Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Charl-Pierre Naudé
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624084358
Скачать книгу
p>

      Die

      Ongelooflike onskuld

      van

      DIRKIE VERWEY

      Charl-Pierre Naudé

      ’n roman

      Tafelberg

      Enige ooreenkoms in hierdie boek met historiese of lewende persone is toevallig.

      Opgedra aan

      in volgorde van verskyning

      Diederik Hendrik (Dirkie) Verwey: geb. 1952. Vermis 1984.

      Anna Bandjies: 1954 – 1985

      Hermanus Jakobus Frederik Verdomp: 1944 –

      Maria Hakskeen: 1951 – 1975

      Emmarentia Anna Melck: 1946 –

      VOORWOORD

      Ek moet uit die staanspoor bieg. My naam pryk op die voorplat, maar ek is nie die outeur van hierdie boek nie.

      Hermanus Verdomp, ’n amateurskrywer, het die storie meer as dertig jaar gelede geskryf maar dis nooit aan ’n uitgewer voorgelê nie. Deur ’n sameloop van omstandighede het dit by my uitgekom en die tema het my so beïndruk dat ek die manuskrip aan die uitgewer gewys het vir wie ek deeltyds werk. Daar was onmiddellik belangstelling.

      My probleem was dat die skrywer niks meer met sy teks te make wou hê nie. Hy woon al bykans twintig jaar in die buiteland en het sy geboorteland afgesweer. Toe ek hom per e-pos opspoor en baie versigtig navraag doen, was sy antwoord: “Vat dit vir jou, dis alles waansin. Ek het nou ’n ander lewe.”

      Verdere pogings om hom in die hande te kry het vir eers misluk. Die uitgewer meen dat die boek iets te sê het vir vandag se mens en ons het noodgedwonge besluit om onder my naam te publiseer.

      Wie is Verdomp? Op sy karige Facebook-blad, sonder ’n enkele foto, staan dat Hermanus Jakobus Frederik Verdomp op 1 Desember 1944 op Prieska gebore is. Daar het hy in die vyftiger- en vroeë sestigerjare skoolgegaan en in die feitevakke uitgeblink. Die kort Facebook-biografie, in Engels geskryf, sê hy het by die koerante gaan werk nadat hy sy skoolopleiding voltooi het. Hy beskryf homself as ’n expat wat in 1998 met sy eggenote na Australië geëmigreer het.

      Die teks is in die vorm van ’n dokumentêre roman, en dis in die middel jare tagtig op ’n plaas naby Petrusville laat lê.

      Ná dekades het die plaaseienaar die manuskrip weer in ’n laai gevind. Sy is ’n vriendin van my suster, en langs dié weg het dit my in die tweede helfte van 2015 bereik.

      Ná ons aanvanklik koelerige korrespondensie het ek twee maal daarin geslaag om met meneer Verdomp oor Skype te gesels. Ek moes sy toestemming vir die publikasie kry. Hy het steeds ’n knorrige indruk gemaak. Boonop was sy gesig op die Skype-beeld lank uitgerek, wat my aan ’n karperd laat dink het. Al wat hy bereid was om te bevestig is wat ek reeds geweet het, dat sy boek oor ’n rits uitsonderlike gebeure van amper vyftig jaar gelede handel, en dat hy as die redakteur van ’n plattelandse koerantjie in die Karoo die stories gedek het.

      Onder meer gaan dit daaroor dat identiese weergawes van sommige mense gelyktydig in dieselfde omgewing gesien is. In ander gevalle weer, is daar getuienis van persone wat hulself in meer as een lewe ervaar het op plekke wat duisende kilometers ver uit mekaar is. Die term “doppelgängers” bestaan in sprokies en legendes. Die boek praat van ewelewens.

      Die vraag is wat kon die alledaagse lewe so verwring het? Was dit dalk sinsbedrog, vererger deur ooglopende hoë vlakke van rassespanning? Wensdenkery? Die sterk godsdienstige sin en die afgesonderdheid van die gemeenskappe was waarskynlik ’n goeie teelaarde vir wêreldvreemde ervarings.

      Die volle waarheid slaan ’n mens se asem weg. Die vertelling suggereer ’n verbluffende natuurverskynsel en in my Nawoord verwys ek na strominge in die wetenskap wat verklarings kan bied.

