Jess kyk vir ’n oomblik op, asof ek met haar praat. Die stomp skêr in haar hand bewe. Ek sluk weer. Dit voel of ek in ’n spieël kyk. Jess se blou oë lyk vandag hartseer. Ek staar so hard, my gesig begin brand.
“Dit was sý besluit, sý keuse. Nie myne nie,” sê ek hard genoeg dat almal kan hoor.
Jess kyk af en trek met die skêr deur nog ’n stuk papier. Die klank skree deur my kop. Ek knip my oë om weer te probeer fokus.
“Tog is dit juis die dinge waarmee ons moet leer saamleef – nie net met die keuses wat ons in die lewe maak nie, maar ook met die keuses van ander mense. Dis in ons DNA.”
Wie het vir Cinthia daai dag op haar bed in ’n plas bloed gekry, wonder jy? Ek, natuurlik, nog met slaap in my oë, en vrek honger. Op ’n Saterdagoggend.
Maar ek’s oor daai shit.
Ek’s ook lankal oor haar. En oor die man wat veronderstel is om my pa te wees.
Wat ek nou nodig het is ’n dimp en nie ’n pity party nie.
Dink hulle regtig dit help om so oor goed te praat? Verander dit regtig ’n mens se toekoms?
Hierdie touchy-feely sessions is ’n erger marteling as juffrou Ziervogel se wiskundeklasse. Een plus een los nie alle probleme op nie. X en blerrie Y nog minder. En selfs hierdie fancy kosskool met sy flippen tight sekuriteit waarborg ook nie ’n eersteklas lewe nie. “As dit juis die dinge is wat die lewe soms moeilik maak, hoekom is ons almal nog hier?” sê ek en vou my arms sodat hulle kan sien dis al wat hulle vandag uit my gaan kry.
Wat maak ék anyway hier?
Ouma Martie kan nie ’n kosskool soos hierdie bekostig nie. Ek het ’n huis. Ek het my eie kamer. En as dit regtig moet, is daar ’n plak-en-pleisterskool naby my ouma se huis wat goed genoeg is vir my.
Hoekom mag ek nie kies nie? Ek skud my kop, sluk die brandpyn in my bors weg en loer weer na die vensters. Dié plek is nogal soos ’n tronk.
Hier hou almal my heeltyd dop. Of so voel dit. Twenty-four-freaken-seven.
“Dankie, Heibrandt,” hoor ek toe ek opstaan. “Ons sal volgende keer weer ’n bietjie daaroor praat.”
Right. Noted. Ek’s binnekort weg.
1
chimera
Ek het geloop sonder om te groet …
“Deurmekaar” van Karen Zoid speel vandag op repeat in my kop.
Ek haat dit.
Dis wat freaken gebeur wanneer ek gedwing word om aan Cinthia Fouché te dink. En wanneer die stemme in my kop eers flippen begin, kan ek maar vergeet om hulle te try stop. Dis net ’n gekots van herinneringe. ’n Donderende dans met die dood.
Teen die tyd dat die klok soos ’n alarm oor die skoolgrond weergalm, het almal hulle stoele in die kas gebêre en by die deur uitgebondel.
Ek wil jou bel, ek wonder of ek moet … Dis Cinthia, sy terg-sing nou sommer in my oor terwyl ek laaste uitstap in die wit gange.
Wat het ek nou? Wiskunde? Dalk Afrikaans? Ek probeer deur die gemaal van gesigte buite ’n bekende een spot. Iemand wat ek na die volgende klas kan volg, maar almal staan net doelloos rond en lyk of hulle vir iets wag. Pouse?
Ek skiet met die naaste trappe af.
Deurmekaar? Ek het die CD so drie jaar terug tussen Cinthia se goed ontdek, weggesteek tussen ’n paar meer hardcore stuff van Nirvana en Pearl Jam.
Dit was in ’n boks saam met Cinthia se ander gemors op die vloer in my ouma se garage. Die musiek was al wat ek besluit het om te hou. Die res van die goed in die boks het ek in die ouvrou se geroeste braaier gemoer en toe veras. Selfs al haar poetry boeke.
