Skag. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089490
Скачать книгу
ction>

      

      JACO WOLMARANS

      SKAG

      Tafelberg

      Vooraf

      Die nag word verlig deur ’n verblindende flits wat die brug skud voor ’n wit rookwolk dit omvou. ’n Presies berekende lading springstof, met aluminium aangevuur tot ’n versengende hittegolf, ruk deur die dik staal, verwring dit soos klei en laat die struktuur sissend in die donker water van die Pungwerivier neersyg.

      Ses sekondes later ontsteek die lading teen die romp van die Mosambiekse patrollieboot langsaan en blaas ’n mensgrootte gat reg op die waterlyn. Die wagte op die dek word oorboord gegooi deur die slag voordat die boot terugwieg en water deur ’n gapende wond begin inlaat.

      Oorkant die rivier pluk die skokgolf van die dubbele ontploffing droë blare uit die bome bokant Jos Fourie, laat dit neersif oor hom in sy observasiepos. Langs hom is Raubie Naudé se swartgesmeerde gesig vir ’n oomblik sigbaar, verlig toe die tweede lading suksesvol afgaan.

      Hulle kan dit later vier. Nou moet hulle eers verdwyn, voor alle hel by die Frelimo-basis oorkant die rivier losbars. Raubie, die spanleier, beduie met sy kop na die draai in die rivier regs van hulle, waar die ander twee lede van die groep die Klepper-kano’s oppas en hul agterhoede beskerm.

      Hulle kruip agteruit, gryp rugsakke op pad en begin geruisloos hul eksfiltrasie deur die donker Mosambiekse bos.

      By die opslagplek hou Raubie sy vuis omhoog, fluit laag en sag, en wag vir die antwoord. Dit kom en hulle tree versigtig vorentoe.

      Voor hulle word die bos mens – twee figure met donker klere wat uit vormloosheid verrys, wapens borshoogte gehou. Vir ’n paar gespanne sekondes staar hulle mekaar aan. Dan sak die wapens.

      Die bonkige Carlos Viyera wys met sy AK47: Kom! Hy wag nie, swaai om en beweeg stil teen die rivieroewer af. Jos en Raubie volg versigtig, hul nagsig nog nie heeltemal herstel na die helder flitse nie. Agter hulle hurk Tex Texeira in die paadjie, sy ore gespits vir enige agtervolging terwyl hulle oppak.

      Die Kleppers is binne minute gelaai, dryfgras bo-oor gestapel om die buitelyne te verberg. Hulle is gereed om die nag in te verdwyn, stroomaf tot by die kus, waar die duikboot wag.

      Oorkant die rivier is die nag nou kakofonies, hard genoeg dat Carlos vir die eerste keer na sewe dae se byna woordelose infiltrasie hardop kan praat: “Vamos, meus amigos! Kom ons gaan huis toe.”

      1

      Vastrap, Kalahari

      Die plaas Vastrap lê diep in die Kalahari-duineveld. Golwende rooi sand wat oor dekades neergesif het, weggevreet en herbou totdat die swart rondings deurvleg is met donker swaarmetaal-aksente.

      Dis die donker strepe wat jou voete brand, wat jou met hoogson van skaduwee na skaduwee laat hardloop om jou voetsole te spaar.

      Die witgatwortel het die digste skaduwee. Koel sand onder sy swartgroen blare en genoeg loof bo jou kop vir ’n bietjie lafenis as jy daar wil vertoef.

      Dis hier waar die veewagter nou hurk, ’n boog in die sand voor hom geplant. Sy geplooide gesig is opgeskroef teen die helder son, maar die hitte maak hom niks.

      Vyftig jaar se leef in die woestyn het N//arson Lys se vel kliphard gebraai.

      Die veewagter het dekades gelede uit die bloute oor die Moloporivier hier opgedaag. Bloot by die wit man aangekom en gesê die duusman moet gaan kyk, sy skape is deur die lyndraad. Loop nou in anderman se grond. Die draad is stukkend daar in die verste hoek, by die hoë duine. Daar’s beter weiding oorkant.

      Die wit man het gesê daai sand is te dik vir sy Ford. En gevra of N//arson werk soek. Hy’t gesê net blyplek, bietjie kos, duusman. Hy sal die skape oppas. Die wit man het sy skouers opgehaal. Meel en sout het die kontrak verseël.

      Die twee het min gepraat. Die wit man het nie !kung geken nie, en N//arson het min Afrikaans gehad. Maar N//arson het nie geselskap gesoek nie. Die wit man ook nie. Hy wou net sy skape opgepas hê.

