Ek sê nee. Al gaan ek my persoonlik onder meer ooreet, al begeer ek ’n Drie-reeks-BMW, al kom strandtyd, al vloek ek by presente koop … Boesemsondes is een ding; tradisionele massa-sondes kan tot ék nie probeer reg praat nie.
Blomkinders
“Praat van die duiwel …” sê mense as die pas beskinderde dalk opdaag. Dan word daardie selfde skinderbekke op ’n hartlike plooi getrek en die heuning drup uit die groetwoorde.
“My aarde, Sannie, waar kom jy so skielik vandaan? Ons praat nou net van jou …”
Asof die voorafgaande prysliedere was!
So sit ek en Jim op die plaas en skinder. Jim is die enigste tandarts wat my toemond ook wil ken. Ons is albei al ver oor die veertig en dus in ons konserwatiewe jare – die jare waarin jy begin vra: Wat word van die jeug? Waar gaan alles tog heen? Wat gaan nog van die wêreld word?
En met die jare word die onthou-jy-nogs al hoe meer.
Ons skinder dus in die algemeen oor die jeug, die moraliteit, die uitwasse van die subkulture – sommer oor alles wat agteruitgaan.
Ook oor die tyd toe die wiggelaars so opgegee het oor die era van Akwarius, die groot liefdesoeke van die hippies, blomkinders en die soort ding.
Klop aan die deur, en wie staan daar? Twee. Soos na-blomme uit die blomtyd, soos druppels as die reën al verby is, soos mense wat die stoet by die verkeerslig verloor het en ná die begrafnis aankom.
In die uniforms van die anti-uniform-tyd.
Ek het die deur met ander verwagtings oopgemaak, want ek het nie ’n motor gehoor nie, en die honde blaf maar so as Bennie Schoeman se beeste deur die rivier kom om my blomtuin af te wei.
Twee, sê ek: die man al in die dertig, die meisie twintigrig.
Albei in uniform: die man met Jerusalem-tekkies, knokkige skene, háááre, baard, jannas wat vaal word oor die uitsteek-plekke soos boude, knieë en gulp. Jy kan sien tussen sy baard is daar ’n pienk mond, waarin net vegetariese disse gaan en waaruit skewe Zen en folk songs kom.
Sy is gekleed in ’n kreukelrok met ’n weduweesblommetjies-patroon. En as sy hoes, hou die vibrasie van die rok op twee puntjies nog ’n rukkie aan.
Natuurmense. Liefdemense.
Voor hulle groet, kry ek ’n blom. Van myne, buite gesteel.
Ek sê, met ’n soort verwarde ordentlikheid: “Vrede vir julle.”
Die lig van geesgenootskap daag in hulle oë en hulle kom in.
Jim staan op en groet, en ek gaan steek die blommetjie in die loop van die ou Lee Metford in die hoek. ’n Mens moet vir Rome toegewings maak, al kom hy na jou toe.
Nou moet ek eers sê dat Jim ook maar ’n uniform-man is. Hy is, selfs in sy oomblikke van ontspanning, elegant gekleed. Hy dra krawatte en sy broek het ook op pieknieks ’n plooi in. Hy dra sy professionele status soos ’n voornemende dokter sy eerste stetoskoop. Sigbaar.
Ek loop Josephine agterna waar sy al op pad uit is, en sê hier’s nog mense, sy moet iets aanmekaarslaan. Sy vra of ek nie maar wil braai nie. Ek sê ek glo nie die mense glo aan vleis nie.
Josephine verstaan nie kos sonder vleis nie.
Terug in die sitkamer is die argument al aan die gang, want so met die terugkeer hoor ek al hoe Jim vertel van die rot-aanteel oor dertig jaar as ons die spul nie met die dood aan bande lê nie; hoe die koeie Indië vertrap.
Ek laat hulle maar weer alleen en gaan sê vir Josephine pap sal goed wees. En sy kan so ’n bietjie rou kool kerf.
In die sitkamer het die wêrelde mekaar nie gevind nie.
Toe ek daar kom, sit die man in die lotus-posisie. Hy mediteer. Die meisie sê neerhalend dat die establishment gaan slaap het. Die kind gló, besluit ek.
Ek vertel van die ete en kry Jim in die kamer.
