Tannie Sharon vee haar hande aan ’n vadoek af. “Dit behoort die ding te doen. Die sop is in elk geval ook amper reg. Otto, sal jy asseblief die tafel gaan dek? Otto? Waar is jou ore?”
“Um, ja, natuurlik sal ek.” Otto probeer sy bes om ongeërg te lyk.
“Dis nou genoeg. Genoeeeeg!” skree Sir Tony hard. “Dis nie meer snaaks nie. My agterstewe is aan die brand!”
Toe tannie Sharon in die kombuis verdwyn, gryp Otto ’n nat lap, hol kaggel toe en gooi dit op die gloeiende kole. Dit stink verskriklik en die rook trek sulke bolle die lug in, maar uiteindelik is die vuur geblus. En só kom tannie Sharon se beheptheid met skoonmaak tot die redding.
“Die vuur is dood,” sis Otto in die skoorsteen op. “Jy moet nou dadelik uitkom, Tony!”
“Nee!”
“Toe, kom nou. Jy is hopeloos te fyngevoelig.”
“Het jy nog die bril op?”
“Nee, toe, maak gou. Dis deksels koud buite en ek kan nie vir tannie Sharon keer as sy weer die vuur wil aansteek nie.”
“Nou goed, nou goed, ek gee oor.” Sir Tony is heeltemal oortrek van die roet en hoes amper sy longe uit. Sy gewone deurskynende kleur het in ’n lelike rokerige grys verander. “Jy wen.”
“Reg,” sê Otto tevrede. “En nou gaan jy my vertel wat jou storie met die bril is.”
“Oukei,” kom dit roggelend van Sir Tony se kant af. “Ná aandete in die kamer. Maar dis ’n taamlik lang, grieselrige storie.”
Spookmarteling!
“Dis onmoontlik! Het Sir Tony dit rêrig gesê?” Emily laat die swaar naslaanboek oor die Middeleeue, waardeur sy en Otto vir die geskiedenistaak moet worstel, op die vloer val. Die harde slag weerklink deur die hele biblioteek en almal se koppe draai in hulle rigting. Juffrou Pienaar, die bibliotekaresse, gee hulle ’n vuil kyk toe Emily die boek haastig optel.
Otto praat steeds saggies met haar. “Sir Tony is oortuig daarvan ons sit die pot heeltemal mis as ons dink Archibald was ’n liewe oom wat hom in sy vrye tyd met die bonatuurlike besig gehou het. Hy het die spooknavorsing baie ernstig opgeneem. Sir Tony sê hy was skoon behep daarmee. Dit was … vreemd.”
Emily skud haar kop. “Ek verstaan nie so mooi nie. Hoe … is die spooknavorsing gedoen?”
“Oom Archibald en sy assistent, Bernard, het eksperimente gedoen. Ná ’n rukkie het hulle uitgevind dat aluminium ’n soort gif vir spoke is. Daarna het hulle probeer uitvind of dit in staat sou wees om spoke heeltemal …” Otto gee ’n groot sluk, “… op te los.”
“O, my goeie genade!” Emily sit ’n rukkie en dink oor alles. “Wag ’n bietjie … Het die twee miskien hulle eksperimente op Sir Tony gedoen?”
Otto knik sy kop ernstig. “Blykbaar het oom Archibald hom in ’n houer wat met aluminium uitgevoer was, ingelok.”
“ ’n Lokval.”
“Presies. Die deksel het toegeklap en toe sit Sir Tony daarin vas … weke lank.”
“Maar dis … marteling!” sê Emily kliphard van ontsteltenis en bly onmiddellik weer stil toe juffrou Pienaar dreigend naderkom. Met saamgeperste lippe loer sy oor Emily se skouer en lees die titel van die boek wat voor haar lê.
Otto sluk benoud en hoop sy het nie gehoor waaroor hy en Emily nou net gepraat het nie.
“Dis prysenswaardig dat jy so belangstel in die Middeleeue, Emily,” sê juffrou Pienaar snuifend. “Maar kan jy dit dalk ’n bietjie sagter doen?”
