Reënboogmelodie. Anzil Kulsen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anzil Kulsen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796322166
Скачать книгу
in sy onderlyf veroorsaak. Die perfekte plek en tyd om nou …

      Liewe Here in die hemel, wees my net genadig, bid hy toe hy weer die voertuig in beweging bring. Hier moet hy liewer wegkom. Hy moet alles vermy wat hom aan seks laat dink. Dis bykans onmoontlik, besef hy toe hy na ’n hoër rat oorskakel, want alles – vroue, plekke, sy selfoon, álles – is ’n trigger.

      “Hierdie ding is besig om my op te vreet, om my baas te word, en ek is besig om myself vir die gek te hou. Dis nie van Dianè wat ek weghardloop nie. Dis van myself.”

      Hy skrik toe sy selfoon weer lui. Jacques se naam verskyn op die skerm.

      Hierdie oproep sal hy moet vat. Hy sal Jacques bedank vir sy woonstel en hom vertel van sy besluit; hy is klaar met die ou lewe. Hy het hierdie twee dae aan homself bewys hy kan sy drange beheer. Dis natuurlik makliker as ’n mens so in afsondering bly. Een dag op ’n slag sal hy die versoekings kan weerstaan.

      “Neef?” Hy probeer doelbewus opgeruimd klink.

      “Ou Robbie, het jy lekker in my plek gebly en die alleenwees darem ten volle benut?” Hy sug toe hy hoor waarop Jacques sinspeel.

      “Is jy op pad terug Potch toe? Victor sê jy het nou uitgecheck en jy was heeltyd alleen, niks rondgeloop nie. Wat gaan aan met jou, of het jy hom net goed geflous? Ek het lekker aksie vir ons opgeline vir ná gym vanmiddag. Hoe laat is jy hier?” Jacques snorklag en klink skoon kortasem by die vooruitsig.

      “Jacques, ek kan nie, ek het die pad gevat. Ek is op pad Kaap toe. Ek sal jou alles vertel sodra ek daar my sake gereël het. Ek kan nie meer so aangaan nie. Dianè …”

      “Jou vrou sal nooit uitvind nie, wat vreet vandag aan jou? Ek belowe jou, jy gaan die tyd van jou lewe hê ná die droogte van die afgelope paar dae. Dis gewillige cherries hierdie wat ek vir ons gekry het, drie van hulle net vir ons twee. Ek het klaar met hulle reggemaak, as dit geld is wat jou pla. Hulle is nuut ook, jonk … moontlik studente, sê ek jou.”

      “Ek kan nie meer nie.” Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om die Fortuner om te draai en terug te gaan Potch toe; die jong studente klink vir hom baie aanloklik. Hy kon nog nooit enige van die versoekings weerstaan wat Jacques stel nie. Die ander opsie is om die selfoon in Jacques se oor dood te druk.

      “Ek het Dianè weer rondgestamp, dit gebeur al hoe meer. Ek het haar seergemaak en die ding ruk nou hand uit. Dit grens aan waansin, Jacques. Ek moet wegkom en ek moet hulp kry.” Jacques hoef nie nou al te weet van die simpel vrou wat hom deesdae probeer afpers nie. Sodra hy dit self uitsorteer het, sal hy sy neef daarvan vertel. Aan die ander kant is hy skaam …

      “Jy lieg seker, jy maak nie sin nie. Watse gewetenswroegings het jy deesdae, en van wanneer af moet mans soos ons hulp soek? Dianè sal oukei wees, ek kan jou dit belowe. Sy kan haar sterre dank om ’n man soos jy te hê. Alle vroue word maar so nou en dan deur hulle mans opgepolish, dit hou hulle op hulle plek.” Jacques snorklag weer. Word dan skielik ernstig. “Gaan jy weghol, my ou? Dit begin nou eers lekker word, en solank jy nie jou gesin afskeep nie, is als mos oukei.”

      “Ek … ek bestuur nou, Jacques, ek praat later weer met jou.” Hy druk die foon dood, smyt dit op die sitplek langs hom neer en klou met beide hande aan die stuurwiel vas.

      Jy gaan dit nie so maklik regkry nie, koggel ’n stemmetjie in sy binneste. Jy’s nie sterk genoeg nie, jy’s nie ’n man se dinges nie …

      Hy slaan hard met sy hand op die stuurwiel en trek dan eerder van die pad af. Die kar is nie Dianè nie, hy gaan homself verongeluk. Hoe de hel gaan hy van homself en sy drange ontsnap?

      Toe hy die woede in hom voel bedaar, trek hy weer sy selfoon nader en kry sy nuuskierige buurvrou se nommer op die skerm. Sy antwoord byna dadelik.

      “Mevrou Nieuwoudt, hoe gaan dit?” Hy glimlag vir homself in die truspieëltjie. Hierdie truuk help altyd om sy ewewig te herwin en vriendelik te klink, al voel hy nie so nie.

      “Goed, hartjie. Is jy al weer uitstedig? Hoe kan ek help?”