      N//arson Lys het ’n heenkome gehad. ’n Takhutjie met suurgras bedek in ’n duinstraat, uit die oog en die bek van die wind.

      Toe is die wit man dood.

      N//arson het dit sien kom, in die droom. Dis hoekom hy uit die duine teruggekom het plaas toe. Net daar gewag, onder ’n ruggebreekte kameeldoring langs die werf, in die laaste koelte van ’n tak wat ophou baklei het. Soos die siek man daar onder in die huis. ’n Kwessie van tyd voor dit inval en een word met die rooi grond.

      Hy het hom daar begrawe, die wit man, daar onder die boom.

      Toe kom die nuwe wit man. Die een met die droogte in die oë. Alleen in die groot huis, sonder vrougoed. En die drome wys dis ook sy laaste rusplek dié.

      N//arson tuur in die verte, na die wit kalkvlakte tussen die rooiduin en die pad waar die soldate so hard gewerk het in die hitte. Na die sementput met die diep skag wat hulle jare terug hier kom grou en net so laat staan het.

      N//arson verstaan nie die wit mense nie. ’n Put sonder water maak tog nie sin nie.

      2

      Mosambiekse kus

      20 November 1987

      ’n Duikboot is ’n benoude ding. Jy bly in almal se pad.

      Jos Fourie en die ander spanlede sit saam met die intelligensie-offisier in ’n kajuit vasgekluister. Hy weet hulle stink vir die offisier. Hul Frelimo-uniforms is vol droë modder, styf en kriewelrig van salpeter na dae se oplê in die bos met sy muskietswerms.

      Raubie gee nou terugvoer oor die demolisie van die treinbrug. Oorkant hulle sit Tex en Carlos stil, rûe teen die wand. Die twee Portugeessprekende operateurs is van hul sustersregiment, 5 VR, en moes met die infiltrasie help en toevallige kontak met die plaaslike bevolking hanteer. Ook maar goed. Carlos, ’n Angolees, moes hulle twee keer uit onverwagse ontmoetings met veewagters praat.

      Met die debrief uit die pad, laat die intelligensie-offisier hulle alleen om te rus. Dis vir ’n paar tellings stil in die kajuit.

      Raubie staan hande in die sye, kyk die spanlede beurtelings aan.

      “Netjies, boys.”

      Vir nou is dit genoeg. Hulle knik moeg.

      Jos voel hoe die dae se spanning uit sy lyf sypel. Tog is hy uitgelate. Hulle is ongesiens in en uit, en hy het sy deel gedoen. Dit voel goed.

      * * *

      Jos Fourie het dit nog altyd maklik gehad.

      Sy ouers het groot verwagtinge vir hul seun gekoester. Geneties geseën, die skool se topswemmer, akademies onder die eerste tien in sy klas. Dis miskien waarom hulle hom Josua gedoop het, wat hy bitter gou verkort het.

      Alles is netjies beplan. ’n Loopbaan in die regte, ’n junior vennootskap by Fourie & Fourie. Ingelyf. Jou plek is gereserveer onder die Paarlse adel. Maar diep in sy binneste het hy geweet hy wou iets anders doen, nie voldoen aan die verwagtinge nie.

      Teen sy matriekjaar het sy rebellie daarteen fermer ingeskop. Hy het eers sag hulle koppe probeer swaai. Suggesties van ’n ander loopbaan. “Wat anders wil jy doen?” Hy kon nie sê nie. Hulle sou ontplof.

      Die wete, die besliste oortuiging, het gekom na ’n paar eenkant-gesprekke met sy oom. Kommandant Robert Fourie, sy pa se jonger broer – en sy held. Die bevelvoerder van 4 Verkenningsregiment, Langebaan.

      Robert het gewoonlik aan die einde van die jaar half teensinnig by die strandhuis op Hermanus ingeloer. Hy’t probeer om die Fouries se gewone stroom gaste op hul vakansie-onthale te vermy. Die stug aktuaris-hoofbestuurder van Sanlam. Die Franschhoekse eiendomsontwikkelaar en haar man, ’n waagkapitalis en finansier.

      Robert, kort, fris en breed van skouer, het ’n bier bo die gevierde wyn daar binne verkies. Ook Jos se geselskap, die lang stiltes om die braaivleisvuur, albei gemaklik met die minimale kommunikasie wat net sommige mense verstaan,