Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083627
Скачать книгу
ontdek het. Hy verbloem sy onrus met moeite. “Sal nie kan sê nie. Ek sal nie weet waarheen nie.”

      “Het jy nog nooit die behoefte gehad om alleen te wees nie?”

      “Ek is soms alleen. Sommige aande as ek tuiskom, is Mercia en die kinders nog nie terug van hulle bedrywighede nie. Dan skink ek vir my ’n whiskey, gaan sit op die patio en wag. Jy kan nie dink hoe stil daai huis is sonder hulle nie.”

      “Wanneer laas was jy op ’n sakereis?”

      “Jy stuur deesdae vir Bernie.”

      “As ek terugkom, stuur ek jou, maar eintlik gee ek jou ’n vakansie. Dan gaan sit jy ’n slag stokalleen iewers op ’n verlate strand, en dink.”

      “Dit sal oneerlik wees teenoor Mercia en die kinders. Ek bedoel, ek kan nie sonder hulle nie.”

      Theo sug. “Weet jy hoe beny ek jou jou goeie vrou en jou mooi kinders?”

      “Jy hoef nie. Ek meen, jy en Sylvia is al ’n jaar of twee verloof. Trou met haar. Die huwelik is nie so sleg nie. Boonop gee jou kinders jou soveel plesier, jy sal dit vir niks anders wil verruil nie.”

      “Kan jy jou vir Sylvia met kinders voorstel?”

      “Sy is nie die moederlike tipe nie, maar jy sal sien hoe sy verander en sagter word. ’n Baba is dalk wat sy nodig het. Verstaan my mooi, ek kritiseer nie, ek sê net. Ons ken vir Sylvia.”

      “Ja, ons ken vir Sylvia.”

      Peter kyk op sy horlosie. Hy probeer dit ongemerk doen, maar slaag nie daarin nie.

      “Is jy haastig?”

      “My skoonouers kuier by ons en ek het gereël dat ons vanaand gaan uiteet. Daarna neem ek hulle en die kinders na die ysskaatsvertoning. Hulle kom van die platteland af en kry nie dikwels kans om sulke vertonings te sien nie. Die kinders is net so opgewonde, hulle onthou nog vir Aladdin on Ice. Ek gaan dit nie vir hulle bederf deur laat by die huis aan te kom nie. Jy en Sylvia het seker ook planne?”

      Theo val hom in die rede. “Hoe laat begin die vertoning?”

      “Agtuur.” Peter is rooi in die gesig en raak duidelik op sy senuwees. “Toe jy bel het ek dadelik hiernatoe uitgekom, maar ek wil hulle nie in die steek laat nie. Kan jy verstaan?”

      Nee, hy kan nie verstaan hoekom Peter so verander het vandat hy met Mercia getroud is nie, maar hy sê dit nie. Hy staan agter sy lessenaar op en gaan gee sy getroue assistent ’n broederlike kloppie op die skouer. “No hard feelings! Wat van ’n loopdoppie?”

      Peter sit sy skootrekenaar in sy tassie. “Ek is jammer, ek sal moet aanstoot.”

      “Ek moes jou nie so lank opgehou het nie. Sê groete vir jou skoonouers en geniet die aand. Wag, ek stap saam.”

      Hulle stap in stilte deur die ruim portaal, uit op die patio waar Bismarck en Rommel gehoorsaam by hulle aansluit, verby die swembad en die Henry Moore tot by die gasteparkeerarea. Die honde waai hul sterte, maar bly netjies weerskante van Theo.

      Peter skud sy kop. “Jou honde is merkwaardig gehoorsaam. Ons sukkel met ons boksers.”

      “Het ek toe nie die hondeskool se kaartjie vir jou gegee nie?”

      “Ons was daar en ons is uitgeskop.”

      Theo kan nie help om te glimlag nie. “Hoe so?”

      “Die vrou sê ons moes vroeër gekom het.”

      “Wat maak julle nou?”

      “Ons het dit oorweeg om een van hulle weg te gee, maar die kinders wil nie.” Peter sug en klim in sy kar. “Die veearts het kalmeerpilletjies gegee. Miskien help dit. Mooi diere van jou.”

      Dit lyk of hy nog iets wil sê en hom bedink. Hy klap die kardeur toe, skakel aan en ry. Theo kyk hom agterna. Peter was ’n bok onder die meisies voordat Mercia op die toneel verskyn het. Daai honde van hulle moet wild wees as selfs Mercia hulle nie kan makmaak nie!

      Hy skud sy kop, draai om en stap huis se kant toe, sy gehoorsame hondekinders op sy hakke. Op die stoep wag Diedericks hom in. Hy vra of hy vanaand weer uitgaan.

