Ek het geleer dat die Bybel ’n eg menslike boek is, terwyl dit ook die Woord van God is. Dit is nie die een óf die ander nie. Albei is gelyk waar.
Maar dit beteken ’n mens kan die Bybel nie in alle gevalle bloot op sigwaarde lees en alles wat jy lees op dieselfde vlak plaas nie. Jy moet die Bybel met onderskeiding lees om werklik te bepaal wat die geloofsboodskap is wat die skrywers wou oordra. Want dit lyk vir my dit is in hierdie geloofsboodskap dat die Woord van God lê.
Terwyl ek bedenkinge gehad het oor die vraag of ’n mens die Bybel “die Woord van God” kan noem, het ek ook besef daar is baie woorde in die Bybel wat tog nie van God kom nie. Daar is selfs woorde van Satan in die Bybel. Daar is woorde van mense wat skree: “Kruisig hom!” Dit is tog nie God se woorde nie.
Toe besef ek ’n mens moet onderskei tussen “die Woord van God” en “woorde van God”. Dié twee frases beteken twee verskillende dinge. Om te bely die Bybel is die Woord van God, beteken nie elke woord en alle woorde in die Bybel is woorde van God nie.
Die woord woord het ook ander betekenisse, wat nie op ’n enkele woord dui nie. So is ’n “spreekwoord” ’n versameling woorde wat saam ’n boodskap oordra. As iemand by ’n geleentheid “die woord doen”, hou hy of sy ’n toespraak met baie woorde. As iemand sy of haar woord gee, belowe hy of sy iets, en hierdie belofte kan uit baie woorde bestaan.
Toe ek dít besef, het ek verstaan dat die term “die Woord van God” nie na die individuele woorde van die Bybel verwys nie. Dit verwys eerder daarna dat ons God se stem op ’n manier deur die Bybel hoor. Die Bybel is die boodskap van God. En dit kon ek glo. Daarmee het my probleme met die term “die Woord van God” heeltemal verdwyn.
Ek glo vandag met groot oortuiging dat ek die boodskap van die Bybel kan glo. Ek hoef my nie blind te staar teen afsonderlike verse of woorde nie. Ek moet seker maak ek verstaan die boodskap wat deur daardie verse en woorde oorgedra word reg. Verder aanvaar ek dat daardie boodskap bepalend vir my lewe is.
Met dit alles gesê, het ek ook geleer dat ek die Bybel slegs in die tweede plek die Woord van God kan noem. In die eerste plek is Jesus Christus self die Woord van God. Hy is die boodskap wat God na die aarde toe gestuur het. Dit is deur Hom dat God aan ons op die volledigste manier bekendmaak wie Hy is, en hoe Hy is.
Omdat die Bybel die boodskap oor die vleesgeworde Woord aan ons bring, kan ons dit ook die Woord van God noem. Maar die Bybel is nie op dieselfde vlak as Jesus nie. Jesus is die Here, en die Bybel vertel vir ons meer van Hom.
Jesus
Ook wat Jesus betref, het my geloofsreis my op kronkelpaaie gelei om te kom tot waar ek nou is. Ek het grootgeword met die gedagte dat Jesus die Seun van God is, en dat Hy self ook God is. Dit is een van daardie stellings wat ek sommerso aanvaar het. Dit was immers nêrens in my leefwêreld regtig in dispuut nie.
Maar toe kom daar ’n tyd dat ek deur diep twyfel gegaan het.
Dit het gebeur toe ek in die jaar 2000 bewus geword het van ’n akademiese gesprek in kerklike kringe oor die “historiese Jesus”. Eintlik was hierdie gesprek toe al ’n eeu en ’n half lank in akademiese kringe aan die gang, maar wêreldwyd, ook onder party Afrikaanse teoloë, was daar ’n herlewing van hierdie ou debat.
Die argument onderliggend aan die soektog na die historiese Jesus verloop soos volg: Die vier Evangelies is nie moderne geskiedskrywing nie. Die doel daarmee was nie om die geskiedenis so akkuraat moontlik op te teken nie. Daarom dat die Evangelies plek-plek oor historiese gegewens van mekaar verskil.
Wat die Evangelies wel was, was dokumente wat hulle lesers van ’n geloofstandpunt wou oortuig. Dit is deur volgelinge van Jesus geskryf om ander mense te oortuig om ook gelowiges te word, of om ander gelowiges aan te spoor om vas te staan in die geloof. Eerder as ’n akkurate beskrywing van Jesus se geskiedenis, was dit bemarkingsmateriaal vir Jesus.
