“Hy stel kontrakte vir groot maatskappye op, en was ook al in groot handelsake tussen moondhede betrokke. Hy het ’n doktorsgraad in internasionale handelsreg en werk letterlik oor die hele wêreld. Die man is geniaal. Ons was klas- en koshuismaats op universiteit. Daarna is hy Amerika en Engeland toe vir verdere studie, maar ons het deur al die jare nog kontak gehou. Hy is eintlik ’n baie aangename ou.”
“En sy vrou – hoekom kyk sy nie na die kinders nie?” Georgina strek haar bene en betrag Leon sonder veel belangstelling. Slim of nie slim nie, die man klink nie vir haar te wel nie.
“Sy is vier jaar gelede in ’n motorongeluk dood. Dit was ’n vreeslike gedoente. Daar was gerugte dat sy besig was om hom te verlaat. Sy het blykbaar ’n verhouding met iemand anders gehad. Ek het egter nog nooit die moed gehad om hom te vra nie en hy praat ook nooit oor haar nie.”
“ ’n Mens kan haar seker nie kwalik neem nie. Dit kan nie maklik wees om saam met so ’n man te lewe nie.”
Magriet skud haar kop. “Sy was die moeilike een. Enigste kind van ’n skatryk familie en ’n bedorwe brokkie. Ek dink hy was die een wat swaar gekry het. Tussen haar werk en ’n dol sosiale program, was sy blykbaar nooit by die huis nie. Hulle het mekaar op universiteit in Amerika ontmoet.” Haar oë kreukel toe sy na Leon kyk. “En beeldskoon. Mans het haar openlik aangestaar, selfs my goeie eggenoot!”
“Ek stry nie. Sy was besonder mooi, maar ek het nooit van haar gehou nie. Daar was ’n kilheid waarby jy nie verby kon kom nie. Selfs ná die kinders se geboorte.”
“Waarom het hulle kinders gehad?” Georgina kyk na haar suster, maar dit is Leon wat antwoord.
“Hy was ’n enigste kind en sy ouers is redelik vroeg oorlede. Ek dink hy wou nog altyd graag ’n gesin van sy eie gehad het.”
Georgina staan lui op en strek haar arms bo haar kop. “Nou ja, ek hoop julle vriend kry iemand om sy kinders op te pas. Maar nou gaan ek slaap.” Sy buk by die twee wat bly sit en soen albei op die wang.
Saam met die wind wat al sterker deur die nag begin woed het, lê Georgina vir ’n lang ruk wakker, haar oë starend na die muur waar die straatlig ’n geel kol gooi. Sy kan voel hoe haar gedagtes saam met die wind teen die berg afrol en oor die onstuimige oseaan wegraak. Sy voel skielik onverklaarbaar moeg. Moeg om weer op te pak, weer te groet. Maar sy weet sy sal dit weer doen. Dit is die enigste manier waarop sy hierdie leegheid kan besweer.
“Ken jy die vriend van Leon goed?” Georgina sit by Magriet in die kombuis waar sy besig is om koek te bak.
“Watter vriend?” Magriet kyk vraend op.
“Die een wat ’n oppasser vir sy kinders soek.”
“O, Chris. Ja, ons eet gewoonlik ’n keer of wat saam as hy in die Kaap is, en ek en Leon het eenkeer vir ’n paar dae by hulle gekuier. ’n Pragtige plek in Connecticut. Ek wonder of hy dit nog het.”
“Ek het gisteraand gedink …” Georgina bly ’n oomblik stil voordat sy haar sin hervat. “As ek vir twee maande daardie kinders gaan oppas, kan ek vir die res van die jaar net kom skilder.”
Magriet vee ’n haar uit haar oë en daar bly ’n wit meelstreep teen haar wang agter. “Is jy ernstig?” Haar hande verstil en sy kyk indringend na haar suster.
“Hoe moeilik kan dit wees? Of dink jy ek sal kos ook moet kook?”
Magriet skud laggend haar kop. “Ek twyfel. Sover ek weet, het hy ’n hele personeel wat vir hom werk. Dis nou as hy nie in hotelle tuisgaan nie.”
“Nou wat dink jy? Sal ek dit kan doen?”
“Ek is seker jy sal kan. Die seuns is mal oor jou – ek is seker ander kinders sal ook van jou hou.”
“Maar?” Georgina kan hoor daar skuil ’n huiwering in haar suster se woorde.
