Sal dit ek wees? wonder Thabisa vir die soveelste keer toe sy in die middel van die nag wakker word en haar eie liggaam probeer peil, hoe haar hart in haar bors klop, haar kop aan haar lyf vas is. Is hierdie liggaam onder bose beheer?
Sy kyk terug, soek langs die pad na waar iets kon skeefgeloop het. Het sy haar bloed goed begrawe? Die keer toe sy alleen rivier toe was en die slang se sleepsel bo-oor haar spore gesien het, was dit miskien nie ’n slang nie? En al die kere in die bos, toe sy hout gesoek en bobbejane gesien het, was een van hulle meer as net ’n bobbejaan?
Skielik spring haar hart in haar keel. Sy het anderdag gedink die mans op die klipkop lyk soos meerkatte. Het bose kragte toe al haar oë gevang? Hoeveel meer het hulle dalk nou al van haar gevat?
’n Kreun kom naby haar uit die donker, gevolg deur sagte snikke.
Dis Lungile. Die jong vrou sal sekerlik nog bekommerder wees, want die liefde en toewyding waarmee sy hiernatoe gekom het, was nie genoeg nie. Sy het Jabu se hart en die familie se goedkeuring gewen, maar kan nie vir hom ’n kind gee nie. En dit is onaanvaarbaar.
Lungile het troos nodig, maar Thabisa durf nie aan haar raak nie, want sê nou dit is sý? ’n Vrou weet nie as ’n heks haar beheer nie en nog minder kan sy iets daaromtrent doen. Soos rook kan ’n heks oor die beeskraal versprei en skade aanrig. Of oor die veld jaag, agterstevoor op die rug van ’n groot bobbejaan of ander helper. En die heks het net een doel: om ’n kraal te vernietig. Bedags lewe sy gewoonweg, maar snags neem die bose mag oor.
Thabisa draai op haar sy, trek haar bene op tot teen haar maag en hou dit só vas. Sluimer eindelik weer in.
Baie vroeg, toe die beeste se horings net-net sigbaar word teen die hemel, gaan die vyf vroue af na die rivier om te bad. Hulle sit halflyf in die water en Thabisa vryf hande vol umPhisu-blare oor haar kop, lyf en arms om van die laaste dae se sweet ontslae te raak. Die water is koud, maar sy voel dit skaars. Sy dink ook nie aan krokodille nie, want nes die ander vier vrees sy die dag wat voorlê.
Kan sy deur haar silwerskoon te was die verskriklike lot wat op ’n heks wag, vryspring? Hulle sal ’n skerp paal van onder af in haar liggaam inforseer sodat sy haar van binne doodbloei.
Die familie vertrek toe die son skaars op is. Een ma bly saam met die kinders agter by Ugogo, wat nie meer so ver kan loop nie. Die mans loop heel voor met die harde, droë vel van ’n voorvaderbees wat die isangoma gesê het hulle moet saambring. Twee beeste word ook aangejaag en die diere se koppe wieg heen en weer terwyl die groot, sagte oë voor hulle uitkyk.
’n Hele paar treë agter hulle loop Thabisa en die ander vier.
Die res van die vroue volg nog verder terug.
Die seuns wat met die beeste op pad na die weiplek toe is, bly op ’n hoogte staan en kyk hoe die familie aanstap. Die jong stemme wat altyd na mekaar roep of met die beeste praat, is stil. Hierdie dag kan die familie ernstig verwond, soos wanneer wildehonde ’n hap uit ’n vlugtende bok skeur.
Alles lyk somber by die kraal waar isangoma woon. Eenkant staan die mans en groet slegs met ’n handgebaar voor ’n ouer man vorentoe kom en die familie vergesel na waar sy by die hek van die beeskraal op ’n sebravel sit. Die twee repe wit bokvel wat oor haar skouers lê en op haar bors en rug kruis, wys sy het gehoor gegee aan die voorvaders se roep, die opleiding voltooi om ingelyf te word sodat sy nou op gelyke voet met mans is. Vroeg vanoggend sou sy aangetrek, die kruiebossie se aftreksel gedrink en alles bymekaar gekry het. Sy is gereed.
“Julle het gekom,” sê sy.
“Ons het gekom. Saam met die vroue,” bevestig Thabisa se oupa.
Die gesig van die figuur op die sebravel is agter ’n gordyn van repe vel versluier. Dit lyk asof sy in vervoering is, net gedeeltelik bewus van die mense voor haar.
