Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Charl-Pierre Naudé
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624084358
Скачать книгу
’n mooi, volronde blondine. Haar ouers was gerespekteer in die distrik ondanks die feit dat hulle sukkelaars was.

      Ek het na asem gesnak toe ek hoor die meisie is Anna. Sy was my heimlike geliefde, die een wat ek dag en nag met onbaatsugtige vertedering in my gedagtes gekoester het. Ons het mekaar nog nie baie goed geken nie, ek en Anna, maar dit kon my begeertes min skeel. Ek was jare daarna nog, tot op die laaste, gek oor haar.

      Van die begin van my lewe op die dorp het ek die ideaal gekoester om haar eendag myne te maak, mý vrou, my lewensmaat, en ek sou hare wees. Sy was die vernaamste rede waarom ek wou asemhaal. Ek moes haar net so ver kry om my op ’n helder sonskyndag lank genoeg raak te sien.

      Oom Kossie het gou besef daar is fout, want die twee was nie met kerklike dinge besig nie. Hul nood was dalk lewensnood, ja, maar ’n ander soort as wat oom Kossie gewoond was om te sien. Hy was maar ’n oujongkêrel, die halfmaan-tipe soos ek, sonder wederhelf.

      “Kan ek help met iets?” het hy gevra. Hy het gou agtergekom sy hulp is van nul en gener waarde.

      Oom Kossie was nie die brildraende soort nie, hoewel dit allermins beteken hy was nie bysiende nie.

      En nou het hy lont geruik.

      Hy buk vorentoe, verder vorentoe, om beter te kan sien. Die meisie is wraggies halfkaal, met iets swewend aan haar maniere. Oom Kossie het nog gedink die lugreëling is per ongeluk aan, maar haar aansienlike weef hare, ’n pragtige skepping van God, het vanself só gesweef.

      Die man was ook kaalbolyf, en dit was glad nie somer nie. Sy hemp het hy oor die kerkbank voor hom gehang, en hulle het in mekaar se arms aangeleun, bene gevleg. Toe die koster dag maar genoeg nou hiervan, en hy half pieperig van die skok skree om hul aandag te eis, het hulle nouliks opgekyk en aangehou met mekaar.

      Die koster het die polisiehoof, sersant Kleinschmidt, gaan opklop. Hier was waaragtig moeilikheid. Dié het sy twee adjudante die konstabels saamgebring.

      Oom Kossie het intussen sy Kodakkie by die huis gaan haal.

      “Hulle lyk soos spoke!” was konstabel Lemmer se ter plaatse opmerking. Sy baas het hom dadelik aangesê om stil te bly oor sulke dinge. Dis toe dat hulle iets van die gesprek tussen die twee verliefdes kon hoor. Dirkie het hakkelend gepraat, dit was immers die vertraagde Verwey. Maar hy vertel haar die trein is amper hier en hy gaan nou weermag toe. En sy, die meisie, Anna, sê huilend sy dink nie hy gaan weer terugkom nie, sy weet hy gaan haar los vir ’n ander meisie. En sy soen hom oral op sy somerse bolyf, sy was skoon opdringerig. Alles so onvanpas.

      Kleinschmidt het gebulder: “Vries!” en toe draai Anna in die bank om en kyk reguit na die kamera. Dis waar die foto’s vandaan gekom het.

      Sy het haar kale self met oorkruisarms vasgeklou en gestaar met die blinderige uitdrukking van ’n mens wat op ’n ander plek is. Drie foto’s het oom Kossie van die byster paartjie geneem.

      Die polisiehoof het Anna beveel om dadelik haar rok, ’n ligte syagtige dingetjie by haar voete, aan te trek. Hy het in die ry afgestap en die twee hardhandig elk aan ’n oksel opgetrek. Of hulle nou gedink het hulle is op ’n stasie of in ’n ander soort droom gevang, feit is hulle was halfkaal in die huis van die Here.

      Die geregsdienaars en die koster het die twee in die konsistorie toegesluit en besluit om die ouerpare te gaan haal. Verwey was fors, maar daardie aand so lig soos ’n veer, swewend, soos die koster dit beskryf het. Kleinschmidt het hom met uiterste gemak gehanteer, iets wat normaalweg nie moontlik sou gewees het nie. Hy het hom met twee vingers konsistorie toe getrek asof hy ’n kartonbord is.

      “Jy ken die res van die storie,” het die koster vertel. “Toe ons hulle wakker klop, vertel eers die een toe die ander ouerpaar hulle kinders slaap, daar moet ’n verwarring wees met twee ander jonges.”

