Israel-reeks 11: Hooglied. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321701
Скачать книгу
die Haganah. Hulle het aangeval terwyl die Haganah nog betrokke was by die slag om Kastel.”

      “Menachem Begin, die Irgun-leier, het beweer hulle het ’n vragmotor met luidsprekers vooruit gestuur om die inwoners in Arabies te waarsku om die dorpie te ontruim.”

      “Rabbi, ek verstaan dat dit nooit gebeur het nie, dat die vragmotor buite die dorp in ’n dwarssloot omgeval het,” sê Sadek.

      Chaim knik. “Begin het gesê dat hulle wel oor die luidspreker mense aangeraai het om hul wapens neer te lê en te vlug. Maar hy weet nie of hulle gehoor het nie. Hulle het in elk geval nie gehoor gegee nie.”

      “My pa het vertel dat die dorpie net vreedsame inwoners gehad het,” sê Sadek. “Begin se Irgun was daarop uit om te moor.”

      “Nu, hoe ook al. Wat opgeteken staan, is dat die inwoners en buitelandse troepe op die Irgun-aanvallers geskiet het. Hoe anders kon vier van die Irgun dan doodgeskiet en meer as 30 gewond gewees en die geveg ’n paar uur lank geduur het? Maar dit is ook so dat die Irgun swak opgelei, gedisorganiseer en sonder die nodige intelligensie-informasie was.”

      “Punt is,” sê Sadek, “dat meer as 100 inwoners gedood is.”

      Moshe knik. “Die groter getal Arabiese ongevalle het tot ’n groot mate te doen met die metode van die tyd om huise te bestorm. Daar is eers ’n handgranaat ingegooi. Baie van die huise het eenvoudig op die mense ingeval.”

      “Noem ’n mens dit nie ’n massaslagting nie?” vra Simon.

      Moshe ignoreer dit. “In 2017 het ’n Israeliese geleerde, Eliezer Tauber, ’n uitgebreide studie oor Deir Yassin gepubliseer. Ek het een van my seuns gehelp wat ’n opstel daaroor moes skryf; dus is ek bewus van die feite. Van die 107 persone wat gesterf het, was 61 gewapende mans en die res familielede wat in dieselfde huise as hulle was. Die swartste feit wat die Irgun betref, is dat 11 lede van een gesin deur ’n enkele lid van die Irgun doodgeskiet is.”

      “Dis wat hulle by die King David Hotel ook gedoen het,” sê Sadek gedemp.

      “Dit was nie ’n aanval op Arabiere nie,” verweer Moshe.

      “Maar dit is erg genoeg,” vat die rabbi die verhaal kort. “Dit is ’n tragiese episode soos wat alles in oorlogtyd tragies is. Ons moet terugkom by ons gesprek oor die vlugtelingprobleem.”

      Maar die fut is ’n bietjie uit die argument. Ahmed bring klein koppies sterk Arabiese koffie en die geur daarvan vul die vertrekkie.

      Toe die gemeenskaplike atmosfeer weer herstel is, vertel Sadek: “Wat ek vir seker weet van een van my ooms wat al heen is, is dat die Jode by sý dorp ’n tussenganger saamgebring het. ’n Persoon wat húlle geken het en vir wie hulle geken het. Hulle is voor drie keuses gestel. Die eerste keuse was jy oorhandig jou wapens en bly op jou land en leef soos jy altyd geleef het. Die tweede keuse was jy vertrek as jy nie bereid is om jou wapen te oorhandig nie. En derdens, as jy nie bereid was om te gaan nie en jou wapen behou, moet jy jouself voorberei om te veg. Al drie was moeilik. My oom het altyd gesê om destyds van sy wapen afstand te doen, was eintlik ‘soos om my vrou af te gee’.”

      Die ou vrou lag tandeloos: “Ek het twee paar skoene gehad, ’n nuwe paar en ’n ou paar. Toe sê ek: ‘Ek sal die ou paar aantrek om mee weg te gaan en die nuwe paar los vir as ons terugkom.’ Ons was so seker ons sal terugkom. Hulle het ons ooste se kant toe gevat, oos van Safed, na die Jordaan toe. Maar ons kon nie weer terugkom nie …”

      “En nou woon jy tog weer in Jerusalem, Aisha,” sê die rabbi.

      Sy wys na Ahmed. “My seun het my gehelp.”

      “En jy en jou seun het Israeliese burgerskap?” vra Moshe, al weet hy dit.

      Sy knik drie maal diep.

      Toe hulle terugstap, sê Simon: “Die storie het heelwat hoeke.”

      “Elke storie het …” antwoord die rabbi hom.