      “Ag, Mevrou. Ja, ek is weer vir ’n paar dae weg, ek moet aan belangrike besigheid aandag gee. Ek worry mos maar altyd oor my vrou as ek so weggaan. Veral met die seuns wat so moeilik is.”

      “Ek kan jou glo. Jy is so ’n bedagsame pa. Ek was juis bekommerd omdat die ma hulle heelnaweek binne die woonstel gehou het.” Robert rol sy oë vir haar opmerking. As sy maar net weet dat dit Johan se eie keuse is, en arme Berto moet maar saam inkleur, of hy nou wil of nie. Sy oudste boetie beheer die hele huishouding. Maar hy durf nie nou die vrou teëgaan nie.

      “Ja, dis sleg dat hulle net by die skool kan speel. ’n Woonstel is nie ideaal vir sulke woelige seuns nie, dis hoekom ek so hard werk. Ek wil bitter graag vir hulle ’n huis met ’n lekker ruim erf koop.”

      Hy wil dit bitter graag doen, dié deel is die waarheid. En hy werk hard, dis ook glad nie ’n leuen nie. Om die geld wat hy verdien reg aan te wend, is egter ’n ander uitdaging, maar dit kan hy ook nie vir enigiemand sê nie. Dis eintlik net Jacques wat dit verstaan.

      “Dis so dierbaar van jou. Ek sal julle so mis as julle moet trek. Maar waarmee kan ek help, hartjie?”

      “Ek kry nie vir Dianè op haar selfoon nie. Ek sal dit waardeer as Mevrou later, wanneer hulle tuis is, gaan loer hoe dit met haar en die kinders gaan. As die seuns haar eers besig hou, vergeet sy om my te bel.”

      “Ag, hartjie, ek doen dit met liefde. Jy weet mos hoe lief ek vir kinders is.”

      “Ek weet. En ek waardeer dit opreg. Maar Mevrou …”

      “Ja?”

      “Moet maar nie vir Dianè sê ek het gevra nie. Sy is vreeslik trots en wil mos graag superma speel. Liewe vrou van my …”

      “Ek sal nie ’n woord rep nie. Sorg jy net dat jy veilig ry.”

      Dianè

      Sy sluit die traliehek agter haar en gooi haar handsak op die stoel neer. Om te dink hulle sou net nog ’n paar maande hier bly en dan hulle eie huis koop. Sy het al haar droomhuis in haar verbeelding gesien, begin rondkyk en met eiendomsagente gepraat. Dit was net ’n kwessie van tyd, het Robert belowe, maar hy wil darem eers net ’n ordentlike deposito bymekaarmaak.

      Sy het stelselmatig die laaste paar jaar die rol van ’n suksesvolle vrou begin aanneem, heel dikwels haar haarstyl verander en selfs vir ’n nuwe kar begin spaar. Een wat sy met haar eie geld wil koop sodra hulle weet watter effek die huiskoop op hul finansies gaan hê. Vir nou moet haar ou Jetta maar eers die ding doen, al brand sy om ’n nuwe kar te kry wat by haar nuwe voorkoms pas. Sy maak soveel opofferings; daarom het sy nie gedink die oorbelle sou hom so omkrap nie.

      Robert het ’n goeie inkomste, daarvan is sy seker, hoewel sy nooit sien wat presies hy met sy geld maak nie. Sy verwag ook nie meer van hom as die kinders se skoolgeld en die dak oor hulle kop nie. Vir al wat sy weet, wil hy haar droomhuis vir haar kontant koop. Hy plaas in ieder geval soveel druk op homself; dalk is dit die rede vir sy humeurigheid die laaste ruk. Sy sug. As sy eerlik moet wees, was sy humeur al van die begin af maar redelik onvoorspelbaar.

      Sy kyk vinnig na haar horlosie. Sy’t ’n halfuur om kos op die stoof te kry; die nasorgbussie kom nou-nou die kinders aflaai. Die verdomde serp wat die vingermerke om haar nek moes verbloem, gooi sy oor ’n stoel en pluk die yskas oop.

      Die inhoud is nog dieselfde as die naweek. Sy verstaan nie presies waaroor Robert Saterdag so buite homself kwaad geword het nie. Was dit oor sy vir Johan ’n hamburger met sesamsade daarop gegee het, of was dit net omdat sy nie vir hom rooivleis voorberei het nie? Die sesamsade kan noodlottige gevolge hê, dit weet sy goed. Maar dis nie eens waaroor hy woedend was nie. Dit was eers toe sy vir hom die salmslaai gee dat hy skoor gesoek het. Of was dit omdat sy sy attensies voor ete probeer systap het? Hy was taamlik vatterig toe hy by die huis kom, maar ná Johan se uitbarsting en haar oorvol dag, kon sy net nie op daai oomblik saamspeel nie. Die kinders was voor die TV, wat het hy gedink? Moes sy haar “plig” daar en dan doen?

      Sy sug. As