      Toe Anna se ouers hul dogter gaan wakker maak, het sy mor-mor van die slaap en in ’n stemmige kamerjas wat slordig aangetrek was, haar verskyning in die voorvertrek gemaak. Haar hare was in ’n dik koord agter haar rug gebind, vir die slaap natuurlik.

      “Wat ’n allemintige bos hare. Dit was al skuins na middernag en sy het gelyk of sy al lank geslaap het, Verdomp.”

      In die geval van die Verweys, het Ans op wankelende treë die slapende Dirkie in ’n annekskamer aan die besoekers gaan wys. Die mevrou was die tipe wat maklik trane stort en die besoekers is verseker dat Verwey deesdae nog skaars beweeg.

      Oom Kossie het oor sy woorde begin struikel. “Hy lyk soos, wat is die woord, Verdomp, ’n gevallestudie, nee, ’n invalide, ’n gevallene, so iets. Die mevrou wou net aanmekaar huil en was baie verontskuldigend namens haar seun. Sy het die hele tyd onmoontlik, onmoontlik bly sê.”

      Die ondersoekers is stomgeslaan terug kerk toe. Maar toe hulle die konsistorie oopsluit, is daar niemand binne nie! Die konsistorie het diefwering gehad, wegkomkans was min.

      Toe ek die storie vir die koerant opvolg, wou die stuurse Kleinschmidt glad nie praat nie.

      Die twee plase was myle buite die dorp, dis onmoontlik dat die twee vryers so vinnig kon beweeg het, selfs met ’n vervoermiddel. Hy was verleë.

      En hoe het hulle uit die konsistorie ontsnap?

      Daar was oom Kossie se foto’s. Hiermee was moeilik te stry. Duidelik wys al drie foto’s Anna Bandjies en Dirkie Verwey in die kerk. En, hoe het oom Kossie gesê? “Daar is geen teken van ’n kamerjas hier nie, my vriend, kyk self.”

      Die idee van Anna in ’n ander man se arms, selfs net die moontlikheid daarvan, was vir my swaar om te sluk.

      * * *

      Dit was die begin van die gesigte.

      En ek het geweet: Kleinschmidt sal nie hieroor gaan lê nie. Vir hom het iets onverklaarbaars net een verduideliking: iemand is skuldig aan iets. Ná soveel jare op die Lyksovlakte het ek die polisie geken.

      Hy het die dominee en die burgemeester oortuig om Dirkie en Anna voorlopig aanspreeklik te hou vir die kerkinsident …

      Voorlopig? Kan aanspreeklikheid voorlopig wees? Die man was buite weste.

      2

      DIE DROOM

      Middel Mei 1973

      Dit was so elfuur die oggend ’n paar Saterdae daarna, by my aan huis, van waar ek ook Die Weekpos se redaksiekantoor bedryf het, dat ek Anna se kant van die storie gehoor het.

      Sy het twee of drie keer per jaar by my kom tee drink, gewoonlik as sy dorp toe kom vir inkopies of iets dergeliks, besoekies wat vir my lewensbelangrik was sonder dat sy ’n benul daarvan kon gehad het. Ek vermoed die kuiertjies was net ’n manier om die tyd te verwyl terwyl sy wag vir haar geleentheid terug plaas toe. En vir my was die skamele uurtjie te kort om die mateloosheid van my liefde oor te dra.

      Die lig het in wye bundels deur die geboë erkers van die twee vertrekke aan weerskante van die stoepkamer na binne gestroom. Dit was hoë, slanke vensters, bruide van glas. Ek het die huis van die munisipaliteit gehuur.

      Die stoep was met gaas toegemaak en ek en Anna het in die poeletjie winterlig daar gaan sit. My huis was op ’n hoogtetjie en het lekker son gevang.

      Sy het vertel hoe die skinderstorie haar oorbluf laat, dat sy absoluut niks met so ’n insident te doen wil hê nie, en ja, ek moet haar asseblief, groot asseblief, gló. Sy was in ’n beige langbroek en ’n wit kraaghempie geklee, onhoudbaar stemmig vir haar. In die lig van dinge wou sy seker haar sindelike kant beklemtoon.

      Sy was baie ontsteld. Oor die onbehoorlike foto’s van haar in die polisieman se besit. En oor die feit dat sy en Dirkie weens die voorval nou mekaar se geselskap belet is ná ’n ontmoeting van die ouerpare en die polisiehoof. Sodat openbare sedelikheid bevorder kan word, glo. Maar veral oor nog iets.

      Sy verstaan nie, het sy gesê. Alles wat in die kerk tussen haar en Dirkie gebeur het, presies soos wat die koster en die polisiemanne dit gesien het, het sy in haar bed gedroom. Die droom moes min of meer op dieselfde tyd gebeur het. Dit besef sy nou, nadat Kleinschmidt die