Hy’s nie baie hartlik nie en hy gaan gal af oor wat gaan gebeur as almal uit-freak, oor hoe die rotte ons gaan inneem, en bokker die natuur, en hy verstaan nie hoe ek die ruikende goed kan toelaat nie, en wat van hom wat ek genooi het? En die ergste, die ergste, sê Jim, is dat hulle sy professie beledig … Want ’n tandarts is nie soos die natuur dit bedoel het nie. Hy’s ’n inmenger.
Die twee slaap toe sommer op die vloer, en ek ruik hulle het ’n bietjie wierook daar. Hulle speel ’n instrument wat ek nie ken nie, maar wat hulle nie kan stem nie.
Ons gaan slaap en hier vieruur maak juffrou my wakker en vra of ek nie iets het vir ’n tand nie. Meneer het ’n tand aan hom.
Ek maak Jim wakker, want hy’t goed gebring vir ou Hennie se abses.
“Sy bek lyk soos ’n hoender wat net gelê het, ek sal nie,” sê Jim.
Later hoor ek die kabaal en gaan kyk. In die voorhuis sit Jim op meneer se bors. Hy’t ’n klip en ’n stuk been, en hy sê hy gaan dit op die natuurlike manier doen. Uitkap, soos die oumense.
Die juffrou is in ekstase. Die establishment het tot die natuur gekom, sê sy.
Maar meneer wikkel los.
Toe hulle so in die halflig van die oggend deur die hek loop en stry, sê ek: ek glo dit nie. Kyk waar’s die liefde nou!
Jim sê hy moet sy hoenderbek by sy natuurbek sit.
Sê die meisie ook, sê ek.
Die wiel
Die wiel draai.
Onderdorp-kinders groei op met ’n drag griewe oor skaam-wees, ou-klere-dra, en die herinnering aan baie meerderwaardige blikke op hul verleë lywe. Hulle streef en kom bo. Hulle bly en ry blink, en hulle wys wat hulle altyd gesweer het toe hulle die binne-bitter van ek-sal-julle-wys gedra het.
Intussen gaan gesienemanskinders ten gronde, suip plase uit, bring fortuine deur, vermors erfgeld, skend familie-eer.
Nie altyd almal nie, maar altyd sommiges.
Tot die dood weer sy hand oor die sand kom vee om die spulletjie gelyk te maak vir die volgende geslag se kasteeltjies.
So dink ek die dag toe ek by Van Niekerk se hek indraai.
Dis winter in die Noordoos-Vrystaat en die mielielande is gestroop van gesigseinder tot gesigseinder. Ek draai in tussen die swaar pilare waaraan die ysterhek, ten duurste ontwerp en vervaardig deur ’n Griek in Pretoria, swaai.
Die bome langs die laning wat oploop na die boerepaleis is een geslag oud. Want die wiel het gedraai: Van Niekerk het uit die onderdorp gekom tot die herehuis. En sy aankoms het hy met boompies bevestig.
Eengeslag-boompies – ouer bome is andermansbome, eie bome is jammerlik jonk.
Daar’s ’n geskiedenis aan die Van Niekerk wat deesdae orals voorsitter is, en waar hy dit nie is nie, is hy ten minste direkteur. Die man wat nou sy plase laat bestuur deur B. Sc.’s, onderhandel oor groot stroperaankope, en sy spogdiere op landbouskoue laat pryk, het in matriek nog met skoene geloop wat hy toe al self ’n vierde keer versool het.
Ek weet van die versoling, want ek het by hul huisie aangekom toe hy die onwillige oorleer, teen alle sin en wil in, weer wou vasnaai. Hy het nie goeie seilgare gehad nie, die stukkie byewas waarmee hy die winkellyntjies probeer stryk het, was kleiner as my pinkienael – en dan stryk hy nie sonder dat hy bloedstrepe oor jou vingers trek nie.
By ons huis was seilgare en byewas. Ek het gaan haal. Ook sommer ’n paar van Pa se ou skoene by Ma afgebedel. Hy’t die seilgare en byewas aanvaar, die skoene geweier en my in die oë gekyk. Sy oë was eers verleë en toe bitter: “Ek sal nie arm wees nie.”
Toe