“Ek is lus vir stap.”
“My pa laat ons nie toe om in die stad rond te stap nie. Dis gevaarlik.” Die koppie is omhoog en die bruin ogies flits uitdagend.
“Ons sal nie na die gevaarlike dele toe gaan nie. Kom, ons gaan eers deur die park stap.” Veiligheidshalwe neem Georgina tog Bertie se hand en sorg dat sy die ander twee die hele tyd in die oog het.
Bertie verkyk hom aan die bedrywighede in die groot park. Mense wat vinnig heen en weer loop, rollemskaatsers wat by hulle verbyflits, drawwers … en mense wat sommer net soos hulle kuier-kuier loop. Die koue lug verdryf die sufheid na die lang vlug en Georgina voel aansienlik beter as die vorige aand. By ’n meer met eende gaan Bertie staan en verkyk hom aan die groot, vet lywe wat op die gras wei en met ’n plons terug in die water gly. Georgina kry hom met moeite daar weg en ook net met ’n belofte dat hulle weer sal kom. Die ander twee praat nie ’n woord nie.
Toe Bertie later kla dat hy dors is, beduie Georgina na ’n koeldrankstalletjie.
“Wat wil julle drink?”
“Is hier nie ’n restaurant nie? Ons drink nie uit bottels en blikke nie!” Jean staan met haar hande op haar heupies.
“Dan moet julle maar dors bly.” Sy kyk na Bertie en hy draai huiwerig om na die verkoper en vra ’n gaskoeldrank. Georgina wys na die vrugtesappe en sê hy kan een daarvan kies, nie ’n gaskoeldrank nie. En vir die eerste keer sien sy dieselfde ontevrede trek om die klein mondjie en die blonde koppie wat beslis agteroor gegooi word.
“Vrugtesap of niks, Bertie. Besluit self.”
Iets aan haar stem moes hom gewaarsku het, of hy was baie dors, want hy beduie na ’n lemoensap en begin dorstig drink toe Georgina die botteltjie vir hom oopmaak. Die ander twee staan afkeurend na hom en kyk en Georgina besluit om hulle te ignoreer. Hoe gouer hulle vier mekaar verstaan en uitsorteer, hoe gouer kan sy dalk huis toe gaan. Sy begin verder stap, en toe hulle uiteindelik die park verlaat, wys sy na ’n klein eetplekkie waar sy dikwels geëet het toe sy vir ses maande in Manhattan gewoon het.
“Ek gaan nie hier eet nie. Ek wil in ’n ordentlike restaurant eet. My pa het vir jou geld gegee!” Jean steek in die deur vas. Haar oë rus op die informele tafeltjies en stoeltjies en Georgina voel hoe dit warm onder haar krag word en ’n krapperigheid in haar kom lê.
4
Georgina lê agteroor in die bad, terwyl haar vingers oor haar kloppende slape vryf. Wat ’n dag! Sy is net te moeg om in te pak, maar môreoggend gaan sy haar bedanking indien. Miskien is dit ook nie nodig nie; miskien is sy klaar ontslaan. ’n Klop aan die badkamerdeur laat haar vervaard orent kom.
“Juffrou Walters, meneer Anderson is hier om u te sien,” klink William Connely se stem huiwerig deur die toe deur.
Georgina wil eers sê sy ken nie ’n meneer Anderson nie, maar êrens lui tog ’n klokkie en sy klim teësinnig uit die warm water en begin haar afdroog. Sy trek ’n langbroek en hemp aan en vee met haar vingers deur haar hare.
Mark Anderson staan in die middel van die sitkamer, besig om sy das los te maak en sy baadjie uit te trek. Hy kyk op toe sy binnekom.
“A, juffrou Walters.” Die Amerikaanse aksent draal geamuseerd. “Jy het my vanaand baie moeite aangedoen.”
Georgina staar hom onbegrypend aan en hy wys na ’n stoel. Dan kyk hy na William wat in die deur huiwer. “William, is daar nie een van die baas se duurste en lekkerste wyne in die kas nie? Ek is baie moeg. En as daar ’n bietjie kos oor is, sal ek bly wees. Ek moes vanaand ekonomiese klas vlieg en die kos was verskriklik sleg.”
Die ouer man knik glimlaggend en verdwyn in die rigting van die kombuis. Georgina sit op die rand van die diep stoel en kyk na die man wat hom al gemakliker oorkant haar maak.
“Wát het jy vandag met die baas se kinders aangevang? Hy het ’n histeriese oproep van Jean gekry en ek moes op die eerste vliegtuig spring om te kom kyk wat aangaan.”
