Georgina knik. Natuurlik sal hy self vlieg. Wat is daar wat hy nié doen nie?
Die deur na die stuurkajuit gaan oop en die drie rondom haar en die kinders staan op en gaan neem hulle plekke by die tafel in. Aktetasse word oopgeknip, papiere en lêeromslae word uitgehaal en binne ’n paar minute gly die penne oor papier.
Georgina sit onderlangs die groepie en dophou en kan sien dat daar met groot konsentrasie gewerk word. Selfs Mark se gesig is vir die oomblik ernstig. Sy neem ’n tydskrif uit die rakkie langs haar en begin daarin blaai. Jackie het vir die kinders versnaperings gebring en Bertie is lustig besig om te kou.
“Bertie, het julle nie bordspeletjies om te speel nie?”
“Wat is bordspeletjies?” Die bloue oë kyk vraend na haar.
“Daar is ’n verskeidenheid beskikbaar. Speel julle nooit speletjies met mekaar nie?”
“Nee. Wat moet ons met mekaar speel?”
Georgina skud haar kop. “Toe maar, eet jou kos.”
Sy kan aan haar oortromme voel hulle begin daal en in ’n stadium sien sy Chris Parker opstaan en weer in die stuurkajuit verdwyn. Sy hoop van harte hy kan so goed land soos hy kan opstyg. Sy is nie lus vir bokspring oor die aanloopbaan nie. Die ander drie begin al die papiere oppak en kom neem weer hulle sitplekke by haar en die kinders in.
“Wat beplan jy om alles in Washington te doen?” Mark knip die sitplekgordel vas en kyk glimlaggend na haar.
“Ek het nie ’n idee nie.”
“Jy kan altyd een aand saam met my uitgaan. Ek kan jou dalk ’n ding of twee van Washington leer wat jy nie geweet het nie!” Sy oë vonkel ondeund en Georgina skud haar kop.
“My werksure is van so ’n aard dat ek ongelukkig nie van jou aanbod gebruik kan maak nie – op bevel van jou baas!”
“Is hy nie jou baas ook nie?” Sy mond lag nou saam met sy oë.
“Behoede my!”
’n Borrellag ontsnap sy lippe en hy skud sy kop.
Georgina reken haarself nogal ’n deskundige op die gebied van vlieëniers se vernuf, maar hoe sy ook al probeer, sy kan niks fout vind met die landing nie, en sy kan nie help om teleurgesteld te voel nie. Enigiets om hom van sy troon af te kry. Dan skud sy haar kop. Sy is nou besig om kinderagtig te word.
Op die aanloopbaan staan twee lang luukse motors op hulle en wag. Die bagasie word saam met haar en die kinders in een gelaai en nadat Chris Parker sy kinders gegroet het, maak Mark die deur agter haar toe en vertrek sy en die kinders agterin een van die weelderige motors. Met haar laaste blik na die ander groepie sien sy hoe hulle in die ander motor klim.
Die hotel is soos Georgina dit verwag het, miskien net nog deftiger. Die reuse-suite het drie slaapkamers en ’n baie ruim sit-eetvertrek. In al die vertrekke staan bosse blomme en bakke vrugte en sjokolade rond.
Toe almal se klere in die kaste uitgepak is, sê sy hulle aan om warm aan te trek, want sy wil winkels toe gaan. Op Bertie se vraag of sy vir hom ’n speelding gaan koop, skud sy haar kop.
“Nee, ek gaan speletjies koop wat ons vier saam kan speel. As die weer so koud bly, sal ons nie baie kan rondloop nie.”
Terug by die hotel, kan Bertie nie wag om die aankope uit te probeer nie en het Georgina moeite om te keer dat hy al die dose gelyk oopmaak. Sy pak al die speletjies op die mat in die seuns se kamer uit en verduidelik kortliks aan hom hoe elkeen werk, dan laat sy hom besluit watter een hulle eerste sal speel. André het na die ander kamer verdwyn, waar Bertie sê daar ’n rekenaar is. Jean lê op haar bed met die televisie se kontrole in haar hand, besig om van kanaal na kanaal te spring. Op Georgina se vraag of hulle nie wil saamspeel nie, bring Bertie die boodskap dat albei nee sê.
Na twee uur waarin haar ronde rooi skyfie in ’n verskeidenheid slange se mae verdwyn het, net om moeisaam weer teen die leertjie uit te sukkel, roep Georgina halt. Haar lyf is styf en seer en sy strek haarself uit. “Ons kan later weer speel, maar nou is ek dors en soek ek verkieslik vars lug.”