Otto en Emily knik al twee ewe berouvol kop en juffrou Pienaar gaan sit weer op haar plek voor die deur.
“Jy’s reg,” fluister Otto terwyl hy juffrou Pienaar in die oog hou, maar al waarin sy belangstel is die nuutste skindertydskrif. “Dis niks anders as spookmarteling nie. Dis erger as in die Middeleeue.”
“Wat het toe gebeur?” wil Emily weet.
“Toe hulle Sir Tony uiteindelik weer vrylaat, kon hulle geen veranderinge aan hom sien nie, in elk geval niks … um … fisiek nie,” gaan Otto met sy storie aan. “Sir Tony was bang en getraumatiseerd, maar andersins het dit gelyk of hy oukei is. Toe besluit die twee navorsers om die eksperiment te herhaal.”
“Oe, nee!”
“Ja, totdat hulle dit kon regkry om spoke heeltemal te vernietig. Sir Tony was gelukkig dat oom Archibald se werk in Londen en die prystoekenning in Skotland hulle onderbreek het en die eksperiment uitgestel moes word. Jy weet wat toe gebeur het. Oom Archibald het nie weer teruggekom nie.”
Emily sug diep. “Nou wat het van sy assistent … daai Bernard-ou, geword?”
“Ek het g’n idee nie.” Otto haal sy skouers op. “Nadat Archibald uit die land padgegee het, het hy nie weer hiernatoe gekom nie. Miskien het hy ’n ander leermeester gaan soek. Sir Tony weet ook nie wat sy van is nie, so ek kon hom nie eens google nie.”
“Dis ’n verskriklike storie.” Emily sit die geskiedenisboek in haar skooltas. “Ek kan nie glo jou oom was so ’n … ’n …” sy soek na die woord, “… ’n agterbakse misbaksel nie. ’Skuus vir die uitdrukking.”
“Dis oukei.”
As Emily reg is, is sy reg. Otto spook al die hele oggend met dieselfde gedagte.
Tannie Sharon het nog nooit ’n slegte woord oor sy oom gesê nie. As sy die slag wel oor hom praat, wens Otto altyd hy kon hom leer ken het. Sy het hom as ’n opgeruimde en hardwerkende man beskryf, wie se gunstelingtydverdryf was – dis nou buiten sy navorsing – om die geskiedenis van die villa te bestudeer.
Otto dink skielik aan iets.
Het oom Archibald die huis in Radysstraat nommer agt gekoop net omdat hy toe al vermoed het dit spook hier? Het hy dit doelbewus gedoen? Weet tannie Sharon ook iets hiervan?
Otto wonder wat hy moet doen. Moet hy sy tannie vertel wat hy ontdek het? Maar hoe op aarde gaan hy dit aan haar verduidelik? Ag, tannie Sharon, luister, een van ons huisspoke het my vertel my oom was eintlik ’n mal spooknavorser wat selfs nie gehuiwer het om martelmetodes te gebruik nie. Het jy miskien toevallig iets daarvan geweet?
Tannie Sharon sal vir hom lag. Nee, nog erger, sy sal omgekrap wees omdat Otto so oor haar oorlede man praat. Hy moet aan ’n ander manier dink.
***
Die volgende dag is dit al Donderdag en Otto en Emily is nog niks nader aan ’n oplossing vir oom Archibald se storie nie. Sir Tony is nie lus om na Emily se vrae te luister nie.
“Vrae? Nog ’n verhoor? Nee dankie! Ek probeer baie hard om die hele storie te verwerk,” kla hy en verdwyn in die stofsuier nog voordat Emily die spookbril kan opsit. “As Emily nie toevallig die adres van ’n baie goeie spooksielkundige ken nie, het ek niks vir haar te sê nie.”
Otto probeer om op sy gewete te speel. “Sir Tony, moenie so onbeskof wees nie.”
“Ek is getraumatiseer, nie onbeskof nie,” klink Tony se stem dof uit die Stofbreker 3 000. “Daar is ’n groot verskil tussen die twee.”