Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083627
Скачать книгу
spioene.”

      “Ek wil niks meer hoor nie! En ek loop nou.”

      Sy spring op, hy ook en hy gryp haar weer vas. “Waag dit om te loop voor ek vanmiddag met jou klaar is, dan vertel ek haar die troue is af.”

      “En die kind?”

      “Sy kan vir hom ’n ander pa gaan soek.”

      “Jy is die pa en Mart is die ma van julle kind. Los hulle op die vlakte en ek verloor al my respek vir jou.”

      “Nou toe nou, jy voel nog iets vir my – respek. Jy het respek vir my, maar jy respekteer nie my gevoelens nie.”

      “Moet tog nie weer begin nie!”

      “Ons het nog nooit opgehou nie!”

      Hy ruk haar teen hom vas en gooi haar op die bed neer. Met sy hande om haar gewrigte hou hy haar arms bokant haar kop soos in die ou dae toe hulle mekaar nog liefgehad het, en tog nie. Want hy speel nie meer nie. Die glinstering in sy oë maak haar bang.

      “Onthou jy hoe ons mekaar mal gemaak het?”

      “Dawie, jy is verloof, jy gaan trou.”

      “Ons was ook verloof.”

      “Ek ken jou nie meer nie.”

      “Jy is reg, ek weet nie wat met my aangaan nie. Help my, asseblief.”

      Met ’n sug val hy op haar neer, druk haar dieper in die sagte matras. Nes in die ou dae versag sy gesigsuitdrukking, vou hy haar sagter in sy omhelsing toe, streel hy haar gesig en haar hare, haar nek, haar halslyn. Die ou passie sypel terug, sy ontspan en laat hom toe om haar te liefkoos. Hy snuffel met sy neus in haar nek. “Jy ruik nog soos jy altyd geruik het.”

      Haar arms gaan om sy nek. “Dawie, ons mag nie.”

      “Ek gaan van my kop af raak, ek kan nie met haar trou nie.”

      Op daardie oomblik draai iemand aan die deurknop. Die strooimeisies praat in die gang. Een vra hoekom die deur nie wil oop nie. Dawie se gesig is so naby aan haar, sy kan die baard onder sy vel sien deurskyn. Sy hart klop teen hare. Hy soen haar met soveel teerheid, sy wil huil.

      Iemand ruk aan die deurknop. Stemme meng soos wanklanke in ’n nagmerrie. “Gesluit.”

      “Het jy die deur gesluit?”

      “Hoekom sal ek die deur sluit?”

      “Vra vir Grieta, sy slaap ook hier.”

      “Wat nou, wat gaan aan?”

      “Deur is gesluit.”

      “Het jy dalk die sleutel?”

      “Vir wat?”

      “Om oop te sluit, stupid.”

      Marissa voel sy vergaan.

      Dawie fluister in haar oor. “Moenie worry nie, hulle sal nou-nou loop om die sleutel te soek.”

      Sy wil wegkom, maar hy hou haar vas. Hy soen haar so hard sy kan nie asem kry nie.

      “Snaaks!” sê Sandy. “Kyk hier. Die sleutel sit aan die binnekant.”

      Hy lig sy kop, fluister teen haar wang. “Ek het jou lief tot in die dood.”

      Iemand ratel aan die deur. “Kom uit!”

      “Wie ook al daar binne is, kom nou dadelik uit.”

      “Marissa? Is dit jy?”

      “Hoor daar, hulle raai reg.” Dawie hou sy oor teen haar bors. “Jou hart, my hart.”

      Sy kry hom jammer en vryf oor sy skouers. “Jy weet dis verkeerd. Hoekom doen jy dit?”

      “Omdat …!” Hy kom so onverwags regop, sy skrik. “Ek kan nie meer omgee nie.”

      Sonder om eers sy hemp in sy broek te steek, stap hy deur toe, draai die sleutel en gooi die deur wyd oop.