Die lyrics rol nog deur my gedagtes. Ek weet jy dink ek’t jou verniel, fluister-sing Cinthia. Ek het jou …
My ore tune uit.
Cinthia het daai laaste week of so baie oor my pa begin praat. Oor rehab of iets. En dalk ’n nuwe begin. Nie dat ek geluister het nie.
Ek skuur verby ’n paar ouens op die onderste vloer, maar iemand stamp so hard teen my skouer dat ek omswaai, my vuis klaar in die lug om die culprit te donner.
Dis een van die jonger outjies, ek ken nie sy naam nie, maar ek sien hom pouses baie keer alleen op die gronde ronddwaal. Sy olierige hare hang vuil en onnet in sy gesig. Hy vorm woorde met sy mond. Daar is iets aan die ou se stem, of dalk is dit die manier waarop hy na my kyk …
Onder die verband begin my kopvel skielik brand soos vuur.
Ek gryp hom aan sy hemp. “Wat?”
“Hy’s vry,” fluister die ou, dié keer nader aan my gesig. Sy asem vrot.
Ek staar seker, want hy pluk homself los uit my greep en loop stadig agteruit terwyl hy na my kyk, ’n simpel smile op sy gesig.
Ek swaai weg en val by die seuns se badkamers in. Ek sweer, hierdie plek is die pits. Almal maak of hulle flippen mal is.
Die kraan fluit oop. Ek maak eers net my hande nat. Toe my gesig.
Ek moet liewer aan iets anders dink. Ouma?
Wanneer laas het ek haar gesien?
Die klok weergalm weer deur die gange. Ek skrik, kyk vir oulaas in die spieël, na die verband om my kop, toe vryf ek my hande teen my broek droog en stap uit.
Buite die kleedkamers vang my oog dadelik vir Shane, met sy donkerblou jeans en swart baadjie. Hy staan by die hoofingang. Sy netjiese, kortgeknipte hare is donker, maar effens grys op die slape.
Wat soek hy hier?
Ek sou verkies het dat Shane my uitlos en eerder in ’n kroeg vir hom gaan pelle soek. Die ou is flippen bad news.
Ek het hom ’n paar maande terug by ’n Skadujagter show raak gedans. Voor, amper teen die stage. Dis my ultimate favourite band as dinge kom by rap. Oums het my practically na die show toe gedwing. Nie dat die ouvrou juis dié band like nie, sy’t gedink dis net ’n doodgewone skoolfunksie of iets. Selfs gesê dit sal my goed doen om weer so ’n bietjie uit te kom. Maar nou ja, toe ontmoet ek net vir Shane.
“Die lyrics is nogal tight,” het Shane eers gesê, duidelik toe nog nuut op die rap vibe. Hy het die res van die show langs my bly staan en geluister. “Of wat dink jy?” het hy later gevra.
“Whatever,” het ek gesê, na my sneakers gekyk en my skouers opgehaal.
Die rap song het gegaan oor die dood. Of die gewag daarvoor. En die tronke waarin ons almal dwaal. Ek was teen daai tyd al alles gewoond – skool is ’n tronk.
Ek het gedink dis dalk hoekom die ouvrou my hierheen geskuif het, na ’n kosskool soos hierdie, om van ouens soos Shane af weg te kom.
Wat doen ’n ouerige man anyway by ’n skool-band se show? En hoekom meng hy met skoolkinders?
Wat de hel doen hy vandag weer hier?
Ek sien die stuk papier in Shane se hand. Dis ’n papier wat ek onlangs vir hom gegee het – Skadujagter se nuutste lyrics. Die ou kon dit eintlik self gegoogle het, maar hy bly my aanhoudend vra daaroor.
Shane is deesdae consumed met die band. Dis wat gebeur as ’n mens te diep luister. Dis al waaroor hy die laaste tyd wil praat. Dít en my volgende trip.
Flip! Dié ou is erger as ’n breintumor – moeilik om van ontslae te raak en geen drug werk nie.
Shane sien my gelukkig nog nie raak nie. Hy staan en praat met een van die matrieks. En by hulle staan daai rooikop. Die een wat netnou in die tuin was saam met James.
My