Met ’n handgebaar wys sy waar hulle moet sit. Die mans gaan af op hulle hurke en plaas die harde beesvel wat hulle gebring het versigtig voor hulle op die grond, die stertkant op die kopkant oorgevou.
Almal wag.
Die vrou lig haar kop. Haar oë brand van agter die sluier op Thabisa en sy is seker die ander vier voel dit ook waar hulle langs haar saambondel. Die hand met die wildebees se stert daarin lig en beduie.
Hulle skuif onmiddellik uitmekaar na waar sy wys en gaan op hulle hurke. Nou is Thabisa nog banger, ver verwyder van haar ma en familie wat net ’n paar treë agter haar staan.
Die donker oë agter die sluier skuif stadig van een vrou na die ander en Thabisa veg met al haar krag om regop te bly. Floute is die voorvaders se siekte en dit kan die teken wees dat sy skuldig is.
Wat sien isangoma by my? Sy durf nie wegkyk nie, hoor ook niks wat om haar aangaan nie. Slegs die vrou op die swart-en-wit vel bestaan. Haar oë sien meer as gewone mense. Haar ore hoor alles, tot in emathunzini waar die voorvaders gaan praat. Net sy sal hoor wat hulle sê.
Eindelik draai isangoma haar oë weg van die vyf vroue wie se asem oor hulle droë lippe begin stoot. Armbande uit beentjies ritsel terwyl sy tydsaam die voorwerpe op die vel voor haar rangskik. ’n Houertjie hang om haar nek. Nog ander voorwerpe waarin haar magiese kragte lê, is ’n skild waaragter lewe en dood dit gaan uitbaklei. En die familie wag op die uitslag, vasgevang tussen die instink om te beskerm en vrees vir die bose.
Die vrou tel twee skulpe op en sit dit eenkant neer, vat drie gladde klippe en hou dit vir ’n rukkie tussen haar twee hande.
Thabisa hou asem op, maar die vrou sit die klippe weer neer en doop die wildebeesstert in ’n kleipot. Sy sprinkel vloeistof oor al die voorwerpe voor haar. Lig ’n velletjie op en besprinkel ook ’n bondel stewige, reguit stokke wat met ’n riempie vasgebind daaronder lê. Al die stokke is die lengte van ’n voorarm. Buiten die een stok, dis langer.
Dit sal die vinger wees wat gaan wys.
Lam van onsekerheid wag almal, maar isangoma plaas die vel terug oor die bondel stokke om dit koel en donker te hou. Voorvaders hou nie van son nie.
Sonder om op te kyk, wys sy na die mans met hulle knopkieries. “Emhlabathini!”
Hulle gee dadelik gehoor en slaan die grond.
Stof walm op uit die aarde en die vrou sit doodstil in die rumoer.
Praat die voorvaders nou? Wat sê hulle vir haar? Wie van ons is dit?
Een van die vier wat die gordels van maagde dra, of die een wat getroud is?
“Eboyeni!” kom die bevel weer. Die mans se kieries swaai na die beesvel en hol doodsklanke walm saam met stof daaruit op terwyl hulle dit moker.
Die vrou maak haar oë toe en kyk binnetoe. “Daar is iets in julle umuzi …” sê sy uiteindelik, asof uit ’n droom. “Dis abathakathi.”
Die mans trommel harder op die beesvel om haar woorde te bevestig. Broei die moontlikheid van ’n heks dan nie al vir baie dae by hulle nie?
“Dit het ’n kind binne-in sy ma laat doodbloei.”
Die mans kyk geskok na hulle vroue en dié kyk verbaas na mekaar. Hulle weet nie van so iets nie. Die stokke op die beesvel raak stiller, tril nog net liggies in die mans se hande.
“Die kind was nog baie klein.”
“Siyavuma!” kom dit uit een mond en die kieries werk weer harder. Dis waar. Dit moes klein gewees het, want hulle het nie geweet van hierdie kind wat wakker gemaak was nie.
“Emhlabathini!” beveel die vrou. Hulle moet weer die grond slaan.
Hulle gehoorsaam. Die lug stik van stof en Thabisa kry skaars asem.
“Dit was die vrou se eerste kind.”
“Siyavuma!” Hulle slaan nog harder. Dit móés ’n jong vrou gewees het. Die ouer vroue weet van beter en sou