Reënboogmelodie. Anzil Kulsen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anzil Kulsen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796322166
Скачать книгу
Voel aan haar nek en vryf oor haar skouers.

      As sy nou opstaan en badkamer toe gaan, kan sy dalk haar vinger in haar keel druk. Hy sal hoor; dalk moet sy dit doen. As hy glo sy het hom weer nodig, sal hy dalk anders teenoor haar optree. Sal hy opstaan as sy naar word? Sal hy omgee?

      Sy verdien nie hierdie lewe nie. Sy verdien 18 karaat-witgoud-oorbelle wat by haar nuwe haarkleur en blinknuwe tande pas. Hoekom gun Robert haar dit nie?

      Die Here is seker besig om haar te straf. Voor Robert van die werk af gekom het, het Johan ’n hengse bohaai opgeskop oor sy hamburger. Maak nie saak wat sy doen nie, Johan wil elke aand ’n hamburger eet. Sy was haastig en het een by Woolies gegryp, saam met die slaaigoed wat sy vir aandete wou gebruik.

      Johan se broodjie het sesamsade opgehad. Sy het dit nie gesien nie. Eers toe hy dit een vir een probeer afhaal en later woedend uitbars, het sy besef wat fout is.

      Dis net Berto wat eet wat sy vir hom gee. Op drie is hy haar kosbaarste kleinood. Anders as Johan toon hy emosie, hy lag en huil en hy bereik al sy mylpale vroeër as Johan. Hy is net ’n makliker kind. So anders as die ander twee mans in haar lewe: sy humeurige pa en sy wispelturige boetie.

      Sy wens sy kon maak wat sy wil. ’n Spyskaart uitwerk en kos voorberei soos haar tyd dit toelaat. Kos van haar keuse maak sonder dat iemand ’n tantrum gooi. Sy draai saggies op haar sy sodat sy Robert nie wakker maak nie. Voel hoe ’n traan warm oor haar neusbrug rol en op die kussing val. As sy net weet waar sy humeur vandaan kom, en wat dit laat opvlam.

      Wat moet sy nog doen om hom te help kalmeer? Kruip? Sy kan nie eens die regte kos vir hom voorsit nie, verdomp! Soms gaan dae verby dat hy eet wat hy kry, maar dan gebeur iets soos vanaand. Kos is nie die enigste sneller vir sy humeur nie, maar dis een van die belangrikstes. Was dit dan nie juis oor kos dat hulle hul eerste groot uitval gehad nie? Sy ken haar eie man nie!

      Sy glip so geruisloos moontlik onder die duvet uit toe sy seker is hy slaap vas, en los die deur na die badkamer oop toe sy op die bad se rand gaan sit. Dit kos inspanning om nie haar vinger in haar keel te druk nie.

      “Weet jy, Robert,” fluister sy saggies vir die donker. “Jy vertel my so graag hoe sleg ek sonder jou sou gewees het, en hoe ek my eie dood sou veroorsaak het as dit nie vir jou was nie. Jy spog oor hoe jy my weer mens kom maak het. Jy het, ek weet ek sou dit dalk nie sonder jou reggekry het nie. Jy het my gehelp toe ek baie, baie laag was. Jy het my help gesond word.” Sy laat die trane toe om vrylik oor haar wange te loop. “Maar weet jy wat? Soos ons nou aangaan, weet ek nie hoe lank ek sal kan uithou nie. Ek is bang vir jou. Ek kan nie meer nie.”

      Robert

      “Rus in vrede, Ma.” Hy streel oor die koue marmer van die grafsteen. Sy is nou al nege jaar by liewe Jesus. Hy glo met sy hele hart dat sy in die hemel is. Hy glo min ander dinge wat sy pa van die preekstoel af kwytraak, Sondag na Sondag. Maar hy glo in God en alles wat sy ma hom geleer het. Hy glo soms byna paniekerig aan sy ma se saligheid.

      “Ek gaan vir ’n rukkie weg, ek moet. Soos ek nou aangaan, sal ek my eie vrou na haar graf dryf en sal ek nooit by Ma in die hemel kom nie. Ma is in die hemel, Ma ís. Dit glo ek met my hele hart.” Hy sluk die lastige trane weg.

      “Ek dink ek het eers geleer om Ma in die eerste maande na Ma se dood te waardeer.” Hy vee die traan af wat oor sy wang loop. “Ek weet nie of ek Ma ooit in die lewe waardeer het nie. Dinge was maar moeilik, Ma weet mos.”

      Hy snuif. “Ek moet nou ry. Dalk as ek weggaan, sal my mense my ook leer waardeer. Ek het niks vir Pa gesê nie, ek dink nie eens hy sal omgee dat ek weggaan nie. Dis Dianè wat moet leer wat ek vir haar werd is.” Hy dink ’n bietjie oor sy woorde. “Ai, Ma, hoekom is alles so verdomp moelik? Ek moet my kop gaan skoonkry. Wanneer sal ek leer om meer van ’n man te wees? Ek is my vrou nie meer werd nie, ek is nie … Ek wil verander, ek weet Ma sal verstaan hoe moeilik dinge nou is.”

