“Dis beter so.” Haar ma is duidelik verlig. “Daar is genoeg hubare mans wat sy hoed agterna sal gooi om met jou te kan trou.” Sy draai weg om haar aandag aan die kospotte te gee.
9
Land van amaZulu
DIE SOMER WAS WARM, maar dit het goed gereën en die familie kon weer aangaan. Die voorvaders het gekeer dat ’n verskriklike ding hulle tref en uit dankbaarheid werk almal hard en hou hulle streng by die voorskrifte: Vroue loop versigtig verby die beeskraal en jong mense tree met groot eerbied teenoor meerderes op. Almal dink mooi voor hulle enigiets doen wat aanstoot kan gee.
Die twee jonger halfbroers van Thabisa en Jabu gaan saam met hulle ouderdomsgroep weg om deel van Shaka se leër te word. Die familie sal hulle vir ’n lang tyd nie sien nie, maar die twee is opgewonde. Hulle gaan krygers word.
Thabisa doen haar werk en teen die tyd dat die dae weer langer word, dink sy nie meer aan Lungile nie. Haar lewe word soos dit altyd was. Net soms droom sy van die mooi meisie en as sy wakker word, wonder sy hoe kon die bose haar oorgeneem het sonder dat iemand dit agterkom.
Terwyl Thabisa haar ma help om groente vir die pot te berei, kom haar jongste ma ook hand bysit. “Eenoog is hier,” sê sy. “Hy wil ’n paar dae bly.”
Die middeljarige man met een blinde oog kom in sy omswerwinge soms hier verby en het altyd baie te vertel van wat orals gebeur. Van hom weet niemand veel nie, behalwe dat hy graag rondloop en blykbaar nooit getrou het nie.
“O,” sê Thabisa se ma. “En wat het hy dié keer te vertel?”
Thabisa spits haar ore.
“Hy sê hy soek ’n kraal waar hy kan bly.”
Haar ma lyk skepties. “Wil hy vir altyd by een kraal bly?”
Die jongste ma kyk betekenisvol na Thabisa. “Dalk soek hy vir hom ’n mooi jong vrou.”
Sy skrik haar boeglam.
Haar ma lag. “Moenie so bekommerd lyk nie, Thabisa. Jy is oud genoeg vir trou, maar ons sal jou nie dwing nie.”
Nogtans. ’n Mens weet nooit wat die mans kan besluit nie.
Die hele dag loop sy wye draaie om Eenoog dat hy haar tog net nie moet raaksien nie. Sy droom wel dat ’n man haar hier sal kom haal, maar dit moet ’n jonger man wees. Wel, hy hoef nie bloedjonk te wees nie. As hy soos Jabu is, kan hy ’n paar jaar ouer as sy wees. Maar asseblief tog met twee oë wat kan sien.
Die volgende dag moet sy bier vir die mans vat waar hulle onder die skaduboom sit. Sy probeer so lomp en onaantreklik moontlik lyk terwyl sy nadergaan, die bier voor haar oupa neersit en vinnig weer padgee.
“Nandi, die olifantvrou met die klein borste het na die skaduwêreld toe gegaan,” vertel Eenoog agter haar.
Dankie tog, die man se gedagtes is met ander dinge besig, hy het haar seker nie eens raakgesien nie. Verlig loop sy stadiger en gaan agter die naaste hut staan om te luister.
“Die harte van die mense daar by Bulawayo klop nie lekker nie,” vertel Eenoog verder.
“Jy sê die ou mense word maklik huis toe gestuur?” vra haar oupa, die verontwaardiging duidelik in sy stem. Ou mense wil ook mos graag bly lewe.
“Ook die wat nog nie so oud is nie,” bevestig Eenoog. “Die koning sê hulle is vir niks meer goed as net om baie te eet nie.” Hy skraap sy keel. “Maar die groot ding is, die koning kan nie ophou huil oor sy ma nie. Baie bloed vloei nou daar.”
“Hoe so?”
“Die koning het ’n hele paar vroue saam met Nandi gestuur om vir haar te sorg. En hy het die mense van die ander krale ook geroep om te kom huil. Die stat was al vol mense, toe kom nog ander ook daar aan.”
