Samuel praat in die mondstuk van die radio en dan kantel die vliegtuig na regs en Ester voel ’n krieweling op die krop van haar maag. Hulle vlieg oor ’n grasdakgebou, sirkel nog een keer en dan vlieg hulle weg van die gebou af. ’n Paar oomblikke later gewaar sy ’n windkous en sy voel aan haar oordromme dat hulle gereed maak om te land. Aan die einde van die landingstrook staan ’n paar rooibokke en wei en hulle kyk net lui op toe die vliegtuig oor hulle dreun.
Met die uitklimslag is dit nog warmer as op die Hoëveld en Ester wonder hoe die res van die groep hierdie hitte gaan oorleef.
’n Swart man met ’n spierwit glimlag neem haar skouersak en help haar uit die vliegtuig.
“Moses, dis Ester Green.” Hy voeg iets in ’n vreemde taal by en Moses glimlag.
“Hy ken vir Ira.”
Ester skud die ouerige man se hand.
Die mans laai die bagasie agter op die oop Jeep en stoot die vliegtuig in die groot skuur langs die landingstrook. Dan maak Samuel die Jeep se deur vir Ester oop en sy klim in. Moses gaan sit op die sitplek wat links voor op die neus gemonteer is.
“Waarom sit hy daar?”
“Die mag van die gewoonte. Moses is ’n spoorsnyer en hy is maar altyd op soek na spore.”
Die rooibokke lig hulle koppe, maar toe die Jeep verby is, wei hulle rustig voort. Die voertuig se enjin dreun deur die stilte. Toe Samuel skielik stop, moet Ester keer om nie vorentoe te val nie. Sy arm gaan asof outomaties uit en hy druk haar teen die sitplek vas. Voor hulle in die pad staan ’n groot olifantbul. Hy lig sy kop net effens voordat hy verder die klein mopanieboom ontwortel. Samuel ry stadig verby die groot dier. Ester is so naby aan die yslike grys lyf dat sy die swart haartjies op sy slurp kan sien. Dis jammer haar kameratasse is agterop die voertuig gelaai.
“Hoe het jy geweet hy gaan ons nie storm nie?” wil sy by Samuel weet toe hulle verby is.
“Ons was windaf en ons was nie ’n bedreiging vir hom nie. Dis nie asof ons tussen hom en sy ete gekom het nie.”
Voor hulle verder kan praat, doem daar goed versteekte geboue met netjies gedekte grasdakke tussen die bome en struike op en ’n vlakvark staan vinnig van sy knieë af op en hardloop nader.
“Dit is Ku biha, ons gelukbringer of nie-amptelike gategrawer.”
Ester is nie seker waar mensgemaakte tuine en die natuurlike plantegroei ophou en begin nie. Daar is geen formele tuine nie, maar dit lyk tog of daar ’n mate van orde is. Die bome is groot en ’n paar se stamme vorm deel van die geboue se pilare.
’n Lenige swart meisie kom met ’n tuinpaadjie na hulle toe aangestap en Samuel stel hulle aan mekaar bekend. Haar naam is Kiki Nkuna en sy is een van die personeellede. Sy dra ’n kakielangbroek en wit hemp en lyk koel en vars. Haar gesig is fyn en haar hare is kort en teen haar kop gevleg.
“Ek dink ek het alles gekry waarvoor julle gevra het,” begroet Samuel haar. Nadat hy hulle aan mekaar bekendgestel het, slaan Samuel oor na die taal waarin hy en Moses ook gepraat het en beduie na die paar kartonne wat hy en Moses intussen van die Jeep afgelaai het. “Is Ian hier?”
Kiki skud haar kop. “Iemand het nou net laat weet daar het ’n olifant êrens deurgebreek en van die plaaslike inwoners se landerye geplunder. Hy is saam met Patrick en ’n paar van die spoorsnyers weg om te kyk of hulle hom kan gewaar en om die draad voorlopig toe te maak sodat ander hom nie volg nie.”
Samuel tel die radio se mondstuk van die mikkie af op en nadat hy ’n paar keer geroep het, antwoord ’n stem.
“Dit moet een van die jong bulle wees. Hy het net onder die spitskop deurgegaan, maar ek vermoed hy’s terug, want ons gewaar hom nêrens nie.”
