Anna se ouers werk. Die doel van die organisasie is om die aarde se ekosisteem te help bewaar.
Die seerower se dolk
Die wrak van die seerowerskip Chivonne sou sekerlik vir ewig verlore gewees het as ’n honger hamerkophaai nie een laatmiddag op die rif rondom MonPetit-eiland gaan kos soek het nie.
Anna swem in die see.
Die Indiese Oseaan is warm, en dit wemel van lewe. Vanaf Indië tot Australië, tot by die kus van Afrika en die Kaap van Storms lê die oseaan wyd en uitgestrek: diepblou water oor misterieuse dieptes. Dis die tuiste van reuse-
skole vis, walvisse, waterskilpaaie en dolfyne.
Bykans reg in die middel van hierdie uitgestrekte oseaan, net suid van die ewenaar, vind jy ’n klein groepie eilande wat rustig lê en bak in die tropiese son.
Hier is die see vlak, die water stil, helder en skoon.
Reis jy na Indië en jy hang net so effentjies oor die reling van die skip en tuur af na die water, of reis jy in ’n vliegtuig wat laag oor die oseaan vlieg en jy kyk toevallig by die kajuitvenster uit, sal jy dalk iets van die wêreld onder die water kan gewaar. Verskuil onder die blinkblou oppervlak lê die donker skaduwees van koraalriwwe. Hier en daar weerkaats sandbanke die sonlig terug deur die water en vlek die oppervlak met ligter groen kolle.
Kyk nog fyner, en jy sien miskien seediere wat net onder die oppervlak rondswem. Dolfyne speel in die golwe en vlieënde visse breek nou en dan deur die silwer oppervlak van die see. Hulle sweef ’n entjie deur die lug voor hulle terugplons in die water.
Sou jy nie ook graag op een van hierdie eilande wou woon nie?
Dink net!
Elke dag is somer, jy hoef nie eens warm klere in jou kas te hê nie. Jy hoef nooit ’n besige straat in spitsverkeer oor te steek nie, want net op die groter eilande is daar karre en paaie. En nie veel daarvan nie!
Hier raak ’n mens nie sommer verveeld nie. Daar is net te veel dinge om te doen, en elke moontlikheid is opwindend en vol avontuur. Dis maklik om jouself besig te hou, selfs op lang luilekker middae.
Op net so ’n middag, ’n Donderdagmiddag om presies te wees, swem Anna op haar geliefkoosde plek.
Die vlak water van die baai vorm ’n natuurlike akwarium waarin sy haar seeslakke hou. Dis die perfekte blyplek vir hierdie vreemde diertjies. Anna het al ’n groot verskeidenheid van hulle bymekaargemaak. Sy versamel hulle van oral op die eilande om hier te kom bly, waar hulle veilig en gelukkig kan rondwei op die seesponse en anemone wat hulle so graag eet.
Seeslakke
Koraalriwwe wemel van kleurvolle lewe. Dis mooi om na te kyk, maar vir die bewoners van hierdie wêreld onder die water is dit ’n ewige stryd om nie opgevreet te word nie.
Seediere vind allerhande slim maniere om hulleself te versteek of om hul vyande die skrik op die lyf te jaag. Party visse kruip weg tussen rotse of op die sanderige seebodem, of kamoefleer hulleself deur dieselfde kleur as hul omgewing aan te neem. Sommige diere is nie skaam om hulleself ten toon te stel nie, maar dan benodig hulle afskrikmiddels om te keer dat hulle op ’n buurman se spyskaart beland.
Daar is baie seeslakke wat nie in skulpe bly nie. Party van hulle is die mees kleurvolle diere op aarde. Hul bont lywe pas mooi in by die skakerings van die koraal waartussen hulle leef, en waarsku terselfdertyd hul vyande dat hulle giftig en gevaarlik kan wees.
Daar is honderde soorte wat voorkom in al die oseane van die wêreld. Die heel mooistes bly in die koraaltuine van die tropiese see.
Seeslakke se geliefkoosde kos is seeanemone. Seeanemone verdedig hulleself deur honderde selle op hul vel wat piepklein giftige brandstekels uitskiet na enige aanvaller. Seeslakke steur hulle nie veel daaraan nie, en wanneer hulle ’n seeanemoon eet, steel sommige van hulle hierdie brandstekeltjies en bou dit in hulle eie vel in.
Wee die nuuskierige vis wat nou ’n hap seeslak wil vat!
Die son begin sak. Omdat Anna se skool op die grootste eiland in die groep is, kom sy gewoonlik eers laatmiddag tuis. Haar dag was lank en vervelig. Die dag se hitte talm nog en die see is aanloklik. Sy wil net gou kyk hoe dit met haar seeslakke gaan voor dit heeltemal donker is.
Die rif is oortrek met die sagte kleurskakerings van verskillende soorte koraal. Sonlig val deur die helder water en flits oor die rûe van die tropiese visse wat daar rondswem.
Anna skop luiweg met haar swemvinne en gly so glad soos ’n vis deur die water. Sy is tuis in die wêreld onder die see; sy ken die name van die meeste diere wat hier woon. Sy swem oor ’n skool vissies en tel hul strepe. Hulle word sersantmajoors genoem omdat hulle vyf swart strepies oor hul geel-en-wit lyfies het. ’n Lang geel trompetvis dryf oor ’n reuseanemoon, en ’n wolk bloupietvissies patrolleer die helder sponse en seesterre op die rotse.
Vanuit sy skuilplek onder ’n groot paddastoelkoraal loer ’n seeskilpad slaperig na Anna. Sy lyk nie vir hom honger nie, dus besluit hy dat sy nie gevaarlik is nie. Hy glip terug na sy droomland waar seeskilpaddames wag om saam met hom op lang reise deur die oseaan te gaan.
Anna het leer swem nog voor sy kon loop. Sy weet presies hoe om haar asemhaling te reguleer en hoe om soos ’n vis op die rustige seestrome te dryf. Sy lyk heeltemal tuis in die water. Maar as jy mooi kyk, sal jy iets vreemds opmerk omtrent haar: sy gebruik geen snorkel of ander duiktoerusting nie!
Dis te danke aan Anna se ouers. Hulle is albei wetenskaplikes en hulle en hul kollegas kan allerhande slim toerusting uitdink en bou.
Anna dra ’n pers waterbril met ’n rubberraam wat netjies om haar oogkasse pas. Die waterbril is kleiner en ligter as ’n gewone duikmasker, maar daarmee sien sy die seelandskap reg rondom haar net soos wat dit vir ’n vis sou lyk. In haar mond byt sy ’n klein toestel vas. Dis ’n Waterlong, ’n vernuftige stuk toerusting wat haar pa jare gelede ontwerp het toe hy nog op die aarde gebly het. Dit werk op dieselfde manier as die kieue van ’n vis, en daarmee kan sy suurstof direk uit die seewater suig.
Hoe haal ’n vis asem?
Net soos die lug wat ons inasem, bevat water ook suurstof.
Ons weet dat water, oftewel H2O, uit waterstof en suurstof bestaan. Maar ons praat nie nou van daardie suurstof wat ’n boustof van water is nie – daar is ook vry suurstof wat opgelos is in die water. Met hul kieue filtreer visse dié opgeloste suurstof uit die water as hulle asemhaal.
Ons longe filtreer ook suurstof uit die lug as ons asemhaal, maar daar is ongeveer twintig keer meer suurstof in lug as in water. Gelukkig is visse koudbloedig,