      “Jy!” roep Grieta uit. “Well, I never.”

      Hy staan in die oop deur en kyk by Grieta verby. “Dankie, Rissa, sien jou weer in ’n ander lewe.”

      Sy het opgespring en die bed probeer regpluk, maar hulle vang haar nog so deurmekaar. Sy draai haar na hulle. “Dis nie wat julle dink nie.”

      “Daai een het ek al gehoor.”

      “Jy kan bly wees Mart is nie nou hier nie.”

      Marissa trek haar klere reg, haar vingers deur haar hare. “Die een wat vir Mart vertel, vermoor ek!” sê sy en stap tussen hulle deur.

      Toe sy wegstap hoor sy vir Elsie: “Ek het nie verniet gewonder hoe werk dit dat hy haar skielik nie meer liefhet nie.”

      2

      Ná ’n vroeë aandete, weer braaitjops en springbokwors met ’n verskeidenheid bykosse, tuisgemaakte roomys en sjokoladesous vir nagereg, ry Marissa en haar ma Irma terug Jakkalspoort toe. Dawie het nie weer sy verskyning gemaak nie. Niemand het ’n woord oor die voorval gerep nie, maar sy kon nie die spanning tussen haar en die res van die strooimeisies ignoreer nie. Sy weet wat die hoofonderwerp van die aand se slaaptydpraatjies gaan wees. Mart is ook nie doof nie en sy het haar suspisies.

      Dankie tog, haar rok pas en sy hoef nie oor te slaap nie.

      Irma bestuur. Marissa kyk deur die venster na die wye blou en pers Karoovlaktes. Al die verskillende bloue van die aandlug, die koppies en die veld is genoeg om haar keel te laat toetrek. Haar oog vang haar weerkaatsing in die ruit. Daar is ’n hartseertrek om haar mond.

      Wat het sy verwag? Sy was geskok toe sy hoor dat Dawie en Mart op trou staan, sy kon nie glo hoe hy so gou reggekom het nie. Sy, wat hom weggstuur het, wat baiekeer nog verlang het, sy moes keer of sy bel hom en herstel die verhouding.

      “Jy is stil,” sê Irma, nadat hulle al ’n ent van Poupan se afdraai is en sy die viertrek se spoed op die grondpad tussen die plase gerieflik kan opstoot.

      “Ek dink.”

      “Ek ook. Miskien kan ons gedagtes deel?”

      “Mamma sal my kwalik neem.”

      “Maak oop, kind, en praat. Iets pla jou. Ek kan raai wat.”

      “Ek sien nie meer kans om vir Mart te strooi nie.”

      “Jy het belowe.”

      “Ek moes nooit.”

      “Dis twee weke voor die troue.”

      “Genoeg tyd vir tant Hester om my rok vir iemand anders te verstel.”

      “Waar kry ons iemand met ’n lyfie soos joune in hierdie geweste?”

      “Miskien op die dorp. Wat van Leandra?”

      “Leandra?”

      “Dominee se dogter wat so geswem het en nou drama swot.”

      “Ag, ja! Sy is fyn gebou en sy is hier met vakansie, maar sy’s kort.”

      “Tant Hester kan die rok korter maak.”

      “Jy sal haar moet vra en jou verskoning reg hê, vir Leandra ook. Sy was mos saam met jou op skool.”

      “Drie klasse onder my, en in die swemspan.”

      “Tyd vlieg. Voel soos nou die dag toe julle Kimberley toe moes vir kompetisies.”

      “En Bloemfontein, en Johannesburg.”

      “Goed, dan bel jy haar eerste en maak seker voor jy vir Mart bel. Ek het ’n vermoede dat sy verlig sal wees. Glo my vry – sy wil haar ses strooimeisies hê.”

      “Die ander is ook aan haar kant.”

      “Dié dat jy vanaand by die ete langs my kom sit het en skaars met hulle gepraat het?”

      “Ek