“Maak seker dat julle die draad dig toemaak.”
Hy kyk na Kiki. “Het jy enige dringende boodskappe?”
“Patrick vra dat jy ’n draai moet kom maak wanneer jy tyd het. Hulle het ’n olifantbul gewaar wat op een of ander manier in ’n stuk draad verstrengel geraak het en blykbaar is dit besig om sy been af te sny. Hy kan nie meer behoorlik op die been trap nie en bly gevolglik redelik op dieselfde plek.”
“Enigiets anders?”
“Daar het baie e-posse gekom oor die vergadering volgende maand in Johannesburg. Wil jy dit saamneem huis toe om te gaan lees?”
Hy knik en sy draai om en stap na die groot grasdakgebou.
“Kom ons stap saam, dan kry ek vir jou iets om te drink. Is jy al honger?” praat hy met Ester.
“Nee, net dors.”
Dis koel onder die rietdak en Ester ruik die effens soeterige geur van die riete. ’n Ander vrou kom van êrens met ’n skinkbord waarop twee glase en ’n verskeidenheid koeldranke en vrugtesappe is en sit dit op die groot koffietafel neer. In die ruim vertrek staan ’n paar leerrusbanke, koffietafels en ’n tafel van spoorwegdwarslêers. Op die blink sementvloer lê ’n paar sebravelle en die lampskerms teen die mure is volstruiseierdoppe. Dis ’n gesellige ontvangslokaal.
“Verskoon my asseblief ’n oomblik. Die badkamers is deur daardie opening.” Samuel verdwyn agter die ontvangstoonbank in en Ester stap eers badkamer toe voordat sy vir haar ’n koeldrank kom inskink en op die breë stoep uitstap en ’n sigaret aansteek. Die gebou is op die walle van ’n rivier gebou. Dit was blykbaar tot dusver ’n goeie reënseisoen en daar is ’n lopende stroom in die groot rivier. ’n Vreemde stilte hang oor die plek, behalwe stemme wat van êrens af aangesweef kom. Vreemde tongvalle waarvan sy hier en daar ’n woord verstaan.
Sy skrik toe sy iets bo haar kop gewaar en ’n blouapie vanuit die boom tot op die stoeptafel spring. Sy kyk ’n oomblik na die swart gesiggie tussen die gryswit stekelrige hare. Die ronde ogies bekyk haar asof hy vir haar wag om iets te sê. Hy kyk na die sigaret in haar hand en sy skud haar kop: “Rook is sleg vir jou.”
Die swart gesiggie kantel toe sy praat, asof hy luister. “Never preach what you do not practise. Selfs nie eens vir ’n aap nie,” praat Samuel agter haar.
Sy trap die sigaret op die sementvloer dood en gooi die stompie tussen die plante langs die stoep in.
Samuel stap teen die trappies af en buk langs die struik. Toe hy opstaan, hou hy die stompie vas. “Verkieslik nie tussen die plante nie.”
“Hier is nie ’n asbak nie.”
“Ek wonder waarom nie.”
Ester voel ’n krieweling in haar nek.
“Ek is seker een sigaretstompie gaan nie die ekologie versteur nie.”
“Gaan jy nie weer rook terwyl jy hier is nie?”
“Wat bedoel jy?”
“As hierdie jou laaste sigaret was, kan jy maar die stompie gooi net waar jy wil, maar as jy die hele tyd wat jy hier is, gaan rook, gaan ons nie net met een stompie sit nie.”
Sy antwoord hom nie en hy draai een van die botteltjies water oop en drink dorstig. “Ek wil hê jy moet saam met Kiki deur die program vir die week gaan. Sy wil net seker maak alles is gereed.”
Ester stap agter hom aan tot waar Kiki in ’n ruim kantoor agter die ontvangstoonbank sit. ’n Rekenaarskerm is aangeskakel en sy trek vir Ester ’n stoel nader.
Op die skerm is ’n lys van benodigdhede wat Henry, die moderedakteur, vir hulle gestuur het. Van die toilette wat in die veld beskikbaar moet wees, tot twee tente, tafels, stoele en ’n paneelvoertuig waarmee alles elke dag aangery kan word. Kos en verversings. Verblyf. Elke persoon