“Geskilder, my kind,” sê sy ma en trek ’n hand deur sy hare.
“Lank gelede,” sê ek en mompel iets van “lekker om u te ontmoet” en stap uit, ’n bangbroek, ’n vlugteling.
* * *
Hy kom die volgende middag weer ongenooid. Maar hy sê niks. Hy kom net in, met ’n tassie in die hand, gaan sit op die vloer, maak dit oop, haal ’n gekreukelde vel wit papier en inkleurpotlode uit. Dan begin hy teken.
Ek ignoreer hom, konsentreer op my eie werk: Man met kruk. Net nou en dan loer ek in sy rigting. Hy byt sy tong vas, frons in konsentrasie, die vingers nog onbehendig met die inkleurpotlode. Minute word ’n halfuur, langer. Tot hy die papier optel, ’n armlengte voor hom hou en krities daarna kyk. Hy is skynbaar tevrede. Hy staan op, maak weer die tas oop, bêre die potlode, haal weer die vervlakste CD uit en plaas dit saam met sy kunswerk op die tafel.
“Okay, sien jou.” En hy is tas in die hand by die deur uit.
Ek stap versigtig nader, skuif die Mozart-sonates weg en kyk na die reënboogkleure en ongedissiplineerde strepe wat ’n menslike gesig vorm: kort, blonde hare, blonde baard, ’n kwas in die hand, en ek weet dit is vir my wat Buks Barnard geteken het. Behalwe een ding wat glad nie pas nie: die glimlag is tamaai groot tussen die kenbaard en snor, van oor tot oor, die tande ingeryg soos mieliepitte – Buks Barnard se sosiale kommentaar, sy advertensie, sy teregwysing.
Ek glimlag dun en tam en gaan soek plakgoed. Ek wil sy handewerk teen die muur opsit, ’n herinnering.
* * *
Sondagmiddag lê ek en slaap, in my eie kamer, in my eie huis, toe hy hier langs my sê: “Ek weet jy slaap, want jy lê en snork.”
Ek sal die deur moet sluit. Ek maak my oë oop.
“My ma sê jy moet kom koffie drink en melktert eet.” Hy laat dit soos ’n opdrag klink.
Ek wil nie gaan nie. Ek wil nie vir hom of sy ma ken nie.
“Sy het dit self gebak. Sy kan enigiets doen. Sy kan net nie ’n bal skop nie. As ons klaar is, sal ek jou kom help opruim, maar dan moet jy saam met my die bal skop.”
“Opruim?”
“Daar voor. My ma sê as ’n mens se plek slordig is, dan dink jy slordig en werk jy slordig. Ek dink dit is hoekom jou skuldenary so slordig is. Maar ons sal dit regmaak. Kom nou. Ek mag nie my melktert eet voor jy nie die eerste stuk kry nie.”
Ek wonder skielik of hy my sal uitlos as ek vir hom die hele storie vertel. Van Christine.
Eendag, lank, lank gelede, was daar ’n skuldenaar wat gedink het die lewe is ’n lied …
Nee, hy sal nie verstaan nie. Hy sal net van sy kitsoplossings kom aanbied, soos ’n Mozart-CD of ’n portretstudie in vreugde.
Ek sug. Ek sal met sy ma gaan praat. Sy moet die kind weghou. Ek staan op.
“Jy moet jou hare kam. Hulle lyk erg,” sê hy, en dan lag die klein twak vir my.
* * *
Daar is twee redes waarom ek nie met sy ma kan praat oor sy besoeke nie. Die eerste: toe Buks Barnard my in haar sitkamer inlei, sit daar ook ander mense wat gemaklik gesels, wat lag. Dit is te laat om om te draai en ek laat my deur Monica voorstel, aanvaar koffie en melktert, maak die nodigste sosiale geluide.
Die tweede rede is Monica Barnard se stem. En haar oë. Haar swart hare en haar glimlaggende, vol mond. Blote professionele waardering van ’n skilderbare onderwerp. Uiteraard.
Ek verskoon myself so gou as wat sosiaal aanvaarbaar is en stap terug na my meenthuis toe. Ek kry Buks in my voorkamer-ateljee, besig om reg te pak.
“Ek het solank begin, want anders gaan dit donker word en dan kan ons nie bal skop nie.”