      Theo weet nie. Met Sylvia het hy klaar afgespreek en hy gaan nie nou hul besluit omkeer nie. Dit het al voorheen gebeur dat hulle rusie maak en sy hom wegjaag en hulle die volgende dag weer opmaak, maar hierdie keer is dit anders. Hy het self besluit om ’n blaaskans te neem. Sy was op haar manier ontsteld, maar daar was nie ’n rusie nie. En hy hét vir haar ’n geskenk gelos.

      Sy sal seker voor die einde van die dag bel of whatsapp om dankie te sê. Sylvia is ’n bedorwe vrou, maar sy het goeie maniere, sy sal van haar laat hoor. Miskien moet hy roekeloos raak en een van sy ander vriendinne gaan opsoek. Maar wie? Hy kan aan niemand dink nie, behalwe … Nee, Marissa hou nie van hom nie. Vanmiddag, toe hy haar met Di wou terg, het hy die indruk gekry sy verdra hom net. Wonder wat het hulle vir mekaar te sê gehad toe hy daar weg is? Marissa het skaars gegroet en Di het gelyk of sy spyt is oor haar lawwigheid.

      “Meneer …?”

      Diedericks kyk vraend na hom.

      “Iets fout, meneer?”

      “Nee, Diedericks, ek was ingedagte, dis al.”

      “Meneer staan so met dieselfde gesig as …”

      “Ja, Diedericks? Hoe staan ek?”

      “Meneer staan soos meneer gestaan het die dag toe meneer die tyding gekry het van meneer se vader, toe hy oorlede is.”

      “Jy is reg, ek voel so.”

      “Meneer?”

      “Dis ’n lang storie.”

      Diedericks vou sy arms voor sy bors, hy wieg op sy voete asof hy vir die storie wag. “Los maar, Diedericks,” stel Theo hom gerus. “Dis nie jou probleem nie.”

      Diedericks kug, nogal teleurgesteld, lei hy af. “Mag ek vra of meneer vanaand hier eet? Mevrou Hendricks …”

      “Sê vir mevrou Hendricks dankie, ek sal graag.”

      Diedericks is ’n goeie man, dink Theo op pad terug studeerkamer toe. Hy kan hom soms nie die lewe sonder Diedericks voorstel nie, en mevrou Hendricks. Hulle is soos die vader en moeder wat hy verloor het, soos Mieta en Abram van Jakkalspoort – getroue, onmisbare versorgers.

      Net jammer hulle moet altyd alles weet wat met hom aangaan! Vanaand voel hy eensaam, meer nog omdat Peter so haastig was om by sy gesin uit te kom.

      Byna outomaties skink hy vir hom ’n dubbele whiskey. Met die glas in sy hand, gaan sit hy in een van die uitskopstoele voor die televisie, sy bene lank uitgestrek. Dis stil, geen kindergelag nie, geen vrou wat hulle aanmoedig om betyds aan te trek vir die ysskaatsvertoning nie.

      Dis laat, maar daar is nog lig buite. Hy kan die varingtakke van die broodbome sien. Dit krap aan die ruite soos lang groen vingers wat hom wil naderwink, uitnooi buitentoe. Wat sou die oeroue bome dink as hulle kon? Hoe voel hulle daaroor dat hulle hier in die beknopte vierkant van Theo Wessels se patio weg van hulle natuurlike habitat moet veg om moontlik ’n volgende honderd jaar te kan voortbestaan? Watse soort lewe voer hý, die een wat hulle gevange hou?

      Theo grinnik: Hy is, nes hulle, bestem vir ’n leë, vervelige, stadig-sterwende bestaan.

      Gisteraand het hy gelewe, vir ’n paar oomblikke die bloed in sy are voel bruis toe hy in haar oë gekyk het en iets meer as blote herkenning gesien het. Toegeneentheid? Miskien het hy hom verbeel. Vir al wat hy weet was die kyk vir Gunter Winterbach bedoel en dis toevallig dat hy in die pad gekom het. Dit sal hy moet aanvaar, dat sy en die bekende en berugte Gunter Winterbach saam was. Hulle is waarskynlik vanaand ook saam. Hy ken hom. Gunter werk vir hom, doen die regie van Goue dae. Hy is gereken in die bedryf. Hoewel bekend daarvoor dat hy tantrums gooi en soms vir maande nie werk nie, is hy bekwaam, sjarmant, pas geskei en verantwoordelik vir tientalle gebroke harte.

      Jong aktrisetjies wat enigiets sal doen vir