Harry Griesel 2: Die spookplaag. Sonja Kaiblinger. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sonja Kaiblinger
Издательство: Ingram
Серия: Harry Griesel
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798175388
Скачать книгу
kyk of hy oukei is.”

      ’n Oomblik later is Emily en Otto weer alleen.

      Otto skud sy kop. “Dis baie vreemd.”

      “Nie so vreemd soos die goed wat oom Archibald nog hier gebêre het nie.” Emily haal ’n klein glasflessie uit die kissie. Die fles is vol van ’n melkerige wit vloei­stof. “Dit lyk soos jogurt.”

      Sy skroef dadelik die deksel af en druk haar vinger in die vloeistof. Sy kyk na die wit massa en ruik daaraan.

      “Vir die wetenskap,” sug sy en lek aan haar vinger.

      “Moenie, Emily!” skree Otto hard. “Die goed is seker teen hierdie tyd al vrot.”

      “Sies!” Emily spoeg dit uit en gee die botteltjie vir Otto. “Dit … dit proe nog slegter as vrot jogurt. Dit proe soos … sonbrandroom.”

      Otto het nie die vaagste benul hoe sonbrandroom proe nie, maar dit kan beslis nie lekker wees nie.

      “Laat ons bietjie sien …” Otto staan ’n tree terug en kyk na die kissie met sy vreemde inhoud. “Ons het hier ’n boekie met oom Archibald se geheimsinnige aantekeninge, wat ’n definitiewe bewys is dat hy met spookverskynsels doenig was.”

      Emily knik. “En ’n vreemde bril wat beslis nie eens in Archibald se tyd modern was nie. En sonbrandroom.”

      “Ja.” Otto krap bietjie kop. “Die prentjie maak nie sin nie.”

      “Ag wat, ten minste het ek nou ’n fantastiese nuwe ding wat ek kan leen.” Emily gryp die bril en sit dit op. Haar oë, wat twee verskillende kleure is, lyk dubbeld so groot as gewoonlik. “Dis cool, nè?”

      “Baie mooi.” Otto gee haar ’n speelse hou in die ribbes. “Jy gaan die ster van die skool wees met daai ding!”

      “Jong, ek weet nie hoe jy daar­oor voel nie, maar ek is nou lus vir regte jogurt,” sê Emily en klim met die leer op tot in Otto se kamer, “met aarbeie en va­niel­je.”

      Otto sluit die valdeur van die geheime kamer toe, skuif sy bedmat daaroor en volg Emily kombuis toe.

      “Tannie Sharon het altyd baie jogurt in die yskas. Dit wil sê as Bert nie al alles opgevreet het nie.”

      Emily maak die yskasdeur oop. “Ag, as dit moet, sal ek ook tevrede wees met ’n gewone sjokoladepoeding; dit sal oukei wees …” Sy bly skielik stil en staar asof gehipnotiseerd in die yskas.

      “Wat is dit?” Otto stap nader. “Is daar niks meer oor nie?”

      “D … daar is,” mompel Emily en trek die bril reg. Sy klou aan die yskas se handvatsel asof sy bang is sy gaan val. “B … Bert is in die yskas. Hy sit presies tussen die broccoli en die houer met suurroom.”

      Otto kan sy ore nie glo nie. Hy stoot Emily versigtig uit die pad uit en loer in die yskas. So wraggies! Bert sit tussen die broccoli en die suurroom en knibbel aan ’n blok sjokolade waarvan hy nie eens die foelie oopge­skeur het nie.

      “Wil jy ook ’n blokkie hê?” Ewe vrygewig bied Bert die sjokolade vir Otto aan. “Ek sal maar liewer nie vir jou vriendin Emily vra nie. Lyk my sy gaan enige oomblik naar word.”

      Die spookbril

      Bert sweef by die yskas uit en stel hom met ’n diep buiging aan Emily voor. “Aangename kennis, juffrou Emily. Dis wonderlik om mekaar uiteindelik van aangesig tot aangesig te sien. My naam is Albert Gustav Smith, voormalige sjef van Sir Tony,” verduidelik hy hoflik. “Deesdae is ek die oppasser van hierdie yskas. Ek pas die voorraad op. Dis nie ’n slegte werk nie.” Hy vee ’n paar sjokoladestukkies van sy hemp af en glimlag.