“Jy is so gewoond om op die ingewing van die oomblik besluite te neem. As jy vir Chris gaan werk, sal jy nie na ’n maand kan oppak nie.”
“Is jy bang ek steek julle in die skande?”
Magriet skud haar kop. “Jy sal my nooit in die skande kan steek nie, maar ek ken jou as jou voete begin jeuk. Jy moet net baie seker wees jy sal twee maande kan uithou.”
Georgina lag skielik. “Ons praat asof ek die werk gekry het. Ek bespiegel sommer nog net.”
“Ek sal baie bly wees as jy dit gaan doen. Dit sal beteken dat ek my vir twee maande nie oor jou hoef te bekommer nie. Ek sal weet jy het kos en ’n warm bed.”
“Ek het darem nog nooit honger en koud gaan slaap nie. Miskien nie altyd in groot weelde nie, maar ek het nog altyd ’n bed gehad en iets om te eet, al was dit nou net ’n stukkie brood.” Georgina klink verontwaardig en Magriet skud haar kop.
“Jy weet wat ek bedoel. Ek is altyd bekommerd as ek nie weet waar in die wêreld jy is nie.”
Georgina se donker oë versag weer. “Ek waardeer dit, maar jy hoef nie te wees nie. Ek kan goed vir myself sorg.”
“Chris wil weet wanneer jy daar kan wees.” Leon kyk oor die etenstafel na Georgina, wat op haar beurt weer na Magriet kyk.
Magriet trek haar skouers verskonend op. “Ek het net vir Leon gesê dat jy miskien belangstel. Dis tog wat jy vir my gesê het!”
“Belangstel! Ek het sommer net sit en dagdroom. Dis baie geld wat die man so wil rondgooi.”
Leon kyk van die een vrou na die ander. “Wel, ek moet hom vanaand bel en sê wanneer jy daar kan wees. Hy is baie verlig en sê hulle sal mooi na jou kyk.”
Georgina gooi haar hande in die lug. “Dit sal my leer om hardop te dink! Wanneer wil hy my daar hê?”
“Verlede week al, so jy sal moet begin pak.”
2
Georgina kén vreemde lughawens. Sy ken dit ook om te wag en sy sorg dat sy altyd leesstof en ’n sketsboek byderhand het. Maar toe daar na ’n uur en ’n half nog nie ’n teken van Chris Parker is nie, begin sy knorrig voel. Na twee lang ure se gewag besluit sy om die nommer in Manhattan te skakel. ’n Baie professionele stem antwoord, maar op haar versoek om met doktor Parker te praat, raak die stem huiwerig en sê effens stram dat dit nie moontlik is nie. Hy is besig. Georgina sug. “Het doktor Parker ’n sekretaresse? Miskien kan ek met haar praat.” Daar volg ’n stilte, maar dan hoor sy tog hoe die verbinding deurgeskakel word.
“Doktor Parker se kantoor.” Nog ’n professionele stem wat nie geselsies gaan maak nie.
“Hallo, ek is Georgina Walters. Ek wonder of dit moontlik is om met doktor Parker te praat?” Weer volg ’n stilte, asof die vrou verbaas is en Georgina wonder of die man dan nooit oproepe kry nie.
“Ek is jammer, doktor is in ’n vergadering. In verband waarmee wil u met hom praat?”
“Ek sit op die lughawe. Al twee uur lank en niemand het my nog kom oplaai nie. Ek wil weet of ek self in die stad moet kom en of die doktor dalk nog op pad is.” Georgina se voorneme om rustig te bly is besig om soos ’n miswolk te verdamp.
“Juffrou … Walters, ek is jammer, ek verstaan nie mooi nie. Waarom wag u op die lughawe vir doktor Parker?” Die koue Amerikaanse aksent is besig om nog verder aan Georgina se geduld te rafel en sy het moeite om nie haar stem te verhef nie.
“Ek kom sy kinders oppas. Daar is met hom gereël dat hy my op die lughawe sal ontmoet!”
“Kan u vir my ’n oomblik aanhou?” Die stem raak weg in die blikkerige klanke van ’n bekende melodie.
“Juffrou Walters,” die stem klink nie meer so yskoud nie, “ek is jammer, daar was ’n misverstand. Doktor was baie besig, maar u sal binne ’n halfuur opgelaai word. As u net in die