      Sy hartseer voel so intens soos die dag toe hy en sy pa saam met ’n paar familie- en gemeentelede hier langs die oop graf gestaan het. Hy snuif weer, haal sy sakdoek uit en vee oor sy gesig. Dan staan hy op en stap doelgerig na sy Fortuner. Dis tyd vir ’n nuwe fase in sy lewe. Dit het hy gisteraand aan Johan belowe.

      Hy het vanoggend soos ’n hond gevoel toe hy by die huis weg is, lank voor Dianè wakker sou word. Hy het gehoor toe sy in die nag badkamer toe gegaan het. Vir ’n oomblik het hy vir die ergste gevrees: dat sy weer op haar ou weë sal terugval. En dié keer sal dit sy skuld wees.

      “As Ma nog gelewe het, was dinge nou soveel anders. Ma sou my raad kon gee oor hoe om te maak met die lewe wat my so versmoor. Ma sou my help sonder om my te oordeel, ek weet Ma sou. En Ma sou geweet het wat om met Johan te maak.” Iets soos ’n snik ruk deur sy bors. Sy oudste seuntjie, met sy tenger lyfie en ernstige gesig, het hom uitdrukkingloos aangestaar toe hy gesê het dat hy vir ’n paar dae moet weggaan. Dringende werk, het hy gelieg. En gehoop Johan sal dit vir Dianè so oordra. Wat ’n lafaard het hy nie geword nie!

      Hy kyk vir oulaas om na die grafstene met die netjiese rye lang bome voordat hy in die Fortuner klim. Dis nog halfdonker en hy kan homself nie sover kry om net die sleutel te draai en weg te ry nie.

      “Ek moes na Ma geluister het, dan sou hierdie ding nooit begin het nie.” Hy val vooroor en rus met sy kop op die stuurwiel. “Ek was so jonk, hoe moes ek weet?” Dit was tydens sy nagklubdae dat sy ma sleg begin voel het. Sy was nie siek genoeg dat hy geweet het hy gaan haar verloor nie. Gekla van laerugpyn, en soms as sy dapper genoeg was, haar hormone die skuld gegee vir haar knieserigheid.

      “Gewone vrouekwale, kind,” was sy pa se verduideliking wanneer hy die slag by die pastorie ingeloer en sy pa oor sy ma se gesondheid uitgevra het. Sy pa het nie veel empatie met sy ma gehad nie, so hoe moes hy geweet het dat hulle haar kort na haar operasie hier sou kom neerlê?

      Dit was net sy ma wat geweet het hy werk oor naweke by ’n nagklub. Hy was die bouncer en die geld het baie handig te pas gekom om vir sy nagraadse studies te help betaal. Hy was toe al groot gebou, en met sy sterk spiere het hy min moeite gehad om onstuimige klante te beheer. Daar het hy gesien hoe drank mense kan vernietig en heeltemal buite beheer laat optree. Hy het gesweer hy laat die goed nooit oor sy lippe kom nie. Die smaak van bier was te bitter vir hom, en hy het nie van die benewelende effek van ander drank gehou nie. Beheer oor homself ten alle tye is sy behoud.

      Die nagklub was meestal die uithangplek vir jongmense en soms selfs skoolgaande tieners. Die volwassenes wat hulle soos kinders gedra en ook daar uitgehang het, het hom gefassineer; grootmense wat by hulle huise moes gewees het, met blink klere op die dansvloer. Almal altyd gesuip, en as ’n mens hulle agterna tydens besigheidsure sien, is hulle ander mense. Nee wat, drank maak monsters van mense.

      Voordat sy teater toe is vir haar histerektomie het sy ma hom gebel. Hoe innig wens hy nie hy kon nou haar stem hoor nie.

      “Boeta, Ma dink nie daai plek is reg vir jou nie. Jy het darem seker nie geld so nodig dat jy jou siel moet verkoop nie? En sê nou een van daai dronkies rand jou aan?”

      Sy pa sou hom summier afskryf as hy dit moes weet, en hoewel sy ma dit nie goedgekeur het nie, het sy hom nie veroordeel nie. Sy was meer oor sy veiligheid bekommerd.

      “Ek staan by die ingang, Ma, en ek hou die ouens dop wat amok wil maak. Ek doen niks verkeerds nie. Ek drink nie en ek dans nie en ek is sterk. Dis nie sommer net vir aanrand nie,” het hy haar verseker.

      Hy het gelag oor haar kommer, maar kon sy ma swaar hoor sug. Hy was pas klaar met sy nagraadse studies en wou sy eie potjie krap. Hy wou sy eie geld verdien, meer as genoeg daarvan, sodat hy nooit na sy pa hoef te gaan vir hulp nie.

      “Dis nie die plek vir ’n predikant se seun nie. Jou pa het ’n gerespekteerde naam en reputasie in hierdie dorp van ons. Wat sal die gemeente sê as hulle moet hoor waar jy naweke tot laatnag uithang?”

      Hy onthou hoe ontsteld sy was toe hy weer saggies lag. Hy vee die lastige traan van sy wang af. Waar kom hierdie wipplank-emosies van hom vandaan?

      “Die gemeente sal net weet as hulle ook in die club uithang. Maar word Ma dan nie vandag geopereer nie? Ma het tog