Eienaardig hoe ’n mens soms ’n klein besluit moet neem oor die alledaagse, oor die stoflike, en hoe dit dan uitkring om uiteindelik jou hele lewe te verander. Op daardie oomblik moet ek kies. Ek kan kies om hom uit te jaag, die huis te verbied, permanent te verban. Só kan ek en my pyn weer alleen wees, soos verliefdes mekaar vertroetel. Of ek kan die ateljee, die chaos wat ek gelate aanvaar, saam met hom regpak.
Eindelik is dit sy besige lyfie wat doelgerig op en af stap, en swaar blikke, rame en skilderye met inspanning en gepofde wangetjies dra-sleep, sy bereidheid om self op te offer voor hy sy beloning kry, wat my laat besluit. Sonder om ’n woord te sê, begin ek die rommel op die groot tafel teen die muur bymekaar maak. Só baie nuttelose gemors wat ’n mens met jou saamdra.
* * *
Toe ons in die sterk skemer met die bal speel, is sy genot soos ’n lig. Hy babbel en hy hardloop en skop en gooi en lag dat sy ogies toetrek en die kuiltjies in sy wange diep plooi.
Ek stap saam met hom in die donker na sy huis, waar ek hom by die deur afsien. Maar ek sien vir Monica, agter die oopplan-kombuistoonbank, met ’n voorskoot en ’n blos op haar wange, en ’n houtlepel in haar hand. Ek hoor die musiek wat speel, die klok van haar stem wat saam met die note lui. Ek sien Buks inhardloop en haar druk. Sy buk af en soen hom. Hulle lag.
Ek stap deur die donker na my huis, skakel die ligte aan, kry die Mozart-sonates in die CD-speler, ’n skoon doek op die esel en begin skilder: in die somber lig van die skemer speel ’n seuntjie met ’n bal, sy vreugde ’n vlam in die vroegaand.
* * *
“Mielie sê grootmense doen twee goed as hulle uitgaan.”
Hy sit op die skoon tafel, en sy bene swaai beurtelings terwyl hy my werk krities dophou. Ek werk nie bedags aan Seun met bal nie, want hy kan enige oomblik instap. Ek is besig met Fietsryer.
“Wie is Mielie?”
“Hy is ook by die kleuterskool. Sy regte naam is Emile, maar almal noem hom Mielie. Hy sê as grootmense uitgaan, dan gaan hulle net óf fliek óf teewater toe.”
“Teewater?”
“Ja. Dit is waar mense sit en kyk vir ander mense wat konsert hou.”
“Teater.”
“Ja. Teewater. Wanneer vat jy my ma teewater toe?”
Ek het nagedink oor my verhouding met Buks Barnard. Ek het gedink hy is nie stout nie. Net onverwags. Ek het gedink ek sal hom verduur, selfs nou en dan kan waardeer. Soos met die regpak van my ateljee. Maar dit was blykbaar nie genoeg vir Meneer Verrassing nie.
“Daar is seker baie ander mans wat jou ma teater toe wil vat.”
Hy sug. “Ja. Dit is omdat sy mooi is. Maar sy wil nie gaan nie. Sy sê sy wag tot sy iemand ontmoet wat so oulik soos ek is.” Hy vou sy arms en sug swaar, asof sy oulikheid ’n juk op sy skouers is. Dan kyk hy op.
“Sy hou van jou,” sê hy asof dit heeltemal sin maak.
“Hoe weet jy?” vra ek voor ek kan keer.
“Sy kyk na daardie prentjie van jou. Op snaakse tye, dan gaan staan sy voor die prentjie en dan kyk sy en dan kyk sy hier na jou huis se kant toe.”
“O.”
Hy spring van die tafel af, skielik opgewonde. “Jy doen mos nooit iets op Vrydagaande nie. Ek sal vir my ma gaan vra of sy saam met jou teewater toe wil gaan.” Hy hardloop deur toe.
“Buks!”
Hy steek vas by die deur, kyk terug met groot, onskuldige oë, wagtend dat ek nog iets moet sê.
“Sê vir haar so teen sewe-uur.”
* * *
Die eerste keer neem ek vir Monica Barnard fliek toe. Ons sit elkeen met ons hande versigtig op ons skote, die gesprek veilig en oor neutrale onderwerpe. ’n Tienderjarige oppasster bly by Buks.
Die tweede keer gaan ons “teewater” toe, ’n Nico Lewis-komedie