’n Paar slierte kleef aan haar lippe en sy giggel saggies.
Haar ma kry beroerte as sy nou só hier uitstap.
Sy vat die hare saam en draai dit in ’n bolla agter in haar nek, begin dit met haarnaalde vassteek. Nee wat, so styf is ook nie nodig nie. Sy gee ’n bietjie skiet en trek ook ’n repie los dat dit langs haar wang afkrul.
Dit lyk goed, bevestig die grys oë uit die spieël voor sy uitgaan en ligvoets in die gang af stap.
By die eetkamertafel is nog een plek gedek. Die ander het seker almal al ontbyt gehad en koers gekry. Haar ma het haar laat bly lê om self wakker te word? Dit het nooit gebeur toe sy nog in die huis was nie.
Sy is nie honger nie en gaan uit, gewaar die mans by die skaapkamp en loop gretig nader. Hulle knik slegs goeiemôre in haar rigting voor Stefaans weer aandagtig luister hoe broer Johannes uitwei oor die goeie wol wat van merinoskape verkry word. Fransie loop daar naby met ’n stok en speel, kyk nie eens in haar rigting nie.
Afgehaal dwaal sy verder in die rigting van die rivier. Sy gaan staan op die wal langs die bamboesriet en kyk terug, maar nou beweeg die mans weg in die rigting van die landerye. Teleurstelling brand agter haar ooglede en sy loop met swaar voete huis toe.
Die res van die oggend gaan verby sonder dat sy en Stefaans vir ’n oomblik alleen is. Met middagete sit hy weer oorkant haar, nes gister, maar hy vermy haar oë. ’n Onsigbare muur is gedurende die nag tussen hulle opgerig.
“Ons moet in die pad val,” sê hy toe hulle van die tafel af opstaan.
Sy is verlig om weg te kom, maar haar ma se woordelose omhelsing, die styf vashou terwyl Stefaans hulle bagasie inlaai, bevestig iets is nie pluis nie.
“Dag, Stefaans. Bring hulle veilig tuis, hoor,” sê haar ma met nadruk.
“Moenie bekommer nie, Tante. Oor ’n uur is ons op die dorp.”
Die perde beur vorentoe. By die hek kyk sy terug om weer vir haar familie te waai. Hulle staan voor die huis en lyk na meer as een van Lot se vrou.
“Mis jy jou familie?” wil Stefaans weet toe hulle ’n ent weg is. “So alleen op die dorp?”
Sy skrik. Hoekom vra hy? Toets hy haar vir die een of ander rede? Sy kyk na die sonbruin hande wat die leisels vashou en haar hart gaan so op loop dat sy haarself moet kortvat: Kyk in die pad en dink liewer wat om te antwoord.
“Soms.” Sy hou haar oë voor haar. “Maar ek sal nie weer op die plaas kom bly nie.” Hy sê niks en sy voel verplig om te verduidelik. “Ek is gelukkig op die dorp. My eie huis, en Fransie wat kan skoolgaan.”
“Tja, dis belangrik.” Verwys hy na die skool, die huis, of haar geluk? En hoe is dit moontlik dat sy skaars nog hoor hy hakkel?
“Ons lewe goed genoeg. Ou Dominee en sy vrou beteken vir my baie. Tant Aletta se oë is nie meer goed nie en soggens as Fransie in die skool is, help ek haar met naaldwerk en lees ook vir haar. Sy betaal my iets en gee gereeld groente uit hulle tuin daar by La Gratitude.”
“Dit sal sekerlik help, ja.”
Sy sê nie vir hom van die waterverf, hoe lanklaas sy daarmee kon werk en hoe ’n leemte dit in haar laat nie. Sedert Gerrit se dood het sy selfs haar lus daarvoor ook verloor. Sy hou liewer by die praktiese, die alledaagse. “Moeder help ook met ’n geldjie hier en daar. Ons lewe baie spaarsaam.”
“Ek sien. Kyk, Fransie!” Hy wys na ’n skilpad wat ’n ent voor hulle deur die stof sukkel.
Fransie babbel vir ’n rukkie opgewonde en toe hy stil raak, vertel Stefaans hoe moeilik die pad Kaap toe is deur die dik sand, maar darem kinderspeletjies in vergelyking met die berge en riviere wanneer hy môre terugkeer huis toe.