7
“Hoe gaan dit in Washington?” Etiénne se stem klink geamuseerd.
“Ek is in Londen.” Georgina sak agteroor op die bed.
“Wat het van Washington geword?” Sy kan die verbasing hoor en glimlag. Miskien sal hy nou met haar moet saamstem dat haar werkgewer beslis nie by sy volle positiewe kan wees nie.
“Was daar. Vir vyf uur. Toe word ons sonder seremonie uit die hotel se warm swembad geruk en aangesê om ons tasse te pak. En hier is ons nou al twee dae in ’n koue, triestige Londen.”
“Jis, maar ek is jaloers. As ek jy was, sou ek nie daardie werk wou los nie.”
Georgina frons, want dis nie die antwoord wat sy verwag het nie. “Etiénne, dis alles behalwe opwindend om met drie kinders oor die aardbol gesleep te word. Ek weet nie of hy dink hy doen die kinders ’n guns nie, maar hulle gaan totaal sonder wortels grootword!”
“En dit nou van iemand wat soos ’n sigeuner rondtrek. Meet jy nie met dubbele standaarde nie?” Sy kan die spot in sy stem hoor en haar stem styg ergerlik.
“Ek is dertig jaar oud én ek het wortels! Ek is nie nog besig om te ontwikkel nie.”
“Georgie, die man weet sekerlik wat hy doen. Jy kan nie sy metodes veroordeel net omdat jy nie daarvan hou nie.”
“Ek gaan jou nou groet, want ek is nie lus om te hoor hoe jy ’n vreemdeling verdedig van wie jy nie die helfte weet nie!” En daarmee skakel sy die selfoon af en staan van die bed af op om die kinders te gaan soek. Bertie is al weer besig om ’n bordspeletjie uit te pak toe sy in die leefvertrek kom en sy is genoodsaak om by hom te gaan sit.
“Kom speel saam met ons.” Hy kyk van André na Jean. “Asseblief?”
Georgina is nogal verbaas toe die twee na ’n effense huiwering opstaan en by haar en Bertie om die groot koffietafel kom plaasneem. Georgina verduidelik vir hulle hoe die speletjie met die geld werk en alhoewel Bertie nie alles verstaan nie, laat hy hom nie keer nie.
Georgina hou die oudste twee onderlangs dop. En soos die minute ’n uur en later twee uur word, kan sy haar verbasing voel groei. Hulle is nog nie geselserig nie, maar hulle speel saam en gee selfs soms ’n kreun of ’n glimlag om hulle vreugde of teleurstelling te wys. Hoe het Mark gesê – hulle is nie slegte kinders nie; hulle het net iemand nodig wat tyd met hulle kan spandeer.
Hulle al vier verloor later tred met die tyd en vier gesigte draai verdwaas na die deur toe daar ’n bekende stem opklink.
“Pappa, kom kyk! Kyk wat is myne – ek het sewe huise en drie hotelle!” Bertie beduie opgewonde na die bord.
“Dan kan jy mos vir my geld leen!” Die groot man stap glimlaggend nader en neem op een van die stoele agter Bertie plaas. Hy vryf oor die ander twee se koppe en knik na Georgina.
“Ek kan ook. Ek het nog meer as hy!” Jean wys na die stapel papiernote voor haar.
Georgina sien hoe hy na sy oudste kyk en skelm knik toe hy al die note voor die donkerkopseun sien. Dié is duidelik die wenner in hierdie kompetisie. Sy sien die tevrede uitdrukking op André se gesig en voel weer hoe haar hart week word. Daar is iets aan die mooi seun wat maak dat sy hom graag beter wil leer ken. Dan kyk sy na haar eie benarde finansiële status. Geld was nog nooit haar sterk punt nie. Sy begin aanstaltes maak om die speletjie op te pak, maar Bertie laat dadelik sy misnoeë blyk.
“Ons is nog nie klaar nie!”
Sy kyk na die ander twee en al sê hulle nie iets nie, kan sy nie help om die afwagting op hulle gesigte te sien nie. Dan kyk sy na die man wat nog steeds agter Bertie sit.
“Asseblief, gaan aan, moenie dat ek julle pla nie. Ek kan dalk ’n paar wenke optel!” En daarmee