      14 Mei

      29 Iyar

      Op Maandag 14 Mei word die Amerikaanse ambassade in Jerusalem ingewy. Rivkah is aan diens en Marc, Natan en Simon besluit om die verrigtinge maar oor die televisie te volg, want daar is niemand om Chaya op te pas nie, aangesien Chaim en Hadassah die plegtigheid bywoon. Yhoshi is saam met ’n paar maats die stad in om sensasie te slaan uit die feesvierings wat oral aangaan.

      “Jy beleef omtrent gewigtige tye in Israel,” sê Marc met ’n grinnik vir Simon, bly dat hulle weer met mekaar Afrikaans kan praat.

      Natan is besig om Chaya op die mat besig te hou met blokkies bou.

      “Jy kan dit weer sê. Ek skeep ou Chagall af.”

      Voordat Simon verder kan praat, lui Marc se selfoon. Toe hy die naam oor die skerm sien flits, maak hy vinnig verskoning en gaan met die foon die slaapkamer in.

      Toe hy terugkom, gaan hy met ’n sug sit.

      “Die Palestyne by Gasa se grens het nou tot 40 000 aangegroei en 52 is reeds doodgeskiet …”

      “Onder die mense wat daar vreedsaam protesteer, is daar dié wat wil terugkeer na die land van hulle geboorte.” Simon klink ontsteld.

      Marc onderdruk ’n volgende sug. “Dis nie ’n vreedsame optog nie, Simon. Allesbehalwe. Dit is 40 000 mense met net een doel voor oë – om deur die grensdrade te breek en die land in te stroom. Nié om te kom tee drink nie, belowe ek jou. Om te moor en plunder. Van die leiers het hulle aangehits om die Jode se harte te kom uitskeur. En hulle plaas vroue en kinders in die voorste linie omdat hulle weet ons sal nie vroue en kinders skiet nie.”

      “Ag, dis gewoon propaganda. Jy gaan my nie vertel jy glo dit nie.”

      “Waarom sal ek dit nie glo nie, Simon? Ek het in twee oorloë in Gasa geveg. Ek het dit aan my eie lyf beleef.”

      “En wat van vanmôre se televisie-uitsending wat julle skerpskutters op die duine bokant die grens gewys het?”

      “Luister mooi na die woord. Skérp-skutters. Ons skiet nie sommer voor die voet alles wat beweeg dood nie. Daar word met absolute akkuraatheid te werk gegaan. Hulle weet wie hulle skiet. Daar kan soms ander mense in die kruisvuur beland …”

      “Met absolute akkuraatheid? Hulle vegters dra dan nie eens uniforms nie.”

      Marc kry ’n siniese laggie. “My vriend, jy weet nog niks van Israel se intelligensie nie. Wag maar, jy sal sien. Op die een of ander tyd sal Hamas wel aankondig dat soveel van hul operatives die marteldood gesterf het. Hul shahids. Hulle sal aan die algemene bevolking moet wys hoe hierdie mense vir húlle vryheid geveg het.”

      “Ek weet nie. Dit klink nie vir my kosher nie. Mense protesteer vreedsaam oor hulle hul land verloor het en hulle word daarvoor doodgeskiet. Ek dink julle weermag se reaksie is … Ek dink dis disproportionate. Wat is die Afrikaanse woord?”

      “Simon, die idee dat die IDF se reaksie oordrewe en buite verhouding is, is die PA se manier van sê: ‘Nie genoeg Israeli’s is dood om selfverdediging te regverdig nie.’ Dis eintlik ’n ander manier van sê: ‘Hoekom tree julle Jode nie aan om doodgemaak te word soos julle altyd gedoen het nie?’ ”

      “Marc, ek ken jou nie so nie.”

      “Nee, jy ken my nie so nie, want ek het nie vroeër geweet wat die stryd om oorlewing inhou nie. Wat regtig hier aangaan, kom jy net agter as jy hier woon.”

      “Wonder jy nie ook soms hoe dit moet wees om soos die mense in Gasa te lewe nie?”

      “Wat ek wel wonder, is wáárom hulle so lewe. Waarom hulle Hamas toelaat om hulle so te laat lewe, terwyl die leiers self in ongelooflike weelde lewe en nooit op die gevegsfront teenwoordig is nie. Waarom kom sit hulle nie om ’n onderhandelingstafel nie? Waarom is vroeëre aanbiedings van grond vir vrede nie aanvaar nie? Israel het uit die hele Gasa onttrek. Elke liewe Jood wat daar gewoon het en die onbenutte sandduine van vroeër laat floreer het met die uitvoer van groente, druiwe, blomme, you name it. Ons het die sprinkelbesproeiingstelsels