Die vraag het natuurlik toe ontstaan of dit moontlik sou wees om ’n meer akkurate historiese prentjie van Jesus te skets. En dit het die weg gebaan vir allerlei hipoteses en voorstelle.
In dié gesprekke het daar ’n klomp interessante gedagtes na vore gekom, maar ook ’n klompie sienings wat die tradisionele geloof tot in sy diepste fondamente bevraagteken het. So was daar stemme wat aangevoer het die hele gedagte dat Jesus God is, kom nie van Jesus self nie. Dit, en die belydenis dat God ’n Drie-eenheid is, is eers in die vierde eeu geformuleer. Só is daar aangevoer.
Dit is hierdie soort vrae en argumente wat my by ’n punt gebring het waar ek nie geweet wat ek nog kan glo nie. As ek nou terugkyk, staan daar ’n paar bakens op my geloofspad wat my gehelp het om my geloof te behou.
Die eerste was toe ek begin verstaan het dat van die heel oudste geskrifte in die Nuwe Testament reeds daarna verwys dat Jesus God is. Dink maar aan die gedeelte oor die voorbeeld van Jesus Christus in Filippense 2:6-11: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (v 6-7).
’n Paar verse later loop dié loflied uit op die belydenis dat Jesus die Here is. Hierdie gedagtes het nie 300 jaar ná Jesus se aardse lewe ontstaan nie. Dit het waarskynlik minder as 30 jaar ná sy kruisiging op skrif neerslag gevind, wat beteken dit was vroeër reeds deel van die oortuigings wat gelowiges mondelings met mekaar gedeel het.
Vir my lyk dit of dit ’n kernoortuiging van die Christelike geloof is wat waarskynlik vanaf die eerste weke ná Jesus se opstanding uit die dood reeds bestaan het. Toe die dissipels weer tot verhaal gekom het ná daardie verstommende Paasnaweek in Jerusalem, was dít wat hulle geglo het: Jesus is die Seun van God. Hy is God self. En Hy is die Here oor hulle lewe.
Ek het later geleer om in die Bybel die fyn verwysings raak te lees waardeur die skrywers vir ons wou sê dat Jesus God is.
’n Belangrike oomblik wat my gehelp het om dit te verstaan, het gekom tydens ’n diens op ’n Donderdagaand voor ’n Paasnaweek. Die predikant het uit die Evangelie van Johannes gepreek. Hy het Johannes 18:1-11 gelees, die gedeelte waar Jesus in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem word.
Wanneer die soldate en die wagte van die priesterhoofde kom om Hom gevange te neem, tree Jesus vorentoe en vra: “Vir wie soek julle?” Hulle sê toe: “Jesus van Nasaret.” Hierop sê Jesus: “Dit is Ek!” En dan lees ons ’n stukkie wat my nooit vantevore opgeval het nie: “Toe Jesus dan vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.”
Die predikant het verduidelik dat hierdie vreemde reaksie van die soldate en die wagte ’n reaksie was op die woorde: “Dit is Ek!” En dit het gebeur omdat hierdie woorde ’n baie sterk sinspeling is op die woorde waarmee God Hom vanuit die brandende bos in die woestyn aan Moses bekendgemaak het: Daar het God gesê: “Ek is wat Ek is.” In Hebreeus is die ooreenkoms tussen God se “Ek is” en Jesus se “Dit is Ek!” blykbaar baie duideliker as in die Afrikaanse Bybelvertaling.
Die soldate en die wagte het die onuitspreeklike Naam van God in Jesus se antwoord gehoor. Volgens Johannes se vertelling het hulle gehoor dat Jesus vir hulle sê Hy is die God wat aan Moses in die woestyn verskyn het.
Ek het daardie dag besef elke keer wanneer Jesus in die Johannesevangelie ’n uitspraak maak wat begin met “Ek is”, Hy in werklikheid sê Hy is God. En daar is sewe sulke uitsprake:
~“Ek is die brood wat lewe gee” (6:35)
~“Ek is die lig vir die wêreld” (8:12)
~“Ek is die ingang vir die skape” (10:7)
~“Ek is die goeie herder” (10:11)
~“Ek is die opstanding en die lewe” (11:25)
~“Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (14:6)
~“Ek is die ware wingerdstok” (15:1).
Hierby kom nog talle ander uitsprake in die Evangelie