      Ek het aanvanklik gedink plekname soos die Lyksovlakte en die Ampersand is versin want ek kon dit nêrens op enige land- of padkaarte, oud of nuut, kry nie. Toe ek die skrywer hieroor pols, het hy laat weet: “Wel, dis presies daar waar die vreemdhede begin het, en ek het dit veels te laat agtergekom. Want daar by julle kom en gaan name mos soos mis. Ek kan maar net sê ek het dinge beskryf soos ek dit gesien gebeur het. En daardie was die name van die plekke.”

      Die boek gee ’n intieme blik op ’n geslote kring gewone mense met wie ongewone dinge gebeur het. Die onwillige rol van Dirkie Verwey hierin was maar net die begin.

      My dank aan Rentia Melck wat gesorg het dat die teks onder my aandag kom. Nie die minste nie bedank ek die skrywer, meneer Verdomp. Sy beriggewing bevat uitsonderlike ondersoekende joernalistiek.

      Die foto’s en onderskrifte is deel van die roman, maar die voetnote is myne. In enkele gevalle is terme wat vandag nie meer aanvaarbaar is nie deur my verander, maar ek het ook daarvan behou. Daar moet in gedagte gehou word dat dit ’n wesenlike deel van die skrywer en sy tyd was.

      Ek sluit af met ’n SMS van Verdomp aan my: “My storie kom aan uit die rigtings. Lesers moet terugsit.” Klink dit of hy heimlik ingenome is met sy onverwagse skrywerskap? Ek hoop so.

      C-PN

1

      1

      FOTO’S

      Vroeg Mei 1973

      Op ’n herfsnag in die vroeë jare sewentig het ’n klein gebeurtenis op ’n onbekende plek die fondamente van die wêreld geskud. Maar net ek het dit gevoel. Die aarde het liggies getril, soos ’n slapende reus oor wie duiwe geloop het.

      Vir my was dit selfs die begin van ’n nuwe lewensopvatting, een wat stelselmatig in episodes, soos in die radioverhale, aan my geopenbaar sou word.

      * * *

      Die onbekende plek was ons dorpie op die Lyksovlakte waar ek destyds my vaal, afgeleë lewe geslyt het.

      Dit was oom Kossie die koster wat die onraad bemerk het. Hy het oorkant die kerk in Kerkstraat gewoon. Dominee en sy vrou was op huisbesoek in die streek en in sulke tye was alle onraad in oom Kossie se hande.

      Dis wat hy gesien het: ’n flakkerende liggie, soos van ’n lantern of ’n kers, wat van binne deur die vensters van die kerk skyn. Hy het die straat oorgesteek.

      Die witgeverfde gebou had ’n kort dwarsbeuk aan die voorkant met ’n kloktoring in die middel en sykantteeltjies. Die vensters was ongekleurde, stemmige ysglas met loodinleggings wat soos visskubbe lyk, diep gesete in die naaldvormige nisse. Die historiese kerkvorm. Hier rond was nie wegbrekers nie.

      Oom Kossie het in die nagdonker die halfsirkelvormige trapstel bestyg en die donkerhoutkerkdeur met sy ovaal geronde bokant oopgestoot. Dit was ’n vroegweeksnag met geen kerkaktiwiteite beplan nie, en buitendien was God se deure snags gesluit. Wie op hierdie laat uur ’n lig binne aangesteek het was uit lewensnood daar, óf het ingebreek.

      Hy het ingestap en sy flitslig op en neer geswaai. Toe het hy die binnedeure oopgestoot wat die klein voorportaal van die gemeentelike ruimte skei en die ligte van die kerk teen die muur aangeskakel.

      Ek beskryf dit soos oom Kossie dit gesien het. Dis by hom wat ek die feite gekry het. Daar, voor in die kerk, het twee jong mense styf teen mekaar in een van die kerkbanke gesit. Dit het gelyk of hulle lywe ’n droomagtige lig uitstraal.

      Die jonge heer had die persoonlike styl van ’n laaistok. Die dametjie was meer buigsaam, soos vroue volgens oorlewering maar is. Hy kon hulle hoor praat, meestal die dametjie. Hy was stomgeslaan.

      Hy fluit van die agterbanke af dat sy draaisnor tril, en toe hy geen reaksie van die twee kry nie, besluit die gekromde ou man om nader te loop.

      Hy gaan staan toe aan die punt van die lang kerkbank waarin hulle sit, soos ’n diaken wat aandring op kollekte. Maar hulle sien hom steeds nie.Kan julle my hoor, vra hy. Wie is julle?

      En steeds: geen reaksie nie.

      Was hulle dalk van ’n inrigting vir dowes, op besoek aan die dorp? Toe sien hy wie dit is. Twee