      Pas die voorraad op! Ek sou eerder sê: vreet dit op, dink Otto en kyk na sy beste vriendin, wat ’n bietjie be­sluiteloos teen die kombuiskas leun en deur die dik lense na die spook kyk. Emily is nog tjoepstil, maar sy is ten minste nie meer so bleek om die kiewe nie.

      Dit was nog altyd haar grootste droom om met spoke te kan praat. Paranormale verskynsels fassineer haar on­eindig en sy het Otto nog altyd sy buitengewone gawe beny.

      Wie sou kon dink dat oom Archibald se bril meer kan doen as net lelik lyk. Baie meer – dit kan spoke sigbaar en hoorbaar maak!

      “My … my naam is Emily,” antwoord sy verleë.

      “Ek weet, ja, ek ken jou lankal.” Bert se oë vonkel ondeund. “Ek kon jou al voorheen sien.”

      “Dis nogal waar.” Emily gaan sit stadig op die kombuisstoeltjie en vryf haar slape. “Ekskuus, Bert, dinge vang my ’n bietjie onkant.”

      “Ek verstaan.” Bert gryp onderlangs ’n paar druiwekorrels uit die yskas. “ ’n Mens ontmoet nie aldag spoke nie. Dis nogal eienaardig dat jy my skielik kan sien! Is dit dalk daardie aaklige bril se skuld?”

      Emily haal die bril versigtig af en knip haar oë. “Ja.” Sy knik haar kop. “Sonder die bril kan ek net die oop yskas en um … vlieënde druiwekorrels sien.” Sy sit die bril weer op. “Met die bril sien ek jou baie duidelik.”

      Otto loop diep ingedagte heen en weer voor die yskas. “Dié ding moes aan oom Archibald behoort het. Dit lyk of hy met spooknavorsing besig was. Hy het die bril seker self ontwerp.”

      “Bert, jy het oom Archibald geken.” Dit lyk of Emily uiteindelik tot verhaal kom en doen wat sy die beste doen: om raaisels op te los deur die regte vrae te vra. “Het jy iets buitengewoons agtergekom terwyl hy hier gebly het?”

      “Nee.” Bert skud sy kop. “Toe Archibald en Sharon hier ingetrek het, was Molly, Tony en ek al dood. Op dié manier kon ons die twee nuwe eienaars van die villa goed dophou. Maar Archibald het nie baie in die kombuis gekom nie. As ek reg onthou, het ek hom amper nooit gesien nie. Otto se kamer was destyds sy kantoor en hy was gedurig daar besig. Hy en sy assistent het partykeer dae lank daarin weggekruip.”

      “Assistent?” Emily spits haar ore.

      “Ja, so ’n lang, nors ou met die naam Bernard.”

      “Het hulle eksperimente in die kamer gedoen?” wil Otto weet.

      “Dis moontlik.” Bert glip terug in die yskas en druk sy lyf tussen die melksakkies in. “Hoekom wil julle al die goed weet? Hoekom vra julle nie net vir Sir Tony nie? Hy snuffel mos orals rond om seker te maak ‘dat alles reg verloop’ soos hy altyd sê. Ek is seker hy sal meer oor Archibald weet as ek.”

      Otto skud sy kop. “Ek dink nie ons moet nie. Toe ek netnou die bril opgesit het, het Sir Tony skoon mal geword.”

      Bert rol sy oë. “Asof dit iets nuuts is.”

      “Nee.” Otto skud sy kop. “Hierdie keer was anders. Hy het soos ’n maer vark geskree, na die sitkamer se hoek gevlug en die volgende oomblik het hy sommer net in die lug opgelos. Dit het gelyk of … of hy getraumatiseer is.”

      “Ek moet erken, dit klink nie soos hy nie.” Bert lig sy wenkbroue vraend. “Waar is hy nou?”

      “Ek het g’n idee nie.”

      “Maar ek weet.” Vincent duik agter Otto en Emily op en fladder al in die rond­te bokant die eettafel. Hy is hoogs ontsteld. “Hy kruip in die kaggel weg, bibber en beef soos ’n riet en praat ’n klomp nonsens. Julle

      beter hom daar uithaal as julle nie wil hê Vader Krismis moet oor vier weke dadelik weghol nie.” Hy skud sy kop. “Ek het my hart al klaar op die nuwe, taai vlieëvanger ge­sit wat hulle op die tele-inkopie­kanaal adverteer.”