Hy praat oor alles behalwe homself.
“Hoe ver is dit, Oom?” wil Fransie weet. “Tot daar by—”
“Uitenhage?” Hy sug en kyk na die seun, vermy Katrien se oë. “Baie ver. Tien of twaalf dae te perd. Met wa en osse ’n hele paar weke.”
“Sjoe!” Fransie dink vir ’n rukkie. “Dan kom Oom seker nie baie hier nie?”
“Nee. Dit kan jare wees voor ek weer kom.”
Terug op Stellenbosch dra Stefaans hulle bagasie tot in die voorhuis, sit die eetgoed wat saamgekom het op die tafel neer en draai na Katrien. “Ek moet groet. Môre val ek vroeg in die pad.”
Sommer net so? Haar hart val in haar skoene. Gaan hy hier weg sonder om enigiets verder te sê, sonder enige aanduiding hoe hy voel?
“Jy’t gesê dis ver,” stamel sy.
“Ek moet iets vir jou sê, K-Katrien. Ek w-wou eintlik gister al.”
Hy stotter meer wanneer hy gespanne is.
“Ek is so jammer.” Hy vat albei haar hande. “Vergewe my …”
Sy kyk verward na hom, maar sy oë bly aan die beweeg deur die vertrek.
“Ek is getroud, Katrien,” kry hy dit eindelik uit en lig haar hande, druk sy lippe dringend daarop en laat weer los. “Totsiens.”
Hy draai weg sonder om weer na haar te kyk.
Sy bly verbysterd staan. Het sy reg gehoor? Wat bedoel jy? wil sy nog vra, maar hy loop reeds weg van haar.
Haar oë gryp na die breë rug, die nek en kop. Klou daaraan vas om hom te probeer terughou. Hy moet omdraai en verduidelik, ontken wat hy hier gesê het. Sy hou asem op, maar hy draai nie terug nie. Toe soek sy naarstiglik na nog iets om te sê of te vra. Hy moet net nog een keer weer omdraai na haar toe.
Hy gaan reeds by die deur uit.
Haar helfte bly staan, luister hoe die ander helfte se voetstappe buite oor die paadjie knars. Tot by die pad. Haar hele wese skree: Nee, kom terug!
Dit help niks.
Sy haas haar tot by die venster en kyk uit. As sy hom net kan sien, draai hy dalk terug.
“Totsiens, Fransie.” Hy vat die leisels by die seun en skud sy hand.
“Kom Oom weer?”
“Nie gou nie.” Sy stem is gedemp, word sterker. “Kyk mooi na jou ma, hoor.”
“Ja, Oom.”
Katrien maak haar oë toe. Dis nie te laat nie, dalk draai hy om … Toe sy weer kyk, kom die kapkar in beweging, skuif verby die ruit en verdwyn.
Dina kom van die kombuis af in. “Wou die man nie eers koffie drink nie?”
“Hy’s haastig,” kry Katrien met moeite uit haar toegetrekte keel. “Hy gaan môre terug.”
“So is dit dan,” sê Dina, asof sy lankal daarby berus.
Dina hou oor die volgende paar dae vir Katrien dop. Sy is oorhoop met haarself. Soggens is sy vroeg uit die bed, soos toe Gerrit nog geleef het, maar sy kom aan niks. Syself sorg nog steeds vir die etes en gaan winkel toe terwyl Katrien hier vat en daar los, in die kaste soek na wie weet wat en alles net deurmekaarkrap. Katrien gaan ook tydig en ontydig op die bed lê en maak asof sy slaap.
“Wat het die man gesê, Katrien? Gaan hy weer kom kuier?” vra sy toe haar geduld opraak en sy ook nie haar nuuskierigheid langer kan bedwing nie.
“Nee, hoe moet ek weet?” Katrien se stemtoon wys dis ’n kneusplek.
“Hy’t mos gesê dis baie ver,” probeer Dina troos.
“Minstens tien dae te perd. Nog baie langer met wa en osse.”
Katrien is duidelik uitgehonger om oor hom te praat en Dina wil self ook weet wat aangaan. “Dan is hy nou seker al daar,” vis sy.
“Eergister