“Waarom het hy nie self kom kyk nie?” Georgina kan haarself nie keer nie.
Die man oorkant haar glimlag. “Hy is vreeslik besig, maar sou beslis gekom het as hy kon. Maar vertel my nou eers wat gebeur het.”
William kom egter die vertrek binne met ’n skinkbord, ’n bottel wyn en twee wynglase, gevolg deur sy vrou met ’n bord kos. Betsy groet die blonde man hartlik en Georgina kan sien hulle is ou kennisse. Die wyn word geskink en William hou ’n glas na haar uit. Sy huiwer net ’n oomblik, dan neem sy die fyn kristalsteel tussen haar vingers en kyk afgetrokke na die robynrooi vloeistof.
Mark Anderson neem ’n groot sluk, maar voordat hy begin eet, kyk hy verskonend op en Georgina knik haar kop. “Ek het al geëet, dankie.” Sy wag totdat hulle weer alleen is voordat sy praat. “Meneer Anderson, ek weet nie wat Jean haar pa vertel het nie, maar ek kan jou verseker dat hulle nooit in enige gevaar verkeer het nie.”
“My naam is Mark.” Hy neem weer ’n hap en beduie dat sy moet aangaan.
“Dit het by ’n koeldrankstalletjie begin. Hulle drink blykbaar nie uit bottels en blikkies nie. Daarna was dit die eetplek wat ek gekies het. Dit het volgens hulle nie aan hulle gewone standaarde voldoen nie. Hulle het daarop aangedring om in ’n deftige restaurant te gaan eet, wat ek belaglik vind.” Toe sy eers begin, is dit soos ’n stroom wat nie kan ophou nie. “En verder wou Jean ’n rok koop – sonder om dit aan te pas – teen ’n prys wat die hele Afrika kan voed! Dit het ek nog belagliker gevind. Sy is tien jaar oud!”
Hy vee sy mond met die servet af en sit die skinkbord op die koffietafel neer, tel sy glas wyn op en sak agteroor in die stoel. Sy blik bly belangstellend op haar gerig.
“En toe besluit jy om hulle in een dag te leer hoe die res van die bevolking lewe?” Sy stem sak geamuseerd in die glas weg.
“Ek wou hulle niks leer nie, maar ek dink nie ’n mens kan kinders van daardie ouderdom so gruwelik verwen nie. Daar is niks wat hulle meer opgewonde maak nie, want hulle het alles al gesien en gedoen.” Sy kan voel hoe haar wange verkleur en weet nie of dit die wyn of sy deurdringende blik op haar is nie.
“Terwyl ek en jy nou vanaand tyd het en ek al die pad gekom het, moet ek jou miskien die een of ander oor die kinders vertel. Dit kan jou net help as jy jou werk wil behou.”
“Na vandag het ek geen begeerte om hiérdie werk te behou nie. Inteendeel, ek oorweeg dit ernstig om op te pak. Ek sal die doktor vir die vliegtuigkaartjie vergoed.”
“Dit sal baie jammer wees. Hy was baie ingenome daarmee dat hy jou gevind het.”
“Hmf, hy het ’n vreemde manier om sy vreugde te wys,” snork Georgina.
“Dit sal jammer wees as jy nou weer weggaan. Die volgende paar weke gaan hel vir hom wees en die kinders gaan hom min sien. Ek weet nie waar hy nou weer iemand gaan kry nie.” Hy sit regop en skink weer hulle glase vol.
“Vir die geld wat hy betaal, kan dit nie moeilik wees om iemand te kry nie.”
“Dit is nie, maar jy sal ook nie jou kinders by enige mens wil los nie. En glo my, ek sien almal wat aansoek doen. Dis vreeslik. En om die een of ander rede kry hulle altyd die indruk dat hulle ’n kans het om die vrou van die huis te word.” Sy oë draai hemelwaarts en Georgina kan nie help om te lag nie.
“Jy klink nou net soos Bertie. Hy sê al die juffrouens wil met sy pa trou.”
Mark knik. “Hy is nie ver verkeerd nie.”
Georgina se gesig versober weer. “Waarom trou hy nie maar en laat die kinders ’n normale lewe lei nie? Hulle kan mos wraggies nie vir ewig agter hom aan pendel nie!”
Mark se kop skud stadig heen en weer. “Hy sal nie maklik weer trou nie. Ek weet nie of jy sy geskiedenis ken nie, maar hulle het baie probleme gehad. In elk geval is hy op die oomblik so besig, geen vrou sal so wil lewe nie.”