“Hy is die koning,” sê haar pa. “Hy kan so maak as hy wil.”
“Seker ja. Maar sy impi het almal doodgeslaan as hulle trane opdroog. Baie is weg na die skaduwêreld toe.”
’n Rilling gly langs Thabisa se ruggraat af. Miskien maar goed hulle bly so ver en het nie dadelik van Nandi se dood gehoor nie; hulle was nie dáár nie.
Sy loop die veld in en kyk na waar die beeste teen die bult wei. Die seuns en jong mans wat hulle oppas, lyk sorgvry en gelukkig. Dink haar broers, Msengi en Fana, daar by die koning se kraal ooit aan hulle lewe hier? Verlang hulle soms huis toe? Sy twyfel. Hulle is seker te besig om soldate te word. Was hulle deel van wat daar by Bulawayo gebeur het? Sy hoop nie so nie.
En sê nou Eenoog is regtig hier op soek na ’n vrou?
Nee. Hy loop net weer en stories aandra. Daarvoor is hy goed bekend.
Sy buk, begin fynhout bymekaarmaak om haar rustig te kry en haar gedagtes op mooier paaie te vat. ’n Hele paar mans het die afgelope tyd hier verbygekom. Een van hulle lyk asof hy sy oog op haar suster Khetiwe het vir ’n tweede vrou. Khetiwe is ook deesdae baie opgeruimder en mededeelsamer as voorheen. Dit moet beslis iets met die besoeker te doen hê.
En syself? Wanneer sal ’n man hier kom en haar hart aan hom vasbind?
10
THABISA STOOT DIE SEUN voor haar by die hut uit en buk agter hom aan die nag in. Die maan gee genoeg lig om saam met die kind na die naaste bosse te loop. ’n Entjie weg bly sy staan terwyl Nzibe se ingewande ontslae raak van die krampe en die maroela waaraan hy hom trommeldik geëet het. Een van hulle sussies het gewaarsku, maar hy wou nie luister nie en nou haal sy gulsigheid hom in.
Sy kyk op na die groot maan wat geheimsinnig daar bo hang, toe af na haar voete waar ’n veldmuis vroetel. Hy skarrel weer weg.
’n Bosuil in die boom skuins agter hulle hou skielik op met sy sjreoe-sjreoe.
’n Rilling gaan langs Thabisa se rug af en sy knip haar oë, bekyk die stilte om haar.
Nêrens roer iets nie, geen nagdier laat van hom hoor nie.
“Is jy klaar?” vra sy sag en wonder waarom sy soos ’n dief fluister.
“Amper,” kom dit net so sag terug.
Sy versteen.
Twee figure het uit die donker verskyn, ’n klipgooi van haar af.
Mense? Of lyk hulle net so?
Dis impi! Wapens is sigbaar in die maanlig en hulle het vere op die kop.
Moet sy skree? Nee, dalk is hulle op pad iewers heen en loop verby.
Nog meer doem uit die donker op. Baie meer as haar familie hier.
Lê sy nog en slaap? Droom sy?
Vasgenael bly sy agter die bosse staan terwyl hulle nadergaan, smeulende stompe onder uit die vuurmaakplek pluk en teen die hutmure druk. Vlamme bars uit die dekgras en rook borrel in die lug op.
Haar familie peul uit die hutte. Vroue gil en die mans probeer hulle en hul gesinne met knopkieries verdedig. Maar die soldate is soveel meer en maak met hulle assegaaie vinnig ’n einde.
Net pap, bloederige liggame bly in die lig van die vlamme agter.
Die beeste word die donker in geboender, weg, na waar ook al.
Toe oorval die donker haar.
“Thabisa?” Voor haar is Nzibe se gesig. “Jy moet wakker word.”
Sy skuif orent, kyk na haar hande, vat aan haar bene. Lig haar oë na waar die hutte gestaan het. Daar is niks, net smeulende geraamtes van wat huise was.
Hoe is so iets moontlik?
Sy kyk terug na haar broertjie. Hy moet nog praat, haar heeltemal wakker maak. Maar daar is traanstrepe oor sy wange en onder sy neus. Sy oë is verskrik.
Sy